Die departementele werkboeke is GRATIS en mag nie verkoop word nie. Nie al die boeke is tans op die Onderwysdepartement se blad beskikbaar nie. Loer gerus hier en hier na ouer werkboeke.
Pi Dag is op die 14de Maart. Die jonger grade weet nog nie wat dit is nie. Probeer gerus om tydens die komende week op allerlei ander wiskundige aspekte te fokus. Loer gerus dié week na toeps (Android, iPad, ‘n bietjie van beide) en webwerwe soos A+ Click, Math Seeds en IXL. Die volgende skakels dek vorige inskrywings hier in My Klaskamer.
Dis amper die Wêreld Wiskunde en Pi Dae. Die 14de is ook die Internasionale Wiskunde Dag. Dit maak seker nie saak watter naam spesifiek aan die dae geskenk is nie, enige rede om ‘n bietjie meer wiskunde te doen, kan help 😉
Wêreld Speeldag kan gebruik word om die kennis van speletjies uit te brei, om vaardighede op te skerp en om aspekte soos wen en verloor aan te spreek. Hou die spelery goedkoop en genotvol…
Verf* spring- of speelblokke met duursame padverf op die speelgrond (dink aan “Hop Scotch”, honderdblokke, groot skrifpatrone om oor te stap).
Verf* ‘n rybaan vir fietse, skopfietse of speelgoedkarretjies.
Druk prettige foto’s van klasmaats op A5- of A4-grootte uit en sny dit in stukke op om as legkaarte te gebruik.
Nooi die klas om elkeen ‘n gunstelingspeelding te bring. Verduidelik mooi wat jy verwag (bv. geen tablette of TV-speletjies nie) en laat hulle dan in klein groepies daaroor praat. Bv. Dit is my pop. Sy is my grootste pop en haar naam is Lana. Wat wil julle graag weet? Die maats kan dan elkeen ‘n vraag vra soos “Waar het jy haar gekry? Hoe lank het jy al jou pop?”
Maak handpoppe: Vorm die koppe en hande met koerantpapier en styselpap**. Sny hemde of rokke uit ou lap en gom die nate. Verf die kop en hande. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit aan die klere vas gom. Hou ‘n poppekas.
Maak poppe: Volg dieselfde idee as met die handpoppe, maar stop die klere op en voeg bene of voete by. Dink aan verskeie storiekarakters of superhelde om na te boots.
Maak motortjies uit herwinbare materiale. Gebruik botteldoppies, draad, blokkies, dosies, ens. Wie se karretjie kan ‘n entjie op sy eie reis (stoot en laat los)?
Maak bootjies uit herwinbare materiale. Wie se bootjie kan die langste dopper of dryf?
Ouer kinders kan selfs ‘n stel dominoes ontwerp.
Gebruik ‘n gewone stel speelkaarte: Speel “snap” of ‘n geheuespel met die syfers. Maak twee hopies, trek ‘n kaart van elke hopie om ‘n optel- of ‘n aftrekkingsom te maak. Ouer kinders kan hul maaltafels oefen. Indien iemand ‘n Joker optel, moet die tweede getal verdubbel word. ‘n Prins beteken dat die outjie in 3 veelvoude van die tweede getal moet tel. ‘n Koningin beteken dat die tweede getal af gerond word tot die naaste 10. ‘n Koning beteken dat die som van die twee getalle verdubbel moet word.
Gebruik ‘n dobbelsteen: Rol en tel in 5 tot 10 veelvoude van daardie getal.
Vra ouers om ou lakens, kussings, ens. te skenk/stuur om ‘n fort in die klas te bou. Doen matwerk in die fort of hou dit as ‘n leeshoekie. Verras die outjies met ou klere of speelgoed vir ‘n beloningstyd. Versierings (soos liggies) kan dit ekstra spesiaal maak.
Deel leerders uit Intermediêre of Senior Fase klasse by die Grondslagfase in om speletjies en spesifieke vaardighede aan te leer (bv. touspring, bal vang, Aan-Aan, ens.). Wys dele van die veld of saal vir die onderskeie groepe aan en ruil stasies.
Nooi onderwysers uit die InterSen Fase om een pouse speletjies saam met die Grondslagfase klasse te speel. Ruil dalk die speelareas en laat die InterSen kinders aan die Grondslagfasekant speel.
Vra ouer kinders om ‘n bordspeletjie te ontwerp – as ‘n klas, in groepe of as individue. Hou ‘n speletjiesmiddag met ‘n jonger graad of by ‘n skool wat min geleenthede het.
Ontwerp speelkaarte op herwonne karton (gebruik byvoorbeeld ou papbokse, ens.).
Verskaf ‘n groot houer bottelproppies en vra dat die outjies patrone vorm en nateken. Hou die ontwerpe as voorbeelde vir later.
Sny ou “pool noodles” in kort stukkies op. Gee besemstokke of stukkie tou sodat die outjies kleurvolle patrone kan ontwerp en ryg.
Vra donasies van groot verpakkingsdose (vir stowe, yskaste, ens.). Ontwerp en maak eenvoudige huise of geboue vir ‘n speelhoekie.
Trek teikens met bordkryt op ‘n muur en gooi boontjiesakkies.
Halveer “pool noodles” in die lengte om albasterresies te hou.
Gom lang kartonbuise, pype, gesnyde plastiekbottels, toiletrolletjies, ens. teen ‘n karton sy sye vas. Plaas dit in die sandput (met bekertjies en glasies).
Nooi ouers of personeel om saam te speel. Haal die blokkies, rygwerk, “looms“, vingerbreiwerk, skaakbord, ens. uit.
*Gebruik bordkryt indien permanente verf nie wenslik is nie.
**Los poeier muurpapiergom in louwarm water op. Die proses neem ‘n dag of drie.
verskeie kaartspeletjies met ‘n tradisionele pak kaarte
dominoes
tangramme
Doen hersiening van bekende werk en konsepte, maar stel ook uitdagings beskikbaar. Tel jul treë, plak maskeerband in vorms op die mat (om op te loop) of speel spring speletjies (soos hop scotch).
Elders in die wêreld, het die Wêreld Wiskunde Week pas met Pi Dag begin. Loer gerus dié week na toeps (Android, iPad, ‘n bietjie van beide) wat op verskeie aspekte fokus.
Webwerwe soos A+ Click, Math Seeds en IXL is wel Engelse webblaaie, maar die outjies behoort dit met ‘n klein bietjie hulp te kan baas raak. Loer gerus ook na die volgende skakels vir meer wiskunde werk.
Pi Dag is op 14 Maartweens die syferwaarde 3,14…Dit is ‘n irrasionale getal en kan nie eintlik as ‘n breuk geskryf word nie. Jy kry π wanneer jy die omtrek van enige sirkel deur sy deursnee deel.
Die volgende iPad Apps (en meer) is ook aan die regterkant onder “Hulpmiddels” gelys. Die eerste groep is meestal Afrikaanse Apps (Big Bug Books en Via Afrika Wiskunde is in Engels en Afrikaans beskikbaar) en die tweede groep is Engelse Apps. Die hele Letterland storiereeks is aan die regterkant gelys – asook Biebie en Kalla se Engelse reeks: Biff, Chip, Kipper. Klik op die prentjie om verdere besonderhede te sien.
* Op TinyTap kan jy die musiek verdoof deur op die note te klik. Maak seker dat “smart play” aan is.
Daar is nog vraestelle in ander tale en grade beskikbaar. Loer gerus hieren na die skakels aan die regterkant wat met “vraestel” gemerk is. Indien jy eksamenvraestelle en toetse in gedagte het, loer hier.
Verdubbel items deur “net soveel” meer te maak. Pak 2 borde en verdubbel dit – 4. Verdubbel jou skoen – 2. Verdubbel jou 2 lekkers – 4. Verdubbeling sal lei tot ewe getalle. As jou antwoord gelykop tussen twee mense verdeel kan word, het jy dit reg verdubbel.
E het gevra hoe ‘n mens die plus-, minus- en gelyk aan-tekens kon bekendstel.
Ek sou dit koppel aan kort storietjies. Gebruik iets soos lekkergoed. Bv. Jannie en Pierre wil lekkers eet. Hulle eet Smarties en besluit om dit bymekaar op die bord te pak. Wanneer ons hoeveelhede of syfers bymekaar sit, gebruik ons ‘n +-teken (sit ‘n groot voorbeeld neer). Jannie haal 3 uit en Pierre haal 2 uit die pakkie. Daar was 3 en toe word dit 2 meer. Hoeveel lekkers het hulle bymekaar? Hoeveel is dit altesaam?” Gebruik baie woordeskat en terme wat die begrip kan oorbring.
Met aftrekking, kan die outjies in die storie iets eet of voëltjies kan byvoorbeeld weg vlieg. As jy 2 strepies of stokkies van dieselfde lengte vir die + gebruik het, kan die vertikale strepie dan “weg vlieg”. Gebruik stokkies of kort strooitjies van dieselfde lengte – vir iets meer tasbaar.
As jy later = gebruik, kan die outjies sien dat die stokkies ewe lank of gelyk is. Gebruik dalk ook ‘n skaal om te wys dat wat jy aan die linkerkant van die = het, dieselfde as die hoeveelheid aan die regterkant moet wees. Watter metodes gebruik jy?
Veelvoude is die begin van maaltafels of vermenigvuldiging en dui op herhaalde optelling (herhaling van ‘n getal tydens optelling, bv. 2 + 2 + 2). Hiermee dan ‘n paar drukbare takies soos elders gekry.
Die Wêreld Opvoedkundige Speletjiesdae is om die draai. Die Geletterdheidsdag is op 5 Maart, Wiskundedag is op 6 Maart en op die 7de is dit Wetenskapdag. Dit is heeltemal gratis en daar is reeds oefenspeletjies beskikbaar. Skryf in en hou die “tickers” aan die regterkant dop om die dae af te tel.
Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.
Tel elke dag: As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het. Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week.
Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies. Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer. Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.
Bespreek die getal: Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos: Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…). Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.) Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!) Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien). Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Kombinasies: Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23. Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).
Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?
Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?
Halveer: Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys nou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is. Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld.
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfer, maaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye. Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
Die Olimpiese Spele is om die draai en daar is lekker baie om te beplan. Hiermee so ‘n paar voorlopige gedagtes…
Die ringe
Vir die kleintjies kan ‘n mens by die embleem begin en aan hulle verduidelik wat die vyf ringe beteken. Dié kleure is gekies, omdat dit die meeste op wêreldvlae voor kom en die ringe verteenwoordig die vyf hoof kontinente: Asië, Afrika, Europa, Amerika en Australië.
Daar is vyf ringe. Wie kan tot by vyf tel? Wie kan in vywe tot by ‘n gegewe getal tel? Watter vorm is die ringe?
Gebruik verf en iets sirkelvormigs (soos plastiekglasies) om die ringe met drukwerk na te boots. Maak ‘n raam reg rondom die rand van ‘n papier om later vir ‘n uitstalling of kreatiewe skryfwerk te gebruik.
Verf papierborde in die onderskeie kleure, knip die middelste deel uit en skakel dit aan mekaar.
Maak medaljes uit soutklei en verf dit in goud, brons en silwer. Elke outjie kan sy eie medaljes maak of dit kan vir goeie gedrag, behulpsaamheid, en dies meer gebruik word.
Draai ‘n rolletjie lekkers soos ‘n aflosstokkie toe. Dit behoort ‘n lekker beloning vir goeie werk te wees.
Dink aan verskillende belonings – nie net akademies van aard nie. Hou dan ‘n klein seremonie om die belonings te oorhandig. Gebruik bankies van verskillende hoogtes as jy wil.
Die simboliek van die wennerspodium kan lekker ingespan word om trappe van vergelyking te verduidelik (vinnig, vinniger, vinnigste).
Buitespel /Liggaamlike oefeninge
Maak julle eie ritmiese gimnastiekstokkies. Kap ‘n metaal ogie aan die een kant van ‘n ronde stokkie (dowel) in, haak ‘n ogie (swivel) daarin en buig toe. Knoop ‘n lang, breë lint daaraan vas en gee vir die kleingoed om mee te speel. Onthou om spesifieke reëls daar te stel soos beperkte getalle, afgebakende “dans”-ruimte en veiligheidsmaatreëls.
Grawe in die LO-stoor en gebruik al die vergete toerusting. Is daar dalk iets soos gimnastiekringe wat ‘n mens buite aan die klimraam kan hang?
Betrek toerusting soos die groot matte vir bollemakiesie, klein trampoliens, balle (vir gimnastiek) en lae bankies vir balansering.
Bied ‘n demonstrasieles aan om vir die outjies meer oor sporte soos Gimnastiek te leer.
Gooi balle of boontjiesakke na teikens.
Watter ander sportsoorte se vaardighede kan op geskerp word?
Wiskunde
Watter vorm is ‘n gimnastiekmat? ‘n Hokkiebal? Watter vorms kruip op ‘n sokkerbal weg? Watter vorm is ‘n atletiekbaan? ‘n Atletiekbaan se is bane ewewydig. Wat is dit?
Watter item is die langste op ‘n atletiekbaan? Die kortste? Wat is die verskil in lengte tussen hierdie twee items?
Hoe hoog word die hekkies vir mans en vir dames gestel? Wat is die verskil?
Hoeveel atlete kan op ‘n slag wegspring? Dus hoeveel bane is daar?
Hoeveel atlete is in die onderskeie items se spanne (bv. sokker, hokkie, swem)?
Hoe lank is ‘n minuut (meet dit af met ‘n “aftel-wekker”) of ‘n uur?
Doen somme in verband met tyd. Bv. Elana neem 10 minute en 20 sekondes om die wedloop te voltooi en dit neem Jana 12 minute en 20 sekondes. Wat is die verskil in tyd?
Trappe van vergelyking gaan redelik baie voor kom. Bv. langste afstand, vinnigste tyd, vinniger, hoër..Hou rekord van al hierdie woorde deur dit op die bord aan te bring. Dit kan in skryfwerk of ‘n taalleerles (Graad 3+) gebruik word.
Skryf opstelle uit die oogpunt van ‘n atleet – nie noodwendig ‘n “wen”-verhaal nie, maar oor ervaring (bv. wat jy sien, hoor, voel, ruik…).
Tydens skriflesse kan die kleintjies die Olimpiese ringe natrek – antikloksgewys. Dit kan ‘n voorganger wees vir lesse in verband met klanke a, d, g, s, f.
Ander
Maak ‘n interessante, kleurvolle muurversiering – wat ‘n wêreldkaart insluit. Dui Londen daarop aan en dalk die lande wat deelneem of die spesifieke atlete se lande van herkoms rondom aan. Loer hier na Suid-Afrika se atlete.
Wanneer was die eerste Olimpiese Spele en wat het die Grieke daarmee te doen gehad? Weet julle watter sportsoorte aan die Spele deelneem en wat die onderskeie name in Engels is?
Lees meer oor die Antieke Spele en verbreed jou kennis.
Woorde