Iemand het onlangs gevra hoe ‘n mens kan help om die jong outjies sinne te laat skryf.

Blaai deur ou tydskrifte en soek prente wat tot die belangstellings spreek.  Vra aanvanklik vir beskrywende woorde en skryf dit rond en bont op ‘n bladsy neer.  In Graad 1, sal die outjies geneigd wees om sinne herhaaldelik met dieselfde woorde te begin, bv. Ek sien… Dit is ‘n… Herinner hulle daaraan om eerder nie opeenvolgende sinne met dieselfde woorde te begin nie en verskaf voorbeelde of opsies om van te kies.

Kyk nou na die beskrywende woorde en vra dan dat die outjie ‘n sin gee om die prent of tema te beskryf. Bv. Die motor is vinnig. Vra nou vrae om die sin meer beskrywend te maak. Bv. “Hoe lyk die motor? Waar is die motor?”

Die rooi motor is vinnig…Die rooi motor (voor die boom) is vinnig.

Om die sin te laat oor gaan in ‘n paragraaf, kan ‘n mens nou aan meer besonderhede dink. Hoe vinnig versnel die motor? Wat maak die motor spesiaal?

Gebruik dan ook ander onderwerpe en artikels. Dink aan ‘n advertensie vir ‘n eiendom. Verskaf ‘n uitknipsel en vra dat die outjie dit in volsinne of meer beskrywend oor skryf. Bv. Hierdie huis het een verdieping en een motorhuis. Dit het drie slaapkamers en ‘n twee badkamers. Daar is ‘n swembad in die groot agterplaas en ‘n gevestigde tuin.
Verlig of omkring die vreemde woorde (“groot woorde”) en verskaf ‘n woordeboek, sodat die sinonieme op gesoek en vervang kan word.  Die outjie kan die nuwe woord in ‘n woordelys aanteken – met ‘n sinoniem tussen hakkies.

Om later ‘n opstel te skryf, gebruik heelwat mense die grafika of idee van ‘n hamburger. Probeer dit gerus.

paragrawe   sinbeginners  paragraphs

Nie noodwendig geïnteresseerd in opstelle nie? Skryf kort briefies aan penmaats.  Laat jou klas se graadvlak en adres in die kommentaarblokkie indien jy in ‘n penmaatklub belangstel.

Tik gerus ook soekterme soos “tydsvorme, Engels, klanke, hersien, woordsoort…” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir soortgelyke idees. Ek hoop dit kan help 😉