Patrone is ‘n belangrike opwarmingsproses vir skrif en kan gerus daagliks gedoen of geoefen word.
Patrone kan van die kantlyn tot aan die einde van ‘n bladsy gemaak word of in korter stukkies (bv. raak drie keer bo, drie hoppe, ens.). Onthou dat dit ‘n ritmiese aksies is en dat die hoppies daarom ewe wyd en ewe groot moet wees.
Die perdjiespring– of wolfpatroon is een van die eerste patrone wat kleintjies kan maak. Dit is die voorloper vir drukskrifletters soos “w” en “v”. Begin bo en beweeg skuins af na regs, skuins op na regs, ensovoorts. Dit is belangrik om bo en onder aan die lyne te raak en om die tande of spronge ewe wyd te spasieer. Eindig weer bo.
Die hasie hoppatroon is die voorloper vir drukskrifklanke soos “m”, “n” en “r”. Begin bo, beweeg reguit af en op dieselfde lyn op. ‘n Derde of ‘n kwart van die boonste lyn af weg, begin die draai na regs, af en op en oor, af en op en oor. Die hasie “spring” oor die klippies en eindig weer onder (“want ‘n haas kan nie in die lug hang nie”).
Die swaai– of “Tarzan”patroon is die voorloper vir klanke soos “u” en “y”. Begin bo en beweeg of tot so ongeveer ¾ van die spasie en swaai na regs en beweeg reguit op. Beweeg op dieselfde lyn af en draai op dieselfde plek na regs. Herhaal die swaai-aksie en eindig deur die lyn af te beweeg tot teen die lyn (soos ‘n “u”).
Die brander– of seepatroon is al ‘n groot stap in die rigting van lopende skrif. Dit word gebruik tydens die aanleer van klanke soos “c”, “o”, “a”, “e”, “s” en “d”. Begin onder en trek die lyn skuins op (teen ‘n hoek van ongeveer 45°) tot net voor die boonste lyn en begin draai. Stop die ronding daar waar die twee-uur op ‘n horlosie se gesig sal wees en keer op dieselfde lyn terug om die “c”-ronding teen die onderste lyn te vorm. Herhaal en stop deur die skuins-op lyn tot teen die boonste lyn te verleng.
Oefen die patrone:
- In gekleurde styselpap op ‘n skinkbord.
- In gekleurde styselpap op ongedrukte koerantpapier (trek later bv. visstensils daarop af en maak visse).
- Teken ‘n groot wolf met ‘n oop bek en vra die kind om die wolf se tand in te teken (patron).
- Teken groot seepatrone op ‘n A3-papier. Teken en knip ‘n seilbootjie uit en heg ‘n skuifspeld aan die mas. Die kind hou dan ‘n magneet onder die papier en skuif die boot in die “skryfaksie” van die patroon van links na regs.
- Maak verskeie kolletjiepatrone (dot-to-dot) wat die kind kan natrek (rol ‘n klomp af vir later).
Handwriting in the Junior Primary Classes, MC Grové en HMAM Hauptfleisch, is ‘n stok-ou boek wat ook die volgende assosiasies gee:
- Die sig-sag patroon (wolf-) is ‘n groot horlosie wat tik-tok klop.
- Die hasie kan met ‘n padda vervang word.
- Die Tarzanpatroon kan die frilletjies onder-aan ‘n dogtertjie se rok wees.
- As die lopende skrif se “e” en “l” geoefen word, kan dit rook wees wat bo by ‘n trein se skoorsteen uit borrel.
Lekker oefen!
(patrone)
Feb 16, 2009 @ 20:01:21
Hallo Juffer!
Sjoe, maar jy is besig! En glo my, jy hou my en my seuntjie ook baie besig met al die wonderlike goed wat jy op jou Blog het!
Dankie vir die raad oor die boekies! Hy is mal oor storieboekies. Ek het nou ‘n punt daarvan gemaak om elke dag vir hom so veel as moontlik te lees. Ek het baie tyd, so dit is perfek. In ‘n week het hy reeds baie verbeter. In die begin het hy na die prentjies gewys en vir my in Engels die storie vertel. Noudat hy die stories gereeld in Afrikaans hoor, vertel hy die storie in ‘n Afrikaanse/Engelse mengelmoes, maar al die karakters en groot gebeure word in Afrikaans aan ons oorgedra!
Baie dankie, jy is wonderlik!! Hou asseblief aan met jou goeie werk, want ons 7-jarige seuntjie baat baie daarby! Met al jou voorstelle is hy so positief oor skool en skoolwerk, ons sukkel naweke om hom te laat ontspan!
Geniet jou week en nogmaals baie dankie.
Groete
Runel
LikeLike
Feb 17, 2009 @ 15:20:40
BITTER BAIE dankie vir die groot kompliment! 😉 Gits, nou sal Ouma en Oupa moet storieboeke koop vir al die verjaarsdae, naweke en vakansies… Vra ook vir vriendinne om die kinderstories uit tydskrifte te knip en hou dit in ‘n ringlêer of flip file…en voorspoed met die “verafrikaansering” 😉
LikeLike
Feb 19, 2009 @ 22:58:20
Apr 13, 2009 @ 01:18:37
Ek’s besig met ‘n taak oor skryfprobleme by Graad 1 leerders. Het nog net altyd Gr R skool gehou. Het Juffrou dalk voorbeelde van skryfprobleme en dan ‘n program of idees wat ek kan gebruik om remediëring te doen.
Sal vreeslik bly wees as u ook vir my boeke se name wat beskikbaar is wat my kan gee.
Baie dankie
Hanna
LikeLike
Apr 13, 2009 @ 16:56:04
Hello Hanna
Ek sou by die basiese fynmotoriese ontwikkeling begin het. As dit ‘n neurologiese probleem is, sou ‘n mens die kundigheid van gekwalifiseerde fisio- of arbeidsterapeute kon inroep. In die klaskamer, stel ek fynspier ontwikkeling voor. Skrifprobleme is immers ook gekoppel aan spierontwikkeling en kan daarom met die “Graad R” oefeninge gestimuleer word – klei speel, blokkies bou, wol of veters ryg, papier skeur, frommel, knip…
Dysgraphia het te make met handskrifprobleme – die fisiese onvermoë om effektiewelik te skryf.
I.t.v. inklusiewe onderwys, stel ek voor dat die werkslading verminder word. In plaas daarvan dat die outjie 10 woorde moet skryf, hoef hy net 3 tot 5 te skryf. Indien hy sukkel om ‘n patroon van die een kant van ‘n bladsy na die anderkant te maak, laat toe dat hy slegs drie “hoppies” op ‘n slag maak, ‘n spasie hou en weer drie “hoppies”.
Indien die kind spanning in sy hand ervaar en sukkel met beheer oor die hand, kan ‘n tikmasjien of ‘n rekenaar ingespan word. Dan kan hy antwoorde tik in plaas van skryf…
Tik ook soekwoorde soos “skrif”/ “skryf” aan die regterkant van die hoofblad in…dit behoort jou na vorige inskrywings te lei 😉
Baie sterkte!
LikeLike
Sep 18, 2009 @ 00:46:01
Vingerfout, vorige e-pos het gegaan voordat ek my vraag behoorlik kon formuleer.
SKOOLGEREEDHEID. Alhoewel die toetsing daarvan deeglik is, weet ons dat daar nog ander aspekte is wat nie aangeraak word nie en ek dink spesifiek aan die emosionele ontwikkeling van die kind.
My dogtertjie verjaar einde September en ek wil haar nie benadeel deur ‘n oningeligte besluit te neem nie.
Is daar toetsing vir emosies beskikbaar op de web? Ek glo dit sluit nou aan by Emosionele Intelligensie.
Wat is nog belangrike aspekte wat in gedagte gehou moet word by besluit van JA, sy is gereed, of NEE, kom ons herhaal eerder Graad R?
Op watter stadium word ‘n kind regtig beskou as skoolryp?
Ek sal inligting of skakels baie waardeer
LikeLike
Sep 18, 2009 @ 14:16:21
Hello Alpha
Skoolgereedheid en skoolrypheid is twee aspekte wat baie na aan mekaar is, maar nie dieselfde is nie. ‘n Kind wat skoolgereed is, is gewoonlik redelik onafhanklik…Bv.
Die kind ervaar nie skeidingsangs as hy in vreemde situasies van sy ouers moet skei nie (soos byvoorbeeld om alleen by die tandarts in te gaan)…
Die kind kan onafhanklik na homself kyk. Met ander woorde die kind kan self aantrek, toilet toe gaan, bad, ‘n glas water skink…skoene aantrek…
Die kind kan duidelik / hoorbaar praat en ‘n gesprek voer (dus geen babataal of enkelwoord sinne nie). Gebruik nie woorde soos “koene” in plaas van “skoene” of “lalla” in plaas van “slaap” nie.
Die kind kan basiese prentjies teken. As hy ‘n liggaam teken, het dit ‘n kop met oë, wenkbroue, wimpers, ‘n neus, mond met lippe, ore, hare, ‘n nek, lyf (moontlik skouers ook) wat langer as breed is, arms, hande (met 5 vingers vet vingers elk), bene, voete (met 5 vet tone elk)…’n ken, elmboë, knieë, ens. is nie onmiddelik nodig nie, maar die arms, nek en bene moet darem 2 lyne hê vir ‘n bietjie “lyf”. Hierdie tipe tekeninge dui daarop dat die kind reeds bewus is van detail.
Kinders is dikwels gereed “op papier” en kan alles doen wat ontwikkelingsgewys verwag word, MAAR is dan huilerig of moeilik. Dit gebeur as hulle emosioneel nie opgewasse is vir al die vereistes nie.
As jou dogtertjie ‘n Oktober-, November- of Desember-baba was, sou ek voorgestel het dat jy haar moet terug hou as sy emosioneel nie opgewasse is nie. Die eerste paar maande van Graad 1 raak stelselmatig moeiliker en dan styg die leerkurwe al skerper. As jy bekommerd is oor emosionele skoolgereedheid, sal ek definitief ‘n konsultasie met ‘n opvoedkundige sielkundige aanraai. Dit dek “skoolwerk” EN die emosionele sy van ‘n kind.
Baie sterkte!
Hiermee ‘n paar skakels wat artikels en ‘n tesis insluit:
Click to access dissertation.pdf
http://www.jouwereld.co.za/kd_skoolgereed.htm
https://juffer.wordpress.com/?s=skoolgereed
https://juffer.wordpress.com/2009/01/30/vaardighede-om-te-ontwikkel-met-die-oog-op-graad-1/
http://www.brainline.com het ‘n skoolgereedheidstoets – aktiwiteite
LikeLike
Okt 14, 2009 @ 16:37:14
hello juffrou, ek is n ma van n 7jarige seun wat tans in graad 1 is. hy sukkel so op skool en huil altyd as huiswerk gedoen moet word. hy sien eenvoudig net nie kans vir dit nie en se… DIS TE BAIE WERK, EK HAAT SKOOL. Dit breek my hart. Wat kan ek doen om my kind weer lief te maak vir skool. In die begin van die jaar was hy so opgewonde en tros maar dit het net vit n maand goed gegaan. Hy trek nog nie eers self aan vir skool nie. Hy wil nog net speel. hy het nou eers sy mannetjies begin teken met n lyf en klere aan. voor die tyd was dit net n reghoek met n kop aan en twee arms langs die kant. dink juffrou nie dat ek dalk my kind eerder nog n jaar GR.R moes laat doen het nie? hoekom is hy GR 1 toe? Hoe kon hy oorgeplaas geword het? Daar het dinge al kop begin uitsteek. Terwyl die juffrou praat of so dan sal hy op sy arms le en nie n woord inneem wat sy se nie. Ek het toe nie gedink dat die saak so ernstig was nie. die juffrou het wel gekla maar niks vir my gese van skool gereed of nie. Ek wil my seun volgende jaar weer oor laat doen. is dit n goeie idee en die beste vir hom en die juffrouens wat kom? Ek glo nie elke juffrou gaan met hom opgeskeep wil sit en sukkel nie. Ek wil ook net my kind weer lief maak vir skool en werk. Miskien sal hy dalk met nuwe oe na skool begin kyk. as hy weer volgende jaar GR 1 moet doen sal hy dalk agterkom dat die werkies eintlik maklik is en dat die juffrou nie die kwaai een was nie en vir die jare wat volg glo ek dat hy n voorspoedige skool loopbaan sal he. O,ja, hy stel ook nie belang in sport nie. sy broer van 10jr vaar baie goed op skool met a`s en b`s op sy raport en presteer goed op die rugbyveld en in sport. ai tog, ek het juffrou se raad nodig. Baie dankie en laat dit goed gaan. Jesus Liefde, Renette.
LikeLike
Okt 14, 2009 @ 21:37:40
Beste, Renette
Ek gaan jou hier beantwoord, want ek weet dat daar ‘n enorme hoeveelheid ouers is wat hierby sal baatvind.
Ons (as juffrouens) is dikwels “in two minds” oor die herhalingsproses en -jaar. Persoonlik voel ek dat ‘n kind so vroeg as moontlik in sy skoolloopbaan moet herhaal – eerder as te laat. Graad 1 is die ontdekkingsjaar – Wow! Ek kan tel! Wow! Ek kan lees! Indien die kind emosioneel en perseptueel nie gereed is vir die groot skool nie, kan hy / sy die Groot Skool as ‘n nagmerrie ondervind. Die Graad 1-jaar is die fondamentjaar en as die fondament wankelrig is, kraak die mure van die huis dikwels later.
Indien ‘n kind dus skool toe gestuur word, was dit moontlik omdat die Graad R-juffrou baie vertroue in die kleinding se leervermoë gehad het of dat die outjie skoolpligtig sou word. Ek is seker dat ‘n juffrou ‘n kind met goeie bedoelings sou aan gestuur het.
Indien die klasopvoeder probleme opmerk, behoort dit met die ouers gedeel te word en behoort daar idees bedink te word om die kleinding te help. Ons praat dikwels van woorde soos ingryping of intervensie. Nie alle skole het die toerusting of personeelkorps om die ingryping sekuur te laat werk nie en is moontlik in die proses om al die prosedures in plek te kry.
Om terug te kom na die hulp. Jou kleinding toon uitvalle in terme van fyn motoriek (“luierige vingertjies”) en sy uitbeelding van detail was nie heeltemal in plek nie. Dit is aspekte wat deur ‘n arbeidsterapeut aangespreek kan word. ‘n Goeie arbeidsterapeut sal die kleinding evalueer en riglyne aan die ouers en opvoeder deur gee. Gereelde terapie sal beslis help. Dit strek gewoonlik in siklusse van 6 maande elk en is baie effektief wanneer kinders nog klein is. (Die boompie kan nog gebuig word :wink:) Die feit dat die outjie nie lief is vir sport nie, kan moontlik wees omdat hy bewus is van sy tekortkominge. Met die hulp van ‘n kundige kan hy definitief die vaardighede verbeter wat hy sal benodig. Ek sou voorstel dat julle ‘n konsultasie met ‘n arbeidsterapeut sal reël vir gemoedsrus. Kinders wat lêerig is, het moontlik ‘n swak postuur (dalk ook spiertonus) en dit kan deur oefeninge verbeter word. Terapeute beveel dikwels perdry en swem aan.
‘n Mens kan natuurlik die kleinding ook na ‘n opvoedkundige sielkundige neem as julle bekommerd is oor sy emosionele welstand. Dit is egter duur en nie alle mediese fondse dek die bedrag nie. Die departement van Onderwys het skoolsielkundiges, maar hulle besoek skole werklik min en is oorlaai. Die sielkundige toets die kind skolasties (wiskunde, taal, visueel-motories en emosioneel) en maak aanbevelings na ander kundiges toe.
Indien julle nie die skolastiese toetsing verlang nie en slegs na die emosionele welstand wil kyk, kan ‘n mens ook ‘n spelterapeut (berading deur spel) kontak. Maatskaplike werksters is dikwels in spelterapie opgelei – asook sielkundiges. Dis dikwels goedkoper en ook effektief.
Indien julle vir Grootman wil terughou, sal die juffrou haar bewyse in plek moet kry vir die departement se besoeke. ‘n Geskrewe brief van die ouers sal ook van waarde wees.
Ek werk daagliks met kinders wat herhaal het en kan met eerlikheid sê dat die outjies wat emosioneel nog nie gereed was vir die vereistes van Graad 1 nie, baie sterker raak in die tweede jaar. Hulle is só trots daarop dat hulle meer weet as die nuwe Graad 1’s en dat hulle die skool ken. Hulle kry selfvertroue, want hulle word die leiers en niemand hamer daarop dat hulle herhaal het nie. Terloops, dit word nie bespreek nie en as dit wel iewers uitglip – noem die juffrou net dat sy spesiaal die outjie uit gesoek het om haar regterhand te wees.
Ek sou regtig aanraai dat julle met ‘n kundige of twee gaan praat om jou seuntjie se spesifieke prestasies te bespreek. Baie sterkte met jou besluite. ‘n Stywe druk vir die kleingoed 😉
LikeLike
Okt 15, 2009 @ 08:38:38
Beste juffrou, so baie dankie vir die brief en raad. Ek gaan sommer vandag inspring en kyk wat ek uitgerig kry. wat ek vergeet het om in my vorige brief te se is dat my kind wel deur n arbeidsterapeut getoets is. Die verslag lei soos volg….. PROBLEEMSTELLINGS: Ondergemiddelde skolatiese vordering.Probleme met afnemende konsentrasie en psigiese vermoeidheid het voorgekom.Sy informele tekeninge is kwalitatief redelik goed. Dit het opgeval dat hy by die mensfiguur n toets verkies het om n dogtertjie te teken………….. verbale skaal- Laaggemiddeld. Handelings skaal- Laaggemiddeld. Globale skaal- Laaggemiddeld. Taalprosessering, die vermoe om volgens assosiasies te redeneer en getalbegrip blyk relatief swak te wees. Hy het ook gesukkel met ouditiewe geheue, afnemende ouditiewe konsentrasie kon hier n rol gespeel het. Probleme met midlynkruising het ook opgeval. Sy vordering is nie heeltemal in lyn met sy vermoe nie. Hy het tydens die ondersoek getoon om nie die papier met vrye hand te stut nie. Daar is ook aanbeveel dat ek hom moet vat vir eksta klasse maar my kind het amper stuipe gekry toe hy dit hoor. hy het eenkant in sy kamer gaan sit, Gehuil en gese; EK WIL NIE, EK WIL NIE. Ek sal hom probeer aanmoedig en moed inpraat maar hy skop teen alles. al belangstelling wat hy toon is dat ek saam met hom in moet kleur, karretjies speel en dan toon hy vreeslik baie belangstelling in al die diere boeke wat hy het. Hy sal ook vir ure voor die play-station sit of met sy fiets ry, karretjies speel of inkleur. Hy hou ook daarvan om my in die kombuis te help met kos. Hy vou sy eie skoolklere op en hou sy eie klerekas baie baie netjies. hy sal ook al sy diere speelgoed en karretjies vat en in perfekte lyne pak en bewaar die een wat dit anders skyf. Hy het ook laas kwartaal spel o rama geskryf wat uit 50 woorde bestaan het. ek en hy was so bly gewees want hy het vol punte gekry. WOW!!!!! Ek weet daar diep binne in hom is iemand wat wil. Kan dit wees dat hy belangstelling begin verloor met die eerste ding waarmee hy sukkel juis omdat hy soort van perfeksie toon? Wat ek ook opgemerk het is dat hy nie sal vra as hy sukkkel nie. Ek weet dat ek n ouer is wat op my kniee moet bly vir my kind. dankie vir die drukkie aan my kind in vorige brief. sterkte met al juffrou se goedjies en als wat mooi is. Jesus Liefde, Renette.
LikeLike
Okt 15, 2009 @ 18:18:56
Beste, Renette
Ek glo dat jou kleinding vir die regte oomblik wag om homself te wys en bewys. Dit is baie moontlik dat hy ‘n “late bloomer” is. Hy kan jou nog verras. Kom ons gee hom die hulp wat ons kan – dalk eers om die selfvertroue op te bou en dan later skolastiese hulp. Intussen gaan ek my duime vashou en baie aan julle dink.
‘n Mooi aand en voorspoedige kwartaal 😉
LikeLike
Aug 19, 2010 @ 09:04:49
Beste Juffer (en dit is nou figuurlik en letterlik!!)
Ek is ‘n nasorg ‘tannie’ – bied ekstra klasse aan ens. Aangesien daar ‘n tendens is dat die outjies wat agter raak in die skool agter bly, probeer ek om te oorbrug waar hulle werk nie verstaan nie ens. Ek geniet wat ek doen en het ‘n PASSIE vir kinderontwikkeling. Ek bevind my egter teen ‘n muur met van my graad 3’s wat nounog p,b,d omruil. Ek het nou al die letters se rympies vir hulle geleer, is dit n’ geval van te min vaslegging, visuele diskriminasie probleme ?? Ek wil so graag help, het jy enige idees?
Dankie vir jou PUIK webwerf – dit is so lekker om te sien dat daar nog mense is wat passievol oor hul beroep is.
Michelle du Toit
Kimberley
LikeLike
Aug 19, 2010 @ 18:10:28
Welkom, Michelle! Ja, nasorgtannies is soms “op gesaal” met die huiswerk en moet aan alles kan aandag gee wat van ouers en opvoeders vereis word.
In die meeste gevalle is omkerings soos b / d / p te wyte aan ‘n verwarring van rigting (ruimtelike oriëntasie + lateraliteit) en visuele diskriminasie. Dit is een van die grootste uitvalle waarmee ek te doene kry en is so algemeen soos ‘n loopneus 😉 Indien die outjies teen Graad 3 nogsteeds sukkel met die omkerings en verwarrings (en arbeidsterapie en ‘n oogtoets wou nie help nie), kan jy jou daaraan troos dat die letterformasies van lopende skrif minder verwarrend is. Maak gerus herinneringskaartjies vir die outjies. Onder die “drukbare bladsye” is die formasies van b en d. Die laaste bladsy het die woordjie “bed” om die letters aan te dui. Ons het dit sommer verklein en op die potloodblikke en tafels geplak (met ‘n strokie breë deursigtige kleeflint). Die outjies het dan nie ‘n verskoning om die foutjies te maak nie. Gebruik ook groot “muurkaarte” en kleure soos pers (p), blou (b) en donker groen (d) om groot letters teen die muur aan te bring. Soek prente wat met die klanke begin om rondom te plak. As ‘n outjie ‘n verwarring maak en nie self die fout raaksien nie, kan jy die letters laat oefen (skrif) in sand of op ‘n growwe mat sodat hy / sy die letters deur die sintuie ervaar.
Baie sterkte en kom loer gerus weer in :wink:… en groete vir die nasorgkleingoed!
LikeLike
Okt 28, 2021 @ 15:59:40
Great post tthankyou
LikeLike