Wat maak ‘n mens aan die einde van die jaar? Eindig ‘n mens die jaar met ‘n vinnige wuif by die deur of maak jy iets spesiaals daarvan?
Ek het ‘n paar oulike idees teë gekom om veral by die jonger grade in te span. Weereens is die meeste gediggies en idees in Engels. Wie kan aan iets ouliks (in Afrikaans) dink?
Maak ‘n hele tema om die jaar mee af te sluit en hou ‘n uitstalling van die jaar se lekkerste gebeure. ‘n Goeie manier om die klas te versier is om foto’s en prente aan ‘n tou vas te knyp en om dit van hoek tot kant bo-oor die leerders te span. Plaas die gebeure in kronologiese volgorde en vra die kinders om kortliks die gebeure te beskryf. Bv. Jana het in Januarie verjaar. Ons het ‘n swembad-partytjie gehou en het lekker gespeel… Ons klas het die meeste geld ingesamel vir die skool se nuwe vlagpaal. Dít was nou ‘n goeie spanpoging!…Maak ‘n punt daarvan om iets oor elke leerder te plaas.
Indien daar muurruimte is, kan ‘n mens ‘n spesiale kleurvolle uitstalling aanbring. Wat van ‘n tema soos “Mooi dinge om te onthou uit my Graad 2-jaar”? Indien ‘n mens die kans het (of ‘n helpende mamma of twee), kan die oulike stories en prente op CD’s geskandeer word en as ‘n afskeidsgeskenk uitgegee word. Indien die CD’s ‘n bietjie duur is, kan ‘n afgerolde boekie gebind word vol herinneringe…met ‘n prettige klasfoto op ‘n kleurvolle voorblad 😉 Wees gerus kreatief en maak die herinneringe ekstra spesiaal.
Woorde