Tuis

Vadersdag

4 Kommentaar


Dis weer eersdaags Vadersdag en ons moet solank begin werk aan geskenkidees…

Plekmatjies: As pagoed graag ‘n koue glasie of verversing geniet, kan ‘n mens klein, ronde pierinkies by ‘n plastiekware-winkel koop en met ‘n sterk gom en kleurryke krale versier. Die gom dien as kleefmiddel, maak die geskenkie waterdig en seël dit vir ‘n skitter effek.

“To do”: Maak ‘n herinneringsbordjie. Trek die raamwerk van ‘n gereedskapstuk op ‘n eenvoudige blokkie hout af. Verf die buitekant / agtergrond met een kleur en die binnekant van die gereedskapstuk met swart bordverf. Skryf dan ‘n boodskap soos “onthou” of “moet doen” in wit bordkryt op die stukkie. Draai ‘n hakie onder en een aan die bokant van die blokkie in, sodat jy dit kan op hang en ‘n boodskap onderaan kan haak. As jy verkies om ‘n wasgoedpennetjie daarop vas te plak, kan die boodskappies in die pennetjie vas geknyp word.

Gewigtige saak: Maak ‘n papiergewiggie uit soutklei en pak ‘n boodskappie daarin uit met spoelklippies of effekleurige (dalk hout) krale. As jy die woord op ‘n voorbeeld pak of op die bord skryf, maak dit die na-apery makliker.  (Soutklei resep hier.)

Emmer skop: Hierdie geskenk is meer persoonlik. Dink aan stringe dinge waarvan pagoed hou en waarvan hy droom. Tik dit netjies en groot uit. Knip in stroke en plak aan die buitekant van ‘n blikkie vas. Versier en vernis dit om as ‘n pennehouertjie te dien.

Gekleurde pennetjies: Verf ‘n klomp gholfpennetjies in verskillende kleure vir die gholfsak.

Boekmerkies:

As die outjies baie klein is, kan jy vir hulle ‘n basiese reghoek uit gekleurde karton laat sny.  Gee bewerige ogies om bo-aan te plak en sny self die diep keep om soos ‘n skuifspeld oor die blaaie te gly.  As julle lus het, kan die outjies self die karton met patroon-, plak- of verfspatwerk versier voor die knippery.  Jy kan hierdie konsep ook op roomysstokkies probeer.

Ouer kinders kan ‘n handgeskrewe sin op ‘n eenkleurige vel papier skryf en saam met ‘n foto van hulself op ‘n boekmerk rangskik.  As jy klein individuele foto’s van die kinders het (soos vir die skoolprofiele benodig word) kan jy dit op ‘n roomkleurige papier afrol.  Gebruik ‘n karteltandskêr om ‘n raampie om elke foto te sny, plak op ‘n kartonvel soortgelyk aan die binnewand van geskenkpapier, versier met ‘n sinnetjie en rond af met ‘n stukkie tou of ‘n leerriempie.

Engels boekmerkies:   ‘n stel.

‘n Boekmerk met ‘n fynmotoriese kinkel:  Vou ‘n pypskoonmaker spiraal en gom aan ‘n breë lint sodat die pypskoonmaker by die boek sal uit hang.

Druk netjies kraaghempies in kleur of met swart ink op gekleurde karton (wat van scrap book papier?!). Sny die eenvoudige buitelyne uit, vou en plak magnete aan die binnekante van die hempspanele. So klou die hemp die boek vas. As Pa die boek klaar gelees het, kan hy die die boekmerk teen ‘n spieël of metaalkas stoor.

Vadersdag

2 Kommentaar


pappa

Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…

  • Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
  • Sjokolade happies:  Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in.  Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
  • Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout.  Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
  • Peuselpotjie:  Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
  • Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone.  Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
  • Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
  • Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
  • Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
  • Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny.  Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak.  Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!

Ek las weer mettertyd nog idees by. vadersdagpavaders

%d bloggers like this: