Plekmatjies:
Maak plekmatjies uit ou padkaarte, scrap book papier of uit papier wat julle self met patroon- en verfwerk versier het. As jy die papier op vilt of kurk wil plak moet jy sorg dat die hele oppervlakte met gom gesmeer word. Kies jou eie vorms – sirkels, hande, vierkante – en seël dit met ‘n lamineerplastiek of modge podge (verkrygbaar by kunsvlyt winkels).
Jy kan ook foto’s van die kinders neem en met die rekenaar se drukker (swart op wit) druk.
Kies ‘n keramiekblompot en druk dan motiewe met stempels daarop. ‘n Mens kry hierdie potte in verskillende groottes – selfs baie klein. ‘n Kruiesteggie (soos tiemie) kan die geskenk sommer prakties ook maak.
Kleur hout wasgoedpennetjies in neutrale kleure, pastelle of selfs helder kleure (met voedselkleursel of verf). Knyp ‘n menigte aan ‘n dik stuk draad vas en gebruik dit as ‘n potstaander in die kombuis…
…of knyp die pennetjies aan gordyndraad vas en hang dit aan ‘n ou fotoraam. Knyp so ‘n paar foto’s hier en daar vas en siedaar! ‘n Memento van ‘n spesiale geleentheid of mensie.
As ‘n mens so iets in ‘n klas wil doen, kan jy eers ‘n agtergrond skep met gras en blou lug op dik karton. Plak die pennetjies in ‘n kurwe vas en sorteer die kleure in ‘n patroon (bv. pienk, pers, wit, pienk, pers, wit). Knyp dan sê-goed in van die pennetjies vas of selfs ‘n foto. In plaas van ‘n draad, kan die pennetjies met ‘n mooi lap lint verbind word.
As jou skool slinger-naaimasjiene het, kan die ouer outjies eenvoudige vorms uit lap sny. Stop dit met roosblare of laventel en stik toe. As daar kommer oor allergieë heers kan ‘n mens die sakke met watte stop en laventel olie daarop druk. Dit behoort vir ‘n wyle lekker te ruik.
Hierdie een het ‘n bietjie meer voorbereiding nodig… Grawe in die store, op afvalhope of in die ou houtwerkklas vir afval hout, skroewe, deurknoppe en skaf goedkoop blik eetgerei aan. Kap ‘n gat deur die lepel en buig dit. Die kinders kan die blokkies verf, kleur en op ‘n kreatiewe wyse versier. Skroef die lepel of knop vas en daar het jy ‘n haak vir ‘n handdoek of ‘n jas.
Gebruik die idee van stikwerk en sny minstens twee tot drie ewe groot blare uit verskillende skakerings vilt (oranje, rooi, bruin, geel). Steek of plak dit aan mekaar vas en stik dan al om die rand en deur die middel om ‘n blaar-effek te skep. Dit behoort ‘n hand teen warm borde te beskerm.
Ander Moedersdagidees en –geskenke
Laat 'n boodskap