Tuis

Potloodgreep

2 Kommentaar


Op die 23ste Januarie vier ander lande Skrifdag.  ‘n Vinnige idee om met die ontwikkeling van ‘n goeie potloodgreep te help, is ‘n vinnige manier om die potlood op te tel…

Plaas die potlood “vertikaal” voor jou op die tafel – met die punt na jou lyf (maag/bors) – asof dit in die vou van ‘n oop boek lê.  Plaas jou skryfhand se vingerpunte teen mekaar en rus die naelpunte op die tafelblad.  Glip die duim aan die een kant en die ander vingers aan die ander kant oor die potlood.  Knyp die potlood tussen die wysvinger en duim vas, lig die agterkant op en oor tot in die webspasie.  Siedaar!  As jy nou die “okay”-teken met jou vingers moet maak, kan jy dit vorm sonder om vingers van die potlood te lig of om die potlood te laat val.  Jou duim maak ‘n perfekte bergpiek na buite.  Krul die middel-, ringvinger en pinkie liggies na jou handpalm en ontspan jou hand wanneer jy skryf.

Hoe lyk die duim as jy jou potlood vas hou?  Maak dit ‘n berg, duik dit in of staan dit stokstyf?

potloodoptel

Tik gerus soekterme soos “potloodgreep, handspier, skrif, skryf, patrone, abc, skryf, lopende skrif…knip, linkshandig” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

potloodgreep

18 Kommentaar


Sukkel jou kind om ‘n potlood reg vas te hou?  Knoop ‘n sagte, handdoekstofrekkie in die vorm van ‘n 8.  Trek die  groter deel losserige oor die gewrig en steek die potlood deur die kleiner ring.  Dít help om die potlood te lig sodat dit meer korrek in die webspasie tussen die wysvinger en duim lê.

Staan die vingers in die lug?  Knoop ‘n oulike kraletjie aan die groter ring – wat die outjie dan onder die pinkie en ringvinger moet vasknyp.  Andersins werk ‘n los kraletjie, muntstuk, klei of wondergom ook goed.

As al die fynspier (handspier) oefeninge nie help nie, sal dit voordelig wees om ‘n konsultasie met ‘n arbeidsterapeut te reël om raakvat idees te kry.

potloodreëls

My kind skryf stadig

22 Kommentaar


skryf

Sommige kinders sukkel om netjies, vloeiend en vinnig te skryf.  Dikwels worstel dié outjies daarmee om ‘n potlood reg vas te hou.  Hulle klou as’t ware die potlood en het min beheer oor die skryfaksie.  Wanneer die vingers korrek geplaas word, is daar meer beheer oor die handspiere en dus ook oor skrif.  Só ‘n outjie sy fynspiere is nog onderontwikkeld.  (Kyk gerus na die idees om die fynspiere te ontwikkel onder ‘n vorige inskrywing.)

Soms veroorsaak ‘n stywe, gespanne greep ‘n toestand waar die handspiere nie meer so beweeglik of beheerbaar is nie – carpal tunnel syndrome.

Ek vertel gewoonlik ‘n storie waar die duim en wysvinger die kake van ‘n krokodil is.  Hy het net een kaak bo en een onder – daarom mag net hierdie twee vingers op die potlood rus.  Die res van die hand is soos ‘n skilpad se dop.  ‘n Skilpad kan nie sien waar hy loop as die dop oor sy oë hang nie – daarom lig ons die dop (hand) so ‘n bietjie op.  Die potlood word net bokant die verflagie vas gehou – sodat die skilpad se “nek” met gemak kan beweeg.  Die ringvinger en pinkie word ingekrul en die middelvinger dien as ‘n kussinkie vir die skilpad se moeë nek.  Elke juffrou het ‘n ander storie.  Vind gerus uit watter een jou kind se juffrou verkies.  Indien jou kind sukkel om die vingers op die korrekte plekke te hou, kan ‘n grepie aangeskaf word.  Dis gewoonlik rubberstukkies wat bo-oor die potlood geskuif word met merkies daarop.

Net ‘n laaste gedagte:  Onthou dat die skryfstyl verskil van boek-tot-boek en van skool-tot-skool.  Vra asseblief jou kind se juffrou om die korrekte letterformasies aan jou te verduidelik (die wyse waarop die letters gemaak word), sodat die kind nie verwar word nie…en as jou kleinding steeds met skrif sukkel, sal ‘n besoek aan ‘n arbeidsterapeut van groot waarde wees.  Hulle kyk uit ‘n mediese en kliniese oogpunt na spierbeheer en is regtig waardevol.

‘n paar oepse

As die outjie dalk sukkel met taakvoltooiing kan ‘n mens ook die volgende probeer:

  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet.
  • As hy die doelwit behaal, beloon hom met ‘n stempel of plakker. Na bv. 10 plakkers kan hy ‘n beloning kry.
  • Plaas hom langs ‘n maatjie om hom aan te moedig.
  • Vat so nou en dan aan sy skouer as hy dromerig lyk of skuif hom na ‘n plekkie na aan die opvoederstafel. Soms is juffrou se glimlag of goedkeuring klaar ‘n wenner.
  • Laat die outjie vinnig op staan om vir jou ‘n papier op te tel of water te bring. So ‘n bietjie beweging help.

Oefeninge om die hand- en vingerspiere (fynspiere) te ontwikkel.

Hoe ernstig is die dromerigheid of afleibaarheid?