Tuis

moedersdag

Lewer kommentaar


moeder

Plekmatjies:

Maak plekmatjies uit ou padkaarte, scrap book papier of uit papier wat julle self met patroon- en verfwerk versier het.  As jy die papier op vilt of kurk wil plak moet jy sorg dat die hele oppervlakte met gom gesmeer word.  Kies jou eie vorms – sirkels, hande, vierkante – en seël dit met ‘n lamineerplastiek of modge podge (verkrygbaar by kunsvlyt winkels).

Jy kan ook foto’s van die kinders neem en met die rekenaar se drukker (swart op wit) druk.

Ma se blom:

Kies ‘n keramiekblompot en druk dan motiewe met stempels daarop.  ‘n Mens kry hierdie potte in verskillende groottes – selfs baie klein.  ‘n Kruiesteggie (soos tiemie) kan die geskenk sommer prakties ook maak.

In die knyp: 

Kleur hout wasgoedpennetjies in neutrale kleure, pastelle of selfs helder kleure (met voedselkleursel of verf).  Knyp ‘n menigte aan ‘n dik stuk draad vas en gebruik dit as ‘n potstaander in die kombuis

…of knyp die pennetjies aan gordyndraad vas en hang dit aan ‘n ou fotoraam.  Knyp so ‘n paar foto’s hier en daar vas en siedaar!  ‘n Memento van ‘n spesiale geleentheid of mensie.

As ‘n mens so iets in ‘n klas wil doen, kan jy eers ‘n agtergrond skep met gras en blou lug op dik karton.  Plak die pennetjies in ‘n kurwe vas en sorteer die kleure in ‘n patroon (bv. pienk, pers, wit, pienk, pers, wit).  Knyp dan sê-goed in van die pennetjies vas of selfs ‘n foto.  In plaas van ‘n draad, kan die pennetjies met ‘n mooi lap lint verbind word.

Potpourri:

As jou skool slinger-naaimasjiene het, kan die ouer outjies eenvoudige vorms uit lap sny.  Stop dit met roosblare of laventel en stik toe.  As daar kommer oor allergieë heers kan ‘n mens die sakke met watte stop en laventel olie daarop druk.  Dit behoort vir ‘n wyle lekker te ruik.

In die haak:

Hierdie een het ‘n bietjie meer voorbereiding nodig… Grawe in die store, op afvalhope of in die ou houtwerkklas vir afval hout, skroewe, deurknoppe en skaf goedkoop blik eetgerei aan.  Kap ‘n gat deur die lepel en buig dit.  Die kinders kan die blokkies verf, kleur en op ‘n kreatiewe wyse versier.  Skroef die lepel of knop vas en daar het jy ‘n haak vir ‘n handdoek of ‘n jas.

Herfsblare:

Gebruik die idee van stikwerk en sny minstens twee tot drie ewe groot blare uit verskillende skakerings vilt (oranje, rooi, bruin, geel).  Steek of plak dit aan mekaar vas en stik dan al om die rand en deur die middel om ‘n blaar-effek te skep.  Dit behoort ‘n hand teen warm borde te beskerm.

moeder2

Ander Moedersdagidees en –geskenke

ma se dag

6 Kommentaar


Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag).  Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:

  1. Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton.  Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou.  Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
  2. Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:).  Verf die plaatjie wit en wag tot droog.  Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien.  Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood.  As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken.  Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf.  Meng die kleure vooraf soos jy die verkies.  Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
  3. As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
  4. Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het.  Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf.  Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
  5. Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste.  Lief vir mamma….).  Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om).  Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël.  Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
  6. Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies.  Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke.  Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.


  Lekker werskaf!

%d bloggers like this: