Tuis

Pantoffeldag

Lewer kommentaar


Pantoffeldag kruip nader.  Dis ‘n dag ter bewusmaking van kinderdrome en meer spesifiek die Reach for a Dream-projek.  Het jou skool lus om pantoffels te dra vir ‘n dag?  Wat van ‘n kleurskema?

*Versier ou pantoffels met viltlap of ontwerp en skep nuwes uit sweetpak- en handdoekmateriaal.  Skenk die nuwe pantoffels aan ‘n tehuis, skooltjie of behoeftiges.  Wie sal in jul omgewing kan baatvind?

Paasfees

Lewer kommentaar


Loer gerus na vorige skrywes en idees.

Paasfees

  • Oefen die outjies se knipvaardighede deur paaseiers of kruise op verskillende teksture soos karton, viltlap, snesiepapier (uit ou geskenkpakkies) en riffelkarton na te trek.  Hulle kan dit dan uitknip om versierings en kaartjies te maak.
  • As julle ‘n groot paaseier uitknip, kan ‘n mens dit met uitgeknipte patrone versier (bv. sirkel, driehoek, sirkel, driehoek).
  • Trek ‘n groot ovaal bo-oor ‘n gelineerde bladsy en rol dit af sodat die outjies hul patrone daarop kan oefen. Trek ligte potloodlyne op ‘n skoon (wit / gekleurde) bladsy of vou die bladsy om lyne te skep.  Doop die duim in pastadikte verf en druk ‘n ry “paaseiers” op elke lyn.  Die kleure kan afgewissel word om patrone to vorm.  Knip die patrooneiers uit en plak dit op die kleurvolle agtergrond, sodra die verf droog is.
  • PaasfeesOefen patroonwerk met uitdraaikryte (druk hard), verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny die eiers uit sodra dit droog is.  Plak twee eiers rug-teen-rug en hang dit aan ‘n lintjie of ‘n toutjie op.
  • Deel ‘n bladsy in vier gelyke blokke.  Skryf Bybelverse op ‘n eiervorm in elke blok en sny dit uit.  Trek patrone met blinkertjiegom op die keersy en gebruik dit as versierings wanneer die tafel gedek word.
  • Gom geknipte viltletters op viltpaaseiers en -kruise om as boekmerke te gebruik.
  • Tel droë takkies op en gebruik verpakkingstou om kruise te maak.  Los dit so of verf dit met wit gom en besprinkel met blinkertjies.  Hou dit vir die Kersboom.
  • Sny ‘n kruis of ‘n groot Paaseier versigtig in die middel van ‘n karton-/manillavel uit.  Sny dan lang stroke snesiepapier uit en plak dit dwars oor die gaping totdat die eier of kruis gevul is.  Hang dit voor ‘n lig of voor ‘n venster.
  • Sny ovaalvorms of kruise uit ou snesiepapier.  Verf dit liggies met olie en versier ‘n sonnige ruit.  Indien die olie ‘n bietjie grillerig klink, kan ‘n mens ‘n groot vel boekplastiek voor die ruit span en die versierings dan daarop plak.
  • Sny die geponsde rand van ‘n papierdoilie af en doop dit in ‘n vlak bakkie met effens verdunde voedselkleursel.  Sodra dit droog is, kan die dele effens oorvleuelend op ‘n kruis of ‘n paaseier geplak word.  Gebruik een kleur of verskillende kleure.  Draai die paaseier of kruis om wanneer dit droog is en knip dan die dele wat oorhang af.
  • Doop wit hoendereiers in asyn vir ‘n minuut en haal uit.  Smeer Orley Whip (of room in ‘n spuitkannetjie) in blertse oor ‘n bakplaat en drup helder voedselkleursel rond en bont daaroor.  Trek die wit eiers versigtig deur die mengsel, rol liggies of skep lepelsvol room liggies daaoor sodat dit heeltemal bedek is en laat dit net so op die plaat in die yskas staan vir ‘n halfuur tot ‘n uur.  Was die room af en gebruik die prettige eiers gedurende die Paasnaweek vir ontbyt en dies meer.
  • ‘n Mens kan ‘n leë hoender eier met wit gom of muurpapiergom verf en dan die gekleurde doiliepapier daaroor plak.  ‘n Lagie gom oor die droë eier sal help om ‘n glans effek te gee.  Vul ‘n klein mandjie vir die Paastafel.

‘n Geseënde Paastyd!

Vadersdag

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

‘n Mens kry deesdae heelwat gebruike vir paletplankies.  Waarom dan nie ‘n geskenkie vir Pa nie?

  • Saag ‘n lengte in korter dele op en sorg dat daar ‘n gedeelte van sowat 5 – 8cm ekstra is. Gom die kort stukkie loodreg aan die onderpunt van die plankie en kap met spykertjies vas sodra die gom slegs klewerig in plaas van loperig is.  Knip die woord Pa* (pa dad) netjies en versigtig uit en plak dit met ‘n gomstiffie bo-aan die plankie. Hierdie papierwoord gaan slegs tydelik hier verskyn.  Kap nou klein spykertjies ewe diep al op die buitelyn van die woord in, sodat die woord selfs sonder die papiergids herkenbaar sal wees.  Sodra jy tevrede is, kan jy die papier los wikkel en ‘n bietjie water gebruik as dit lol.  Wikkel en weef nou borduurgare of bruin verpakkingstou (“twine”) kruis en dwars tussen die spykertjies om die letters in te kleur.  ‘n Mens kan mens ‘n lussie oor of om ‘n spyker begin en ook so eindig.  Smeer gom of kleurlose naellak op die knopie om dit te versterk.

Trek ‘n sigsagpatroon met ‘n potlood en kap spykertjies op die omdraaipunte, sodat ‘n mens sleutels of dasse daaraan kan hang en ‘n selfoon op die rakkie kan laat lê.

Draai die rakkie om en skroef ‘n koeldrankringetjie bo, in die middel of aan die hoekie vas.

  • ‘n Mens kan twee plankies loodreg, in die lengte vasplak – óf soos ‘n T in die middel van een plank, óf aan die rand.  Gebruik dan die bokant van die T of die plat kant as die vooraansig.  Kap spykertjies vir hangplek hierop vas.  As jy die rakkie nou teen die muur ophang, gaan daar ‘n rakkie vir die selfoon agter die vooraansig wees – met hangplek vir dasse en jasse voor.

Skroef koeldrankringetjies agter die rakkie vas.

Hierdie plankie is lank genoeg sodat jy die woord Pa* aan die linkerkant kan aanbring en dan ander spykertjies aan die regterkant kan versprei.

  • Spuit skeerroom op ‘n stuk foelie.  Drup voedselkleursel daarop en trek lyne kruis en dwars met ‘n stokkie daardeur.  Druk ‘n vel papier bo-op of selfs ‘n dun plankie.  Gebruik die bladsy as geskenkpapier of skroef hakkies by die plankie in vir dasse en sleutels.

vadersdagfathersday

*’n Mens kan die plankie ook vir ‘n oom of ‘n oupa maak.  [Oom Oupa]

 

 

Tik gerus ook soekterme soos “vadersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir vorige idees.

Vadersdag

4 Kommentaar


Dis weer eersdaags Vadersdag en ons moet solank begin werk aan geskenkidees…

Plekmatjies: As pagoed graag ‘n koue glasie of verversing geniet, kan ‘n mens klein, ronde pierinkies by ‘n plastiekware-winkel koop en met ‘n sterk gom en kleurryke krale versier. Die gom dien as kleefmiddel, maak die geskenkie waterdig en seël dit vir ‘n skitter effek.

“To do”: Maak ‘n herinneringsbordjie. Trek die raamwerk van ‘n gereedskapstuk op ‘n eenvoudige blokkie hout af. Verf die buitekant / agtergrond met een kleur en die binnekant van die gereedskapstuk met swart bordverf. Skryf dan ‘n boodskap soos “onthou” of “moet doen” in wit bordkryt op die stukkie. Draai ‘n hakie onder en een aan die bokant van die blokkie in, sodat jy dit kan op hang en ‘n boodskap onderaan kan haak. As jy verkies om ‘n wasgoedpennetjie daarop vas te plak, kan die boodskappies in die pennetjie vas geknyp word.

Gewigtige saak: Maak ‘n papiergewiggie uit soutklei en pak ‘n boodskappie daarin uit met spoelklippies of effekleurige (dalk hout) krale. As jy die woord op ‘n voorbeeld pak of op die bord skryf, maak dit die na-apery makliker.  (Soutklei resep hier.)

Emmer skop: Hierdie geskenk is meer persoonlik. Dink aan stringe dinge waarvan pagoed hou en waarvan hy droom. Tik dit netjies en groot uit. Knip in stroke en plak aan die buitekant van ‘n blikkie vas. Versier en vernis dit om as ‘n pennehouertjie te dien.

Gekleurde pennetjies: Verf ‘n klomp gholfpennetjies in verskillende kleure vir die gholfsak.

Boekmerkies:

As die outjies baie klein is, kan jy vir hulle ‘n basiese reghoek uit gekleurde karton laat sny.  Gee bewerige ogies om bo-aan te plak en sny self die diep keep om soos ‘n skuifspeld oor die blaaie te gly.  As julle lus het, kan die outjies self die karton met patroon-, plak- of verfspatwerk versier voor die knippery.  Jy kan hierdie konsep ook op roomysstokkies probeer.

Ouer kinders kan ‘n handgeskrewe sin op ‘n eenkleurige vel papier skryf en saam met ‘n foto van hulself op ‘n boekmerk rangskik.  As jy klein individuele foto’s van die kinders het (soos vir die skoolprofiele benodig word) kan jy dit op ‘n roomkleurige papier afrol.  Gebruik ‘n karteltandskêr om ‘n raampie om elke foto te sny, plak op ‘n kartonvel soortgelyk aan die binnewand van geskenkpapier, versier met ‘n sinnetjie en rond af met ‘n stukkie tou of ‘n leerriempie.

Engels boekmerkies:   ‘n stel.

‘n Boekmerk met ‘n fynmotoriese kinkel:  Vou ‘n pypskoonmaker spiraal en gom aan ‘n breë lint sodat die pypskoonmaker by die boek sal uit hang.

Druk netjies kraaghempies in kleur of met swart ink op gekleurde karton (wat van scrap book papier?!). Sny die eenvoudige buitelyne uit, vou en plak magnete aan die binnekante van die hempspanele. So klou die hemp die boek vas. As Pa die boek klaar gelees het, kan hy die die boekmerk teen ‘n spieël of metaalkas stoor.

ma se dag

6 Kommentaar


Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag).  Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:

  1. Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton.  Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou.  Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
  2. Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:).  Verf die plaatjie wit en wag tot droog.  Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien.  Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood.  As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken.  Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf.  Meng die kleure vooraf soos jy die verkies.  Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
  3. As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
  4. Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het.  Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf.  Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
  5. Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste.  Lief vir mamma….).  Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om).  Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël.  Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
  6. Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies.  Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke.  Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.


  Lekker werskaf!

aarde

Lewer kommentaar


geleen
Op die 26ste Maart, om 20:30, sal die wêreld weer hul ligte afskakel vir Earth Hour.

  • Maak lanterns uit ou plastiekbottels, hou ‘n kersligete op die voorstoep of speel al die bordspeletjies wat iewers in ‘n kas vergete geraak het.
  • Skakel die huis se krag summier vir ‘n uur lank af en gebruik dié stiltetyd om kreatiewe kunswerke uit herwonne materiaal te maak.
  • Maak kershouers of -staandertjies met ‘n boodskappie vir ouma of tannie.  Gebruik ou teekoppies hiervoor of as jy dit tydens die earth hour wil maak, kan jy selfs ‘n vrug soos ‘n appel gebruik.  Indien jy nog van die Kerstyd se sneeu sproei oor het, kan jy enige glas flessie in ‘n indrukwekkende kunswerk omskep.
  • Vir die skool kan ‘n mens dalk ‘n rol swartsakke ooprol en gate daarin maak om ‘n woord of slagspreek uit te stip. Maak ‘n prominente ruit heeltemal donker met nog swart sakke en skakel byvoorbeeld ‘n blou gloeilamp (of flitsende kersligte) aan sodat die bewoording aandag kan trek.

Gaan loer gerus na ‘n paar les-idees vir hierdie spesiale dag.  Intussen kan julle met meer raakvat aksies begin soos om die klas se afvalpapier te herwin, herwinningsdromme op die skoolgronde aan te bring en om goeie gewoontes by die kleingoed te kweek.

herverbruik

Lewer kommentaar


Is daar tema’s wat jou soms uitboul? Is daar soms ‘n leemte of ‘n gaping vir ‘n interessante aktiwiteit? Probeer gerus iets kreatiefs soos om bruikbare items uit gebruikte produkte te skep.

herwinning

 

1. ‘n Pennetjiesak: Soek ou hand-naaimasjiene in die skool se stoor, stof hulle af en gee ‘n naaldwerkles. Vra dat die outjies ou, gebruikte kleintydrokkies of -hempies bring. Hang die kledingstuk op ‘n klein hangertjie (dalk een wat self van draad gebuig is), werk die onderste soom en moue toe en siedaar!

2. Bekerrokkies of servetringe: Hierdie is iets wat ‘n mens as ‘n geskenk vir ‘n juffrou of mamma kan maak. Gebruik oorskietwol om ‘n breë strook te hekel of te brei (dik materiaal soos denim behoort ook te werk… dalk afgesnyde some). Sny ‘n hartjie, lippe of ‘n blom uit vilt en werk dit op die strook vas (met borduurgare). Dit kan nou as ‘n beskermer dien teen ‘n warm koffiebeker. Indien jy die strokie kleiner maak, kan dit as ‘n servetringetjie dien. ‘n Paar ringetjies in ‘n oulike verpakking sal ‘n oulike geskenk maak.

3. Kaartjies: Teken die buitelyne van ‘n groot varingblaar op die teksgedeelte van ‘n koerantartikel. Indien die vryhandmetode ‘n bietjie moeilik is, kan jy die blaar vooraf teken, vergroot en op ou x-straalplate afteken. Knip dit uit en gebruik dit as ‘n stensil. Om te verseker dat dit nie skuif nie, kan jy haarsproei agterop spuit of wondergom gebruik.
As die buitelyne op die koerantpapier getrek is, kan jy ‘n kartelrandskêr gebruik om die blare uit te knip. (Maak kepe van buite na binne.) Dit sal help om die kaartjie sommer baie spesiaal te laat lyk. Verf die blaar met ‘n ligte vernis of ‘n verdunde voedselkleursel voordat jy dit op ‘n harde agtergrond plaas.

4. Musiekjuffrou: Vra sommer vir ‘n paar vriende om al die ou kaarte uit hul beursies te haal vir hierdie projek. Ek sien jaarliks projekte waar die kinders musiekinstrumente uit afvalprodukte moet skep. Sny jou eie kitaar “pick” (plektron) uit ou krediet- en winkelkaarte. Hou die lekker bont oogplesiertjie in ‘n glasfles vir daaglikse gebruik of gee dit vir die kitaarfundi’s.

5. Goudvis: Soek na speelgoedvissies of lamineer en knip ‘n getekende goudvis uit. Plaas die vissie binne-in ‘n plastieksakkie en gebruik gesmelte, kleurlose seep (buise is by kunsvlytwinkels beskikbaar) om die sakkie halfpad te vul. Uit ondervinding het ek geleer om 2cm skywe in ‘n ou maatbeker te smelt (30 sek.). Die seep smelt vinnig en set ook redelik gou as jy dit in die ys- of vrieskas bêre. Die sakkie-idee is nog onbeproef, maar lyk oulik. Ek sou voorstel dat ‘n mens ‘n beker met die sakkie sou uitvoer (soos ‘n drommetjie) om te help met die warm seepgooi slag. Sodra die vissie en die seep in die sakkie is, kan jy dit toe bind met lap lintjie. Wanneer die seep gebruik moet word kan jy die sakkie afskil.  Hierdie vissies kan oulike markdagprodukte maak.

6. Maak speelgoed van kurkproppe.

Kersfees as tema

Lewer kommentaar


Iemand (dankie T!) het vandag vir my gevra oor idees vir ‘n Kersfees-tema.  Ek plaas solank ‘n paar idees hier en sal uitbrei so tussen die punte en rapporte deur 😉

  1. Allkidsnetwork
  2. Inkleurprente
  3. Inkleurwerk
  4. Kunsvlyt
  5. Kinderhelper – verskeie temas
  6. Animal Junior
  7. DLTK verskeie werkvelle en aktiwiteite
  8. abcteach verskeie aktiwiteite
  9. Oulike idees vir geskenksakkies en kaartjies
  10. verskeie
  11. Skryf vir Kersvader…en ander
  12. kunsvlyt
  13. doolhof
  14. naamkaartjies vir geskenke
  15. sneeuvlokkies
  16. nog sneeuvlokkies
  17. kersboomversierings uit herwinde kaartjies
  18. Kabouterprent
  19. Kwaaitjie Kabouter (ou omie)
  20. Blomruiker kabouter
  21. Dawie die Kabouter en nog Dawie prente
  22. Kabouterkoekies
  23. Verskeie kabouters
  24. Kous doolhof
  25. Kersboom
  26. GROOT verskeidenheid prente

Lekker snuffel!

Loer ook hier vir skakels na Bybelverhale.

Tik soekterme soos “Kersfees” en “soutklei” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke skrywes.

%d bloggers like this: