Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help. Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…
- Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk. Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word. Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
- Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie. Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor. Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
- Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël. (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf). Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop. Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
- Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf. Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen. Dan het ons sommer ook in sand geskryf. Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf. Ons hou die skrif egter groot.
- Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak. ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter. As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
- Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi. Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word. ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
- Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat. Skryf en teken daarin. Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê. Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf. As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
- Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur. Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken. Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning. Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
- Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi. Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed. Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif. Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
- Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk. As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
- Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi. Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk. ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie. Kurkproppe en knope werk net so goed.
- Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene. Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip. Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.
Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog. Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in. Lekker oefen!
Woorde