F het gevra hoe ‘n mens wiskundige konsepte soos meer as en minder as aan ‘n Graad 1’tjie kan verduidelik. Die maklikste is seker met behulp van lekkergoed. Trek ‘n pakkie Smarties nader vir hierdie een en druk die onderstaande werksvelle uit…
- Begin eers deur ‘n getalgebied vas te stel. Bv. Ons somme strek van 1 tot 10.
- Tel 10 lekkers uit. Tel hulle van 1 tot 10 en dan van 10 af terug tot by 1. Vir die laaste deel kan jy die lekkers byvoorbeeld op ‘n bordjie pak.
- Kyk na die werksvel. Begin eers met een minder en meer as. Tel 8 lekkers uit. Wat is 1 minder? (Pak 1 lekker terug op die bordjie.) 7! Goed…en as ons 8 het en ons dit 1 meer maak beteken dit ons moet een meer by sit. Dit is 9.
- Gaan deur die getalle en hou die proses telkens dieselfde. Druk op die prentjie met die min of met die meer lekkergoed – ter herinnering.
- As die bewoording lol, kan jy drie hopies lekkers uittel. Bv. 2, 4 en 5. Gee die 2 aan die kleinding, gee die 4 aan pappa of ‘n boetie en hou die groepie van 5. Vra vrae soos “Wie het die meeste?”, “Wie het die minste?”, “Wie het meer as jy?”, “Hoeveel is dit meer as joune?”…Hier kan jy die groepies dan uittel en afpaar…Jy het 1. Jannie het 1. Jy het ‘n 2de lekker. Jannie het ‘n 2de lekker. Jy het niks meer nie, maar Jannie het ‘n 3de en ‘n 4de lekker. Hy het 2 meer as jy. Jy het 2 minder.
- Goedkoop speletjies soos Slangetjies en Leertjies sal ook verdere vaslegging kan aanhelp, want die outjie moet ‘n sekere aantal plekke aanskuif of terug skuif (i.e. meer maak of minder maak).
Dit gaan baie herhaling en konkrete werk verg, maar sodra die outjie die konsep begryp, is daar ‘n vuis vol lekkergoed as beloning! 😉 Baie sterkte!
minder as meer as (werkvel)
Mar 11, 2011 @ 10:48:20
Hallo! Ek is ‘n Spraak-Taalterapeut en het toevallig op jul webblad afgekom. Wil net se ek dink dit is ‘n puik webblad met baie praktiese idees en inligting!
Groete Kristel
LikeLike
Mar 11, 2011 @ 14:36:03
Baie dankie, Kristel 😉 Kom loer gerus weer in.
LikeLike
Mar 11, 2011 @ 22:55:01
Ek gaan verseker!
LikeLike
Mar 12, 2011 @ 12:56:30
😉
LikeLike
Mar 24, 2011 @ 13:13:46
Wonderlike webblad! My dogter is nou in Gr 3 (8 jaar oud) en ek kan baie van jou artikels nuttig gebruik. Ek doen nie tuisonderrig nie, wel “tuishuiswerk” – het jy enige voorstelle om deelsomme maklik oor te dra? Sy het maalsomme redelik onder die knie, asook halvering (so-so). Ander deelsomme, soos deel deur 3 en 4 en 5, gaan baie moeiliker. Dis asof ek nie die idee kan oordra van “hoeveel keer gaan 3 in 12 in – tel in dries tot jy by 12 kom” nie – dan doen sy die eerste ene reg, maar pas nie die konsep toe op daaropvolgende somme nie. Gr 3 is baie moeiliker as wat dit 30 jaar gelede was!
LikeLike
Mar 24, 2011 @ 19:00:15
Dankie, Andy 😉 Die beste manier is om knope of ander tipe tellers nader te trek. Hou ook ‘n 100-blok naby. Hier by my skryf ons die maaltafels uit (bv. _ x 2, van 0 tot 12) en kleur die antwoorde op ‘n 100-blok in. So maak ons met al die maaltafels. Jy kan dit in ‘n flip file bêre of teen die muur op plak. Kyk dan na die som. As die som sê “deel deur 3”, blaai ons na die 3x tafel toe. Bv. 33 gedeel deur 3. Hoeveel 3’e het jy ingekleur tot by 33? 11. Maak seker deur na die tafels langsaan te kyk en “ja, dis reg”. As die getal nie ‘n veelvoud is nie, dui dit daarop dat die getal ‘n res of oorblywende getal sal hê. Bv. 34 gedeel deur 3. Die naaste veelvoud is 11. Tel 34 tellers in groepies van 3 en bevestig dat jy 11 groepe het. Hoeveel bly oor? 1. ‘n Mens moet maar dikwels na ‘n laer rat oorslaan om die kar teen die bult uit te kry voordat jy die rat kan verhoog. Daarom gaan ek terug na konkrete en semi-konkrete (prentjies) dinge. As jy van lekkers begin praat, verstaan die outjies baie vinniger 😆 Ons het 34 lekkers en deel dit tussen 3 mense. Hoeveel gaan elkeen kry? Baie sterkte 😉
LikeLike
Mar 25, 2011 @ 12:56:33
Baie dankie, ek gaan dit probeer, sal oor ‘n maand of wat laat weet hoe dit gaan!
LikeLike
Mar 25, 2011 @ 16:37:58
😉 Ek sal die pos dophou 😆
LikeLike
Feb 06, 2015 @ 18:45:02
Hoe maak ek dit vir my makliker om my gr 1 dogter te laat kees??ASSEBLIEF
LikeLike
Feb 10, 2015 @ 04:35:41
Hallo, Mandy 😉 Oefen elke dag die huiswerk van die dag en gebruik ‘n kombinasie van aktiwiteite om na die ouditiewe aktiwiteite, visuele aktiwiteite, klanke en sigwoorde te loer. Tik gerus soekterme soos “lees, abc, klanke, sigwoord, boeke, ouditief, visuele, Graad 1, ogies, oogoefening, rympie, skrif, skryf, b en d…” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in om spesifieke idees te kry. Daar is ook muurkaarte en ander oefeninge onder die “drukbare bladsye”. Ek hoop dit kan help 😉
LikeLike