Die Onderwysdepartement het verskeie Grootboeke en Leesboeke in Afrikaans en Engels – 11 tale in totaal – op hul webbladgeplaas. Loer gerus hier na spesifieke voorbeelde. Die dokumente is baie groot. Laai die boeke (dalk verkieslik in ‘n WiFi-area) af om herhaaldelik te lees en om data te spaar.
Mnr. Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Ons spandeer jaarliks 67 minute aan gemeenskapsdiens op sy verjaarsdag – 18 Julie. Vanjaar kan ons dit sommer ‘n ronde 100 minute maak!
Hoe lyk ‘n 100? Dis ‘n groot getal. Vir die jonger outjies kan ‘n mens byvoorbeeld…
‘n 100 botteldoppies of -proppies in ‘n lang ry uitpak en hulle vra om die getalle daarop te skryf. Maak ‘n ellelange slootjiekaart waarin julle die doppies kan pak en steek dit teen ‘n kennisgewingsbord vas vir herhaaldelike gebruik. Kan julle patrone pak of dalk elke 10 in ‘n spesifieke kleurgroep rangskik?
‘n 100 wasgoedpennetjies gee om aan ‘n lang lint te knyp.
‘n 100 genommerde roomysstokkies gee om te orden.
‘n 100 skuifspelde gee om ‘n ketting te maak.
‘n bak vol ringvormige pap gee (bv. Fruit Loops) om in tiene te groepeer. Verskaf ‘n toutjie en laat hulle die pap ryg om ‘n halsnoer te maak. Eet dit later droog of met ‘n bietjie melk.
‘n houer met honderde krale sodat die outjies kan oefen om ‘n 100 krale te ryg.
‘n enorme skaap op ‘n A3-vel teken sodat die outjies ‘n 100 wattepluisies kan plak. Werk in groepe om ‘n bietjie te bespaar.
100 saadjies in ‘n tuintjie saai.
100 pakkies groente en kruie saad verpak en aan die gemeenskap uitdeel. Skryf ‘n mooi boodskappie daarby of dui aan wat in jou pakkie is.
deur die buurt stap en opgewekte liedjies sing.
‘n enorme 100 op ‘n groot vel papier of plastiek doek trek (groot genoeg om die klasdeur te vul. Sny die syfers uit en klim heeldag deur die getal om in en uit te gaan. ‘n Plastiekerige doek sal dalk langer hou.
‘n strook karton met die syfer daarop gee. Knip die binnekante van die nulle uit en maak ‘n bril deur ‘n stuk broekrek agterom die kop te meet en aan die karton vas te kram.
drukwerk op t-hempies laat doen. Plaas ‘n stuk plastiek binne-in ‘n hempie en gee ‘n bakkie met lapverf daarin. Druk 10 rytjies van 10 duimafdrukke, stempeltjies of selfs kurkproppies. Gebruik ‘n spesiale lapveselpen en omskep die propkolle later in ogies of gesiggies.
drukwerk op ‘n groot A3-vel laat doen. Gee byvoorbeeld skakerings van helderrooi en donker rooi verf om lieweheersbesies te maak sodra die verf droog is. Gebruik skakerings van bruin om later gesiggies te maak. ‘n Mens kan ook slakkies maak of kolle teen mekaar druk om ‘n wurm te vorm. Wat van geel kolle wat later bytjie sal word? Lamineer die velle en stuur dit huis toe as plek- of skinkbordmatjies.
‘n uitdagingsperiode instel. Kyk of julle 100 flitskaarte (bv. sigwoorde) kan lees. Kan julle gesamentlik 100 storieboekies lees? Probeer om 100 somme te doen 🙂
10 keer gedurende die dag stop om gesamentlik 10 sterspronge te doen, 10 treë te marsjeer of die hande te klap.
spelenderwys hulself met ‘n toep soos AgingBooth verouder tot 100 jaar. Stuur die foto’s per e-pos of met ‘n toep soos SeeSaw aan die ouers.
vra dat elkeen 100 sent bring as ‘n donasie aan ‘n omgee-projek in julle stad of dorp. ‘n Mens kan selfs mik om as ‘n klas R100 in te samel.
‘n groot 100-blok elk gee sodat hulle oor ‘n tydperk klein muntstukke (snoepie kleingeld) in die onderskeie blokkies kan plak. Is daar ‘n nood in jul skool of klas? Het iemand skoene, skryfbehoeftes, ‘n trui, ens. nodig? Kyk hoe dié bietjies iemand kan help. [100 Madiba Spaar A3]
vra dat elkeen ‘n donasie vir ‘n dierebeskermingsgroep bring. Dink aan maniere om 100 vol te maak – 100g kos elk, ‘n 100kg kos altesaam, ens.
vra dat elkeen broodsakkiekaartjies (ten bate van rolstoele) bring. Mik vir ‘n 100 kaartjies as ‘n skool of ‘n klas.
vra dat elkeen ‘n item met ‘n gewig of inhoud van 100 sal bring ten bate van ‘n welsynsorganisasie (bv. 100ml, 100g).
woorde van hoop en gelukwensing op die bord skryf sodat hulle dit rond en bont op ‘n groot vel papier kan oorskryf. Sodra hulle tevrede is, kan hulle dit met swart veselpen natrek. Verklein dit in die vorm van kaartjies (op verskeie kleure karton) en gee dit in mini-pakkies van 5 aan die ouers om te gebruik.
vra om hul name 100 keer op ‘n A4-vel neer te skryf. Gebruik dit aan die einde van die jaar om ‘n klein onthou-geskenkie in toe te draai.
‘n honderdblok gee, sodat hulle die syfers kan natrek.
‘n honderdblok gee, sodat hulle die afsonderlike blokkies kan inkleur met verskillende kleure.
‘n meterstok gee om die millimeters te tel.
in die sportstoor loer vir meetinstrumente om die rugbyveld te meet. Hoe ver is dit van een doelpaal na die volgende?
wys hoe lyk 100ml. Kan julle 100 liter water insamel vir areas in nood?
‘n 100 keer met ‘n gatjiepons pons om konfetti vir die klas te maak.
‘n boekmerk gee om 100 snitte al om die rand te maak.
help om papierlinte (streamers) in stroke van 100cm te meet en te sny. Hang dit in ‘n kleurvolle mengelmoes aan die bokant van die deurkosyn.
help om mini-kolwyntjies te bak. Pak ‘n wafer en twee kolwyntjies op die bordjie om 100 te bou en sprinkel “hundreds and thousands” bo-oor die kolwyntjies se versiersel.
2 ronde koekies en ‘n wafer gee om 100 te bou.
‘n digitale kamera of ou selfone (met kamera’s) gee om ‘n 100 goue oomblikke af te neem. Plaas dit op die klasblad of SeeSaw.
Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…
Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders. Tree dus voorkomend op.
Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem. Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik? Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek. Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app). Hoe kan die ouers met jou kommunikeer? Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur? Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom. Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉 Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas. Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem. Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
Weet die ouers waar die kinders gaan aantree? Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar? Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof). As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke. (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom. Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens. ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe? Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui. Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg. Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring. Het julle riglyne vir die klaskamer?
Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra? Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas. Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra. As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het. As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses. Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed? Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd? Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers? Bring die kinders water of gaskoeldrank saam? Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe? Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
Hoe werk uitstappies? Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan? Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak? ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande? Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
Maak verjaarsdaespesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem. Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer. ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop. Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies? Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring? Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was? Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk. As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies. Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees. ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne. Watter opsies issakpasen min moeite?
Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie. Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor? ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal. Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik. Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig. Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op kartonmaak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer. Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhangerof klampies en ‘n draadhanger inspan. Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.
Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe. Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink. Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.
Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan. Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.
Iemand het onlangs gevra hoe ‘n mens kan help om die jong outjies sinne te laat skryf.
Blaai deur ou tydskrifte en soek prente wat tot die belangstellings spreek. Vra aanvanklik vir beskrywende woorde en skryf dit rond en bont op ‘n bladsy neer. In Graad 1, sal die outjies geneigd wees om sinne herhaaldelik met dieselfde woorde te begin, bv. Ek sien… Dit is ‘n… Herinner hulle daaraan om eerder nie opeenvolgende sinne met dieselfde woorde te begin nie en verskaf voorbeelde of opsies om van te kies.
Kyk nou na die beskrywende woorde en vra dan dat die outjie ‘n sin gee om die prent of tema te beskryf. Bv. Die motor is vinnig. Vra nou vrae om die sin meer beskrywend te maak. Bv. “Hoe lyk die motor? Waar is die motor?”
Die rooi motor is vinnig…Die rooi motor (voor die boom) is vinnig.
Om die sin te laat oor gaan in ‘n paragraaf, kan ‘n mens nou aan meer besonderhede dink. Hoe vinnig versnel die motor? Wat maak die motor spesiaal?
Gebruik dan ook ander onderwerpe en artikels. Dink aan ‘n advertensie vir ‘n eiendom. Verskaf ‘n uitknipsel en vra dat die outjie dit in volsinne of meer beskrywend oor skryf. Bv. Hierdie huis het een verdieping en een motorhuis. Dit het drie slaapkamers en ‘n twee badkamers. Daar is ‘n swembad in die groot agterplaas en ‘n gevestigde tuin.
Verlig of omkring die vreemde woorde (“groot woorde”) en verskaf ‘n woordeboek, sodat die sinonieme op gesoek en vervang kan word. Die outjie kan die nuwe woord in ‘n woordelys aanteken – met ‘n sinoniem tussen hakkies.
Om later ‘n opstel te skryf, gebruik heelwat mense die grafika of idee van ‘n hamburger. Probeer dit gerus.
Nie noodwendig geïnteresseerd in opstelle nie? Skryf kort briefies aan penmaats. Laat jou klas se graadvlak en adres in die kommentaarblokkie indien jy in ‘n penmaatklub belangstel.
Tik gerus ook soekterme soos “tydsvorme, Engels, klanke, hersien, woordsoort…” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir soortgelyke idees. Ek hoop dit kan help 😉
Probeer om soveel sintuie as moontlik te betrek en gee vir die outjie ‘n verskeidenheid maniere om die werk te hersien.
Ons skryf dikwels die woorde groot op “flitskaarte” (gebruik sommer ou papbokse en dergelike kartonnetjies) en verf dan pofferige verf met ‘n oorstokkie bo-oor. Die outjie kan dit self in die mikrogolfoond plaas en laat verhard (onder toesig). Sodra dit afkoel, kan hy bo-oor die woorde voel of ‘n bladsy bo-oor plaas en met ‘n vetkryt inkleur om ‘n afdruk te maak.
Plaas die woorde sigbaar teen die muur en gee vir hom/haar meel, suiker of klei om in/op te skryf of waarmee hy die woorde kan vorm en kopieer. Skryf of teken die los letters, syfers, vorms en patrone groot op ‘n bladsy. Trek dit na met ‘n gomstiffie en strooi dán die suiker of sand bo-oor.
Die los kaarte kan gekram word om dit sommer in die motor te hersien.
Die los letters van “Scrabble” werk goed. Kyk sommer hoeveel punte elke “Scrabble”-spelwyse tel vir ‘n bietjie wiskunde hersiening.
‘n Ander idee is om ‘n groot vel tinfoelie op ‘n skinkbord/tafel te plaas. Spuit skeerroom daarop (‘n bietjie) en laat die outjie dan die woorde daarin skryf – met die vinger of ‘n kwas.
Op SENTEACHER.org, kan julle jul eie “woordsoeke” skep, sodat die outjie sy woorde só soek en hersien. Fokus aanvanklik net op horisontale woorde, dan ook vertikale woorde en heelwat later – diagonale woorde.
Loer gerus ook na hierdie opsies en tik ook soekterme soos syfers, skrif, skryf, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiings, vorms, patrone, flits, sigwoorde, robotkaart…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Vind hiermee ‘n paar skakels in verband met skrif ingesluit. Tik gerus ook soekterme soos “knip, perseptuele, skrif, skryf, handspier, patroon, patrone, syfers, tuis…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in (of loer na die “Drukbare Bladsye“-hofie) vir meer idees.
Maak vandag kleiwurmpies om verskillende klanke, patrone en syfers te vorm. Ons het kleimatjies in lêersakkies gehou en dan die kleiletters daarop gevorm.
Koekeloer, kies, klik, koop en druk uit. Ek het vele navrae ontvang. Laat weet gerus indien daar nog onsekerheid is 😉 Kyk na die naam onderaan die produk en tik dit op Teacha se soekspasie in.
Rym en rymende sinne, is ‘n heerlike manier om ouditiewe vaardighede op te skerp en om taalontwikkeling te doen. Die kleintjies geniet rympies en kan dikwels onsinrympies spontaan voltooi. Byvoorbeeld: Vandag is dit baie koud…Ek dra ‘n serp van …goud.
Soos met die jong huistaalleerders, kan ‘n mens ook rymwoorde gebruik om die taal vir tweede taal leerders interessant te maak.
Kies ‘n woord en kyk hoeveel onsin en/of sinvolle rymwoorde julle kan kry.
Skryf die woorde neer en sorteer dit in onsin en sinvolle woorde.
Maak muurprente of rymwoordlyste per rymgroep – om teen die muur op te plak. Sodoende, kan ‘n mens vinnig die maats op spoor.
Maak sinne met die sinvolle woorde.
Weet julle wat die woorde beteken? Vind gerus uit.
Skryf julle eie rympies. Onthou dat die rymwoorde gewoonlik aan die einde van ‘n versreël staan.
Maak ‘n afskrif van die klas se rympies en bind dit in ‘n klasbundel (vir die leeshoekie).
Afhangende van die outjies se vaardigheidsvlakke, kan ‘n mens die rymwoorde tot kort woorde (een lettergreep) – met ‘n klinker, dan dubbelklanke, tweeklanke en drieklanke beperk. Vir uitdagings, kan ‘n mens dan aan woorde met meer lettergrepe dink.
Sien ook “Geletterdheid/Taal” en “Hulpbronne” aan die regterkant of tik soekterme soos “e-boek, leeslys, iPad, Android” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke uitgawes.
*Aangesien Letterland ‘n Britse program is, is daar nie ‘n Afrikaanse opsie nie.
E het gevra hoe ‘n mens die plus-, minus- en gelyk aan-tekens kon bekendstel.
Ek sou dit koppel aan kort storietjies. Gebruik iets soos lekkergoed. Bv. Jannie en Pierre wil lekkers eet. Hulle eet Smarties en besluit om dit bymekaar op die bord te pak. Wanneer ons hoeveelhede of syfers bymekaar sit, gebruik ons ‘n +-teken (sit ‘n groot voorbeeld neer). Jannie haal 3 uit en Pierre haal 2 uit die pakkie. Daar was 3 en toe word dit 2 meer. Hoeveel lekkers het hulle bymekaar? Hoeveel is dit altesaam?” Gebruik baie woordeskat en terme wat die begrip kan oorbring.
Met aftrekking, kan die outjies in die storie iets eet of voëltjies kan byvoorbeeld weg vlieg. As jy 2 strepies of stokkies van dieselfde lengte vir die + gebruik het, kan die vertikale strepie dan “weg vlieg”. Gebruik stokkies of kort strooitjies van dieselfde lengte – vir iets meer tasbaar.
As jy later = gebruik, kan die outjies sien dat die stokkies ewe lank of gelyk is. Gebruik dalk ook ‘n skaal om te wys dat wat jy aan die linkerkant van die = het, dieselfde as die hoeveelheid aan die regterkant moet wees. Watter metodes gebruik jy?
Druk die flitskaarte in hierdie groottes uit of plaas 2 velle op ‘n A4-bladsy. Beskerm dit met breë, deursigtige kleeflint of lamineer.
Gebruik die klanke se muurkaarteas hofie en plak die flitskaarte daaronder. As dit in ‘n lêer (flip file) geplaas word, kan dit as ‘n tipe woordlêer of woordeboek dien.
As daar genoeg muurspasie is, kan die bogenoemde teen die muur geplak word.
As jy twee stelle druk, kan die een heel bly sodat die kleingoed die los flitskaarte bo-op of by hul maats kan pas.
Knip twee stelle uit om speletjies soos “snap” of ‘n “geheuespel” te speel.
Plaas ‘n stelletjie flitskaarte onderstebo langs ‘n hopie sigwoorde. Trek een van elk en maak ‘n sin daarmee.
Plaas ‘n vel in ‘n lêersakkie sodat die outjie dit met ‘n witbord veselpen kan natrek.
Plaas ‘n skoon vel papier bo-op die woorde, sodat dit deurskyn. Nou kan dit ook na getrek word.
Geïllustreerde flitskaarte in rymvorm (gebruik as spellyste of verwysingsbron) is in die Enorme Mengelmoeskardoes Pakket ingesluit. Die outjies kan woorde natrek, flits en pas. Loer ook na die Woordeskatboekies.
Hierdie insetsels was Dinsdag, 15 Januarie 2013, in DIE BURGER. Dit bevat baie oulike inligting. Ongelukkig kon ek nie die aanlynskakel op gespoor het nie.
Die eerste dag van Graad 1 is baie spesiaal, want hierdie jaar gaan die outjies leer lees en dus is daar groot opgewondenheid. Wat kan ‘n juffrou doen om die outjies te verwelkom?
Stel ‘n pakkie met inligting saam (oor die skool se geskiedenis, akademie, sport, kulturele bedrywighede, gemeenskapswerk en reëls) om aan die ouers te oorhandig. Só kan hulle na afloop van die eerste dag reeds bewus wees van belangrike reëlings voordat jy dit by die eerste oueraand kan oordra.
Besluit hoe geld (bv. snoepie, fooie) hanteer sal word. Gebruik die outjies beursies of gemerkte banksakkies? Word dit in die tasse gehou of het die klas ‘n kluis?
Wat gebeur met verlore items? Word daar ekstra skryfbehoeftes by die skool gestoor indien ‘n potlood sou breek of iets aan gevul moet word?
Maak inligtingstukkies vir die kennisgewingsbord met goeie gewoontes vir die skooljaar. Bv. foto’s van gesonde kosblikke (“Lekkers slegs op Vrydae”), netjiese potloodblikkies (“My skryfbehoeftes is gemerk”), netjiese skooltasse (“My tas is gereed”), boodskapboekies en die skooldrag (ook foto’s van die sportdrag). Dít kan in die gang geplak word, sodat die ouers en kinders dit kan raak sien oppad klas toe. Herhaal dit in die inligtingstuk.
‘n Ander gedagte is om elke klasdeur met ‘n spesifieke kleur te verf. (Bv. Juffrou D se deur is pers.) Verf dan baksteengrootte stippellyne (of ‘n soliede lyn) in die gang en merk dit met pyle en klein fototjies van die klasjuffrou. As die outjie dan verdwaal, volg hy net die lyn en foto’s tot by sy juffrou. ‘n Mens kan ‘n rigtingbordjie buite kernklasse (of die badkamers) aan bring om hiermee te help. As jy later kinders na ander juffrouens wil stuur, kan jy bloot aandui dat die outjie bv. “die groen lyn” moet volg.
Dit is belangrik om vir die outjies te gaan wys waar al die belangrikste plekkies is en ook hoe om daar te kom (bv. die badkamer en sekretaresse).
Indien daar ‘n goeie fotograaf in die skool is, kan dié persoon van elke kind ‘n foto neem vir die skool se webtuiste of vir die koerant. Dit kan nogal baie tyd in beslag neem en daarom sal hierdie fotosessies vroeg reeds moet begin.
Stel ‘n fotohoekie of twee op waar ouers en kinders “eerste dag van skool” foto’s kan neem:
Boublokkies met letters (bou byvoorbeeld abc, Graad 1, groot skool…)
Verseker dat elke kind ‘n spesifieke staanplek vir sy tas het. ‘n Tydsame, maar effektiewe manier om alles uniek te merk (naamkaartjie, sitplek, stoel, tasrak…) is om ‘n unieke prent aan elke leerder toe te ken. Bv. Jana Louw het ‘n krimpvarkie en Jayda Van Wyk het ‘n flamink. As ‘n mens dit lamineer, kan jy die kaartjies later rond skuif en behoort dit heel jaar te hou. [kaartjies met prente]
Kies ‘n tema vir die klas en gebruik dit in boodskapbriefies, naamkaartjies en versierings. Versier die klasdeur met kindervriendelike prente of gebruik selfs ‘n toegangslengte/-maatstok om “slegs kinders” toe te laat (amper soos by pretparkritte).
Dit is baie spesiaal om by ‘n klas in te stap waar die juffrou verrassings op die tafels gepak het. Soek storieboekie oor die eerste dag van skool, sodat die ouers en kinders dit kan lees terwyl jy ander kinders by die deur ontvang. Verskaf groot velle papier waarop die outjies kan teken of inkleurprente. Wat van ‘n lekkernytjie en snesies?
Plaas ‘n unieke naamkaartjie op elke tafel – waarop die ouers hul nuutste kontakbesonderhede kan skryf en voorsien ‘n blik of “posbus” daarvoor by die deur. Indien daar ‘n noodsituasie sou op duik, kan jy die kaartjie vinnig trek en die ouers kontak.
Jy kan die kinders betrek om saam met jou die klas te versier. Gee byvoorbeeld vir elkeen ‘n groot vorm (nie net driehoeke nie) om te versier en uit te knip. Jy kan karton, scrapbook papier, tafeldoek plastiek of selfs lap gebruik (as jy self wil sny). ‘n Eenvormige kleur, verf en ‘n groot stempel (soos potlode of appels) kan baie effektief wees op hierdie tipe “bunting” of vlaggies.
Met groepwerk kan jy kunsdoeke voorberei en vir die outjies haardroëers gee om vetkryte daarop te laat smelt. Gebruik dit as deurversiering (fotoraam met ‘n lawwe, eerste dag klasfoto) of hang verskeie kunsdoeke in die gang op. As jy lang stroke lap só (of met spatsels onverdunde voedselkleursel) kan versier, kan ‘n mens rame vir die aansteekbord maak. Onthou om voorskote te dra!
Boekmerk: Gee roomys- of tongstokkies met ‘n “inkleurprent” wat die outjies met veselpenne of verf kan versier. Hoe groter die stokkie, hoe netjieser kan hulle werk. Elkeen kan sy eie naam agterop skryf en die boekmerkies huis toe neem of in die klas gebruik.
Ek het ‘n paar navrae in verband met Bybellesse en Sondagskool ontvang. Ek plaas hiermee skakels na baie oulike webtuistes wat idees bied om die lesse vas te lê. Dit is nie ‘n kurrikulum nie en dien slegs as aanvullende hulpmiddels vir die jongspan.
Die CAPS-kurrikulum is aanlyn beskikbaar. Jy kan ook die departementele werkboeke vir gesyferdheid en geletterdheid aflaai. Ons het gemerk dat die dokumente ingewikkelde terme rakende skrif gebruik…”arkade” en “guirlande” patrone. Ek verstaan dit as volg:
Garlands/Guirlande is die rondings soos in ‘n “apieswaai patroon”. Dit sinspeel op die “Garlands”, tinselof kersversierings wat ‘n mens kan drapeer. Die Arkadepatrone is die hoppies van ‘n “hasiehop” patroon (“arches”).
Die Aangepaste CAPS (leerders met spesifieke/spesiale onderwysbehoeftes):
Woorde