Tuis

Vadersdag

2 Kommentaar


pappa

Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…

  • Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
  • Sjokolade happies:  Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in.  Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
  • Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout.  Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
  • Peuselpotjie:  Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
  • Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone.  Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
  • Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
  • Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
  • Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
  • Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny.  Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak.  Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!

Ek las weer mettertyd nog idees by. vadersdagpavaders

Speel ‘n bietjie

Lewer kommentaar


speeldag228 Mei is Wêreld Speeldag.  Ander mense noem dit wêreld speelgoeddag.  Wat jy ookal verkies, maak seker dat jy ‘n bietjie pret vir die dag beplan…

  • Pak die speelgoed- of apparaatstoor uit en stel verskeie stasies op waar kinders verskillende aktiwiteite kan probeer. (Balgooi, dribbel, balanseer, kruip, klim, hang, “monkey bars”…)
  • Bou ‘n hindernisbaan.
  • Bou ‘n skattejag (bou ‘n bietjie leeswerk in).
  • Verskaf stasies vir “houtwerk”, waterspel, fantasiespel…’n tipiese Graad R buitespelles.
  • Grawe in die argiewe vir oulike opvoedkundige speletjies.  Skuif die tafels in rye sodat elke speletjie apart gespeel kan word.  (‘n Goeie verskoning vir legkaart-bou is om seker te maak dat al die stukke daar is.)
  • Vra die kinders om self bordspeletjies te beplan vir klanke of wiskunde.
  • Klop aan by ‘n oulike kleuterskool en ruil speletjies met hulle uit.
  • Hou ‘n speletjiesmiddag.
  • Verleng die pouse…
  • Besoek ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Begin ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Skenk aan ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Reël ‘n spreker (soos ‘n arbeidsterapeut) om die ouers in te lig oor oulike opvoedkundige speletjies en speelgoed.
  • Reël ‘n ouma of oupa om oor speelgoed uit hul jeug te praat.

Kinder Beskermingsweek

Lewer kommentaar


Daar is  min dinge wat my so grief soos ‘n verwaarloosde kind…en daar vergeet ek toe byna dat dit Kinder Beskermingsweek is.  Ek heg ‘n paar skakels na webtuistes aan waar u kan inligting kry oor kinderregte en –veiligheid.

Dis ‘n onderwerp waaroor ‘n mens moeilik praat, want ons wil veiligheid en versorging van kinders as vanselfsprekend aanvaar.  Ongelukkig is daar kinders in elke klas wat dalk wees gelaat is, mishandel word, honger ly…noem maar op.  Die maatskaplike probleme en uitvalle vorm ‘n belangrike kwelpunt in die versorging van kinders.  Daarom is dit een van die eerste dinge waarna ons as opvoeders moet kyk…Sukkel die kind dalk akademies of op sosiale vlak weens huislike probleme?  Gebeur daar dinge tuis (of elders) wat die kind se psige kan afbreek?  Is daar iemand in die skool wat sal kan help indien ‘n kind mishandeling of verwaarlosing aanmeld? Waar meld ek die kwessies en probleme aan?

In ons skool praat ons weekliks in graad-verband – die sogenoemde leerderbesprekings.  Probleme word dan skriftelik in ‘n boek genoteer en aan die Opvoeder Ondersteuningspan (OOS / EST / ILST / Hulpspan) gerapporteer.  Indien daar aspekte soos maatskaplike probleme genoem word, word dit met die hoof van die Hulpspan (in ons geval die skoolhoof) bespreek en ‘n plan van aksie word bedink.  Ongereelde skoolbywoning tel ook onder hierdie afdeling.  Die situasie word gemonitor en die opvoeder gaan voort om kontak met die ouers te probeer maak om die saak aan te roer.  Teen die einde van die kwartaal sit die Hulpspan met elke opvoeder en word elke leerder op die klaslys bespreek (± ‘n periode per klas / opvoeder).  Ons probeer dan om saam aan oplossings te dink.  Bv. ‘n geleentheid skool toe saam met ‘n buurman of die beskikbaar stelling van ‘n klas vir die voltooiing van huiswerk…Dit maak nie saak hoe eenvoudig of hoe ingewikkeld die probleem is nie – dit word aangeraak. Indien ons nie seker is of die probleem by maatskaplike dienste aangemeld moet / kan word nie, skakel ons die maatskaplike werkers om uit te vind. Weet eerder waar die grense lê as om die kind verwese te laat. Hou altyd die nommers van die plaaslike ACVV of Kindersorg sigbaar in die klas en verduidelik aan kinders dat hulle die reg het om oor hul probleme te praat.

Loer gerus hier indien jy graag betrokke sou wou raak by kindersorg organisasies in jou omgewing…
ACVV
PATCH
Child welfare
Lifeline national counselling line:  0861 322 322
Childline toll free counselling number: 0800 055 555
National AIDS Helpline:  0800 012 322

Laat weet ons asseblief indien jy van ander organisasie weet…

DAAR IS GERUGTE WAT DIE RONDTE DOEN DAT MENSE TANS VERSKEIE SKOOLGRONDE DOP HOU…

moedersdag

8 Kommentaar


Dit is Sondag Moedersdag. Hiermee ‘n paar idees vir ‘n ietsie vir Ouma, Mamma of ‘n spesiale tannie.

This slideshow requires JavaScript.

Trek die sjablone of raamwerkies af op stewige karton (soos ‘n papboks) of ‘n ou x-straal plaat.  Help die kinders om dan die vorm na te trek op ‘n kleurvolle papier.

Julle kan byvoorbeeld ‘n gedig soos “Ma” deur Antjie Krog op ‘n A4-vel skryf.  Gebruik skerpgemaakte uitdraaikryte en verf kleursel bo-oor om die papier ekstra spesiaal te maak.  Selfs spatsels van verskillende kleure suiwer voedselkleursel (oorheersend eiergeel met rooi, groen en blou spatsels) kan ‘n interessante effek gee.  Oefen vooraf en gebruik jou eie oordeel.  As die papier droog is, kan jy die patroon natrek, laat uitknip en vou. Vul die houer met lekkertjies (“pienk pilletjies”, smarties, jelly beans, love sweets, malvalekkers) of jul gebak en heg ‘n kaartjie daaraan.

Indien jy die hartjieboekie soos hierbo wil vou, kan jy die sjabloon tussen hakkies probeer.  (Ek het die oorspronklike sjabloon probeer vergroot.)  Skryf dan “byvoeglike naamwoorde” soos “mooi, liefdevol, spesiaal” daarin en rond dit af met ‘n spesiale laplint.

‘n Tipe papier wat goed werk, is die bruin dosie-karton wat net ‘n bietjie dikker as gewone papier, maar dunner as ‘n papboks is.  Dit het sulke spikkels in en is relatief goedkoop.  Indien jy ‘n laplint of verpakkingstou gebruik, gee dit ‘n “rustieke” gevoel.  Uitdraaikryte sal steeds pragtig daarop vertoon.

moeder2

senteacher.orgmoeder

sokker

2 Kommentaar


Die Wêreldbeker sokkertoernooi is een van die dae hier en ‘n mens kan verskeie dinge doen om die kleingoed geïnteresseerd te maak.  Ek het so ‘n paar werkvelle en “inspirasies” opgespoor oor sokker en oor verskeie Wêreldlande. “Lande van die wêreld” val seker nog nie heeltemal in hierdie kwartaal se beplanning nie, maar die terloopse inligting behoort voorbrand te maak vir die latere tema’s. Sonder ‘n hoekie, muur of gang af waar die outjies meer oor die deelnemende lande en die sokkertoernooi kan leer. Gebruik die idees om dalk Engels as tweede taal aan te bied of om nuwe woorde aan te leer. Hou ‘n paar velle inkleurprente of aktiwiteite een kant vir die verveelde outjies. Natuurlik kry ‘n mens ekstra spesiale plakkers vir jou ekstra werk :wink:.
Bespreek die vorms van die blokke op die bal. Dit het vyf sye en word ‘n pentagoon genoem. Hoeveel van hierdie blokke sien jy op ‘n sokkerbal. Hoeveel is wit? Hoeveel is swart? Verdubbel die aantal blokke. Hoeveel kry jy? Wat gebeur as ek die wit blokke met die aantal swart blokke vermenigvuldig? Hoeveel sye het 3 blokkies?…en al die blokke altesaam?
Het jy geweet dat daar geboue in hierdie vorm bestaan? Die Pentagon in Amerika en die Kasteel in Kaapstad is twee voorbeelde van so ‘n vorm.

Maak ‘n prentjie met ‘n paar vyfhoeke. Maak sjablone uit x-straalplate, sodat die kinders dit kan aftrek. Laat die outjies dit uitknip en op die rug van ‘n dinosourus plak.Vou vyfhoeke en maak ‘n klas vol sterre daarvan. Dit behoort die kleingoed ure lank besig te hou. Het jy geweet dat as jy die bene of punte van ‘n sterretjie omvou – jy ook ‘n vyfhoek kry?! Doen dit sommer met plakkers.

…Daar is ook blokke met seshoeke!  (Duidelik is Juffer nie ‘n sokker kenner nie.)  Nou het ek weer ‘n ding raak gesien! Wat daarvan as elke kind ‘n seshoek uit ‘n stukkie lap knip en met lapverf verf.  ‘n Knap juffrou of mamma kan dan ‘n klaskombers maak.  Ek wens ek kon self so ‘n deken maak! Dit lyk altyd so mooi en snoesig 😉

Gee vir elke outjie ‘n seshoek om uit te knip en ‘n spelwoord om daarin te skryf.  Bou ‘n heuningkoek teen die muur en siedaar! ‘n Spelles, vormles én fynmotoriese ontwikkeling in een!  Ek sou op eu-woorde gefokus het om by die heuningkoek aan te sluit, maar enige iets sal werk.

Neem ‘n bladsy vol vorms en vra die outjies om slegs die vyfhoeke of seshoeke te omkring vir visuele diskriminasie oefeninge.  Maak patrone op lang strokies en gee los vorms. Vra dat die kleingoed die patrone napak of dat hulle dit nateken.  Jy kan die vorms in verskillende kleure maak – sodat die patroon die volgorde van kleure ook insluit. (vyf-en-seshoeke)

Verskaf bladsye met verskillende groottes seshoeke, vyfhoeke en sirkels.  Gee die kinders die vryheid om hul eie prentjies met die vorms te pou (knip en plak).

Wat weet ons van ‘n bal? Wat is die vorm se naam? ‘n Sfeer.  Dis ‘n opgeblaasde sirkel…Waar kry ons sfere? Noem maar op: planete, die son, die maan, balle, gloeilampies, krale…

Blaas borrels met seep (buig ‘n draadjie in ‘n sirkel en maak lekker seepwater aan – vir buite spel).  Blaas borrels in ‘n seperige oplossing…gebruik strooitjies en drup ‘n paar druppels voedselkleursel in die seepsous.  As die outjies hard genoeg blaas, borrel die glas oor en kan ‘n mens ‘n papier bo-op druk.  Die borrels gee ‘n oulike tekstuur op die bladsy.

Speel met balle – groot, klein, grof, swaar, lig, wollerig (tennisbal)…ryg sfeervormige krale in om halsnoere te maak…Het iemand dalk ook oulike idees?

(sokker-soektog en tweeklanke-woordsoeke)

(doolhof en sokkerbal-inkleur)

Zakumi (Laat maak jou eie Zakumi)

Inkleurprente van die sokker – insluitend Soccer City en Tafelberg (oulik)

herfs

12 Kommentaar


herfs

Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie.  Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was!  Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy.  (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)

Uitstallings:

As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen.  Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop.  Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers.  Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud.  Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak.  Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.

Collage:

‘n Collage word nie in een dag voltooi nie.  Dit bou op.  Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees.  Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.

  • Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak.  Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word.  Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig.  Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”.  Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees.  Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees.  Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
  • Maak ‘n krimpvarkie.  Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol.  Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry.  Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik.  In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur.  Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water.  Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
  • Maak ook ‘n eekhoring.  Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af.  Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor.  Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding.  ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage.  Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny.  Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!).  Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
  • Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi.  Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek.  Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
  • Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton.  Sny dit uit.  Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood.  Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie.  Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki).  Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
  • Maak herfsblaarbrille.  Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?).  Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons.  Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
  • Maak herfslanterns.  Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase.  Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas.  Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak.  As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom.  Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas.  Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
  • Maak ‘n groot boom.  Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier.  Teken duidelike graslyne.  Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit…  Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk).  Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word.  Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond.  Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word.  Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak.  Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer.  Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal.  Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom.  Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans.  Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
  • Doen “afvryf” werk.  Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het).  Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor.  Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk.  Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel.  Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek.  Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit.  Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe.  Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf.  Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
  • Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels.  Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
  • Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel.  Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!

Ander:

Herfsstorie en werksvelle

Gedigte

Simmetrie

Verskeie

Tel

Takies

Voorskools

Inkleurwerk

Engelse stories

Tik ook soekterme soos somer, winter, lente en weer by die bruin soekblokkie in.

HerfsAutumn

waterwys

Lewer kommentaar


waterwysWêrelddag vir water is 22 Maart en volgende week is Waterweek (begin die 15de).  Hier is ‘n paar aktiwiteite en mense met blink idees se gedagtes.

1. ‘n Lêertjie oor Engels klanksamevloeiings – met oulike druppels en sambrele. Jy kan dit selfs aanpas vir die Afrikaanse outjies of die leë raampies vir iets anders gebruik.

2. Die waterkringloop.

3.  So kan ek help om water suiwer te hou.

4.  Die VSA het ‘n paar oulike idees om kinders bewus te maak van waterskaarstes, suiwering en -besparing.

5.  Water verbruike tuis.

6.  Water webwerf vir kinders

7. Water Wise

8.  Besparing by die skool. (Video)

9. Bewarings aksies by die skool.

10. Aanlyn water speletjie.

11. Driesie Druppel gaan op reis 

12. Dienie en Dimpie Druppel

Tik gerus soekterme soos “water, waterspel, grond, groen, bewaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Kom ons hersien die klanke…

32 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

[Dubbel-, twee- en drieklank muurkaarte]

Spel oefeninge

Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik.  Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie.  Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.

Screen Shot 2015-09-01 at 15.57.39Screen Shot 2016-05-30 at 13.31.46

  • Enkelklanke:
    • Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm.  Hy moet dit dan identifiseer.
    • Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin.  Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind.  Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
    • Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys.  Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken.  Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
    • Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
    • Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot).  Vra dat Grootman die klank soek en omkring.  Tel die klanke.  (Dalk kruip daar nog weg.)
    • Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf.  Maak seker dat hy op die regte plekke begin.  Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken  (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…).  Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie.  Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi.  Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
    • Speel “name, vanne, diere, dorpe”.  Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
    • Woordfamilies:  Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig).  Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os.  Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.  
    • Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is:  ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik.  Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk.  Wys dit.  Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”.  Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”?  Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris.  Hy kan dan ‘n sin gee.  Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groot s skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”).  Laat hom die s met gom “skryf”.  Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand).  As dit droog is, kan hy daaroor voel.  So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.

  • Dubbel-, twee- en drieklanke:
    • Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie.  Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
    • Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer.  Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat.  Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
    • Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek.  Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat.  Ruil die rolle om en maak beurte.  Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank”  by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.

Biblioteekweek

2 Kommentaar


Dit is Biblioteekweek vanaf 15 tot 19 Maart.  Wat kan jy doen om hierdie week te vier?

  • Indien jou skool ‘n biblioteek het, kan jy individuele foto’s van die kleingoed (veral Graad R of 1) neem.  Die gedagte is dat jy die foto in of voor die biblioteek neem – met ‘n boek of lidmaatskapkaartjie in die hand.
  • Druk dit dan op ‘n A4-vel uit (“print” in die middel) en help die outjies om ‘n raam rondom te teken met helder uitdraaikryte of pastelle.  Maak letterpatrone, skryf woorde of ‘n slagspreuk (bv. “Ek kan lees.” “Lesers is oulik.”) in die raam.  Verf ‘n verdunde voedselkleursel lagie bo-oor en siedaar!  Nou kan jy ‘n uitstalling in die gang maak om te wys hoe oulik jou lesertjies is.  Blok dit op ‘n aansteekbord of maak ‘n lang lyn (op die outjies se ooghoogte), sodat die ander maats die slim lesers kan raak sien.
  • Reël ‘n ouer, ‘n ouma of iemand uit die gemeenskap om oulike kinderboeke vir die kleingoed te kom lees.  Die persoon moet darem so ‘n bietjie met gevoel kan lees en weet hoe om met kleingoed te kommunikeer.  Wat van ‘n Graad R-juffrou?  Die kinders sal dit geniet om hul ou juffrou weer te sien en om met hul uniforms te spog.  Dalk kan een van die groter grade se juffrouens kom inloer of selfs die skoolhoof.
  • Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n spreker reël.  Dalk is daar ‘n kinderboekskrywer of –illustreerder in jou omgewing.  Lees van die persoon se boeke en doen ‘n bietjie navorsing.  Stel ‘n paar vrae op wat die kinders tydens ‘n onderhoud of vraag-antwoord sessie moet beantwoord.
  • Maak julle eie boeke en plaas dit in die klas se leeshoekie / bibliotekie – vir die hele klas se leesgenot.  (Bv. My boekie oor vorms.  My boekie oor sjokolade.  My boekie oor die skoolhoof.  Juffrou se boekie oor dinge waarvan sy hou.) Kry dan ‘n ander opvoeder om die boekies te lees.  Dit behoort ‘n aardigheid te wees vir die kleingoed 😉
  • Ouer grade kan vir die kleintjies gaan lees of tydens ‘n leesles vir die kleingoed help met hulle leeswerk…
  • Wat van ‘n biblioteek “make over”?  Die moontlikhede is legio.

Skrif voorbeelde

8 Kommentaar


Hier is ‘n paar idees vir tuis-oefeninge.  Druk die voorbeeld uit en sit dit langs die kleinding neer of plak dit teen die muur vas.  Gebruik ‘n “lyntjieboek” om in te oefen.  Ek is nie seker of die prente se skaal korrek sal wees indien jy dit direk druk nie.  Indien dit wel werk – kan jy die bladsy in ‘n lêersakkie bêre en ‘n dun koki (witbord veselpen) gebruik om dan daarop te skryf.  ‘n Mens kan die sakkie vinnig skoon vee en môre weer oefen.

Die drukskrif oefeninge is nog te moeilik vir Graad 1.  Doen dit eerder met Graad 2- en 3-leerders.  Die lopende skrif-oefeninge kan met kinders van Graad 2 af op gedoen word.

Tik gerus ook soekterme soos “skrif, skryf, potloodgreep, lopende skrif, knip” by die bruin soekblokkie in vir nog hulp en idees.

Moenie van CNX vergeet nie…So skryf ‘n mens op lyne: a m, n, r, h, p r en b p en d h, p, b  b, d d k l i e met patroon a, e, s g o en c u s s en patroon z en j t, i, k v w x y

Vir linkshandige outjies.

Tik ook soekterme soos “skrif, skryf, abc skryf, lopende skrif, robotkaart, potloodgreep, knip…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

b en d verwarrings

21 Kommentaar


b-en-d

Ek het gister geantwoord op ‘n vraag oor b en d verwarrings.  Ek plaas dit hier as ‘n artikel en las ‘n paar dinge by…

Die belangrike ding van b en d is om dit afsonderlik te verduidelik. b begin altyd bo en beweeg dan af. Jy verbeel jou dat jy baie lekkers voor jou op die tafel het en dat jy gulsig is 😉 Trek die lekkers nader…en strooi dan ‘n paar vir die ander maats om die tafel (kloksgewys). Jy trek die b dus denkbeeldig met die gryp en uitdelery. Praat saam as jy die b maak. “b begin bo…b is vir beer…b is vir bal…b is vir bak…en dis nie al…”

Speel dan “Ek sien met my klein ogie…iets wat begin met ‘n b…”

Maak b bladsye….soek prente wat begin met b in ou tydskrifte en plak dit op ‘n papier…laat die kleinding ‘n b langs elkeen skryf. Plak dit iewers vas waar sy baie daarna kan kyk.  Iemand het elders ‘n (engelse) liedjie op die wyse van “My Bonnie lies over the ocean” op gemaak…Probeer myne…

“My juffrou het prente van die b-klank,

van bere, van boeke en blou.

My juffrou het prente van die b-klank…

b b b b b b b b…

Bring jou hand af,

bring jou hand af,

bring af en bons op en om…bons om

bring jou hand af, hand af…

bring af en bons op en om…”

Maak die skryf-aksie na terwyl jy die refrein sing – asof jy op ‘n denkbeeldige bord skryf.

d begin op dieselfde plak as a – in die draai (2 pm op die horlosie en anti-kloksgewys na links)…”om die piering op-en-oooop en af…”

Doen dieselfde tipe aktiwiteite as met die b... Soek prentjies…soek d-dinge in die vertrek…

Skeur stukkies blou of bruin papier (uit ou tydskrifte) en plak dit op ‘n groot b. Doen dieselfde met ‘n donker groen op die d….Maak ‘n b uitstalling dalk op die linkerdeur van Poplap se kasdeur en ‘n d uitstalling op die regterdeur…oefen oefen oefen 😉

Gebruik die “doo wa di di”-liedjie hier…

doo wah diddie, diddie dam diddie doo

Gaan om die piering en dan op en da-han af…

sing dan doo wah diddie, diddie dam diddie doo…”

‘n Mens kan nie die geskrewe aspekte alleen hanteer nie.  Tesame met die verwarring van die klanke, moet jy aandag skenk aan aspekte soos lateraliteit (die begrip vir links en regs), visuele diskriminasie (die uitkenning van b of d tussen ander klanke)…

b & d

‘n Video om te help – speel deur die Tiny Tap Toep/App

Screen Shot 2015-03-27 at 6.18.33

tandmuis / tooth fairy

3 Kommentaar


Iemand wou graag iets oor die tandmuis leer…Wat kan jy doen om die tandmuis se besoeke lekker te maak?  Kyk na hierdie kreatiewe idees wat bordjies, kussinkies en sakkies insluit.

Prente:

Maak:

THolloway

Tik ook soekterme soos “gesonde mond, higiëne” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

broodsakkiekaartjie vir ‘n rolstoel

9 Kommentaar


As deel van die herwinningsprojek vir die jaar kan jy en jou gesin (of klas) julle broodsakkiekaartjies versamel vir rolstoelskenkings. (Lees hier of hier.) Maak die klein kaartjies bymekaar wat die sakkie seël en pos dit aan Mary Honeybun of kontak Adri by 012 259 0554 vir verdere besonderhede.  Dis ‘n oulike gedagte, hou die kombuis skoon, hou die kleingoed aan die tel en as hulle briefies by hul posstukkies las – is dit ‘n oulike skryfwerkie.

270 kg kaartjies / 800 000 tot 1 miljoen = 1 rolstoel

Adres: Mary Honeybun, Posbus 215, Noordhoek, 7979

Telefoon: 021 789 1831

skool kruip nader

7 Kommentaar


terugskooltoe

Die nuwe skooljaar begin binnekort.  Hiermee so ‘n paar inkleurprente en gedagtes vir ouers en die jongspan.

  • Kry vandag nog al die skryfbehoeftes, kosblikitems en die uniform gereed.
  • Onthou dat die aanvangs van die nuwe skooljaar dikwels gepaard gaan met ‘n bekendstellingsproses.  Daar sal moontlik van julle verwag word om foto’s van die gesin of familie skool toe te stuur.  Loer solank vir gepaste foto’s…
  • Verseker dat jou kleinding julle telefoonnommers en adres ken (agtergrondbladsy vir ‘n klaswerk- of huiswerkboek).
  • Indien die skool nie skryfbehoeftes (boeke, oortrekpapier en plastiek) verskaf nie, kan jy solank seker maak dat die benodigdhede gereed lê vir die eerste skoolnaweek (alias “oortrek naweek“).  Ek het ‘n paar voorbeelde van basiese voorblaaie onder “drukbares” gestoor.  Gebruik dit gerus indien die skool nie voorblaaie verskaf nie.
  • Merk vandag nog ALLE skryfbehoeftes en kry die skooltas gereed.  Dit is altyd beter om die roetine so ‘n paar dae voor die tyd te begin as om dit op nommer 99 te probeer toepas (persoonlike ervaring het my geleer 😉 )…

Begin solank met die opgewondenheid…

Elizabeth Dulemba het ‘n hele paar oulike inkleurprente wat sy gratis aan die publiek bekend stel en Friends Accross America s’n is net so kreatief. Kaboose se prente het oulike lyne en hier kan jy leer hoe om die letters van die alfabet met jou lyf te vorm (Graad 2 en ouer). Dan is daar ook verskeie skoolgaande diere kinders!

herwin

Lewer kommentaar


herwinning

Ek het besluit om vanjaar ‘n herwinningsprojek aan te wakker in my klas.  Die besluit is egter makliker as die “oorgaan in aksie”, maar tog behoort dit die moeite werd te wees om te probeer.

Wat kan ek alles herwin?  Basies alles wat weggooibaar is in ‘n gewone klas.  Kontak die volgende plekke om uit te vind waarheen jy die items kan neem of hou jou plaaslike koerant dop vir herwinningsdepots.  Daar is dikwels fondsinsamelingsopsies betrokke.

Cambriarecyles gee oulike idees en lesse. Daar is selfs ‘n reseppie om jou eie papier te maak.

Vir lesidees en werkvelle is Kidzone, abcteach, mieliestronk en planet pals staatmakers. Ek het ‘n paar blogs en webwerwe raak gelees waar oulike en kreatiewe idees gegee word om te gebruik in leerareas soos tegnologie.

Wat van…?

  1. Snippermandjies van snippertjies…Gebruik die skool se snippers en muurpapiergom. Plak en bou die vorm oor ‘n bestaande drommetjie en siedaar!
  2. Plekmatjies en versierings van ou legkaarte…Grawe in die stoorkamer vir ou en halwe legkaarte. Niemand kan dit tog gebruik as die stukke onvolledig is nie. Teken ‘n vorm, knip dit uit en plaas dit onder ‘n deursigtige stuk plastiek of glas. Pak die stukke legkaarte binne die raampie en bou dit op. Muurpapiergom is ‘n lekker dik pasta en gee ‘n “vernisde” gevoel as jy na die tyd ‘n lagie oor die skepping verf.
  3. Versier die klas met ou potlode en penne…Kies ‘n item en versier dit. Maak byvoorbeeld ‘n raam vir die venster of aansteekbord met die opskrif “Kyk hoe hard het ons gewerk” of “Potloodmuseum”. Ek het iets soortgelyks in ‘n klassie gesien – waar die juffrou potlode korter as die kind se middelvinger summier “afgeskryf” het. Kort potlode is immers nie ‘n goeie ding nie, want die belemmer ‘n goeie potloodgreep en postuur.
  4. Penneblikkies…gebruik ou kosblikkies, versier en gebruik dit op die tafels vir skryfbehoeftes…of laat plak ‘n klomp aan mekaar vas en sit dit vas teen ‘n dun plankie. Hang die plankie teen die muur op, merk die blikkies met die leerders se name en siedaar! Briewebussies vir nota’s, huiswerkvelle, omsendskrywes ensovoorts.
  5. Rol die bladsye van ‘n vernielde storieboek styf op en bind met ou haarnaalde vas.  Maak vorms soos harte – vir vinnige potloodhouers.
  6. Afgeskryfde boeke (veral met die harde omslae) se blaaie kan vas geplak word.  Plak so ‘n paar vas aan mekaar om ‘n stewige eenheid te vorm, plaas ‘n kussinkie bo-op en jy het ‘n oulike stoeltjie vir die leeshoekie.  Jy kan hierdie idee selfs inspan om die deur oop te hou of om jou boeke en lêers teen te rus op ‘n lomp boekrak! …of maak ‘n boekrak
  7. Selfoon of i-pod beskermers? Weef of brei ou wol, repies materiaal, sak of fyn draad om ‘n reghoekie te vorm.  Vou dit om en werk die kante toe.
  8. ‘n Kweekhuis gemaak van ou plastiekbottels…
  9. Herbenutting en so ‘n bietjie “eenvoudige tegnologie
  10. Engelse herwinningswerksvelle

Is daar ‘n paar juffrouens of mamma’s met oulike idees?  Kyk sommer na Strijdom van der Merwe se kunswerke.

nood (toiletroetine)

Lewer kommentaar


Iemand het die afgelope paar dae gesoek vir aanwysings en kentekens vir ‘n badkamer. Ek vermoed dit is vir die kleingoed en vir kleuterskole se “troonkamers”. Hiermee dan ‘n paar skakels na oulike webwerwe. Daar is geïllustreerde aanwysings om die proses van goeie higiëne en toiletroetine aan te dui. Dit behoort behulpsaam te wees vir kinders van verskeie ouderdomme en kan tuis of by die skool gebruik word.

badkamer-muurkaarte

toilet-posters

Klik op die foto’s om te vergroot…

1.  So maak mens

2.  Mooza gee inspirasie vir elegante aanwysings…lap, plakpapier…lamineer…(of hoe sal ons dit aanpas?)

3.  Wat van tuinkabouters in kissies op die deure?

4. ‘n Badkamer vir seuntjies met oulike teëlwerk.

5.  ‘n Kleurvolle badkamer – met oulike, wurm spieëls.

6.  Boodskappe teen die muur kan goeie gewoontes aanmoedig.

7.  ‘n Badkamer vir jong meisies.

8.  Seetema – kan aansluit by Nemo, Little Mermaid…

9.  Leesstof vir die badkamermuur (tande)

10.  Drukbare kunswerke vir die badkamermure

12.  Superhero kentekens vir die deure

boekmerkies

2 Kommentaar


boekmerke

‘n Mens is mos altyd op soek na oulike idees – om te maak of om te laat maak. Hoekom dan nie boekmerkies nie?!  Dis mos iets om aan die begin van die jaar te maak – om die jaar met ‘n lekker lees gees te begin.

  • National Geographic het ‘n oulike webprogrammetjie waar die kind (of juffrou) self ‘n boekmerkie kan maak.  Jy kan die prentjie, agtergrond en raampie kies en jou eie boodskap tik.
  • Highlightkids het ‘n soortgelyke program.  Ontwerp jou eie oulike boekmerkies deur gesiggies, koppe, lywe en voete te pas. Jy kan sommer lekker laf raak as jy wil. Al wat jy dan nodig het is ‘n drukker, ‘n skêr en ‘n lamineermasjien (of ‘n rol breë deursigtige kleeflint).
  • Maak boekmerke met ‘n spesiale foto en boodskap daarop.
  • DLTK is altyd ‘n wenner en daar kan jy regtig kreatief raak. Ek het die Spongebob merkie daar geskep. Dan is daar ‘n paar oulike merkies op die Family Fun webwerf.
  • Kids Kreate het ‘n paar oulike boekmerkies in kleur.  Wees kreatief.
  • boekmerkbasis
  • Boekmerk (drukbaar)  –  gebruik apart of plak twee merkies rug-teen-rug.
  • Engelse boekmerkies is beskikbaar onder “drukbare“-hofie.
  • books are magical

Boekmerk wit

 

boekmerkfoto                    boekmerkmaker

komponente van lees

1 Kommentaar


Soos wiskunde, het lees ook verskeie aspekte of boublokke om die leser se vaardighede te versterk.  Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskat ontwikkeling in.

Fonemiese bewustheid dek die begrip dat ‘n woord uit verskillende dele bestaan.  Ek hoor die begin-, middel- en eindklanke…Ek kan ‘n woord verskaf wat rym met…

Klanke is die dele waaruit woorde gebou word:  klinkers / vokale, medeklinkers, klanksamevloeiings (br-, -ng, sw-…), dubbelklanke (aa, ee, oo, uu), tweeklanke (ui, oe, eu…) en drieklanke (aai, eeu…).  As die leser nie sy klanke ken nie, kan hy nie die woord ontsluit (lees of spel) nie.  Dus is ‘n goeie kennis van klanke belangrik.

Vlotheid het te make met die vloeiendheid van lees.  Dit steun nogal sterk op die leser se vermoë om dele van woorde en hele woorde met die eerste blik of oogopslag te herken.  ‘n Groot hoeveelheid woorde val onder die konsep sigwoorde of hoë frekwensie sigwoorde.  Hoe vinniger en hoe meer akkuraat hierdie woorde gelees word, hoe meer vloeiend lees die kind.  Vlotheid neem egter hande met sigwoorde én leestekens.  Die kennis van leestekens en hul gebruike, maak die leesproses ‘n outomatiese proses.  Dink maar net aan jou bestuursvernuf.  Jy weet hoe om verkeerstekens en padaanwysings te gebruik sonder om twee maal te dink.

Woordeskat ontwikkeling is ‘n lekker en spesiale oefening wat deurgaans kan plaasvind en sonder veel “stres”.

Gebruik die vakansie om spelenderwys en op ‘n ontspanne manier aandag aan die konsepte van lees te skenk en lees, lees, lees 😆 Koop ‘n boek of ruil uit met ‘n vriendin.

Time4learning is ‘n Amerikaanse webwerf wat ook hier en daar verklarings oor leesontwikkeling oulik voorstel.  Gaan loer gerus…

Tik voorts soekterme soos “lees, leeslys, sigwoord, woordeskat, abc, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits…ouditiewe, visuele, ogies, rympies, engels” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir verskeie idees.

nog ‘n kans

Lewer kommentaar


kansDie aspekte wat in ag geneem word om ‘n kind terug te hou in ‘n graad, is baie omvattend.  ‘n Opvoeder sal nie sommer ‘n kind terug hou tensy dit nie in die spesifieke kind se beste belange sal wees nie.

Wat maak ek as my kind met die rapport tuis kom?

Die skool het jou reeds voorberei vir die moontlikheid van ‘n meer tyd aanbeveling.  Probeer om die goeie aspekte raak te sien.  “Sjoe! Jou skrif is baie goed en jy het ‘n goeie punt vir Lewensvaardighede gekry.  Baie geluk.  Ons sal volgende jaar aan die ander dingetjies werk.”  Oor-en-verby en roomystyd. Bêre die rapport en moet dit nie vir ander mense wys nie. Met die aanvangs van die nuwe jaar kan ‘n mens die hulp van kundiges in roep om aan die probleemareas te werk.  Die vakansie is kort en kwaliteit familietyd is belangrik.  As die outjie oor die rapport wil gesels kan ‘n mens luister.  ‘n Houding van “ek weet dat jy jou beste probeer het, maar volgende jaar gaan die werk meer bekend wees en sal jy nog ‘n kans kry”…is meer geskik as ‘n uittrapsessie.  Vir ‘n jong leerder kan ‘n mens vertel dat sy juffrou hom graag as ‘n leier vir die nuwe maats wil inspan…dink aan ‘n gepaste (positiewe) verklaring…Indien die nuus regtig moeilik is om te verwerk, kan ‘n mens ‘n gesprek met ‘n berader (sielkundige, spelterapeut, ens.) probeer.  ‘n Kind gesels dikwels met meer gemak met ‘n buite mens as met sy eie maats of ouers.

Hiermee verdere inligting oor ‘n Meer Tyd-jaar.

Herhaling van Graad 1-leerders

Herhalingsjaar en adolosente

Slaagvereistes

einde van die jaar

3 Kommentaar


Wat maak ‘n mens aan die einde van die jaar? Eindig ‘n mens die jaar met ‘n vinnige wuif by die deur of maak jy iets spesiaals daarvan?

Ek het ‘n paar oulike idees teë gekom om veral by die jonger grade in te span. Weereens is die meeste gediggies en idees in Engels. Wie kan aan iets ouliks (in Afrikaans) dink?

Maak ‘n hele tema om die jaar mee af te sluit en hou ‘n uitstalling van die jaar se lekkerste gebeure. ‘n Goeie manier om die klas te versier is om foto’s en prente aan ‘n tou vas te knyp en om dit van hoek tot kant bo-oor die leerders te span. Plaas die gebeure in kronologiese volgorde en vra die kinders om kortliks die gebeure te beskryf. Bv. Jana het in Januarie verjaar. Ons het ‘n swembad-partytjie gehou en het lekker gespeel… Ons klas het die meeste geld ingesamel vir die skool se nuwe vlagpaal. Dít was nou ‘n goeie spanpoging!…Maak ‘n punt daarvan om iets oor elke leerder te plaas.

Indien daar muurruimte is, kan ‘n mens ‘n spesiale kleurvolle uitstalling aanbring. Wat van ‘n tema soos “Mooi dinge om te onthou uit my Graad 2-jaar”? Indien ‘n mens die kans het (of ‘n helpende mamma of twee), kan die oulike stories en prente op CD’s geskandeer word en as ‘n afskeidsgeskenk uitgegee word. Indien die CD’s ‘n bietjie duur is, kan ‘n afgerolde boekie gebind word vol herinneringe…met ‘n prettige klasfoto op ‘n kleurvolle voorblad 😉 Wees gerus kreatief en maak die herinneringe ekstra spesiaal.

Older Entries