spikkeldag

Elders in die wêreld vier skole Dot Day op die 15de September na aanleiding van Peter H. Reynold se boek – The Dot.  Die gedagte is om jou merk te maak.  Hoe kan ons diė gedagte op ‘n prettige manier vier?

  • Loer in al die aktiwiteitsboeke vir “dot-to-dot” aktiwiteite en stel ‘n verskeidenheid beskikbaar.
  • Ondersoek die Pointilisme kunsbeweging en skep julle eie kolletjies- of spikkelkuns.  Gebruik pastadikte verf en kies ‘n verskeidenheid drukkertjies, oorstokkies en sponsies wat kolle en spikkels sal druk.  Druk letters, bo-op letters (sommer op die robotkaarte), syfers, patrone en selfs woorde.  ‘n Mens kan dit ook met ink op ‘n inkkussing doen.
  • Gebruik die bogenoemde verfdruktegniek of plak ronde plakkertjies (van verskillende groottes) bo-op ‘n lang patroon om later om die deurraam, kroon- of vloerlysie te plak.
  • Doen skrif oefeninge deur spikkelwoorde en skrif na te trek.  [skrif oefeninge – drukskrif]
  • Hoeveel sinne kan julle met spikkelwoorde (sinonieme) maak?  Wie kan ‘n rympie, ‘n storie of ‘n liedjie skryf?
  • Verdeel die spelwoorde (of spikkel- en kolletjie woorde) tussen ouer kinders, deur verskillende woorde in ‘n groot lettertipe te druk en vir elkeen ‘n speld te gee.  Pons dan spikkels al op die woorde langs en plak dit teen ‘n ruit sodat die sonlig kan deur skyn.  Dit sal groot konsentrasie verg.
  • Plaas verskillende kleure papier, bakkies wat gemerk is met kleure se name en ‘n papierpons op ‘n tafel.  Wanneer die outjies ‘n kans kry, kan hulle een kleur op ‘n slag pons en die confetti in ‘n gemerkte bakkie uitskud.
  • Gebruik die confetti later in die week in strooiwerk.  Teken groot vorms, vet letters of syfers en smeer gom oral op die agtergrond.  Strooi die confetti van jou keuse.  Wanneer die agtergrond droog is, kan jy die letter met ander kleure vul.  Kies byvoorbeeld primêre of sekondêre kleure en selfs skakerings van ‘n spesifieke kleur soos rooi.
  • Doen tekstuurwerk met borreltjieplastiek of Lego deur dit te verf en bo-op velle papier te druk.  Gebruik die papier om prentjies uit te knip of as die agtergrond vir ‘n collage.
  • ‘n Tydjie gelede, het ek ‘n foto elders gesien waar iemand die borreltjieplastiek teen ‘n muur opplak en dan sorgvuldig die onderskeie blasies met kleursel in spuit om ‘n syfer of ‘n woord te vorm.  Dit kan ‘n oulike idee vir ‘n opskrif in die klas wees.
  • Onder toesig, kan ‘n mens ou vetkryte bo ‘n kersvlam verhit en op papier druk of drup.  Gebruik dit as ‘n agtergrond.  ‘n Mens kan kan ook plastiek stensils bo-op die papier laat rus terwyl die waskryte binne-in gedrup word.  Sodra die was droog is, kan ‘n mens die stensil lig en skoon maak.

spikkeldag agtergrond

spikkelwoorde

Loer gerus na Dot Day se webwerf vir meer idees.