Tuis

waterbesparing

3 Kommentaar


Watter planne maak julle by die skool om water te bespaar?  Versamel julle water vir die tuin, die gemeenskap of ander  redes (dalk vir ‘n dierebeskermingsvereniging)? Herwin julle dalk water om die skooltuin mooi te hou?  Hoe doen ‘n mens dit?

Water Muurprente (A4

Aanlyn speletjie

Biddag

Lewer kommentaar



Vanjaar fokus my gedagtes nie net op dít wat ons deur middel van die kurrikulum meedeel nie, maar ook op die lewensnoodsaaklike vaardighede wat ‘n mens graag wil aanleer (bv. bewaring, besparing, medemenslikheid, respek, empatie…aspekte wat sal lei tot die verryking van elkeen se menswees).  Mag elkeen wat by die Onderwys en Opvoedingstake betrokke is, die nodige insig, rustigheid en ondersteuning van kollegas, die gemeenskap en kleingoed ervaar…

groot en klein

2 Kommentaar


‘n Juffrou het vandag gevra hoe ‘n mens groot en klein aan Graad R kinders kan verduidelik.  Ek sou verskeie soortgelyke items uitstal (betrek die Checkers mini-kruideniersware).  Dink aan ‘n groot yogabal en ‘n klein tennisbal, ‘n groot reistas en die meegaande handbagasie, ‘n groot stoel vir juffrou en ‘n klein stoeltjie vir ‘n kind, ‘n groot mengbak en ‘n klein roomysbakkie, ‘n groot opskeplepel en ‘n klein teelepeltjie…

Loop gerus om die skool en soek na groot en klein items, byvoorbeeld ‘n groot venster en ‘n klein venstertjie, ‘n groot tuin en ‘n klein beddinkie, ‘n groot muurhorlosie en ‘n polshorlosie, drom en drommetjie, sak en sakkie, ‘n groot skoolbus en die mini-bus, ‘n groot skoolskoen en ‘n kleintjie, ‘n groot boek en ‘n kleintjie…(Waak teen woorde soos vet en maer, lank en kort…)

Bespreek die woorde.  Groot items sal dikwels net die woord hê, maar die kleintjie sal die verkleiningsvorm daarby hê.  Hoe spreek ‘n mens die woorde uit en hoeveel klappies (lettergrepe) het elkeen?  Wat hoor jy aan die einde van die verkleiningsvorm?…”ie”, “pie”, “kie”…

big small                groot en klein

Watter van die items kan julle in die sandput of waterbak gebruik? Groot en klein houers, skoene vir voetspore, ‘n groot waterbottel en ‘n kleintjie, ‘n groot roomysbak en ‘n kleintjie…Het julle groot en klein boublokke of groot en klein kledingstukke? Stel dit beskikbaar.

Berei groot koerantvelle voor deur die dubbelblad lengte-gewys in die helfte te vou.  Verf die boonste helfte met effens verdunde blou en die onderste helfte met groen voedsel-kleursel of waterverf.  Kies items om op die landskap te plaas, byvoorbeeld klein en groot huise.  Elke kind kan dan ‘n klein en ‘n groot huis teken of vorms uitknip om groot en klein huise te bou (gebruik basiese vorms soos vierkante, reghoeke, driehoeke, sirkels…).  Plak die koerantpapiervelle langsmekaar in die gang op en laat die outjies hul huise daarop plak.  Kan julle ‘n patroon vorm?  (Bv. groot, klein, groot, klein of groot, klein, klein, groot, klein, klein…)  ‘n Mens kan natuurlik kleiner velle gebruik sodat elke kind ‘n individuele prent maak.

Soek items om drukwerk mee te doen (bv. groot en klein sirkels, groot aartappels en klein aartappels) en maak verskillende soorte patrone – in rye of reg rondom die rand van ‘n bladsy.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens groot en klein gesinslede in die middel of apart teken (om op die agtergrond te plak).

Slaan die trom op ‘n groot koffieblik of op ‘n kleintjie.  As die outjies die groot een se klank hoor, moet hulle soos groot olifante rond trap en as hulle die kleintjie se klank hoor kan hulle krimp tot klein muisies.

Soek gerus stories soos “Klein Duimpie”, “Gouelokkies”, “Jan en die boontjierank”… waar daar verwysings na groot en klein items gemaak word of waar jy daarna kan verwys.

Vra dalk dat ouers groot en klein herwinbare items skool toe stuur.  Sodoende kan die kinders self items volgens groottes sorteer en later weer in dooskonstruksies, water- en sandspel gebruik.

Aan watter idees kan ‘n mens nóg dink?

*Gouelokkies (prente)

Potloodgreep

2 Kommentaar


Op die 23ste Januarie vier ander lande Skrifdag.  ‘n Vinnige idee om met die ontwikkeling van ‘n goeie potloodgreep te help, is ‘n vinnige manier om die potlood op te tel…

Plaas die potlood “vertikaal” voor jou op die tafel – met die punt na jou lyf (maag/bors) – asof dit in die vou van ‘n oop boek lê.  Plaas jou skryfhand se vingerpunte teen mekaar en rus die naelpunte op die tafelblad.  Glip die duim aan die een kant en die ander vingers aan die ander kant oor die potlood.  Knyp die potlood tussen die wysvinger en duim vas, lig die agterkant op en oor tot in die webspasie.  Siedaar!  As jy nou die “okay”-teken met jou vingers moet maak, kan jy dit vorm sonder om vingers van die potlood te lig of om die potlood te laat val.  Jou duim maak ‘n perfekte bergpiek na buite.  Krul die middel-, ringvinger en pinkie liggies na jou handpalm en ontspan jou hand wanneer jy skryf.

Hoe lyk die duim as jy jou potlood vas hou?  Maak dit ‘n berg, duik dit in of staan dit stokstyf?

potloodoptel

Tik gerus soekterme soos “potloodgreep, handspier, skrif, skryf, patrone, abc, skryf, lopende skrif…knip, linkshandig” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

herinnering

Lewer kommentaar


Ek geniet dit vreeslik om my hulpmiddels in klaskamers te sien. My blog is juis as ‘n aanvullende hulpmiddel vir juffrouens en ouers (meer spesifiek – die kinders) gestig.  Die blog is na bykans 10 jaar steeds ‘n gratis forum waar ouers en onderwysers gratis kan inloer en idees inwin.
…Sedertdien het heelwat juffrouens my produkte as hul eie begin/probeer verkoop. Alles op My Klaskamer (www.juffer.wordpress.com) is onderhewig aan kopiereg – of jy dit oor tik of nie. Ek is bewus van mense wat tans my materiaal in pakkette en huiswerkboeke gebruik. Daar is ook dié wat tans op Facebook daarmee spog as hul eie werk en in kusdorpies daarmee woeker.
Ek beantwoord alle navrae hier, per e-pos en op die sosiale media forums.  Plaas gerus skakels hierheen of na ‘n artikel op My Klaskamer.  Almal is welkom en ek sal steeds probeer om vrae so goed as moontlik te beantwoord.
Ek vra net dat my produkte nie herversprei of -verkoop sal word nie.

gedrag en dergelike dinge

Lewer kommentaar


gedragIemand het navrae gerig oor beloningskaarte.  Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.

Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens.  Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉

Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim.  (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)

Sommige juffrouens gebruik ligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een).  Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering (gemerk as Santa’s camera).  As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.

Daar is rekenaarprogramme en toeps (apps) wat geraasvlakke aandui, bv. Too Noisy, ClasscraftClassDojoToo Loud Kids Noise Meter & Timer Free en Bouncy Balls.  Chrome het die Zero Noise Classroom aanvulling.

Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation.  Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring.  Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.

Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur.  Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies).  Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is.  Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos?  Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie.  Sodoende kan maats mekaar help.

Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind.  Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie.  Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig.  Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers.  Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.

Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.

Ek hoop dit kan help 😉

 

This slideshow requires JavaScript.

 

 

talente

Lewer kommentaar


‘n Kollega het onlangs die volgende oulike idees tydens oordenkings gedeel…Die voorlesing was uit Mattheus 25 (vanaf vers 14).

Begin deur elkeen se gawes en talente te vier, maar ook te noem dat ons nie ons gawes vir onsself behoort te hou nie en dit behoort te deel.  Dit kom van nature vir onderwysers – wat soveel met die kleingoed deel.  Wat is uniek aan elkeen op julle personeel?  Watter kennis en wyshede is beskikbaar?  Wat kan jy bydra?  Waarmee kan jy woeker?

Hoe kan jy hierdie ondersteuning en hulp uitdra na die kinders in jou klas?  Klein reseptekaarte is aan die leerders gegee om gebedsversoeke neer te pen.  ‘n Fototjie en die naam is daarop aangebring. Elke onderwyser kon een neem en ‘n tweede kaartjie is aan elkeen verskaf, sodat die onderwysers boodskappe kon terug skryf.  ‘n Plakker (met die teksvers) is bo-op ‘n muntstuk geplak en bo-op ‘n magneet vas gegom.  Dít is saam met die kaartjies uitgedeel sodat ons die outjies altyd sigbaar (en in ons gedagtes) kan hou.

Sou ‘n mens dit wedersyds met jou klas en personeel kon deel?

Rooimierblussers

Lewer kommentaar


Aan die begin van die skooljaar moet ‘n mens die nuwe roetine inoefen en deurgee.  Die lyfies is nog met vakansie en so ook die eetgewoontes.  Verduidelik aan hulle hoe die rooster werk, wanneer julle sal eet, hoe julle aantree in rye en hoe julle deur die skool gaan stap (bv. hande agter die rug).

Plak/teken prente in die volgorde van die basiese rooster (iewers op die bord of muur) en skuif ‘n magneet of wasgoedpennetjie heen en weer gedurende die eerste dae.  Bv. Ons gaan vandag werk, ‘n peuselhappie neem, badkamer toe gaan en ‘n storie lees voor pouse…Jy mag jou kosblik saamneem as jy uitgaan, maar onthou om iets vir tweede pouse te hou. 

Die jonger outjies sal steeds vrae vra, maar verwys gereeld na die visuele opsie sodat hulle daaraan gewoond kan raak.  Probeer ook die volgende idees gedurende die eerste dae…

Middellynkruising/Ruimtelike Oriëntasie:

Tussen take:  Trek ‘n vertikale lyn om vir die outjie te wys waar sy neus min of meer moet wees.  Teken dan die bekende skrifpatrone lekker groot op ‘n skryfbord van links na regs oor die streep.  Ek maak ‘n begin- en eindkol vir die jonger outjies en plak ‘n voorbeeld bokant die skryfspasie.  Die outjies trek die patroon aanvanklik van linkerkol tot regterkol en daarna doen ons dit weer met die oë toe.  Hulle hoef natuurlik nie op ‘n skryfbord te werk nie en kan in die sandput of met ‘n vinger op die tafel (- later die bad se rand, op die stortdeur of ‘n gestoomde spieël) oefen.  Gebruik ou koerante, vetkryt, verf of gewone bladsye ook.

Spiertonus/Postuur:

Raak ‘n outjie maklik moeg aan die tafel of sak hy/sy ietwat weg in die stoel?  Draai die stoel om, sodat hy/sy wydsbeen en regop teen die rugleuning kan sit.  Dis nie die ideaal nie, maar die lyfie word ondersteun terwyl mens gedurende die dag aan die spiertonus werk.

Kriewelrig:

Is die outjie kriewelrig?  Sny ‘n kepie in twee afsonderlike tennisballe en glip dit onder twee teenoorstaande stoelpote in, sodat die outjie geluidloos heen en weer kan wip.  Indien jou skool klein wiegstoele (rocking chairs) het, kan jy dít inspan of die knobbelrige rubberkussings gebruik wat gewoonlik deur arbeidsterapeute aanbeveel word.

Stel ‘n aftelwekker op jou foon of stel ‘n eierwekkertjie.  Indien jy toegang tot die internet het, kan jy verskeie wekkers aanlyn opsoek.  Gebruik dit om ‘n aanduiding van die werkperiode te gee óf die pouse (bv. 3 minute) tussen take.  Sing dan ‘n aksieliedjie, doen Brain Gym of soortgelyke strekke.  GoNoodle het YouTube video’s wat die ouer outjies dalk kan geniet (loer net eers vooraf om te kies).

Skop die voetjies? Plaas ou telefoonboeke onder die voete sodat die voete geanker is of ruil stoele en tafels om.

Ekstra fynspier oefeninge: 

Hou ‘n ekstra stasie gereed indien die outjies die klaswerk vinniger as verwagting voltooi het:

  • Span ‘n toutjie ooghoogte waar die outjies mooi prente of popklere kan vas knyp.  Verskaf wasgoedpennetjies en metaalklampies, sodat hulle ‘n keuse het.
  • Verskaf middelslag en groot krale in ‘n bak met veters en toutjies – sodat die outjies patrone kan ryg.  Neem foto’s as voorbeelde en lamineer dit as inspirasie.
  • Verskaf groot en klein boublokke.  Neem foto’s van eenvoudige strukture – as inspirasie vir latere bouwerk.  Kan julle letters/klanke/syfers/vorms bou?
  • Gee klei, flubber of slym op ‘n plastiekblad of skinkbord.
  • Verskaf ‘n metaal skinkbord waarop skeerroom gespuit word.  Drup voedselkleursel bo-oor en laat die outjies met ‘n ou potlood of ‘n stokkie daarin teken en druk ‘n bladsy bo-op.  Lig op en skraap die room af met die rand van ‘n liniaal.  Gebruik die droë bladsy as die voorblad of agterkant van ‘n skryfboek.

Verseker dat daar ‘n geleentheid is om saam op te pak en na ‘n storie op die mat te luister.  Wat was die lekkerste deel van jou dag?  Onthou en geniet elke oomblik.

Tik ook soekterme soos “eerste dag” of “nuwe jaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

skool toe

Lewer kommentaar


‘n Nuwe skooljaar

6 Kommentaar


Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…

Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders.  Tree dus voorkomend op.

  1. Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem.  Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik?  Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
  2. Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek.  Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
  3. Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app).  Hoe kan die ouers met jou kommunikeer?  Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur?  Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
  4. Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom.  Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉  Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas.  Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
  5. Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem.  Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
  6. Weet die ouers waar die kinders gaan aantree?  Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar?  Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
  7. Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof).  As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke.  (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom.  Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
  8. Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens.  ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
  9. Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe?  Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui.  Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg.  Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
  10. Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring.  Het julle riglyne vir die klaskamer?
  11. Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra?  Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas.  Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra.  As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het.  As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses.  Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
  12. Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed?  Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd?  Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers?  Bring die kinders water of gaskoeldrank saam?  Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
  13. Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
  14. Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
  15. Gaan julle herwinning en waterbesparing aanmoedig?
  16. Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe?  Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
  17. Hoe werk uitstappies?  Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan?  Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
  18. Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak?  ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
  19. Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande?  Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
  20. Maak verjaarsdae spesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem.  Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer.  ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop.  Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
  21. Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies?  Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring?  Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was?  Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk.  As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies.  Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees.  ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
  22. Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne.  Watter opsies is sakpas en min moeite?
  23. Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie.  Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
  24. Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor?  ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal.  Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik.  Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig.  Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op karton maak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
  25. Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer.  Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhanger of klampies en ‘n draadhanger inspan.  Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.

Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe.  Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink.  Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.

Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan.  Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.

Mag jy ‘n baie suksesvolle jaar beleef.

 

matriek

Lewer kommentaar


Skouer aan die wiel

Lewer kommentaar


My Klaskamer word vanjaar 10 jaar oud! Kan jy glo?! 😀

Snuffel gerus deur die vorige inskrywings na velerlei gratis drukbare bladsye, muurkaarte, flitskaarte, kalenders en meer.  Voer jou e-pos adres by die E-pos subskripsie-blokkie aan die regterkant in om kennisgewings van nuwe skrywes te ontvang of sluit by my Facebookblad aan.  Ek probeer tans om meer van die gratis produkte op die Facebookwinkeltjie en –groep te lys.  Loer gerus in 😉

 

My Klaskamer Pryslys 2018

Blou Maan

Lewer kommentaar


Wanneer die volmaan twee keer in een maand skyn, word die tweede volmaan ‘n Blou Maan genoem.  Vanjaar skyn die Blou Maan op die 31ste Januarie én Maart.

Die helder lig is ‘n ideale geleentheid om ‘n skoolfunksie onder die sterre aan te bied.  Wat van ‘n Ken Mekaar Skoolbraai, ‘n atletiek aand, ‘n maanlig piekniek of ‘n “colour run”?   Dra blou en samel ‘n fooitjie in ten bate van die skool of ‘n ander organisasie.

Loer gerus hier na les idees in verband met die maan en die hemelruim.