Tuis

Lente en Boomplantweek is om die draai

Lewer kommentaar


Boomplantweek duur vanjaar van die 29ste Augustus tot die 4de September. Die Kannabasboom (Pompontree) is die algemene Boom van die Jaar en die Swartwattel is die skaarser boomsoort vir 2022. Vind gerus uit hoe hierdie boomsoorte lyk en kyk of daar van hierdie bome in jul omgewing groei. Kan ‘n mens afdrukke (met kryt en papier) van die bas maak? Gebruik dit om julle eie bome te skeur en plak vir ‘n lente collage.

Loer gerus hier na velerlei idees in verband met Lente dag (op die eerste September) en boomplantdag of –week. Watter tradisies volg julle?

Boomplantweek en Lente dag

Lewer kommentaar


Boomplantweek strek vanjaar vanaf die 30ste Augustus tot die 5de September – met Lente dag op die 1ste September. Die algemene Boom van die Jaar is die Soetdoring en die skaarser boomsoort, is die Spekboom.

Verf ou koerantpapier in verskillende skakerings groen en bruin afsonderlik. Skeur en plak stukke boombas uit die bruin papier om ‘n boom met boomtakke te bou en bedek die lengte van die klasdeur daarmee. Sny blaarvorms uit die groen papier en plak die blare op die takke. Verdeel spesifieke boomsoorte (of seisoene) tussen die onderskeie klasse en verander die klasdeure in ‘n mini-woud. Indien moontlik, kan julle aspekte soos die belangrikheid van bome op die onderskeie blare skryf.

Kap ‘n gat in die bo- en onderkante van eiers en laat die inhoud in ‘n bakkie uitloop (om in ‘n ete te gebruik). Vul die eierdoppe met grond en ‘n saadjie. Stoor die gevulde eiers in ‘n eierhouer en maak nat. Sodra die saadjie begin ontkiem en groei, kan ‘n mens die eierdop kraak of kneus en in ‘n blompot of tuin plant. Die outjies kan natuurlik elkeen ‘n plantjie huis toe neem om daar te plant.

Skeur en plak kleurstroke uit tydskrifte of verf velle volgens verskillende kleure. Sodra die velle droog is, kan ‘n mens blomdele daaruit knip en op ‘n landskap of tuin agtergrond plak. Dink aan blomme soos tulpe, papawers, proteas en sonneblomme.

‘n Mens kan bekende skilders se kunswerke as inspirasie gebruik en gemengde media (potlood, verf en pastelle) gebruik om unieke, kleurvolle prente te skep. Loer gerus na voorbeelde van skilderye wat bome, bloeisels en blomme insluit om Lente dag én Boomplantweek te vier.

Boomplantweek met ‘n tikkie Lente

Lewer kommentaar


Ons het dikwels beide ‘n bekende en ‘n skaars boomsoort as Boom van die Jaar. Vanjaar se bome is die Maroelaboom en die Appelblaar. Bespreek gerus die ooreenkomste en verskille van hierdie boomsoorte. Wat maak elkeen uniek? Waar sou ‘n mense die bome kry en sou dit in jou agterplaas aard? Wat kan ‘n mens tydens hierdie paar dae doen?

  • Hou ‘n lente piekniek. Wat van ‘n tema soos “Alice in Wonderland”? Laat elkeen ‘n interessante hoed ontwerp en versier (met afvallap of versierings) om tydens die piekniek te dra.
  • Plant ‘n nuwe boom of verskaf voeding aan bestaande bome.
  • Voer voëltjies in die tuin: Snuffel in tweedehandse winkels of vra vir skenkings van onpaar items soos koppies, pierings, krale, tou, proppe, ens. Gebruik ‘n sterk lym of ‘n gom geweer (hot glue gun) onder toesig en ontwerp ‘n interessante bakkie om aan ‘n tak te hang.
  • Probeer ook om ‘n bakkie uit roomysstokkies te maak. Kies ‘n basiese vorm (bv. ‘n vierkant) en pak die stokkies in ‘n basiese raampie. Smeer ‘n laag sterk gom oor en herhaal die raam om muurtjies te maak totdat dit hoog genoeg is. Bind ‘n lang stuk wol of tou se punte vas (soos ‘n halssnoer), trek dit deur die struktuur en trek die een punt deur teenoorstaande lus of sit die lus dwars oor die struktuurtjie. Gom die rand en pak dan ‘n laag stokkies reg bo-oor – soos ‘n dakkie. Dop die hele struktuur om sodra dit droog is sodat die toutjie nou binne-in die bakkie gegom is en sodat dit gehang kan word. Vul met broodkrummels en sade.
  • Maak speelgoed soos poppe uit toiletrolletjies, verf wasgoedpennetjies of gebruik ou lap. Kap koeldrankdoppies of -proppies weerskante van houtblokke vas of gom dit soos wiele aan die kante van ‘n dosie vas om motortjies te maak.
  • Ontkiem sade (bv. boontjies of ertjies) in ‘n klam wattetjie deur dit in ‘n fles op ‘n sonnige vensterbank te plaas. Indien spasie beperk is, kan ‘n mens eerder ‘n deursigtige sakkie gebruik en dit plat teen ‘n ruit plak. Plant die nuwe plantjies in ‘n pot of tuin oor.
  • Verf ou blompotte of laat die kinders toe om dit te versier.
  • Verf klein potjies en jogurtbakkies of gebruik muurpapiergom en papier (skeur en plak) om die houers te versier. Plant saadjies daarin.
  • Haal die papier van ou glasflessies (ook spesery potjies) af en gebruik dit as blompotjies op die etenstafel.
  • Maak grassaadkoppe: Sny ou sykouse in stroke of sny net die voet gedeelte af. Skep een of twee eetlepels grassaad daarin en vul verder met grond. Bind die opening toe met tou of versteek ‘n tou binne-in die grond sodat dit uithang en bind die opening met ‘n rekkie toe. Rus die styf gestopte kous in ‘n vlak koppie of glasie, sodat die toutjie uithang tot onder. Teken ‘n gesiggie met ‘n permanente veselpen. Maak die kop nat. Oortollige water sal uitsyfer en behoort deur die toutjie absorbeer te word. Indien die kopvel uitdroog, kan ‘n mens ‘n bietjie water sprinkel. Pasop vir te veel water, sodat die koppie nie muf word nie.
  • Verf die voorarm met dik, groen verf (verskillende skakerings) en druk laag teen die onderrand van ‘n groot vel papier. Verf die handpalm geel en die vingers helder kleure om as blomme bo-aan die stingels te druk.
  • Doop die ronde sponse wat jy in pille botteltjies kry in dikkerige, blou verf (meng ‘n bietjie skottelgoedseep of badskuim daarby) en druk die boonste 3/4 van ‘n vel vol skakerings blou verf (lig en donker). Spons ‘n grasperk teen die onderrand van ‘n vel papier met verskillende groene of verf die gras en gebruik ‘n plastiek vurk om grashalms van bo na onder in die nat verf te trek. Gebruik dan bykans droë kwaste om blomme te druk of snipper die rand van ‘n leë toiletrol ewe diep reg rondom. Buig die snippers na buite en gebruik dít om die blomkranse te druk. verf die middelste kroon met geel.

Tik gerus soekterme soos “boom, groen, lente, herwin, sonneblom, insek…” by die soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Boomplantweek

Lewer kommentaar


1 September is Boomplantdag en Boomplantweek duur van 1 tot 7 September , maar bome en bosbou word reg deur September gevier.  Vanjaar se boom is die Geelhoutboom en natuurlik is dit ook ons nasionale boom.

Hoeveel Geelhoutbome is daar in julle buurt?  Gaan stap gerus en tel die bome. Hoe lyk die blare en die stam?

Neem ‘n vetkryt en papier saam om die tekstuur van die bas af te vryf (trek die kryt plat oor die bladsy).  Gebruik verskillende kleure en hou die bladsye as ‘n agtergrond vir ander kunswerk of knip ‘n boom daarop uit.  Sny dan blare uit verskillende skakerings groen bladsye en maak jou eie boom.

Het die skool ‘n Geelhoutboom?  Samel fondse daarvoor in en plant een op ‘n spesiale plek in die tuin.  Onthou ook om al die bome op die skoolgrond ekstra kos en water te gee.

Lente en Boomplantweek

1 Kommentaar


Lente

Lentedag word tradisioneel op die 1ste September gevier – al skyn die sonnetjie nog nie heeltemal so skerp nie.  Om voorbrand vir die nuwe seisoen te maak, kan ‘n mens die volgende idees in die klas probeer…

 1.  Indien jy ‘n rol rekenaar- of ongedrukte koerantpapier het, kan jy lengtes vir jou kennisgewingsborde of ‘n ruit afmeet.  Trek ‘n golwende kurwe lengte-gewys deur die middel of in die onderste derde van die papier, sodat die kurwe soos ‘n heuwellandskap lyk.  Ouer kinders kan die boonste helfte blou (waterverf of verdunde voedselkleursel) en die onderste helfte groen verf.

As jy met die kleintjies werk, kan jy die bladsy op die golwende lyn deursny en apart laat spuitverf.  Gee vir hulle verskillende soorte spuitbottels met verdunde voedselkleursel (verskillende skakerings van blou of groen) om die fynspiertjies te ontwikkel.  Die maklikste sal wees om die papier bo-op plastiek te plaas en om dan vir elkeen ‘n sekere aantal spuite toe te staan.  Hou ‘n ogie sodat die papier nie te nat word nie.

‘n Mens kan ook verskillende vlak bakkies (met skakerings van pastadikte wit en blou of geel en groen verf) en sponsies (bv. dié wat jy in pille botteltjie kry) verskaf, sodat die outjies die velle kan bedruk.  Herinner hulle daaraan dat ‘n mens die spons afvee of uitdruk voordat jy die sponsie op die papier kan druk.

2.  Gebruik ‘n basiese blom ontwerp of blomblare.   Trek ‘n templaat of patroon op ‘n ou x-straalplaat (of dik karton) af en sny uit.  Só kan jy meer as een patroon hê en versprei.  Gebruik ou papier of sny ‘n paar lae snesiepapier van ‘n eenderse kleur (soos dié wat ‘n mens in geskenksakkies sien) per blom.  Die idee is om die blare met muurpapiergom (‘n klein koevertjie strek ver) te smeer en lagie-vir-lagie te verdik of te versterk.  Laat die blare op ‘n rakkie droog word.

Trek ‘n sirkelvorm af en doen dieselfde smeer- en plakwerk vir die binnekant van die blom.  Sodra die dele droog is, kan ‘n mens die blomblare met houtlym aan die -kelk vasplak.  ‘n Mens kan ook die nat of klam dele met behulp van ekstra kolletjies muurpapiergom heg.

Verf die blomme met helder kleure en plak dit teen jou geverfde agtergrond.

3.  As julle nie so baie tyd het om aan die gomblomme te spandeer nie, kan ‘n mens steeds blomme aftrek op karton en dan met pastelle of verf versier.  Los dit net so of heg ‘n klein plastieksakkie (selfs ‘n ballon) met blomsade daarin aan.  As julle die blomme klaar uitgestal het, kan die outjies die sade huistoe neem of in ‘n spesiale bak/bedding by die skool saai.

4.  Versier die vensterbanke of ingang:  Gebruik ou speelgoed (emmertjies, ens.) of buitespeltoerusting vir julle eie herwinbare blombakke.  Samel herwinbare plastiekbakke in (verkieslik groot), kap dreineringsgate daarin en vul met blompotgrond.  Plant blomplantjies, saai sade of plant julle papierblomme (op stokkies geplant) daarin.  Die natleiwerk kan ‘n ekstra werkie word (verskaf dalk eerder net spuitbotteltjies met fyn gate eerder as ‘n gieter).

5.  Berei ou koeldrankdoppies voor deur dit te spuitverf (bv. wit).  Gee dan ‘n verskeidenheid permanente veselpenne (koki’s), sodat die outjies sonneblomme, tulpe, madeliefies, ens. binne-in die doppies kan teken.  Plak dan ‘n borsspeldjie agterop en dra die lapelblommetjies op Lentedag.

6.  Knip eenvoudige blomme uit viltlap en plak dit op die borsspeldjie vas.  Heelwat borsspeldjies het gate sodat ‘n mens dit aan die lap kan vas werk (ouer kinders).

boom

Aangesien Lentedag en die begin van Boomplantweek/-maand (1 – 7 September) saam val, kan ‘n mens die twee in dieselfde week vier.  Vanjaar se boomsoort is die Bosvaderlandswilg en die skaars soort is die Wildepieterseliebos.  Indien julle kan, soek jong boompies om op die skoolgrond te plant en maak beurte (leiertjies, klasse, grade, ens.) om die bome nat te lei.

Indien die skool genoeg skadubome het, kan ‘n mens skenkings aan organisasies of tehuise maak om bome elders te plant.  ‘n Mens kan ook as klasgroepe spesifieke bome bemes en beddings opknap.  Reël ‘n gesinsdag en kry ouers om te help indien die hande tydens skooltyd beperk is.

Wat van ‘n uitstappie na ‘n plaaslike natuurtuin, park of kwekery?  Nooi ‘n boomkundige (dendroloog) om die klas toe te spreek – selfs ‘n knap, plaaslike tuinier.

Hoe dit ook al sy, September is die maand vir groei, vernuwing en laf wees.  Geniet dit as ‘n klas saam.

*Tik ook soekterme soos “boom, lente, boomplantdag” by die bruin soekblokke regs bo-aan dié bladsy in vir ouer idees.

plant ‘n boom

Lewer kommentaar


Dit is hierdie week Boomplantweek (1 – 7 September) en die boom van die jaar is ‘n waterbessieboom.  Dit kan in ‘n groot pot of in die grond geplant word en kan tot ‘n groot skaduboom groei.  Soos die naam voorstel, hou die waterbessie van water en groei dit dikwels naby rivierstrome van KwaZulu-Natal tot by Mosambiek.

Watter kunswerke kan ‘n mens maak om bome te vier?

  • Verf die voorarm en hand bruin en druk dik af op die growwe kant van ‘n vel bruinpapier.  Sodra dit droog is kan ‘n mens die buitelyne uitknip om die boomstam en -takke te vorm.  Verskaf verskillende skakerings verf sodat elke boom uniek is.  Druk groen hande los van mekaar op ‘n aparte vel.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uitknip en met die vingers uitwaarts op die takke rangskik.
  • Voeg vrugte by deur die pinkiekant van die vuis in die gekose kleur te verf of daarin te doop (bv. rooi vir appels, oranje vir nartjies, appelkose of perskes).  Druk dit op ‘n aparte vel of in die oop dele van die blare-bladsy.  Sny uit en plak dit bo-op die blaredos.  Indien jy groen stukkies oor het, kan ‘n mens blaartjies by die vrugte voeg.
  • Kurkproppe:  Indien jy nie te veel met die hande wil druk nie, kan jy verskillende kurkproppe in verskillende kleure (dikkerige) verf doop en druk.  Die boom sal egter reeds geplak/geteken moet wees – aangesien jy nie die propvrugte sal kan skuif nie.  As jy verskillende skakerings gebruik, kan dit die rypwordingsproses voor stel (groen tot rooi of groen tot oranje).
  • Stel die verskillende fases van ‘n boom voor:  ‘n winterboom hoef nie blare te hê nie.  As julle in ‘n area woon waar sneeu wel op boom val, kan ‘n mens watte pluis en dunnerig op die takke plak.  ‘n Ander idees is om ‘n dun lagie gom aan die bokante van die takke te verf.  Sprinkel dan self-gemaakte papier confetti of poeier daaroor.

Bak-en-brou:

  • Maak soetkoekiedeeg aan en gee vir die outjies sirkels, reghoekige en driehoekige vorms.  Die reghoek vorm die stam en die sirkel of driehoek kan die takke en boomtoppe vorm.  Meng groen, bruin en rooi kleursel (met versiersuiker) in aparte bakkies.  die outjies smeer dan die bruin en groen kleursels op die koekies of verf dit al langs die buiterand.  Doop ‘n vingerpunt in die rooi versiersuiker en druk vruggies hier en daar.  [‘n Mens kan natuurlik die deeg vooraf kleur.]
  • Gesonde bord:  Gee ‘n stomp plastiese mens om ‘n piesang in skyfies te sny (kan heel hou) en verskaf halfmaanvormige vrugte soos nartjie-, lemoen of appelskywe.  Siedaar!  ‘n Palmboompie.
  • Pretzelstokkies en komkommerskywe
  • Eiergereg:  Plaas geklitsde eier in muffinpannetjies (of selfs in ‘n gewone pan) en sprinkel groenigheid soos fyn gekapte pietersielie in ‘n boomvormpie daarop.
  • Bak boomringe met sjokolade- en vaniljedeeg
  • Kolwyntjies:  Kleur klapper groen.  Bak bruin kolwyntjies (laat die outjies dalk help met die beslag) en verskaf die versiering.  Druk ‘n pretzelstokkie in ‘n malvalekker.  Doop dit malvalekker in water, skud en rol in die klapper.  Plant jou boompie in die kolwyntjie.
  • Vrugteboomslaai
  • Poeding/nagereg:  Maak sjokolade mousse en skep dit in klein porsies (bv. sjerrieglasie- of eierkelkiegrootte).  Plant ‘n klein kruisementtakkie daarin.

Kyk ook na die stukkies oor grond, lente en herfs.

boom

Lewer kommentaar


Dit is weer Boomplantweek en indien jy daarvan vergeet het, is ek seker dat jy heelwat kwekerye vandag sal oop vang!  Die Boom van die Jaar is die Pappea Capensis (doppruim) – wat rooi kersie-agtige vrugte dra.  As ek reg lees behoort dit heelwat voëls te lok en sal dit ook skadu bied.

As jy nie van die doppruim hou nie, kan jy ook ‘n ander boom koop. Wat van bome wat iets tot die gemeenskap kan bydra? ‘n Suurlemoenboom vir die kostafels, ‘n moerbeibos vir die sywurmseisoen, roosmarynbosse vir kleur en geur…Kruiebosse lyk nie net mooi nie – dit ruik heerlik en verg dikwels min sorg. Dink aan ‘n kolletjie in die skooltuin of op die rand van die skoolheining waar julle so iets kan plant.  Lekker spit!

Boomplantweek: 1 – 7 September

Lewer kommentaar


elders

Dit het my skielik vanmiddag getref – dit is Boomplantweek!  Ek kan nie glo dat die kwartaal so met my weg gehardloop het dat ‘n mens so ‘n belangrike tyd kan vergeet nie…en hoekom is die media so stil oor ‘n tydperk wat in my kinderdae hoë aansien geniet het?

Dalk moet ons hierdie week bome vier en versier soos die mense in Indië met olifante maak. Bome is immers gerespekteerde lugsuiweraars, asemskenkers en tuiste van menigte verbeeldingsvlugte, kabouterdorpies en goedkoop klimrame! Dalk moet ons hierdie week behoorlik bossies raak en koorsbome optooi in vrolike kinderversierings…Hang voëlvoerdertjies uit die bome, bou boomhuise (op die grond) uit ou kartondose, skaf kompos aan vir die wortels, hou ‘n donasieblikkie op die lessenaar vir die aankoop van bome of die versorging van bestaande bome…
Praat oor die gebruike van bome, waar papier vandaan kom, hoekom boeke so kosbaar is en waarom ons bome as lugsuiweraars moet koester.  Hang sigwoorde uit takke of raaisels en rympies.  Terloops…is dit nie dalk tyd vir ‘n nuwe boekhoekie nie?

(boomplantweek)

%d bloggers like this: