Advertisements
Tuiste

Ondersteuning

Lewer kommentaar


Van my leerders benodig alternatiewe hulpmiddels en idees om hul skooldag makliker te maak.  Sommige outjies is tasdefensief en hou nie van sekere teksture nie (bv. etikette in klere, growwe papier, klei), ander hou nie van sekere geluide nie (bv. skril skree geluid van ‘n foutiewe klankstelsel of interkom), ander sukkel om te fokus, party benodig speelgoed om mee te vroetel, party kort bewegingsbreuke, ens.  Wat kan ‘n mens doen om die dag meer suksesvol te maak?

Heelwat kinders gebruik ‘n vroetelspeelding om die hande besig te hou.  Vir die outjies wat nie van sekere teksture hou nie, het ons slym of flubber gemaak en binne-in ‘n geseëlde sakkie* gebêre.  Hulle speel dus met die sakkie – eerder as met die slymerigheid self.  Soms lees die outjies die resep voor en ander kere gooi hulle die droë bestanddele by, maar hoe dit ookal sy…daar is blootstelling.  Die slym of flubber is ‘n snaaksigheid en die outjies geniet dit om die resepte vir die ander maats te maak.  Ons het onlangs ‘n druppel vanieljegeursel, kaneel, skeerroom en haaropknapper liggies of bietjie-vir-bietjie by onderskeie mengsels gevoeg en die outjies het beslis meer aandag aan die mengsels geskenk.  Nie net is die spelery ‘n goeie fynspier aktiwiteit nie, maar hou dit hulle gefokus tydens luistertake.  Elkeen kry ‘n stukkie om mee te speel.

‘n Mens kan natuurlik koekiedrukkers betrek, woorde met lettervorms bou of somme met syfervorms uitlê.  Indien die outjie lang wurms vorm, kan ‘n mens spesifieke letters, vorms, syfers, ens. probeer vorm. 

In plaas van die slym of flubber, kan ‘n mens meel met ‘n tregter in ‘n ballon ingooi en die ballon toeknoop.  Die outjie gebruik dit dan soos ‘n stresballetjie.  Gebruik ook gladde of stekelrige rubberballetjies, ryg krale aan ‘n tou-armband, rubber potloodgrepies of gebruik stukkies mediese/chirurgiese pyp of buise.  Die mediese pyp/buise kan ook om stoel- of tafelpote gebind word om teen te skop of om die voete op te rus – indien theraband nie beskikbaar is nie.

Jelliekrale is baie gewild.  Ons meng soms gelyke dele mielieblom en haaropknapper in ‘n kleinerige, waterdigte sakkie en voeg slegs ‘n paar jelliekrale by.  ‘n Mens kan ook ‘n doolhof buite-op ‘n groot seëlbare sak teken of met stroke maskeerband plak.  Maak dan slym met kleurlose gom en beweeg ‘n jelliekraal binne-in die mengsel en binne-in die sakkie deur die doolhof.

Vir die outjie wat gril vir die tekstuur van sekere boeke se blaaie, gee ons handskoene (met of sonder vingerpunte), ‘n knipbord om die boek mee vas te hou of ons plaas die los bladsye in ‘n lêersakkie.

Vir die outjie wat sensitief is vir harde of skril geluide, hou ons oorbeskerming naby of ons laat hom ver van die interkom af sit.

‘n Hangmat werk goed vir ‘n paar minute se eie tyd en werk soms goed as ‘n binneshuise swaai.  Sommige outjies geniet ‘n hop– of ‘n groot jogabal (om oor te lê, te bons, op en af teen die muur te rol…) en ander wil net vir ‘n paar minute eenkant sit.  Die vollengte spieël kry baie aftrek en een outjie geniet dit om op ‘n balanseerbord te staan terwyl hy gesels.

Hierdie spesiale speeltye word gewoonlik beperk tot ‘n paar minute (2 – 5) wanneer die skoolwerk (of afdelings) klaar is.

Gesels gerus met ‘n arbeidsterapeut om idees nommerpas vir jou klas te beplan.  Watter idees gebruik julle?

*As die sluitaksie lek, vou dit om en seël met duct tape.

 

Advertisements

klanke, spelwoorde, syfers, vorms, patrone

Lewer kommentaar


hersieningProbeer om soveel sintuie as moontlik te betrek en gee vir die outjie ‘n verskeidenheid maniere om die werk te hersien.

Ons skryf dikwels die woorde groot op “flitskaarte” (gebruik sommer ou papbokse en dergelike kartonnetjies) en verf dan pofferige verf met ‘n oorstokkie bo-oor. Die outjie kan dit self in die mikrogolfoond plaas en laat verhard (onder toesig). Sodra dit afkoel, kan hy bo-oor die woorde voel of ‘n bladsy bo-oor plaas en met ‘n vetkryt inkleur om ‘n afdruk te maak.

Plaas die woorde sigbaar teen die muur en gee vir hom/haar meel, suiker of klei om in/op te skryf of waarmee hy die woorde kan vorm en kopieer.  Skryf of teken die los letters, syfers, vorms en patrone groot op ‘n bladsy.  Trek dit na met ‘n gomstiffie en strooi dán die suiker of sand bo-oor.

Die los kaarte kan gekram word om dit sommer in die motor te hersien.

Die los letters van “Scrabble” werk goed. Kyk sommer hoeveel punte elke “Scrabble”-spelwyse tel vir ‘n bietjie wiskunde hersiening.

‘n Ander idee is om ‘n groot vel tinfoelie op ‘n skinkbord/tafel te plaas. Spuit skeerroom daarop (‘n bietjie) en laat die outjie dan die woorde daarin skryf – met die vinger of ‘n kwas.

Op SENTEACHER.org, kan julle jul eie “woordsoeke” skep, sodat die outjie sy woorde só soek en hersien. Fokus aanvanklik net op horisontale woorde, dan ook vertikale woorde en heelwat later – diagonale woorde.

Loer gerus ook na hierdie opsies en tik ook soekterme soos syfers, skrif, skryf, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiings, vorms, patrone, flits, sigwoorde, robotkaart…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.

Idees vir die tuisklaskamer, Tuis idees, Hersien, Klanke

‘n Vinnige waterspel aktiwiteit

Lewer kommentaar


Screen Shot 2015-04-14 at 18.35.54

“Water babies”, “water beads” of Jelliekrale vir sensoriese/waterspel:

  • Plaas in ‘n (deursigtige) plastiekbak – ‘n groter oppervlakte speel lekkerder – en vul met water. Voeg kort-kort water by totdat die krale lekker vet is.
  • Gebruik ‘n plat bak en vul die bak met opgepofde krale.  Versteek magneetletters en syfers op die bodem en vra dat die outjie sekere letters of syfers soek en uitlig.  Gebruik die tone indien julle lus het.
  • Indien jy bont kleure het, gee ‘n bakkie vir elke kleur en merk die bakkies met daardie kleure (kolle of woorde). Sorteer dan die kleure.
  • Smeer ‘n laag skeerroom op ‘n vlak skinkbord en bou prente, syfers, vorms of klanke in die room.
  • Kyk of die krale kan bons – in ‘n bak of bad.
  • Tap ‘n bietjie water in ‘n bad of klein swembadjie.  Skep die krale met ‘n klein netjie of ‘n lepel uit.
  • Indien julle kleurlose krale het:  Verflou verskillende kleure voedselkleursel (of waterverf) met water – in verskillende bakkies – en kyk hoe dit die krale in die onderskeie bakke verander.
  • Indien die skool ‘n ultravioletlig (black light) het:  Breek highlighters (veral heldergeel verligters) oop en sny die inkveselkussing oop.  Laat dit in ‘n bak dreineer en voeg ‘n paar jelliekrale daarin.  Voeg ‘n bietjie water by, skyn die lig daarop en kyk hoe die krale gloei.  Maak seker dat die verligter veilig is om te gebruik (non toxic).  Hierdie eksperiment kan dalk beter werk as ‘n mens ‘n deursigtige bak bo-op ‘n glas of draad tafel plaas – met die lig onder.
  • Voeg ‘n paar vet krale in ‘n plastiekglasie (of in ysbakkies) en vries.  Voeg die gevriesde blokkies in ‘n waterbak en speel daarmee totdat dit smelt.  Kyk wat sal gebeur as ‘n mens die krale in ballonne laat swel en vries.

Lekker speel!

werkswinkel

2 Kommentaar


Making Sense of Senses in the Classroom:

‘n Werkswinkel vir opvoeders, ouers en betrokkenes.  Die dag sal fokus op sensoriese integrasie en sensoriese probleemareas.  Die opvoeder sal idees kry om die “out of sync” leerder te akkomodeer in die klas.  As jy met Grondslagfase-kinders werk – sal hierdie inligting beslis handig te pas kom.

Aangebied deur arbeidsterapeute van die ET AL Terapie- en Leersentrum

Datum:  20 Augustus 2011 (08:00 – 13:00)

Waar?  Somerset-Wes

Koste:  R150 (sluit uitdeelstukke en ‘n eetdingetjie in)

Kontak ASAP: 021 852 0845 / etal@webafrica.co.za

Aandagafleibaarheid

194 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Onthou asseblief dat die volgende inligting nie ‘n mediese kundige se skrywe is nie en slegs as ‘n inligtingstuk dien.  Raadpleeg asseblief ‘n pediater indien aandagafleibaarheid vermoed word.

ADHD is die term wat onderwysers die meeste gebruik om ‘n aandagafleibaarheid te beskryf.  (Dit staan eintlik vir Attention Deficit and Hyperactivity Disorder.)  Dit dui gewoonlik daarop dat die kind nie op ‘n gegewe taak kan fokus nie.  Aandagafleibaarheid kan met Hiperaktiwiteit (geweldig woelig) of Hipo-aktiwiteit (dagdromerigheid) gepaard gaan en word eintlik deur ‘n pediater gepeil en behandel.

Bekendes met ADHD/AAHS sluit Bill Cosby, Cher, Dustin Hoffman, Jim Carey,Kirk Douglas, Robin Williams, Steve McQueen, Sylvester Stallone, Will Smith, Leonardo da Vinci, Galileo, Albert Einstein en Benjamin Franklin in.

Die simptome van aandagafleibaarheid word gewoonlik deur middel van ‘n Connors vraelys beskryf en gepeil.  Die vorm lyk soos ‘n table en word gewoonlik in vyf dae opgedeel – met ‘n skaal van geensins, in ‘n mate, redelik baie en baie.  Van die aspekte uit so ‘n vraelys sluit die volgende in:

  • Vroetel gedurig
  • Neurie en maak ander geluide
  • Eise moet dadelik bevredig word, maklik gefrustreerd
  • Swak koördinasie
  • Rusteloos of ooraktief
  • Prikkelbaar, impulsief
  • Onoplettend, aandag maklik afleibaar
  • Onvermoë om take te voltooi, kort aandagspan
  • Oormatig sensitief
  • Oormatig ernstig of treurig (“sad“)
  • Dagdroom
  • Somber of nors
  • Huil maklik en dikwels
  • Steur ander leerders
  • Twissiek (stry graag)
  • Gemoedstemming verander vinnig en drasties
  • Tree gevat op (acts “smart”)
  • Vernielsugtig
  • Steel
  • Vertel leuens
  • Woedebuie, opvlieënd en onvoorspelbare gedrag
  • Sonder homself af van ander kinders
  • Kom voor asof hy nie deur die groep aanvaar word nie
  • Skyn maklik voorgegaan te word (easily led)
  • Geen sin vir regverdigheid
  • Toon geen leierskap
  • Kom nie oor die weg met die teenoorgestelde geslag nie
  • Kom nie oor die weg met eie geslag nie
  • Terg ander of meng in
  • Houding teenoor gesag:
  • Onderdanig
  • Uitdagend
  • Parmantig
  • Skaam
  • Beangs
  • Oordrewe eise vir onderwyser se aandag
  • Koppig
  • Oormatig gretig om tevrede te stel

noodconnors

As die antwoord op die meeste vrae in die redelik baie en baie afdeling val, dui dit gewoonlik op ‘n probleem.  Die pediater of opvoedkundige sielkundige sal kan sê of die kind se optrede en gedrag werklik ‘n probleem is wanneer die skale bestudeer word.

Indien jy vermoed dat ‘n kind aandagafleibaar is:

  • Verminder die suikerinname en moenie soetgoed inpak skooltoe nie (sugar rush!)
  • Verseker dat die outjie ‘n goeie roetine én slaaproetine volg
  • Struktuur en reëls is belangrik
  • Omega 3 olies word gewoonlik aanbeveel en kan in sommige supermarkte en apteke gekoop word.
  • Praat voortdurend met die opvoeder en vra dat ‘n Connors vraelys voltooi word.  Neem die vorm saam na die pediater toe.
  • As medikasie (skedule tablette) aanbeveel word – doen navorsing daaroor en vra soveel vrae as wat jy kan.  (Kinders kla soms gedurende die eerste week of wat van maag- of hoofpyn terwyl die liggaam aanpas.)  Sodra die aanpassingstydperk verby is kan ‘n opvolg Connors deur die opvoeder voltooi word.  Gewoonlik kan die verskil dadelik opgemerk word.  Indien nie – raadpleeg dadelik weer die pediater.
  • Soek gerus Dr. Christopher Green se boek UNDERSTANDING ADHD op.  Dit het oulike leesstukke in.
  • Volg ADDitude Magazine se nuusbriewe.  Dit is nogal interessant.  (Voorbeeld van raad vir die Klaskamer)

…in die klas…

Na aanleiding van vele navrae het ek die volgende vir die klas saam geflans…Wat werk in jou klas?

Probeer gerus die skakels oor spiertonus…In die klas is die spasie beperk en al sê dokters en sielkundiges dat hiperaktiewe outjies voor en in die middel van die klas moet sit, werk dit nie altyd nie.  Daarom kan ‘n mens probeer om die outjies teen die kant en langs ‘n stiller maatjie te laat sit, sodat die versoeking vir klets en die ontwrigting minder is.  Jy kan ook vir die outjie “vroetel-speelgoed” gee om hom besig te hou.  Gee byvoorbeeld stresballetjies of rubber pypies sodat die outjie nie met ‘n liniaal of potlood sal sit en tik nie.  Sommige juffrouens gee vir hierdie outjies ‘n groot plastiek bal (“gym” bal) of ‘n rubber kussinkie om op te sit.  Dit veroorsaak dat die outjie moet fokus op die balansering en dus nie tyd kry vir kriewel nie.  Hierdie gedeelte vloei nogal redelik sterk saam met die behandeling vir ‘n lae spiertonus
Soms stuur die juffrouens die outjies met boodskappe, om vir Juffrou water te gaan haal en om voorwerpe te dra.  Arbeidsterapeute kan gerus gekontak word oor die proprioseptoriese sisteme.  Dit het te make met die sensoriese* stimulasie en oor die uitwerking van drukking en sintuiglike stimulasies.  Soms is dit goed om vir ‘n woelige outjie te vra om die meubels reg te skuif of om die stofsuier nader te bring.  Die bietjie weerstand of drukking het ‘n positiewe uitwerking om die lyfie.
‘n Mens kan die hele klas laat opstaan en ‘n beweging laat doen. Jy kan selfs ‘n klokkie lui of ‘n geluid maak waarna die hele klas ‘n ritme klap of ‘n dans-aksie uitvoer – net om die kop weer gefokus en wakker te kry.  Braingym het oulike oefeninge om net weer die lyfies gereed te kry vir leer…
Dan kan jy ook versoek dat die hele klas suikervry bly deur die week en ‘n lekkertjie vir Vrydae toe laat.
Juffrouens en ouers:
Loer gerus ook by die webwerf, ADDstudent, in.  Die leuse is ADD + school = success…’n webwerf met ‘n positiewe ingesteldheid.

Dan is daar ook een vir mammas – ADDmoms – met idees oor alternatiewe hulp.

*Sensoriese Integrasie probleme kom moontlik voor as die outjie sensitief lyk vir sintuiglike ervaring soos aanraking, harde geluide, smake of teksture…Kontak ‘n SI gekwalifiseerde arbeidsterapeut indien so iets vermoed word.  

%d bloggers like this: