Tuis

Lente en Boomplantweek is om die draai

Lewer kommentaar


Boomplantweek duur vanjaar van die 29ste Augustus tot die 4de September. Die Kannabasboom (Pompontree) is die algemene Boom van die Jaar en die Swartwattel is die skaarser boomsoort vir 2022. Vind gerus uit hoe hierdie boomsoorte lyk en kyk of daar van hierdie bome in jul omgewing groei. Kan ‘n mens afdrukke (met kryt en papier) van die bas maak? Gebruik dit om julle eie bome te skeur en plak vir ‘n lente collage.

Loer gerus hier na velerlei idees in verband met Lente dag (op die eerste September) en boomplantdag of –week. Watter tradisies volg julle?

Lente

Lewer kommentaar


Gelukkige Lente!

Boomplantweek en Lente dag

Lewer kommentaar


Boomplantweek strek vanjaar vanaf die 30ste Augustus tot die 5de September – met Lente dag op die 1ste September. Die algemene Boom van die Jaar is die Soetdoring en die skaarser boomsoort, is die Spekboom.

Verf ou koerantpapier in verskillende skakerings groen en bruin afsonderlik. Skeur en plak stukke boombas uit die bruin papier om ‘n boom met boomtakke te bou en bedek die lengte van die klasdeur daarmee. Sny blaarvorms uit die groen papier en plak die blare op die takke. Verdeel spesifieke boomsoorte (of seisoene) tussen die onderskeie klasse en verander die klasdeure in ‘n mini-woud. Indien moontlik, kan julle aspekte soos die belangrikheid van bome op die onderskeie blare skryf.

Kap ‘n gat in die bo- en onderkante van eiers en laat die inhoud in ‘n bakkie uitloop (om in ‘n ete te gebruik). Vul die eierdoppe met grond en ‘n saadjie. Stoor die gevulde eiers in ‘n eierhouer en maak nat. Sodra die saadjie begin ontkiem en groei, kan ‘n mens die eierdop kraak of kneus en in ‘n blompot of tuin plant. Die outjies kan natuurlik elkeen ‘n plantjie huis toe neem om daar te plant.

Skeur en plak kleurstroke uit tydskrifte of verf velle volgens verskillende kleure. Sodra die velle droog is, kan ‘n mens blomdele daaruit knip en op ‘n landskap of tuin agtergrond plak. Dink aan blomme soos tulpe, papawers, proteas en sonneblomme.

‘n Mens kan bekende skilders se kunswerke as inspirasie gebruik en gemengde media (potlood, verf en pastelle) gebruik om unieke, kleurvolle prente te skep. Loer gerus na voorbeelde van skilderye wat bome, bloeisels en blomme insluit om Lente dag én Boomplantweek te vier.

Boomplantweek en Lentedag

Lewer kommentaar


Tradisioneel vier ons Boomplantdag op die 1ste September.  Vanjaar se Bome van die Jaar is die Essenhout (Ekebergia Capensis Cape Ash) en die Kremetart Bome (Adansonia Digitata).

Vanjaar gaan dit dalk moeilik wees om fisies self blomme te plant en bome te versorg.  Neem gerus ‘n organisasie wat die natuur versorg in ag vir ‘n fondsinsamelingsprojek.  Loer gerus hier na idees in verband met Lente.

Mag September met warmer en meer kleurryke dae begin.

Boomplantweek met ‘n tikkie Lente

Lewer kommentaar


Ons het dikwels beide ‘n bekende en ‘n skaars boomsoort as Boom van die Jaar. Vanjaar se bome is die Maroelaboom en die Appelblaar. Bespreek gerus die ooreenkomste en verskille van hierdie boomsoorte. Wat maak elkeen uniek? Waar sou ‘n mense die bome kry en sou dit in jou agterplaas aard? Wat kan ‘n mens tydens hierdie paar dae doen?

  • Hou ‘n lente piekniek. Wat van ‘n tema soos “Alice in Wonderland”? Laat elkeen ‘n interessante hoed ontwerp en versier (met afvallap of versierings) om tydens die piekniek te dra.
  • Plant ‘n nuwe boom of verskaf voeding aan bestaande bome.
  • Voer voëltjies in die tuin: Snuffel in tweedehandse winkels of vra vir skenkings van onpaar items soos koppies, pierings, krale, tou, proppe, ens. Gebruik ‘n sterk lym of ‘n gom geweer (hot glue gun) onder toesig en ontwerp ‘n interessante bakkie om aan ‘n tak te hang.
  • Probeer ook om ‘n bakkie uit roomysstokkies te maak. Kies ‘n basiese vorm (bv. ‘n vierkant) en pak die stokkies in ‘n basiese raampie. Smeer ‘n laag sterk gom oor en herhaal die raam om muurtjies te maak totdat dit hoog genoeg is. Bind ‘n lang stuk wol of tou se punte vas (soos ‘n halssnoer), trek dit deur die struktuur en trek die een punt deur teenoorstaande lus of sit die lus dwars oor die struktuurtjie. Gom die rand en pak dan ‘n laag stokkies reg bo-oor – soos ‘n dakkie. Dop die hele struktuur om sodra dit droog is sodat die toutjie nou binne-in die bakkie gegom is en sodat dit gehang kan word. Vul met broodkrummels en sade.
  • Maak speelgoed soos poppe uit toiletrolletjies, verf wasgoedpennetjies of gebruik ou lap. Kap koeldrankdoppies of -proppies weerskante van houtblokke vas of gom dit soos wiele aan die kante van ‘n dosie vas om motortjies te maak.
  • Ontkiem sade (bv. boontjies of ertjies) in ‘n klam wattetjie deur dit in ‘n fles op ‘n sonnige vensterbank te plaas. Indien spasie beperk is, kan ‘n mens eerder ‘n deursigtige sakkie gebruik en dit plat teen ‘n ruit plak. Plant die nuwe plantjies in ‘n pot of tuin oor.
  • Verf ou blompotte of laat die kinders toe om dit te versier.
  • Verf klein potjies en jogurtbakkies of gebruik muurpapiergom en papier (skeur en plak) om die houers te versier. Plant saadjies daarin.
  • Haal die papier van ou glasflessies (ook spesery potjies) af en gebruik dit as blompotjies op die etenstafel.
  • Maak grassaadkoppe: Sny ou sykouse in stroke of sny net die voet gedeelte af. Skep een of twee eetlepels grassaad daarin en vul verder met grond. Bind die opening toe met tou of versteek ‘n tou binne-in die grond sodat dit uithang en bind die opening met ‘n rekkie toe. Rus die styf gestopte kous in ‘n vlak koppie of glasie, sodat die toutjie uithang tot onder. Teken ‘n gesiggie met ‘n permanente veselpen. Maak die kop nat. Oortollige water sal uitsyfer en behoort deur die toutjie absorbeer te word. Indien die kopvel uitdroog, kan ‘n mens ‘n bietjie water sprinkel. Pasop vir te veel water, sodat die koppie nie muf word nie.
  • Verf die voorarm met dik, groen verf (verskillende skakerings) en druk laag teen die onderrand van ‘n groot vel papier. Verf die handpalm geel en die vingers helder kleure om as blomme bo-aan die stingels te druk.
  • Doop die ronde sponse wat jy in pille botteltjies kry in dikkerige, blou verf (meng ‘n bietjie skottelgoedseep of badskuim daarby) en druk die boonste 3/4 van ‘n vel vol skakerings blou verf (lig en donker). Spons ‘n grasperk teen die onderrand van ‘n vel papier met verskillende groene of verf die gras en gebruik ‘n plastiek vurk om grashalms van bo na onder in die nat verf te trek. Gebruik dan bykans droë kwaste om blomme te druk of snipper die rand van ‘n leë toiletrol ewe diep reg rondom. Buig die snippers na buite en gebruik dít om die blomkranse te druk. verf die middelste kroon met geel.

Tik gerus soekterme soos “boom, groen, lente, herwin, sonneblom, insek…” by die soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Lente is hier!

2 Kommentaar


Dit voel nog soos winter, maar die blomseisoen is oppad.  Lui die nuwe seisoen met enorme blomme in, wat julle as ‘n klas, in groepe of as individue kan maak.

Hoe?

  1. Ek het die basiese blomblaarpatroon of templaat op ses lae papier vas geknyp, af getrek en uit geknip.  Herhaal dit ook met die kleiner blomblare.
  2. Rol die buitenste rand ietwat terug om vorm aan die blare te gee.
  3. Knip twee klein kepies of lyntjies aan die plat rand van die groter blare en een kepie in die middel van die kleinste blomblare.
  4. Plaas ‘n bietjie gom in die middelste van die drie strokies in die groter blare (tussen die kepe) en vou die buitenste stukke bo-oor die gom.  Knyp met ‘n klampie of wasgoedpennetjie vas en herhaal totdat al die groter blare dieselfde lyk.  ‘n Gomgeweer (glue gun) werk lekker vinnig.
  5. Vir die heel kleinste blare, hoef jy net ‘n druppel gom aan een kant van die kepie te drup.
  6. As al die blomblare klaar is, kan jy die stamper (geel deel) maak.  Vou ‘n bladsy in die helfte (in die lengte) en sny die vou oop. Hou die dele op mekaar en vou ‘n strokie om – na buite.  Vou weer oop en hou by mekaar.  Rol die stroke op en knyp die rolletjie vas.
  7. Knip kort kepies van die rand tot by die vou.  Knip dan langer kepe van die teenoorgestelde rand af in, maar moenie regoor die eerste kepe knip nie.  Spasieer die lang kepe tussen die korter kepe.
  8. Vou die kort strokies terug en gom die rolletjie net bokant die kepies vas.  Jy kan die langer stroke terug rol of oop trek na gelang.
  9. Trek ‘n vierkantige kartonnetjie nader en spasieer jou groter blare in ‘n kring – gom vas (dink aan ‘n seshoek).
  10. Herhaal met die middelslag blare. Hulle sal waarskynlik beter pas as hulle effens oorvleuel.
  11. Voeg nou die kleinste blare by, maar onthou om spasie vir die stamper te laat.
  12. Doop die kort strokies soos ‘n stempeltjie in gom of drup gom oor die strokies.  Onthou om tussen die lagies ook gom te smeer en plak dit in die middel van jou blom.
  13. Trek groot blare op groen papier af en knip uit.  Vou dit in die lengte vir ‘n bietjie vorm en sny kepies om die rand.  Plak die blare aan jou oorspronklike kartonnetjie vas en siedaar!
  14. Maak gerus blomme uit herwinbare materiaal – soos koerantpapier – om jou aansteekborde of mure te versier.
Blompatroon Daar is heelwat ander patrone op die internet beskikbaar.  Loer gerus.

This slideshow requires JavaScript.

Lente

Lewer kommentaar


Mooi wense vir die aanvangs van die Lente-seisoen!

Loer gerus hier en hier vir idees om die dag te vier.

 

 

 

Sonneblom

Lewer kommentaar


sonneblom

Sonneblomdag vervang nou die bekende Bandanadag en word op die 16de September gevier.  ‘n Mens kan dalk sade of klein plantjies verkoop as ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van die Sonneblomfonds.

Ontkiem sonneblomsade in watte of grond binne-in ‘n oop glasflessie of deursigtige plastiekglasie.  Wanneer die plantjie sterk genoeg is, kan ‘n mens dit in die tuin of diep blompotte oorplant.

BoekmerkInkleurprentLewenssiklus (kleurprente)

Sonneblomme maak pragtige kunswerke.  Dink net aan Van Gogh se skilderye.  Gebruik pastelle of dik, pastaverf in skakerings van son- of eiergeel, grasgroen, koningsblou, bruin, swart en wit.  Teken die buitelyne met ‘n potlood en begin inkleur.  Werk in dieselfde rondings en rigting as die buitelyne en betrek verskillende skakerings van geel in die blomblare, skakerings van groen in die stingel en skakerings van bruin in die blomkop.  Gebruik skakerings van blou (met wit) in die lug en hou die kwashale of lyne skerp en duidelik.  Geen vermenging.

‘n Mens kan groot bladsye vooraf voorberei deur die lug en grond (gras) met dwars hale of lyne te bedek.  Teken of verf die sonneblomme apart, knip uit en plak dit bo-op die droë agtergrond.  In plaas van geverfde blomme, kan ‘n mens ook oranje en geel bottelproppies gebruik.  Vou koffiefilters herhaaldelik in die helfte totdat daar slegs ‘n smal strokie oor is,  vou dit oop en plaas op ‘n bord of ‘n plat bak met ‘n bietjie water daarin.  Drup eiergeel voedselkleursel (met ‘n bietjie bruin verf by gemeng) in die middel van die filter en kyk hoe dit versprei.  Gebruik die filterblomme bo-op die agtergrond sodra dit droog is.

Bedruk kurkdrupmatjies met verskillende skakerings bruin verf.  Knip sonneblomblare uit geel viltlap, vou die reguit randjie toe en gom of kram dit vas.  Knip ‘n stingel en blare uit groen viltlap.  Spasieer die geel blare en stingel om te drupmatjie en plak die matjie bo-op die lap.  ‘n Mens kan ook snesiepapier of gewone geel papier gebruik (skeur en plak).

Tik gerus soekterme soos “lente, bandana, bye…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Lente en Boomplantweek

1 Kommentaar


Lente

Lentedag word tradisioneel op die 1ste September gevier – al skyn die sonnetjie nog nie heeltemal so skerp nie.  Om voorbrand vir die nuwe seisoen te maak, kan ‘n mens die volgende idees in die klas probeer…

 1.  Indien jy ‘n rol rekenaar- of ongedrukte koerantpapier het, kan jy lengtes vir jou kennisgewingsborde of ‘n ruit afmeet.  Trek ‘n golwende kurwe lengte-gewys deur die middel of in die onderste derde van die papier, sodat die kurwe soos ‘n heuwellandskap lyk.  Ouer kinders kan die boonste helfte blou (waterverf of verdunde voedselkleursel) en die onderste helfte groen verf.

As jy met die kleintjies werk, kan jy die bladsy op die golwende lyn deursny en apart laat spuitverf.  Gee vir hulle verskillende soorte spuitbottels met verdunde voedselkleursel (verskillende skakerings van blou of groen) om die fynspiertjies te ontwikkel.  Die maklikste sal wees om die papier bo-op plastiek te plaas en om dan vir elkeen ‘n sekere aantal spuite toe te staan.  Hou ‘n ogie sodat die papier nie te nat word nie.

‘n Mens kan ook verskillende vlak bakkies (met skakerings van pastadikte wit en blou of geel en groen verf) en sponsies (bv. dié wat jy in pille botteltjie kry) verskaf, sodat die outjies die velle kan bedruk.  Herinner hulle daaraan dat ‘n mens die spons afvee of uitdruk voordat jy die sponsie op die papier kan druk.

2.  Gebruik ‘n basiese blom ontwerp of blomblare.   Trek ‘n templaat of patroon op ‘n ou x-straalplaat (of dik karton) af en sny uit.  Só kan jy meer as een patroon hê en versprei.  Gebruik ou papier of sny ‘n paar lae snesiepapier van ‘n eenderse kleur (soos dié wat ‘n mens in geskenksakkies sien) per blom.  Die idee is om die blare met muurpapiergom (‘n klein koevertjie strek ver) te smeer en lagie-vir-lagie te verdik of te versterk.  Laat die blare op ‘n rakkie droog word.

Trek ‘n sirkelvorm af en doen dieselfde smeer- en plakwerk vir die binnekant van die blom.  Sodra die dele droog is, kan ‘n mens die blomblare met houtlym aan die -kelk vasplak.  ‘n Mens kan ook die nat of klam dele met behulp van ekstra kolletjies muurpapiergom heg.

Verf die blomme met helder kleure en plak dit teen jou geverfde agtergrond.

3.  As julle nie so baie tyd het om aan die gomblomme te spandeer nie, kan ‘n mens steeds blomme aftrek op karton en dan met pastelle of verf versier.  Los dit net so of heg ‘n klein plastieksakkie (selfs ‘n ballon) met blomsade daarin aan.  As julle die blomme klaar uitgestal het, kan die outjies die sade huistoe neem of in ‘n spesiale bak/bedding by die skool saai.

4.  Versier die vensterbanke of ingang:  Gebruik ou speelgoed (emmertjies, ens.) of buitespeltoerusting vir julle eie herwinbare blombakke.  Samel herwinbare plastiekbakke in (verkieslik groot), kap dreineringsgate daarin en vul met blompotgrond.  Plant blomplantjies, saai sade of plant julle papierblomme (op stokkies geplant) daarin.  Die natleiwerk kan ‘n ekstra werkie word (verskaf dalk eerder net spuitbotteltjies met fyn gate eerder as ‘n gieter).

5.  Berei ou koeldrankdoppies voor deur dit te spuitverf (bv. wit).  Gee dan ‘n verskeidenheid permanente veselpenne (koki’s), sodat die outjies sonneblomme, tulpe, madeliefies, ens. binne-in die doppies kan teken.  Plak dan ‘n borsspeldjie agterop en dra die lapelblommetjies op Lentedag.

6.  Knip eenvoudige blomme uit viltlap en plak dit op die borsspeldjie vas.  Heelwat borsspeldjies het gate sodat ‘n mens dit aan die lap kan vas werk (ouer kinders).

boom

Aangesien Lentedag en die begin van Boomplantweek/-maand (1 – 7 September) saam val, kan ‘n mens die twee in dieselfde week vier.  Vanjaar se boomsoort is die Bosvaderlandswilg en die skaars soort is die Wildepieterseliebos.  Indien julle kan, soek jong boompies om op die skoolgrond te plant en maak beurte (leiertjies, klasse, grade, ens.) om die bome nat te lei.

Indien die skool genoeg skadubome het, kan ‘n mens skenkings aan organisasies of tehuise maak om bome elders te plant.  ‘n Mens kan ook as klasgroepe spesifieke bome bemes en beddings opknap.  Reël ‘n gesinsdag en kry ouers om te help indien die hande tydens skooltyd beperk is.

Wat van ‘n uitstappie na ‘n plaaslike natuurtuin, park of kwekery?  Nooi ‘n boomkundige (dendroloog) om die klas toe te spreek – selfs ‘n knap, plaaslike tuinier.

Hoe dit ook al sy, September is die maand vir groei, vernuwing en laf wees.  Geniet dit as ‘n klas saam.

*Tik ook soekterme soos “boom, lente, boomplantdag” by die bruin soekblokke regs bo-aan dié bladsy in vir ouer idees.

Gelukkige Lentedag!

5 Kommentaar


Lentedag

Lente!

Lewer kommentaar


Lentedag

Tik gerus soekterme soos Lente of Seisoen by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir kreatiewe idees 😉

 

lente

Lewer kommentaar


Gelukkige Lentedag!

(Volg die skakel na lente idees…)

weer en seisoene

6 Kommentaar


Daaglikse weerkaartwerk

Ek het reeds ‘n paar inskrywings oor die seisoene gemaak, maar nog nie oor die weer nie.  Hiermee dan ‘n paar idees vir weerkaarte.

Die meeste Grondslagfaseklasse het ‘n kalender- en weerbord iewers waar die dag, datum en weerstoestande aangedui word. ‘n Weerkaart is iets wat nie slegs by die skool gevolg word nie.  Jy kan dit ook by die huis volg.  Dit help ons almal om na die weerstoestande te kyk en om die regte klere vir die dag te kies.  ‘n Bewustheid van die weer en die verandering daarvan, skep ook ‘n bewustheid vir seisoene en tydsverandering…

  • Druk ‘n kalender uit en afhangende van die outjies se ouderdom, kan hulle beskrywende naamwoorde (sonnig, bewolk, reën, wind…) inskryf of die prente teken.
  • As die outjies nog klein is sal ek nie te veel prente of beskrywings betrek nie.  Kies slegs ‘n paar prentjies om te gebruik.
  • Om die keuses makliker te maak, kan jy die verskillende weerstoestande met prente en bewoording eenkant op plak. Die outjie besluit dan op die mees geskikte beskrywing om te kopieer.
  • Vir klasse met ‘n rekenaar en groot (witbord) skerm: As jy self mooi foto’s kan neem, kan jy die kinders met die dag se lugruim in die agtergrond afneem. Digitale foto’s laai maklik af en dus sal jy elke dag se weerstoestand kan “noteer” in dagboekvorm. Aan die einde van die week of maand kan julle deur die foto’s kyk om die veranderinge te bestudeer.
  • In plaas van ‘n kalenderformaat, kan jy ‘n sirkeldiagram maak – met prentjies – sodat jy ‘n pyltjie na die gepaste weerstoestande kan draai.
  • Vir ouer outjies (Graad 2 en ouer) sal ek ‘n eenvoudige boekie saamstel waarin hulle elke dag ‘n beskrywende sin of twee kan skryf.  Bv.  Dit is vandag koud en winderig.  Dit is sonnig en warm.  Die wind waai sterk en dit kan dalk later reën.  Dit kan dalk aanvullend tot die daaglikse of weeklikse “nuus” wees.  As jy ‘n tipe dagboek het vir die nuuswaardighede, kan jy ‘n aanvullende weerblad invoeg. (weer) (maande met prente: kalender)
  • Kleurvolle weer-banier.
  • Kleurvolle seisoen-prente.
  • Interaktiewe weerspeletjie.
  • Daily Calendar Work Daaglikse Kalenderwerk

As julle die weersvoorspelling vir die streek benodig, kan julle na foreca gaan.  Tik jou naaste stad of dorp se naam in en dit behoort vir jou ‘n oulike uiteensetting te gee. iWeather bied ‘n oulike uitleg en het selfs beeldmateriaal by sommige weerstasies.

Watter ander idees is daar om die weerstoestande te noteer?  Stuur gerus nog inligting…

Tik soekterme soos die onderskeie seisoene se name, asook “kalender” en “Hoe laat is dit?” (dae) by die soekblokkie in of gaan na drukbare bladsye vir aanvullende bladsye (bv. dae van die week).

somer, herfs, winter, lente

Weerkaart, Kalender en Seisoene Pakket

seasons seisoene kalender weerkaart

wintersomer

lente insekte goggas

HerfsAutumn

Lentedag!

5 Kommentaar


Screen Shot 2015-08-23 at 17.43.43

Woensdag is dit Lentedag!  Die tyd vlieg behoorlik hierdie jaar…As jy ‘n paar idees benodig om Lentedag in jou klas of skool te verwelkom, probeer gerus die volgende:

  • Vensterversierings:  Die kleingoed kleur die blomme met vetkryt (verkieslik die ou betroubare uitdraaikryte) in, knip die sirkel uit en verf dit met voedselkleursel.  Eiergeel hoef nie veel verdun te word nie (hou maar die produkte mooi dop – aangesien sommige eiergeel kleursels meer na ‘n neon geel lyk), maar rooi, groen en blou kan ‘n titseltjie water kry.  Sodra die prente droog is, kan jy die helder blomme om die rand van jou venster of klasdeur plak om die Lente en gaste te verwelkom.
  • Maak jou eie “colour by numbers” werkvelle.  Gee vir die outjies ‘n inkleurprent met somme daarop.  Die antwoorde word dan met kodes vergelyk om die prent in te kleur.  Jy kan hierdie aktiwiteit ook in die tale gebruik en byvoorbeeld woorde met spesifieke klanke, sigwoorde en spelwoorde vaslê.
  • Trek ‘n reuse kartondoos oor met helder blomme-papier en sny ‘n posbusgleuf daarin.  Ruil die onderskeie klasse se klaslyste uit en gee vir elke kind ‘n “spookmaatjie” om ‘n kaartjie voor te maak.  Die briefies word dan in die doos gepos en op Lentedag word die briefies deur ‘n “Lente kabouter of feëtjie” afgelewer.
  • Laat die outjies enorme blomme (tulpe werk goed) uit ou kartondose sny, versier dit met patrone of verf dit en “plant” dit al om die skoolheining.  Heg dit aan die heining vas (met skuifspelde) of steek dit in die grond vas met sosatiestokkies.  Dit behoort nogal ‘n vrolike impak te maak op die oggendverkeer.
  • Maak groot bewers as deel van groepwerk.  Elke groepie in die klas werk saam om bewers uit blomme, kabouters, ensovoorts te maak. Gebruik helder pastelle, verf, kleursel en vetkryt en hang die bewers uit die dak – in die gange of in die voorportaal.  Steek ‘n blinkerige of klingel-item daarin werk sodat dit die oor of oog kan vang. (Stukkies foelie, spieëlteeltjies of kristal-agtige krale behoort ideaal te wees.)
  • Buig blommetjies uit soldeerdraad (of enige dun en sagte draad) om ruikers te maak.
  • Engelse gediggies vir leestyd
  • Vra die kinders om boeke oor Lente, bloeisels, baba diere, kabouters, feëtjies, ensovoorts uit te neem vir leestyd.  Hulle kan vir mekaar lees of Juffrou kan ‘n oulike boek kies en vir die klas lees.
  • Inkleurprente
  • Inkleurprente2
  • Skoenlapper-flitskaarte
  • Blom buitelyne
  • Gemorsposkuns:  Sny skoenlappers en blomme uit gemorspos.  Verf dit met muurpapiergom (vir beskerming en glans) en gebruik dit in die bewers of as vensterversierings.  Dit behoort ook oulik te lyk op ‘n eenkleurige kaartjie.
  • Eenders en anders werkvel
  • Maak ‘n muur collage van ‘n Lentetuin propvol goggas. Soek ‘n paar oulike prente as voorbeeld en vra dat die kinders die onderskeie insekte of blomme sal teken (waarvan jy die meeste hou). Weereens kan hulle dit met kleursel verf, uitknip en op ‘n kennisgewingbord of voorbereide agtergrond plak.
  • Maak jou eie papawerblomme.  Smeer ‘n dun lagie muurpapiergom bo-oor om dit af te rond en om glans te verskaf.  Net voor die gom heeltemal droog is, kan jy regte papawersade in die middelste swart deel strooi.  As die blomme jou nie meer aanstaan nie, kan julle dit plant!
  • Druk blomme met die onderkante van koeldrankbottels (bv. plastiek gaskoeldrankbottels).
  • Doen dit ook met sonneblomme.
  • Nog blomme.
  • Maak ‘n spesiale blom CD-kassie om ‘n CD vol foto’s aan ‘n ouma of oupa te gee.
  • Voer voëltjies deur middel van herwinning. Gebruik ‘n ou houtlepel en ‘n botteltjie vol saadjies.

gemorspos - elders geleen

%d bloggers like this: