Iemand het onlangs idees gevra oor die aanvullende dekor idees in die klaskamer. Vind hiermee dan so ‘n paar idees vir die nuwe skooljaar.

Gaan staan in die middel van jou klas en kyk na die uiteensetting van die banke of tafels en meubels. Besluit of elkeen goed kan sien en met gemak kan beweeg voordat jy aan die dekor dink.

Heelwat onderwysers hou van ‘n natuurtema wat met insekte, blomme of ‘n woud te make het. Dink aan ‘n kleurskema wat daarby sal pas – soos ‘n sagte groen en verskillende skakerings daarvan. Jy sal jou tema jaarliks kan verander – van die onderskeie insekte (bv. bye, lieweheersbesies…), na diere in die woud (bv. ‘n vos, ‘n beer, ‘n krimpvarkie, ens.), na uile, kabouters, feëtjies en blomme.

Indien jy self die mat kan kies, kan ‘n mens beslis iets dienliks kies om die stowwerigheid en kolle te verbloem of dalk na iets soos fopgras (sagte, kamma-gras of groen matte) loer. Indien jy groot rubber teëls kies, kan ‘n mens kyk na gepaste kleurskemas. Hardeware winkels verkoop swart teëls, maar ‘n mens kan dit met kleurvolle rubber teëls elders afwissel. Dit vee vinnig skoon.

Loer ook na moontlikhede soos die groot klitsgraskolle (velcro) wat aan die mat sal kleef. Jy kan dit lig en rondskuif om sitplekke aan te dui en om struwelinge op die mat te vermy.

Indien jou klas houtvloere het, kan ‘n mens groot vinyl-kolle plak waar elkeen op die vloer sal sit. Jy kan ook vinyl-vorms met die hand of met ‘n Cricut-masjien sny. Wat van vorms wat by jou tema pas – soos die insekte, paddastoele en blomme? As jou dakligte te helder is, kan jy ‘n plastiese bedekking met magnete bo-oor aanbring. ‘n Mens kry verskillende prente en temas aanlyn.

‘n Kollega het ‘n ou boomstomp in stoelhoogte stompe op gesaag en wieletjies aan gebring. Dit word nou as ekstra sitplek in sy klas gebruik. Watter alternatiewe (en sakpas) moontlikhede is daar in jou omgewing?

As jy van blou hou, kan ‘n mens iets soos vliegtuie, lugballonne, wolke, seevaart of die see betrek. Hang mandjies met toue aan papierlanterns van verskillende groottes om lugballonne te maak of omskep dit in kleurvolle visse.

Vir ‘n seetema, kan ‘n mens helder dakligte met seegroen of blou lap bedek. Steek silhouette van seediere bokant die lap in vir ‘n interessante effek. Maak jellievisse uit papierlanterns en hang linte van verskillende diktes onderaan. Versprei die visse regoor die plafon of hang dit voor, nader aan die venster.

Bind ‘n ou swemspons (pool noodle) in ‘n groot ring en plak dit met sterk kleefband vas. Draai wit, blou en rooi wol of tou om die ring totdat die spons verberg is en versier verder om ‘n reddingsboei vir ‘n seevaarttema te maak. Maak soortgelyke opsies en hang elkeen in die middel van ‘n venster of teen jou deur.

Saag ou stompe of houtpale in verskillende lengtes. Bind dit met rou tou vas as ‘n klasversiering of draai groot emmers en blikke in soortgelyke tou (van bo tot onder) toe. Sit ‘n neutrale kussing bo-op die deksel (bv. vlootblou) om stoel-stoorplek kombinasies te maak. Jy kan hiérdie tipe sitplekke ook met kratte of buitebande maak.

Besoek gerus tweedehandse winkels of vra kennisse om eers met jou te gesels voor hulle meubels weg maak. ‘n Mens kan altyd ou stoele, koffietafels en rakke verf of aanvanklik met ‘n lappie bedek.

In terme van gordyne, kan ‘n mense seker gordyne koop. Jy kan ook repe lap om ‘n gordynstok knoop of stroke kleurvolle net uit blikke laat hang – soos verf wat daaruit stroom. Hou aspekte soos privaatheid en ‘n helder son in gedagte as jy die tipe lap kies. Moet jy toe maak of kan jy die lig in laat?

Klik gerus hier onder vir ‘n paar GRATIS items en loer ook na die skakels in die skrywes heel onder. Daar is heelwat ander moontlikhede.

Naamkaartjies: Volstruis, Olifant, Uiltjies, Bytjies

Naamkaarte vir die tafel

Sien ook: Pasella (Gratis klasreëls, naamkaarte…), Eerste dag, ‘n Nuwe skooljaar (dinge om te doen aan die begin van die jaar), “Welkom Terug” idees

Stuur gerus foto’s van jou klasdekor en ek sal dit hier plaas met erkenning: remediering@hotmail.com.