Advertisements
Tuiste

‘n Nuwe skooljaar

6 Kommentaar


Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…

Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders.  Tree dus voorkomend op.

  1. Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem.  Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik?  Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
  2. Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek.  Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
  3. Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app).  Hoe kan die ouers met jou kommunikeer?  Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur?  Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
  4. Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom.  Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉  Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas.  Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
  5. Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem.  Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
  6. Weet die ouers waar die kinders gaan aantree?  Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar?  Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
  7. Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof).  As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke.  (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom.  Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
  8. Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens.  ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
  9. Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe?  Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui.  Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg.  Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
  10. Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring.  Het julle riglyne vir die klaskamer?
  11. Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra?  Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas.  Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra.  As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het.  As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses.  Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
  12. Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed?  Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd?  Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers?  Bring die kinders water of gaskoeldrank saam?  Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
  13. Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
  14. Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
  15. Gaan julle herwinning en waterbesparing aanmoedig?
  16. Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe?  Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
  17. Hoe werk uitstappies?  Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan?  Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
  18. Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak?  ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
  19. Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande?  Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
  20. Maak verjaarsdae spesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem.  Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer.  ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop.  Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
  21. Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies?  Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring?  Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was?  Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk.  As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies.  Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees.  ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
  22. Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne.  Watter opsies is sakpas en min moeite?
  23. Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie.  Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
  24. Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor?  ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal.  Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik.  Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig.  Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op karton maak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
  25. Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer.  Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhanger of klampies en ‘n draadhanger inspan.  Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.

Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe.  Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink.  Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.

Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan.  Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.

Mag jy ‘n baie suksesvolle jaar beleef.

 

Advertisements

Werksvelle, Muurkaarte en ander hulpmiddels

Lewer kommentaar


jufferteachablad

Tik soekterme (in geen spesifieke volgorde) soos die volgende by die bruin soekblokkie aan die regterkant in, loer na die “Drukbare Bladsye” of na die skakels wat aan die regterkant gelys is.

  1. hulpmiddels
  2. muurkaart
  3. naamkaart
  4. eerste dag
  5. klanke
  6. abc uitspraak
  7. alfabet
  8. sigwoord
  9. dubbelklank
  10. tweeklank
  11. drieklank
  12. klanksamevloeiings
  13. hersien
  14. meervoud
  15. verkleinwoord
  16. leestekens
  17. flits
  18. oefen self
  19. e klink soos i (be-, ge-, ver-…)
  20. f en v
  21. omkering
  22. b en d
  23. woordeinde (-d/-t)
  24. woordsoort
  25. tydsvorm
  26. lees
  27. komponente
  28. rym
  29. rympies
  30. stories
  31. leesreeks
  32. biblioteek
  33. boeke dag
  34. boeke nag
  35. fondsinsameling
  36. liedjies
  37. e-boek
  38. toeps
  39. apps
  40. inklusiewe onderwys
  41. wiskunde huiswerk
  42. woordsom
  43. geld
  44. breuke
  45. voor en na
  46. meer en minder
  47. Hoe laat is dit? (tyd)
  48. vorms
  49. patroon
  50. patrone
  51. handspier
  52. skrif
  53. skryf
  54. lopende skrif
  55. abc skryf
  56. knip
  57. skryf stadig
  58. potloodgreep
  59. ogies
  60. oog
  61. oogsorg
  62. VMI
  63. visuele
  64. ouditiewe
  65. taal ontwikkeling
  66. woordeskat
  67. Graad R
  68. Graad 1
  69. posisie
  70. middellynkruising
  71. links en regs
  72. spiertonus
  73. tuis idees
  74. tuis oefen
  75. speel-speel
  76. Engels
  77. vraestel
  78. studietegniek
  79. JNA / ANA
  80. CAPS

Daar is heelwat tema’s en ander idees ook beskikbaar.  Vra gerus 😉

Loer gerus elke nou en dan op Teacha/Teaching Resources in vir winskopies.

hulpmiddels vir die klaskamer

13 Kommentaar


hulpmiddelsabcJy het ‘n nuwe pos gekry of jou universiteitsjare staan einde se kant toe.  Om gereed te maak vir ‘n nuwe klaskamer, kan jy die volgende items in gedagte hou:

Hulpmiddels om te versamel (klik)

Kies ‘n kleurskema of materiaal vir gordyne, kussinkies en ‘n tafeldoek – iets wat lank mooi sal bly.  Kyk ook na jou graadgroep se kurrikulum en skep of versamel items wat spesifiek op dié groep gemik is, bv. flitskaarte van woorde, klanke, getalkombinasies…Onthou om die tale in jou provinsie in gedagte te hou (bv. Afrikaans én Engels) en om daarvoor voorsiening te maak.  Hoe meer jy self versamel, hoe minder hoef jy oor te begin as jy na nuwe skole of klaskamers verskuif.

*Vinnige Gordyne:  ‘n Mens kan tydelik gordynrek gebruik…of
  • Probeer ook ‘n reëling met gordynring klampies.  Jy kan bloot die lap (platlaken, plastiek) van jou keuse om vou en vas knyp.  Indien die rand uitrafel, kan jy dit omvou en vilene tussen-in vasstryk…
  • laat die kinders linte en stroke om ‘n rek/reëling knoop
  • of laat hulle drukwerk (met lapverf) op ‘n platlaken doen voordat julle dit vasknyp.
  • spuitverf wit pvc-pyp of gebruik ou handdoekreëlings as gordynstokke
Daar is etlike voorbeelde hier op my blog beskikbaar.  Tik soekterme soos “hulpmiddels, skrif, lopende skrif, klanke, muurprent, syfer, vorm, sakpas…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of selfs terme soos “beginner”, “eerste dag” en “tuis idees”.

Teache link

*Teacha produkte word op jou rekenaar afgelaai, sodat jy dit oor en oor kan druk.
Instrument vir die Monitering en Ondersteuning van die Kurrikulum vir Distrikte en Skole Graad 1-6

bêre

4 Kommentaar


Lê daar dikwels skoolskoene en -klere op die vloer?  Hiermee dan ‘n paar goedkoop bêre idees om die kledingstukke smiddae op te hang en om die skoene blink te hou.

In die klas…

beccacreativeartistry handevoetebolamodesignstudio

  • As jou skool nie hake het nie:  Maak eenvoudige klerehake deur stukke ou speelgoed (bv. arms, bene, skaakstukke), ongebruikte deurknoppe of gesaagde takke eenvormig te spuitverf of in die oorspronklike vorm aan ‘n lang houtplank vas te skroef/lym.  Hangers of kledingstukke het dan altyd ‘n plek om te hang (veral die fantasiespel klere).  Tuis kan die knoppe vervang word soos die outjies ouer word.
  • As jy nie hake wil gebruik nie, maak ‘n reling, herwin ‘n ou netbalring/hoepel of sit ‘n handdoekreling onderstebo onder aan ‘n raamwerk/balke (as jou Graad R-klas ‘n ekstra vlak het) vas.  Hang die klere dan aan hangers op.
  • Kies eenvormige houers (bv. opvoubare lapsakke, deursigtige plastiek houers met deksels of selfs roomysbakke) om soortgelyke hulpbronne te bêre.  Die ideaal is om items vinnig op te spoor en te organiseer.  Deksels help natuurlik om stof en moontlike waterskade te vermy.
  • Gebruik eierdosies of ou ysbakkies vir stempels, skuifspelde, haarknippies en allerlei kleinighede.
  • Verlore items:
    • As klere en besittings verlore raak kan ‘n mens dit vinnig aan die eienaar terug besorg.  Indien daar geen naam op is nie, kan ‘n mens dit in ‘n algemene houer plaas waar dit geleen kan word.
    • Vra dat ouers die kinders se name groot binne-in die skoene se skryf.  Indien daar vrese is dat die veselpen (koki) op wit sokkies sal afgee, kan ‘n mens op die binnesool skryf of naamplakkers gebruik.
    • Vra dat alle kledingstukke (selfs swemdrag en onderklere) duidelik gemerk word met lap naamstrokies of spesiale veselpenne vir klere.

By die huis…

apartmenttherapy.com

  • Koop ‘n stelletjie hout hangers (gewoonlik in pakke van 5) en merk elkeen met ‘n byskrif of oulike boodskappie of beskrywing (bv. hemp, trui, rok…).  As die outjies smiddae tuis kom, kan die klere op gehang word vir nog ‘n draslag.
  • Vir die dogtertjies se haarknippies, -rekkies en -linte kan ‘n mens ‘n ou pop of lang vlegsels (gevleg uit vol of vals haarinsetsels) aan die klerehaak/-plank vasheg.  Só kan die rekkies op ‘n spesifieke plek gebêre word.
  • ‘n Vinnige gedagte om die skoene blink te hou:  Maak ‘n oulike kissie om die skoenpolitoer in te hou.  Pak kitspolitoer én die poetssoort daarin.  Voeg etlike lappe en sagte borsels by om die skoene blink te poets.  Plaas dan ‘n groterige, oop dosie (ook ‘n plastiese krat, matjie of selfs koerantpapier) saam met die skoenpoetskissie in die kamer.  Só kan die outjies smiddae die skoene bêre, gou afstof en die matte skoon hou.
  • ‘n Mens kan natuurlik ‘n kissie vir elkeen se skoene hê – om aan te trek op pad by die deur uit.

Deel gerus ook jou idees.

plekkaartjies, naamkaartjies en dies meer

15 Kommentaar


Iemand (dankie C!) het navrae gerig oor etikette en bordjies vir ‘n klaskamer.

  1. naamkaartjie (Drukbaar – soos prente hierbo)
  2. markyourpossessions (Engelse weergawe)
  3. SENTEACHER het ‘n maklike programmetjie waarmee jy raampies, bewoording, ensovoorts kan kies vir jou spesifieke behoeftes. Dit is maklik om te gebruik en lyk netjies.
  4. Sparklebox is ‘n Britse webwerf propvol oulike hulpmiddels.  Daar is dikwels Afrikaanse hulpmiddels (loer vir die SA-vlaggie).
  5. Kelly gee vir jou oulike idees, maar van die dokumente is ‘n bietjie groot om af te laai.
  6. Lindsay het oulike idees en basisse (templates) vir busse en appels – indien jy die plekaanwyserkaartjies daarmee wou versier het.
  7. K-3 het ‘n bladsy met aflaaibare, gratis takies en dinge.
  8. Instant display gee oulike idees en anseo het oulike prentjies en kleure.
  9. Usefulwiki verskaf foto’s van oulike klaskamer-uitstallings en bordversierings – asook the virtual vine.
  10. Vir die weerkaart, kan jy hierna kyk. Druk die prentjies, lamineer en knip dit uit.  Tik gerus “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in om vanjaar se gratis kalender af te laai of loer hier na nog weer idees.
  11. ‘n Mens kan gerus gereeld by Teacher’s Love inloer vir blink idees.
  12. By Valley View Market kan jy ‘n basis vir ‘n kalender kry en dan self die bewoording en detail aanbring vir elke maand.  In die klaskamer kan jy dan elke leerder se verjaarsdag aanbring en prentjies van die seisoen of maand in die opskrif byvoeg.  VVM het nog verskeie ander basisse van houertjies en dies meer.
  13. Juffrou Mandy het ‘n oulike en helder kalender. Die kaartjies word met skuifspelde vas gesteek, maar as jy die syfers met klitsgras (velcro) vas sit behoort dit seker minder skade op te doen. Die basiese maandblok is dit altyd teen die bord vas, maar die dae skuif om by die maand aan te pas.
  14. Siende dat die kalender vir die klaskamer is, kan ‘n mens seker die blokke teen die muur verf en met bordkryt daarop skryf!  Hoekom nie?…of wat van jou eie ontwerpie – wat die kinders help inkleur?
  15. Ek hou van hierdie beloningskaarte. Dis helder en kindervriendelik. Druk dit in kleur, plak dit op ‘n helder rooi papier en siedaar!
  16. Teach This is regtig vol oulike idees en ‘n loer werd.
  17. Kaartjies – druk in meervoud en ken ‘n stelletjie aan elke kind toe.  Jannie kry dus ‘n beertjie by sy tas (langs sy naam), sy waslap, bank, ens.
  18. Etikette
  19. Iemand het onlangs vertel dat hulle met Sharpie Verfpenne op die tafels skryf en dit dan verwyder deur met witbordveselpenne daaroor te teken/skryf.  Het jy dit al probeer?
  20. bytjie-naamkaartjies
  21. uiltjies-naamkaartjies
  22. volstruis-naamkaartjies
  23. liewenheersbesie-naamkaartjies
  24. olifant-naamkaartjies
  25. merk jou skryfbehoeftes
  26. Naamkaartjies…en laastens kan jy gerus in die skakellys loer na Depicta en Tuishulp (gemerk “apparaat”) se produkte 😉

Was jy eintlik op soek na Afrikaanse partytjie uitnodigings?  Loer na die Safari-tema (Baba & Kleuter), ‘n drakie– (Loebi) of ‘n Sesame-ontwerp.  Superhelde, superheld-embleme.

Tik gerus soekterme soos “eerste dag, hulpmiddels, weer, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir velerlei drukbare hulpmiddels of vra gerus.  Ek help graag 😉

Beginner-juffer idees (Graad R en 1)

22 Kommentaar


nuwejuffrou

Onderwysers is amper soos die “hunter gatherers” van ouds. Ons is altyd opsoek na nuwe dinge en inligting en gooi min goed weg. Dis eintlik noodsaaklik om idees en hope papier te hou. Daarom is dit wenslik om dik ringlêers byderhand te hê waarin jy jou “oulike takies” en planne kan liaseer – volgens temas of kronologies vir die jaar. Op die ou einde kan jy twee tot drie lêers per kwartaal opbou. Indien die lêers (weens ‘n tekort aan spasie) nie werk nie, kan ‘n tweedehandse liaseerkabinet ingespan word. Soms verkoop winkels soos Game helderkleurige, plastiese trommels met liaseervakkies én ‘n deksel vir die stof. Wat jy ookal doen, sorg dat jy vir jou so ‘n mini-argief van idees opbou. Dis altyd handig – selfs al verander die kurrikulum.

Moet nooit ophou soek na nuwe inligting nie! Klop by kollega’s aan en loer in hul “argiewe”, deel jou eie idees met ander, gaan kuier by ander skole en fynkam die internet. Stoor die skakels van webwerwe wat jou interesseer en gaan weer terug.

Hou die klas georganiseerd en netjies. Sorg dat daar kapteine aangestel word om elke “stasie” of hoekie reg te pak en beloon hulle vir die werk. Dis egter onmoontlik om skoon en netjies te maak as daar nie pakplek of dinge soos lappe en besems is nie. Knip ‘n ou handdoek op in kleiner vierkante en stik dit om. Dan is daar genoeg stoflappe. Verdun skoonmaakmiddels en maak maar weekliks so ‘n Sunlight Liquid sousie in ‘n kleinerige botteltjie aan. Iets soos ‘n keelsproeibotteltjie het ‘n fyn spuitbuisie (nozzle) en mors dus nie te veel nie. Graad R en 1 dames is geneig om vreeslik aan die kant te maak en verbruik dus al juffrou se seep en dinge baie vinniger as wat jou beursie kan hanteer. Terloops, vra sommer of die ouers nie ‘n bottel Windowlene of Sunlight Liquid kan borg vir die jaar nie – al is dit ‘n kleintjie. Dan kan ‘n mens ordentlik skoon maak! (Die groot maat middels wat skole soms aanskaf is maar flou.)

Gee ‘n inligtingsbrief vir die ouers. Spesifiseer die skool se beleid en reëls rodom alles waaraan jy kan dink. Dit mag dalk oorbodig klink, maar is nie. Dinge wat jy in gedagte kan hou is goed soos

  • Skooltye
  • Waar en hoe kinders ontvang word (by die deur, in die klas, buite…)
  • Reëlings indien iemand anders die kind oplaai.
  • Verversings / Kosblik – Wat is vir jou aanvaarbaar? Mag die kosblik elke dag lekkers bevat?
  • Snoepgeld – elke dag of net een maal per week
  • Verduidelik hoe die dagprogram of rooster werk.
  • Kleredrag – verduidelik spesifikasies en dring aan op ‘n ekstra stelletjie “noodklere”. Veral aan die begin van die jaar is daar nog redelik angs oor al die nuwe dinge en gebeur glipsies gereeld.
  • Spesifiseer alle skryfbehoeftes en benodigdhede soos snesies (‘n doos per kind vir die klas se gebruik) of verskaf die bedrag wat dit sal kos as jy dit self wil bestel.
  • Vereis dat klere en persoonlike items gemerk word.
  • Speelgoed moet maar eerder tuis bly. Uit ondervinding werk dit beter as almal met die skool se speelgoed speel.
  • Verjaarsdae en partytjies. Wanneer, hoe…Koek? Geskenke? Gaste?
  • Verslaggewing: Hoe jy dit doen sodat daar nie verwarring ontstaan nie. Vra ook dat ouers (asseblief ) die skool op hoogte sal hou van eksterne ondersoeke, toetsings en terapie. Kopieë word in die kind se persoonlike lêer in die kluis bewaar.
  • Kunsuitstalling of uitstallings van die werk: Reël ‘n skemerkelkie later in die jaar en hou ‘n propperse geselligheid om die kleingoed se werke ten toon te stel. Maak kreatiewe rame (die kinders kan) en monteer die prente self.

Reël ‘n inligtingsaand en verduidelik al hierdie dinge aan die ouers (in Januarie nog!), sodat daar nie later onsmaaklikhede opduik nie. Moet egter nie militaristies wees nie en hou die trant van jou skrywe lig en vrolik.

Dis nou sommer so ‘n paar idees vir eers. Ek sal nog ‘n paar probeer onthou sodra die vakansieluim afval…

Loer sommer ook by hierdie skakels in vir ‘n paar oulike idees of tik soekterme soos “eerste dag” en “ken mekaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in:

Aandagafleibaarheid

198 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Onthou asseblief dat die volgende inligting nie ‘n mediese kundige se skrywe is nie en slegs as ‘n inligtingstuk dien.  Raadpleeg asseblief ‘n pediater indien aandagafleibaarheid vermoed word.

ADHD is die term wat onderwysers die meeste gebruik om ‘n aandagafleibaarheid te beskryf.  (Dit staan eintlik vir Attention Deficit and Hyperactivity Disorder.)  Dit dui gewoonlik daarop dat die kind nie op ‘n gegewe taak kan fokus nie.  Aandagafleibaarheid kan met Hiperaktiwiteit (geweldig woelig) of Hipo-aktiwiteit (dagdromerigheid) gepaard gaan en word eintlik deur ‘n pediater gepeil en behandel.

Bekendes met ADHD/AAHS sluit Bill Cosby, Cher, Dustin Hoffman, Jim Carey,Kirk Douglas, Robin Williams, Steve McQueen, Sylvester Stallone, Will Smith, Leonardo da Vinci, Galileo, Albert Einstein en Benjamin Franklin in.

Die simptome van aandagafleibaarheid word gewoonlik deur middel van ‘n Connors vraelys beskryf en gepeil.  Die vorm lyk soos ‘n table en word gewoonlik in vyf dae opgedeel – met ‘n skaal van geensins, in ‘n mate, redelik baie en baie.  Van die aspekte uit so ‘n vraelys sluit die volgende in:

  • Vroetel gedurig
  • Neurie en maak ander geluide
  • Eise moet dadelik bevredig word, maklik gefrustreerd
  • Swak koördinasie
  • Rusteloos of ooraktief
  • Prikkelbaar, impulsief
  • Onoplettend, aandag maklik afleibaar
  • Onvermoë om take te voltooi, kort aandagspan
  • Oormatig sensitief
  • Oormatig ernstig of treurig (“sad“)
  • Dagdroom
  • Somber of nors
  • Huil maklik en dikwels
  • Steur ander leerders
  • Twissiek (stry graag)
  • Gemoedstemming verander vinnig en drasties
  • Tree gevat op (acts “smart”)
  • Vernielsugtig
  • Steel
  • Vertel leuens
  • Woedebuie, opvlieënd en onvoorspelbare gedrag
  • Sonder homself af van ander kinders
  • Kom voor asof hy nie deur die groep aanvaar word nie
  • Skyn maklik voorgegaan te word (easily led)
  • Geen sin vir regverdigheid
  • Toon geen leierskap
  • Kom nie oor die weg met die teenoorgestelde geslag nie
  • Kom nie oor die weg met eie geslag nie
  • Terg ander of meng in
  • Houding teenoor gesag:
  • Onderdanig
  • Uitdagend
  • Parmantig
  • Skaam
  • Beangs
  • Oordrewe eise vir onderwyser se aandag
  • Koppig
  • Oormatig gretig om tevrede te stel

noodconnors

As die antwoord op die meeste vrae in die redelik baie en baie afdeling val, dui dit gewoonlik op ‘n probleem.  Die pediater of opvoedkundige sielkundige sal kan sê of die kind se optrede en gedrag werklik ‘n probleem is wanneer die skale bestudeer word.

Indien jy vermoed dat ‘n kind aandagafleibaar is:

  • Verminder die suikerinname en moenie soetgoed inpak skooltoe nie (sugar rush!)
  • Verseker dat die outjie ‘n goeie roetine én slaaproetine volg
  • Struktuur en reëls is belangrik
  • Omega 3 olies word gewoonlik aanbeveel en kan in sommige supermarkte en apteke gekoop word.
  • Praat voortdurend met die opvoeder en vra dat ‘n Connors vraelys voltooi word.  Neem die vorm saam na die pediater toe.
  • As medikasie (skedule tablette) aanbeveel word – doen navorsing daaroor en vra soveel vrae as wat jy kan.  (Kinders kla soms gedurende die eerste week of wat van maag- of hoofpyn terwyl die liggaam aanpas.)  Sodra die aanpassingstydperk verby is kan ‘n opvolg Connors deur die opvoeder voltooi word.  Gewoonlik kan die verskil dadelik opgemerk word.  Indien nie – raadpleeg dadelik weer die pediater.
  • Soek gerus Dr. Christopher Green se boek UNDERSTANDING ADHD op.  Dit het oulike leesstukke in.
  • Volg ADDitude Magazine se nuusbriewe.  Dit is nogal interessant.  (Voorbeeld van raad vir die Klaskamer)

…in die klas…

Na aanleiding van vele navrae het ek die volgende vir die klas saam geflans…Wat werk in jou klas?

Probeer gerus die skakels oor spiertonus…In die klas is die spasie beperk en al sê dokters en sielkundiges dat hiperaktiewe outjies voor en in die middel van die klas moet sit, werk dit nie altyd nie.  Daarom kan ‘n mens probeer om die outjies teen die kant en langs ‘n stiller maatjie te laat sit, sodat die versoeking vir klets en die ontwrigting minder is.  Jy kan ook vir die outjie “vroetel-speelgoed” gee om hom besig te hou.  Gee byvoorbeeld stresballetjies of rubber pypies sodat die outjie nie met ‘n liniaal of potlood sal sit en tik nie.  Sommige juffrouens gee vir hierdie outjies ‘n groot plastiek bal (“gym” bal) of ‘n rubber kussinkie om op te sit.  Dit veroorsaak dat die outjie moet fokus op die balansering en dus nie tyd kry vir kriewel nie.  Hierdie gedeelte vloei nogal redelik sterk saam met die behandeling vir ‘n lae spiertonus
Soms stuur die juffrouens die outjies met boodskappe, om vir Juffrou water te gaan haal en om voorwerpe te dra.  Arbeidsterapeute kan gerus gekontak word oor die proprioseptoriese sisteme.  Dit het te make met die sensoriese* stimulasie en oor die uitwerking van drukking en sintuiglike stimulasies.  Soms is dit goed om vir ‘n woelige outjie te vra om die meubels reg te skuif of om die stofsuier nader te bring.  Die bietjie weerstand of drukking het ‘n positiewe uitwerking om die lyfie.
‘n Mens kan die hele klas laat opstaan en ‘n beweging laat doen. Jy kan selfs ‘n klokkie lui of ‘n geluid maak waarna die hele klas ‘n ritme klap of ‘n dans-aksie uitvoer – net om die kop weer gefokus en wakker te kry.  Braingym het oulike oefeninge om net weer die lyfies gereed te kry vir leer…
Dan kan jy ook versoek dat die hele klas suikervry bly deur die week en ‘n lekkertjie vir Vrydae toe laat.
Juffrouens en ouers:
Loer gerus ook by die webwerf, ADDstudent, in.  Die leuse is ADD + school = success…’n webwerf met ‘n positiewe ingesteldheid.

Dan is daar ook een vir mammas – ADDmoms – met idees oor alternatiewe hulp.

*Sensoriese Integrasie probleme kom moontlik voor as die outjie sensitief lyk vir sintuiglike ervaring soos aanraking, harde geluide, smake of teksture…Kontak ‘n SI gekwalifiseerde arbeidsterapeut indien so iets vermoed word.  

%d bloggers like this: