Probeer om soveel sintuie as moontlik te betrek en gee vir die outjie ‘n verskeidenheid maniere om die werk te hersien.
Ons skryf dikwels die woorde groot op “flitskaarte” (gebruik sommer ou papbokse en dergelike kartonnetjies) en verf dan pofferige verf met ‘n oorstokkie bo-oor. Die outjie kan dit self in die mikrogolfoond plaas en laat verhard (onder toesig). Sodra dit afkoel, kan hy bo-oor die woorde voel of ‘n bladsy bo-oor plaas en met ‘n vetkryt inkleur om ‘n afdruk te maak.
Plaas die woorde sigbaar teen die muur en gee vir hom/haar meel, suiker of klei om in/op te skryf of waarmee hy die woorde kan vorm en kopieer. Skryf of teken die los letters, syfers, vorms en patrone groot op ‘n bladsy. Trek dit na met ‘n gomstiffie en strooi dán die suiker of sand bo-oor.
Die los kaarte kan gekram word om dit sommer in die motor te hersien.
Die los letters van “Scrabble” werk goed. Kyk sommer hoeveel punte elke “Scrabble”-spelwyse tel vir ‘n bietjie wiskunde hersiening.
‘n Ander idee is om ‘n groot vel tinfoelie op ‘n skinkbord/tafel te plaas. Spuit skeerroom daarop (‘n bietjie) en laat die outjie dan die woorde daarin skryf – met die vinger of ‘n kwas.
Op SENTEACHER.org, kan julle jul eie “woordsoeke” skep, sodat die outjie sy woorde só soek en hersien. Fokus aanvanklik net op horisontale woorde, dan ook vertikale woorde en heelwat later – diagonale woorde.
Loer gerus ook na hierdie opsies en tik ook soekterme soos syfers, skrif, skryf, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiings, vorms, patrone, flits, sigwoorde, robotkaart…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Laat 'n boodskap