Tuis

klanke, spelwoorde, syfers, vorms, patrone

Lewer kommentaar


hersiening

Probeer om soveel sintuie as moontlik te betrek en gee vir die outjie ‘n verskeidenheid maniere om die werk te hersien.

Ons skryf dikwels die woorde groot op “flitskaarte” (gebruik sommer ou papbokse en dergelike kartonnetjies) en verf dan pofferige verf met ‘n oorstokkie bo-oor. Die outjie kan dit self in die mikrogolfoond plaas en laat verhard (onder toesig). Sodra dit afkoel, kan hy bo-oor die woorde voel of ‘n bladsy bo-oor plaas en met ‘n vetkryt inkleur om ‘n afdruk te maak.

Plaas die woorde sigbaar teen die muur en gee vir hom/haar meel, suiker of klei om in/op te skryf of waarmee hy die woorde kan vorm en kopieer.  Skryf of teken die los letters, syfers, vorms en patrone groot op ‘n bladsy.  Trek dit na met ‘n gomstiffie en strooi dán die suiker of sand bo-oor.

Die los kaarte kan gekram word om dit sommer in die motor te hersien.

Die los letters van “Scrabble” werk goed. Kyk sommer hoeveel punte elke “Scrabble”-spelwyse tel vir ‘n bietjie wiskunde hersiening.

‘n Ander idee is om ‘n groot vel tinfoelie op ‘n skinkbord/tafel te plaas. Spuit skeerroom daarop (‘n bietjie) en laat die outjie dan die woorde daarin skryf – met die vinger of ‘n kwas.

Op SENTEACHER.org, kan julle jul eie “woordsoeke” skep, sodat die outjie sy woorde só soek en hersien. Fokus aanvanklik net op horisontale woorde, dan ook vertikale woorde en heelwat later – diagonale woorde.

Loer gerus ook na hierdie opsies en tik ook soekterme soos syfers, skrif, skryf, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiings, vorms, patrone, flits, sigwoorde, robotkaart…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.

Idees vir die tuisklaskamer, Tuis idees, Hersien, Klanke

wiskunde huiswerk

18 Kommentaar


Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.

  • Tel elke dag:  As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het.  Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week. :wink:

Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies.  Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer.  Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.

  • Bespreek die getal:  Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos:  Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…).  Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.)  Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!)  Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien).  Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Flardkaarte 1, Flardkaarte 2
  • Kombinasies:  Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23.  Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
  • Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).

Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?

Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?

  • Halveer:  Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys novheou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is.  Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld. :wink:
GPLMS Revision Programme:
Grade 1 GPLMS
Grade_2_booklet
Grade_3_booklet
Grade_4_booklet
Grade_6_booklet
GPLMS Grade 3 Term 1 2014
GPLMS Grade 3 Term 2 2014 GPLMS-Grade-3-Term-2
GPLMS Grade 3 Term 3 2014
GPLMS Grade 3 Term 4 2014
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfermaaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye.  Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
*Konsepte Stories:  

tuis idees in beeld

12 Kommentaar


Tuis idees in beeld

Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help.  Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…

  • Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk.  Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word.  Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
  • Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie.  Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
  • Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël.  (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf).  Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop.  Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
  • Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf.  Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen.  Dan het ons sommer ook in sand geskryf.  Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf.  Ons hou die skrif egter groot.
  • Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak.  ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter.  As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
  • Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi.  Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word.  ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
  • Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat.  Skryf en teken daarin.  Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê.  Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf.  As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
  • Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur.  Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken.  Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning.  Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
  • Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi.  Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed.  Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif.  Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
  • Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk.  As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
  • Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi.  Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk.  ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie.  Kurkproppe en knope werk net so goed.
  • Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene.  Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip.  Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.

Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog.  Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in.  Lekker oefen!

sokker

2 Kommentaar


Die Wêreldbeker sokkertoernooi is een van die dae hier en ‘n mens kan verskeie dinge doen om die kleingoed geïnteresseerd te maak.  Ek het so ‘n paar werkvelle en “inspirasies” opgespoor oor sokker en oor verskeie Wêreldlande. “Lande van die wêreld” val seker nog nie heeltemal in hierdie kwartaal se beplanning nie, maar die terloopse inligting behoort voorbrand te maak vir die latere tema’s. Sonder ‘n hoekie, muur of gang af waar die outjies meer oor die deelnemende lande en die sokkertoernooi kan leer. Gebruik die idees om dalk Engels as tweede taal aan te bied of om nuwe woorde aan te leer. Hou ‘n paar velle inkleurprente of aktiwiteite een kant vir die verveelde outjies. Natuurlik kry ‘n mens ekstra spesiale plakkers vir jou ekstra werk :wink:.
Bespreek die vorms van die blokke op die bal. Dit het vyf sye en word ‘n pentagoon genoem. Hoeveel van hierdie blokke sien jy op ‘n sokkerbal. Hoeveel is wit? Hoeveel is swart? Verdubbel die aantal blokke. Hoeveel kry jy? Wat gebeur as ek die wit blokke met die aantal swart blokke vermenigvuldig? Hoeveel sye het 3 blokkies?…en al die blokke altesaam?
Het jy geweet dat daar geboue in hierdie vorm bestaan? Die Pentagon in Amerika en die Kasteel in Kaapstad is twee voorbeelde van so ‘n vorm.

Maak ‘n prentjie met ‘n paar vyfhoeke. Maak sjablone uit x-straalplate, sodat die kinders dit kan aftrek. Laat die outjies dit uitknip en op die rug van ‘n dinosourus plak.Vou vyfhoeke en maak ‘n klas vol sterre daarvan. Dit behoort die kleingoed ure lank besig te hou. Het jy geweet dat as jy die bene of punte van ‘n sterretjie omvou – jy ook ‘n vyfhoek kry?! Doen dit sommer met plakkers.

…Daar is ook blokke met seshoeke!  (Duidelik is Juffer nie ‘n sokker kenner nie.)  Nou het ek weer ‘n ding raak gesien! Wat daarvan as elke kind ‘n seshoek uit ‘n stukkie lap knip en met lapverf verf.  ‘n Knap juffrou of mamma kan dan ‘n klaskombers maak.  Ek wens ek kon self so ‘n deken maak! Dit lyk altyd so mooi en snoesig 😉

Gee vir elke outjie ‘n seshoek om uit te knip en ‘n spelwoord om daarin te skryf.  Bou ‘n heuningkoek teen die muur en siedaar! ‘n Spelles, vormles én fynmotoriese ontwikkeling in een!  Ek sou op eu-woorde gefokus het om by die heuningkoek aan te sluit, maar enige iets sal werk.

Neem ‘n bladsy vol vorms en vra die outjies om slegs die vyfhoeke of seshoeke te omkring vir visuele diskriminasie oefeninge.  Maak patrone op lang strokies en gee los vorms. Vra dat die kleingoed die patrone napak of dat hulle dit nateken.  Jy kan die vorms in verskillende kleure maak – sodat die patroon die volgorde van kleure ook insluit. (vyf-en-seshoeke)

Verskaf bladsye met verskillende groottes seshoeke, vyfhoeke en sirkels.  Gee die kinders die vryheid om hul eie prentjies met die vorms te pou (knip en plak).

Wat weet ons van ‘n bal? Wat is die vorm se naam? ‘n Sfeer.  Dis ‘n opgeblaasde sirkel…Waar kry ons sfere? Noem maar op: planete, die son, die maan, balle, gloeilampies, krale…

Blaas borrels met seep (buig ‘n draadjie in ‘n sirkel en maak lekker seepwater aan – vir buite spel).  Blaas borrels in ‘n seperige oplossing…gebruik strooitjies en drup ‘n paar druppels voedselkleursel in die seepsous.  As die outjies hard genoeg blaas, borrel die glas oor en kan ‘n mens ‘n papier bo-op druk.  Die borrels gee ‘n oulike tekstuur op die bladsy.

Speel met balle – groot, klein, grof, swaar, lig, wollerig (tennisbal)…ryg sfeervormige krale in om halsnoere te maak…Het iemand dalk ook oulike idees?

(sokker-soektog en tweeklanke-woordsoeke)

(doolhof en sokkerbal-inkleur)

Zakumi (Laat maak jou eie Zakumi)

Inkleurprente van die sokker – insluitend Soccer City en Tafelberg (oulik)

%d bloggers like this: