Tuis

Nasionale Boekweek en Geletterdheidsdag

Lewer kommentaar


Tydens Nasionale Boekweek, kan ons na die oulike boeke in die huis, in die klaskamer of in die biblioteek loer. Kan jy ‘n boek aanbeveel of vir ‘n aanbeveling vra?

Watter boeke het julle in die klas of huis? Werkboeke, handboeke, tydskrifte, ‘n atlas, ‘n Bybel, woordeboeke, digbundels, sangbundels, inkleurboeke, strokiesprente, ou boeke en nuwes? Hoe stal julle die boeke uit of waar word dit gebêre? In ‘n boekrak, in houers of in ‘n uitstalrak?

Herrangskik gerus elke dag boeke volgens ‘n ander kriteria, bv. van groot na klein en klein na groot, volgens die kleur van die omslag (maak ‘n reënboog), volgens soort, volgens tema, ouderdom (publikasie datum), ens.

Kies ‘n paar boeke en laat die outjies ‘n opname maak van hoeveel karakters daar in die boek is. Watter boek het die meeste of minste karakters? Watter boek is die gunsteling en watter een is nie? Maak ‘n groot papier weergawe van die gunstelingboek se voorblad vir die klasdeur. Doen navorsing oor die skrywer (en illustreerder) om in die gang aan te bring. Betrek al die gekose boeke en vertel ander ‘n paar feite oor die boeke deur middel van ‘n advertensie, pamflet of ‘n kort paragraaf.

Boek Werksvel

Tik gerus soekterme soos “boek, lees, biblioteek, leeslys, leesreeks, boeke, boekweek…” by die soekblokkie in vir soortgelyke idees.

Loslitdag

Lewer kommentaar


Ons vier Loslitdag op die 6de September en vanjaar is die tema “Time to Shine”.

Hang liggies om die skenkings voor te stel (bv. ‘n liggie vir elke R10) en kyk hoeveel stringe die skool kan versier. ‘n Mens hoef natuurlik nie liggies te koop nie.

Betrek glimverf (glow in the dark) in patroon drukwerk of kuns.

Dra gerus ook linte, maak lintgordyne (papier of lap) oor ‘n deur of hang papierkettings in verskillende kleure. Elke kleur word gebruik ter bewusmaking van ‘n spesifieke diagnose.

Kleur bewusmakingsprente met vet- of uitdraaikryte in (druk hard) en verf met kookolie. Hang voor ‘n sonnige venster sodat die lig kan deur skyn.

Is alle gestremdhede of verskille sigbaar of dieselfde? Nee. Hoe kan ons deernis en respek teenoor mense met gestremdhede of leerverskille toon? Hoe kan ons almal betrek? Is jou skool toeganklik vir iemand in ‘n rolstoel en hoe kan ons verseker dat ons goeie maats vir ander kan wees?

Boomplantweek met ‘n tikkie Lente

Lewer kommentaar


Ons het dikwels beide ‘n bekende en ‘n skaars boomsoort as Boom van die Jaar. Vanjaar se bome is die Maroelaboom en die Appelblaar. Bespreek gerus die ooreenkomste en verskille van hierdie boomsoorte. Wat maak elkeen uniek? Waar sou ‘n mense die bome kry en sou dit in jou agterplaas aard? Wat kan ‘n mens tydens hierdie paar dae doen?

  • Hou ‘n lente piekniek. Wat van ‘n tema soos “Alice in Wonderland”? Laat elkeen ‘n interessante hoed ontwerp en versier (met afvallap of versierings) om tydens die piekniek te dra.
  • Plant ‘n nuwe boom of verskaf voeding aan bestaande bome.
  • Voer voëltjies in die tuin: Snuffel in tweedehandse winkels of vra vir skenkings van onpaar items soos koppies, pierings, krale, tou, proppe, ens. Gebruik ‘n sterk lym of ‘n gom geweer (hot glue gun) onder toesig en ontwerp ‘n interessante bakkie om aan ‘n tak te hang.
  • Probeer ook om ‘n bakkie uit roomysstokkies te maak. Kies ‘n basiese vorm (bv. ‘n vierkant) en pak die stokkies in ‘n basiese raampie. Smeer ‘n laag sterk gom oor en herhaal die raam om muurtjies te maak totdat dit hoog genoeg is. Bind ‘n lang stuk wol of tou se punte vas (soos ‘n halssnoer), trek dit deur die struktuur en trek die een punt deur teenoorstaande lus of sit die lus dwars oor die struktuurtjie. Gom die rand en pak dan ‘n laag stokkies reg bo-oor – soos ‘n dakkie. Dop die hele struktuur om sodra dit droog is sodat die toutjie nou binne-in die bakkie gegom is en sodat dit gehang kan word. Vul met broodkrummels en sade.
  • Maak speelgoed soos poppe uit toiletrolletjies, verf wasgoedpennetjies of gebruik ou lap. Kap koeldrankdoppies of -proppies weerskante van houtblokke vas of gom dit soos wiele aan die kante van ‘n dosie vas om motortjies te maak.
  • Ontkiem sade (bv. boontjies of ertjies) in ‘n klam wattetjie deur dit in ‘n fles op ‘n sonnige vensterbank te plaas. Indien spasie beperk is, kan ‘n mens eerder ‘n deursigtige sakkie gebruik en dit plat teen ‘n ruit plak. Plant die nuwe plantjies in ‘n pot of tuin oor.
  • Verf ou blompotte of laat die kinders toe om dit te versier.
  • Verf klein potjies en jogurtbakkies of gebruik muurpapiergom en papier (skeur en plak) om die houers te versier. Plant saadjies daarin.
  • Haal die papier van ou glasflessies (ook spesery potjies) af en gebruik dit as blompotjies op die etenstafel.
  • Maak grassaadkoppe: Sny ou sykouse in stroke of sny net die voet gedeelte af. Skep een of twee eetlepels grassaad daarin en vul verder met grond. Bind die opening toe met tou of versteek ‘n tou binne-in die grond sodat dit uithang en bind die opening met ‘n rekkie toe. Rus die styf gestopte kous in ‘n vlak koppie of glasie, sodat die toutjie uithang tot onder. Teken ‘n gesiggie met ‘n permanente veselpen. Maak die kop nat. Oortollige water sal uitsyfer en behoort deur die toutjie absorbeer te word. Indien die kopvel uitdroog, kan ‘n mens ‘n bietjie water sprinkel. Pasop vir te veel water, sodat die koppie nie muf word nie.
  • Verf die voorarm met dik, groen verf (verskillende skakerings) en druk laag teen die onderrand van ‘n groot vel papier. Verf die handpalm geel en die vingers helder kleure om as blomme bo-aan die stingels te druk.
  • Doop die ronde sponse wat jy in pille botteltjies kry in dikkerige, blou verf (meng ‘n bietjie skottelgoedseep of badskuim daarby) en druk die boonste 3/4 van ‘n vel vol skakerings blou verf (lig en donker). Spons ‘n grasperk teen die onderrand van ‘n vel papier met verskillende groene of verf die gras en gebruik ‘n plastiek vurk om grashalms van bo na onder in die nat verf te trek. Gebruik dan bykans droë kwaste om blomme te druk of snipper die rand van ‘n leë toiletrol ewe diep reg rondom. Buig die snippers na buite en gebruik dít om die blomkranse te druk. verf die middelste kroon met geel.

Tik gerus soekterme soos “boom, groen, lente, herwin, sonneblom, insek…” by die soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Taaldag, Koop ‘n Boek

Lewer kommentaar


Op Taaldag, vier ons ook Koop-‘n-Boek dag.  Weet jy wie Afrikaans eerste gepraat het en wanneer die eerste mense Afrikaans in skole gebesig het?  Daar bestaan meer as een monument ter verering van Afrikaans, maar die bekendste is seker die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl.  Afrikaans word meer en meer gewild op die internet.  Loer gerus ‘n bietjie.

As jy ‘n boek sou koop, watter een sou jy graag wou hê?  Watter boek is jou gunsteling?  Koop jy nuwe boeke of snuffel jy in tweedehandse winkels?  Ruil jy boeke met ‘n maat uit of gaan jy graag biblioteek toe?  Dink gerus aan ‘n boek wat jy op Taaldag wil koop en begroot daarvoor – al is dit ‘n elektroniese boek.  Tik gerus ook soekterme soos “boek, lees, rympies…” by die soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Vraelys
Boekmerkies 1
Boekmerkies 2

Vrouedag, 9 Augustus

Lewer kommentaar


In die jonger grade, is dit dalk moeilik om die geskiedenis van Vrouedag in Suid-Afrika te verduidelik, maar ‘n mens kan dit beslis steeds vier.

Bespreek goeie of respekvolle gedrag (teenoor seuns en dogters) en maak dit ‘n instelling in jou klas, skool of huis.

Kies (as ‘n klas, ‘n gesin of ‘n groep vriende) ‘n organisasie om te ondersteun.  ‘n Mens hoef nie alles op een dag te doen nie.  Spandeer tyd om daaraan te werk of skenk items wat ander sal bemagtig om die gemeenskap te help.

Vrouedag Werksvel A
Vrouedag Werksvel B
Vrouedag Werksvel C

 

%d bloggers like this: