Tuis

f- en v-reëls en b/d?

35 Kommentaar


Ek het gevind dat die meerderheid kinders worstel met omkerings (spieëlskrif) en lettergreepverdeling.  Dit is natuurlik ‘n veralgemening, maar as ‘n mens so deur hul boeke blaai…word die veralgemening ‘n werklikheid.

Die volgende omkerings vind baie plaas:

  • b / d / p / 9 (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • u / n (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • t / j

Dan kry ons ook die volgende vervangings of verwarrings:

  • h / j
  • m / n
  • f / v

In uitsonderlike gevalle verwar kinders ook b en w.  Hierdie is egter (soos h / j) ‘n ouditiewe diskriminasie uitval.

b / d (ook van toepassing op b / d/ p / 9)
Vir hierdie verwarring is ‘n groot hoeveelheid visuele diskriminasie oefeninge nodig.  Byvoorbeeld:

  • soek die b of d in die ry langsaan
  • watter prentjie begin met ‘n b of d?
  • watter prentjie begin nie met ‘n b / d nie?
  • omkring die woord wat met ‘n b / d begin
  • soek die b / d in die koerant artikel, tydskrif opskrif, ensovoorts

Taktiel (voel):

  • maak ‘n lang, dun, opgestopte skrifslang en buig dit in die vorm van die klanke
  • vorm die klank met klei
  • skryf die klank in sand – met die vinger
  • skryf die b met jou vinger teen ‘n boom se stam
  • skryf die d met jou vinger op die deur
  • doop jou vinger in water en skryf die klanke op sement of teen die bord
  • voel oor die klanke op ‘n robotkaart
    • maak dus ‘n vergroting van die klank
    • plak ‘n groen kol waar die klank begin en ‘n rooi kol waar dit eindig
    • b begin bo en d begin in die draai
  • lê op die mat en probeer om die letter met die lyf te vorm
  • staan en vorm die letters met die liggaam

Ouditief (gehoor):

  • noem drie woorde en vra “wat hoor jy eerste?”…bos, bak, buk…of…das, dek, dit
  • noem ‘n paar woorde op en vra aan die kind om ‘n spesifieke gebaar te maak as die woord met b of d begin (steek hand op, snap vingers, knip oë, ens.)

f en v
Hierdie is een van die “gewildste” verwarrings.  Dit is egter makliker om te remedieer as baie van die ander verwarrings.  Na aanleiding van ‘n paar opgemaakte reëls, oorkom heelwat kinders die uitval.

f

  • flamink is die enigste voël (waaraan ons kan dink) wat met ‘n “f” begin.  Ons teken gewoonlik ‘n strepie in sy nek en siedaar!  Sy kop en nek vorm sommer ‘n “f”.
  • Dinge wat stukkend of verniel beteken soos fyn, flenters, fraaiings, frommel…(*)
  • Dinge waaraan ‘n mens kan vat of wat ‘n mens kan sien – mensgemaak – soos fabriek, fiets, flits…(*)
  • Dinge wat ‘n mens kan wees soos fraai, flou, fier, familie…(*)
  • Aan die begin, einde of in die middel van woorde

v

  • Dinge wat vlieg of vinnig is soos vlieg, vlerk, vuurpyl, vuur (brand vinning), vlam, vlooi, viool (speel vinnig anders slaap ek)
  • Dinge wat met my lyf te make het soos vel, vingers, voete, vryf
  • Dinge wat met diere – veral plaasdiere – te doen het:  soos vark, vul, vee, vos, vleis, volstruis, voer, vreet
  • As ‘n woord met “ver” begin, skryf ek altyd v-e-r.
  • Nooit aan die einde van woorde nie.

f-en-v-oefen

Werksvelle

(‘n toep)

Tik “b en d” of “omkering” by die soekblokkie in vir nog idees.

 

This slideshow requires JavaScript.

moedersdag

Lewer kommentaar


moeder

Plekmatjies:

Maak plekmatjies uit ou padkaarte, scrap book papier of uit papier wat julle self met patroon- en verfwerk versier het.  As jy die papier op vilt of kurk wil plak moet jy sorg dat die hele oppervlakte met gom gesmeer word.  Kies jou eie vorms – sirkels, hande, vierkante – en seël dit met ‘n lamineerplastiek of modge podge (verkrygbaar by kunsvlyt winkels).

Jy kan ook foto’s van die kinders neem en met die rekenaar se drukker (swart op wit) druk.

Ma se blom:

Kies ‘n keramiekblompot en druk dan motiewe met stempels daarop.  ‘n Mens kry hierdie potte in verskillende groottes – selfs baie klein.  ‘n Kruiesteggie (soos tiemie) kan die geskenk sommer prakties ook maak.

In die knyp: 

Kleur hout wasgoedpennetjies in neutrale kleure, pastelle of selfs helder kleure (met voedselkleursel of verf).  Knyp ‘n menigte aan ‘n dik stuk draad vas en gebruik dit as ‘n potstaander in die kombuis

…of knyp die pennetjies aan gordyndraad vas en hang dit aan ‘n ou fotoraam.  Knyp so ‘n paar foto’s hier en daar vas en siedaar!  ‘n Memento van ‘n spesiale geleentheid of mensie.

As ‘n mens so iets in ‘n klas wil doen, kan jy eers ‘n agtergrond skep met gras en blou lug op dik karton.  Plak die pennetjies in ‘n kurwe vas en sorteer die kleure in ‘n patroon (bv. pienk, pers, wit, pienk, pers, wit).  Knyp dan sê-goed in van die pennetjies vas of selfs ‘n foto.  In plaas van ‘n draad, kan die pennetjies met ‘n mooi lap lint verbind word.

Potpourri:

As jou skool slinger-naaimasjiene het, kan die ouer outjies eenvoudige vorms uit lap sny.  Stop dit met roosblare of laventel en stik toe.  As daar kommer oor allergieë heers kan ‘n mens die sakke met watte stop en laventel olie daarop druk.  Dit behoort vir ‘n wyle lekker te ruik.

In die haak:

Hierdie een het ‘n bietjie meer voorbereiding nodig… Grawe in die store, op afvalhope of in die ou houtwerkklas vir afval hout, skroewe, deurknoppe en skaf goedkoop blik eetgerei aan.  Kap ‘n gat deur die lepel en buig dit.  Die kinders kan die blokkies verf, kleur en op ‘n kreatiewe wyse versier.  Skroef die lepel of knop vas en daar het jy ‘n haak vir ‘n handdoek of ‘n jas.

Herfsblare:

Gebruik die idee van stikwerk en sny minstens twee tot drie ewe groot blare uit verskillende skakerings vilt (oranje, rooi, bruin, geel).  Steek of plak dit aan mekaar vas en stik dan al om die rand en deur die middel om ‘n blaar-effek te skep.  Dit behoort ‘n hand teen warm borde te beskerm.

moeder2

Ander Moedersdagidees en –geskenke