Tuis

Outisme

2 Kommentaar


Screen Shot 2015-03-30 at 19.27.21

2 April is Outisme Bewustheidsdag.  Die statistieke wissel, maar tans is die skatting dat ongeveer 1 uit 86 kinders deur die Outisme Spektrum geraak word.  Dit kom vier keer meer in seuns as in dogters voor en in ander wêrelddele is dit meer algemeen.  Wat sê die kundiges?

Indien julle blou gloeilampe het, verlig die skool of voorhuis daarmee en om die dag te ondersteun, dra gerus blou.  Kontak ook een van die spesialis skole om meer oor ondersteuningsgeleenthede in jul area te wete te kom.

Vir nog idees, tik gerus “outisme”, “toeps” of “inklusiewe onderwys” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die skakels onder die hofie “Aandagafleibaarheid, Aspergersindroom, Outisme”.

aarde

Lewer kommentaar


Staan op 28 Maart ‘n uur aan Earth Hour (20:30 – 21:30) af.earthhour

Tik ook soekterme soos “aarde”, “grond”, “water” en “herwin” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.  Loer hier na ‘n oulike herwinnings- en gemeenskapsdiens projek.

water

Lewer kommentaar


16 – 22 Maart
Vanjaar is daar sommer ‘n hele paar wêreld en nasionale dae of weke in dieselfde week. Waterweek het amper verby geglip. Dis nooit te laat om met goeie gewoontes te begin nie.

water

Gelukkig

Lewer kommentaar


DagvanGeluk

Vrydag, 20 Maart, is ‘n Internasionale Dag van Geluk.  Hoeveel dinge kan jy lys wat jou gelukkig maak?  Vertel ander daarvan om hulle te inspireer.  Skryf dit op ‘n taai notatjie (post it) of plak boodskappe op die leerders se boeke of tasse.  Elkeen kort ‘n positiewe boodskap so nou en dan.  [gelukkig]

gelukkig

die see

6 Kommentaar


 

 

 

This slideshow requires JavaScript.

Iemand het onlangs gevra wat ‘n mens kan doen met ‘n see-tema.  Laat ek sien…

  • Berei groot velle wit of koerantpapier vir ‘n seetoneel voor.  Indien jy ‘n rol papier het, kan jy die papier sowat ‘n muurlengte lank maak.  Meng muurpapiergom/styselpap met voedselkleursel (‘n emmer met groen, ‘n emmer met blou en dalk ‘n emmer met ‘n geel mengsel) en gee vir die outjies sponse (of gebruik die hande) om die kleure oor die papier heen te versprei.  Begin met die ligste kleur en laat blertse toe.  Ouer kinders kan die papier teen ‘n muur monteer en smeer.  Terwyl die verf nog nat is, kan hulle die branderpatroon dwars oor die papier trek.  Vee net die vingers kort-kort af om die effek beter te maak.  [Dit gaan lekker morsig wees.]
  • ‘n Mens kan ook die groot papier met ‘n olie mengsel voorberei indien jy dit voor vensters wil hang.  Meng verf of voedselkleursel met gewone sonneblom olie om die papier ‘n deursigtigheid te gee.  Die kleur hoef weereens nie egalig te wees nie.  Hierdie metode gaan ‘n sonvanger-effek teweeg bring.
  • Vir die heel kleintjies, kan ‘n mens visprente (op papier of karton – vir versterking) afrol  en gee om in te kleur met vetkryte of uitdraaikryte.  Hoe harder hulle druk, hoe beter.  Knip dan die prente uit en gee effens verdunde voedselkleursel om bo-oor die visse te verf.  Hoe meer kleure daar beskikbaar is, hoe meer kleure sal jy in jou see sien.  Plak nou die visse rond en bont in die see op en gebruik selfs ou groente-bordjies (foamalite) om die visse van die papier af te lig – vir meer dimensie.
  • Indien jy individuele prente wil maak, meng kleursel of verf met ‘n lekker seperige oplossing.  Gooi dit in vlak bakke (bv. 2 liter roomys bakke) of ou yoghurt-houers (500ml) en verskaf strooitjies sodat hulle kan blaas dat die biesies bewe.  As die borrels oor die rand begin klim, druk jy die A3-bladsy daarop.  Herhaal totdat die bladsy vol borrels is en plak visse daarop sodra dit droog is.  ‘n Goedkoop badskuim of skottelgoed wasmiddel behoort goed te werk.
  • Graad R- en 1-kinders kan hul letterformasies oefen deur die groot vel in lyne te vou (dubbeld en dubbeld totdat die lynspasie ‘n wenslike breedte het).  Gebruik dan wit vetkryt om lugborrels te teken.  Dit gaan sommer deel van ‘n skrifles oor o (klank) of 0 (syfer) wees.  Die outjies moet weereens hard druk en net-net aan die lyne raak.  Verf die bladsy met ‘n olie-en-kleursel of water-en-kleursel mengsel.
  • Trek die buitelyn van ‘n vis op harde karton of ou x-straalplate af en knip uit.  Gee dit vir die kinders om twee op ‘n stuk karton of wit papier af te trek (plak vas met maskeerband of wondergom).  Die idee is om een vis te hê wat na regs kyk en ‘n ander een wat na links kyk.  Versier die visse met patroonwerk (druk met pasta-dikte verf en proppies of teken met vetkryt) en kleur die ogies en bekkies in.  Knip uit en verf met ‘n kleurselmengsel – indien julle vetkryt gebruik het.  Kram of plak die twee dele dan rug-teen-rug vas, sodat die gomstreep om die buiterand is en julle die vis met watte of sagte papier kan op stop.  Plak die laaste stukkie toe en hang die vis met vislyn uit die dak of of voor jou see muur.
  • Gebruik ‘n papierbord met ‘n lekker hol binnekant.  ‘n Mens kry dikwels ‘n “foamalite” of plastiek bord wat lekker diep is en effens weg staan.  Sny die middelste deel uit.  Verf, teken en plak nou ‘n gewone seetoneel op ‘n gewone papierbord en dop die gesnyde een bo-oor die versierde een om om ‘n kajuitvenster te skep.  Indien julle lus het, kan ‘n mens die geknipte ring/vensterraam met foelie oor trek, voordat jy dit op die seetoneel plak of kram.
  • Teken visse lekker groot op A3-blaaie, maar los die stertvin uit.  Kleur die vis in of verf die lyf met voedselkleursel.  Gebruik nou medisyne druppers om effens verdunde voedselkleursel op die vis se vinne te drup en blaas dit met strooitjies na buite.  ‘n Mens kan vooraf die hele bladsy met die drup-en-blaas metode kleur en ‘n vis teken sodra die papier droog is.
  • Vir krappe en krewe, kan julle die handpalm of kant van die vuis in oranje en rooi verf doop en dan op ‘n bladsy druk.  Sodra die papier droog is, kan ‘n mens die ogies in teken.  Knip die krappe en krewe uit en voeg dit by jou seetoneel by, versier ‘n venster of ‘n gang.
  • Dop ‘n papierbord om en verf met oranje-rooi verf.  Indien jy wit papier onder die bord gehad het, kan jy sommer die stukke wat uit steek met die verf by kom as die bord klaar is.  Sny dan later die pote uit hierdie stukke en plak dit weerskante van die krap.  Voeg wikkel ogies by en siedaar.
  • Doen dieselfde om ‘n jellievis te maak, maar gebruik dik, gekleurde styselpap (sagte bloue, perse) en langer, dunner tentakels.  ‘n Mens kan ook stroke snesiepapier en linte vir die tentakels inspan.
  • Seekatte:  Verf dikkerige verf op die voetsool en trap op wit papier.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uit knip en onderste-bo gebruik.  Die tone vorm die tentakels.
  • Jy kan blasieplastiek (bubble wrap) verf en ‘n bladsy bo-op druk om die suiers te maak.  Knip ag arms uit en plak dit teen jou seekat vas.  Hoe meer gekrul die arms se punte is, hoe meer karakter het die seekat.
  • ‘n Blink idee is om die seekat se suiers met sequence te maak.  Plak die tentakels vol.
  • Papierborde bly ‘n wenner in Graad R.
  • Gebruik twee papierborde om ‘n orca (moordwalvis) te maak.  Verf die een wit en die ander swart.  Trek ‘n kurwe in die vorm van ‘n heuweltjie oor die breedte van die swart bord en sny uit (sowat ongeveer ‘n kwart na ‘n derde kan af gesny word).  Plak die swart deel bo-op die wit bord en plak twee wikkel ogies aan die kante.  Gebruik die stuk wat jy af gesny het om twee vinne weerskante van die lyf die plak en ‘n driehoekige stukkie vir die dorsale vin.
  • As jy die orca groter wil maak, gebruik ‘n hoepel om die vorm af te trek.
  • Maak ‘n drywende walvis uit ‘n plastiek melkbottel (2 liter) deur dit op die sy te draai.  Die opening dien as die stert gedeelte en die handvatsel is die bokant.  Sny ‘n bek in die onderkant van die bottel – ‘n glimlaggende keep.  Verf gaan vinnig afskilfer of af was.  Teken dus die oë aan die kante en hou die doppie toe as julle die walvis bo-op water laat dryf.
  • Indien julle lus het, kan ‘n mens eerder die bek in teken en ‘n gat bo-in die bottel kap vir waterspel.  Plaas ‘n waterpyp in die bottel se opening en maak dit met rekkies of insulasieband vas.  Hou om hierdie hegtingsdeel vas en draai die kraan wyd oop.
  • Trek twee seeperdjies aan weerskante van ‘n papierbord af.  Sny die bord in die helfte en gee vir twee kinders afsonderlik ‘n seeperdjie.  Verf en sny dit uit.  Versier met ‘n dik laag verf en blinkers of “sequence“.
  • Julle kan die seeperdjies op die muurcollage plak…of versier beide kante van die seeperdjie en hang dit voor ‘n venster.

 Ek sal nog ‘n bietjie dink 😉

Hoezit se feite

 

 

Biblioteekweek

Lewer kommentaar


bibweekBiblioteekweek begin Saterdag.  Hoe gaan jy outjies na die biblioteek toe lok?  Loer ‘n bietjie na idees uit die verlede:

Biblioteekweek A, Biblioteekweek B, Biblioteekweek C, Biblioteekweek D

Lees:  Motivering en Aanmoediging

pi dag

Lewer kommentaar


Screen Shot 2015-03-08 at 17.00.27

 

Pi Dag is op 14 Maart weens die syferwaarde 3,14…Dit is ‘n irrasionale getal en kan nie eintlik as ‘n breuk geskryf word nie.  Jy kry π wanneer jy die omtrek van enige sirkel deur sy deursnee deel.

Pi dag

Pi (Prettig)

stamboom

2 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Ek het heelwat navrae oor stambome en families gekry.  ‘n Mens kan natuurlik pragtige, kleurvolle bome verf – met die unieke besonderhede van die familie daarby.  ‘n Ander opsie is om dit op ‘n bladsy te druk met ‘n eenvoudige diagram.  Hiermee dan so ‘n paar riglyne.

Maak ‘n PowerPoint bladsy oop.  Gaan na SmartArt en dan na Hierarchy.  Dit sal vir jou opsies vir die uitleg bied.  Daarvolgens kan jy ekstra takke en persone invoeg.  Indien jy ‘n foto in ‘n sirkel of blokkie wil plaas, gaan jy daarop regs-klik.  Gaan na “Format Shape” en “Fill”.  Kies dan “Picture or Texture” en kies ‘n ID-tipe foto.

Van die simbole wat ‘n mens kan gebruik is:

* (voor die geboortedatum)

~ (voor die doopdatum)

(voor die datum van afsterwe)

x (dui op huwelik/datum van troue)

xx (dui op ‘n tweede huwelik)

÷ (datum van egskeiding)

Die van word in hoofletters getik en ‘n nooiensvan word tussen hakkies getik (neé …).

Indien julle ‘n program aanlyn soek, loer gerus na webtuistes soos MyHeritageGeni en Ancestry.  Daarop kan ‘n mens in diepte gaan.  Probeer ook die Genealogiese Instituut van Suid-AfrikaeGGSA en die argiewe.

Family_Gesin (drukbaar)

People Mense Abantu 

Eenvoudig Gesin Family (drukbaar)

Onderwysers

2 Kommentaar


Vir onderwysers…

Luidleesdag

4 Kommentaar


luidleesdag

Ja, daar is werklik ‘n Luidleesdag.  Skep Woensdag die geleentheid vir luidlees deur middel van die volgende moontlikhede:

  • Lees ‘n storie tydens ‘n saalbyeenkoms voor.
  • Lees ‘n storie oor die interkom voor.
  • Deel die klasse in groepe in sodat klasse oor die graadvlakke heen vir mekaar lees (makker lees).
  • Laat die kinders saam lees en maak opnames van die leesgroepe om tydens ‘n leesuur vir mekaar te speel.
  • Doen iets interessants soos om die aanwysings vir ‘n resep te lees (en maak dit dan).
  • Lees die koerant.
  • Lees grappe.
  • Lees rympies.
  • Lees sigwoorde.
  • Lees stories op ‘n elektroniese toestel (iPad/Android).
  • Lees in die leerders se huistaal of in die tweede taal.
  • Lees boeke iewers in die gemeenskap voor (bv. ‘n voorskoolse dagsorgsentrum, ‘n versorgingsoord…)…
  • of gaan sit eenvoudig iewers in ‘n skadukol en lees vir ontspanning.
Tik gerus soekterme soos luidlees, lees of leeslys by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.

world read aloud day

%d bloggers like this: