Tuis

f- en v-reëls en b/d?

35 Kommentaar


Ek het gevind dat die meerderheid kinders worstel met omkerings (spieëlskrif) en lettergreepverdeling.  Dit is natuurlik ‘n veralgemening, maar as ‘n mens so deur hul boeke blaai…word die veralgemening ‘n werklikheid.

Die volgende omkerings vind baie plaas:

  • b / d / p / 9 (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • u / n (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • t / j

Dan kry ons ook die volgende vervangings of verwarrings:

  • h / j
  • m / n
  • f / v

In uitsonderlike gevalle verwar kinders ook b en w.  Hierdie is egter (soos h / j) ‘n ouditiewe diskriminasie uitval.

b / d (ook van toepassing op b / d/ p / 9)
Vir hierdie verwarring is ‘n groot hoeveelheid visuele diskriminasie oefeninge nodig.  Byvoorbeeld:

  • soek die b of d in die ry langsaan
  • watter prentjie begin met ‘n b of d?
  • watter prentjie begin nie met ‘n b / d nie?
  • omkring die woord wat met ‘n b / d begin
  • soek die b / d in die koerant artikel, tydskrif opskrif, ensovoorts

Taktiel (voel):

  • maak ‘n lang, dun, opgestopte skrifslang en buig dit in die vorm van die klanke
  • vorm die klank met klei
  • skryf die klank in sand – met die vinger
  • skryf die b met jou vinger teen ‘n boom se stam
  • skryf die d met jou vinger op die deur
  • doop jou vinger in water en skryf die klanke op sement of teen die bord
  • voel oor die klanke op ‘n robotkaart
    • maak dus ‘n vergroting van die klank
    • plak ‘n groen kol waar die klank begin en ‘n rooi kol waar dit eindig
    • b begin bo en d begin in die draai
  • lê op die mat en probeer om die letter met die lyf te vorm
  • staan en vorm die letters met die liggaam

Ouditief (gehoor):

  • noem drie woorde en vra “wat hoor jy eerste?”…bos, bak, buk…of…das, dek, dit
  • noem ‘n paar woorde op en vra aan die kind om ‘n spesifieke gebaar te maak as die woord met b of d begin (steek hand op, snap vingers, knip oë, ens.)

f en v
Hierdie is een van die “gewildste” verwarrings.  Dit is egter makliker om te remedieer as baie van die ander verwarrings.  Na aanleiding van ‘n paar opgemaakte reëls, oorkom heelwat kinders die uitval.

f

  • flamink is die enigste voël (waaraan ons kan dink) wat met ‘n “f” begin.  Ons teken gewoonlik ‘n strepie in sy nek en siedaar!  Sy kop en nek vorm sommer ‘n “f”.
  • Dinge wat stukkend of verniel beteken soos fyn, flenters, fraaiings, frommel…(*)
  • Dinge waaraan ‘n mens kan vat of wat ‘n mens kan sien – mensgemaak – soos fabriek, fiets, flits…(*)
  • Dinge wat ‘n mens kan wees soos fraai, flou, fier, familie…(*)
  • Aan die begin, einde of in die middel van woorde

v

  • Dinge wat vlieg of vinnig is soos vlieg, vlerk, vuurpyl, vuur (brand vinning), vlam, vlooi, viool (speel vinnig anders slaap ek)
  • Dinge wat met my lyf te make het soos vel, vingers, voete, vryf
  • Dinge wat met diere – veral plaasdiere – te doen het:  soos vark, vul, vee, vos, vleis, volstruis, voer, vreet
  • As ‘n woord met “ver” begin, skryf ek altyd v-e-r.
  • Nooit aan die einde van woorde nie.

f-en-v-oefen

Werksvelle

(‘n toep)

Tik “b en d” of “omkering” by die soekblokkie in vir nog idees.

 

This slideshow requires JavaScript.

Vadersdag

2 Kommentaar


pappa

Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…

  • Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
  • Sjokolade happies:  Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in.  Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
  • Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout.  Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
  • Peuselpotjie:  Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
  • Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone.  Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
  • Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
  • Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
  • Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
  • Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny.  Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak.  Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!

Ek las weer mettertyd nog idees by. vadersdagpavaders

Speel ‘n bietjie

Lewer kommentaar


speeldag228 Mei is Wêreld Speeldag.  Ander mense noem dit wêreld speelgoeddag.  Wat jy ookal verkies, maak seker dat jy ‘n bietjie pret vir die dag beplan…

  • Pak die speelgoed- of apparaatstoor uit en stel verskeie stasies op waar kinders verskillende aktiwiteite kan probeer. (Balgooi, dribbel, balanseer, kruip, klim, hang, “monkey bars”…)
  • Bou ‘n hindernisbaan.
  • Bou ‘n skattejag (bou ‘n bietjie leeswerk in).
  • Verskaf stasies vir “houtwerk”, waterspel, fantasiespel…’n tipiese Graad R buitespelles.
  • Grawe in die argiewe vir oulike opvoedkundige speletjies.  Skuif die tafels in rye sodat elke speletjie apart gespeel kan word.  (‘n Goeie verskoning vir legkaart-bou is om seker te maak dat al die stukke daar is.)
  • Vra die kinders om self bordspeletjies te beplan vir klanke of wiskunde.
  • Klop aan by ‘n oulike kleuterskool en ruil speletjies met hulle uit.
  • Hou ‘n speletjiesmiddag.
  • Verleng die pouse…
  • Besoek ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Begin ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Skenk aan ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Reël ‘n spreker (soos ‘n arbeidsterapeut) om die ouers in te lig oor oulike opvoedkundige speletjies en speelgoed.
  • Reël ‘n ouma of oupa om oor speelgoed uit hul jeug te praat.

Kinder Beskermingsweek

Lewer kommentaar


Daar is  min dinge wat my so grief soos ‘n verwaarloosde kind…en daar vergeet ek toe byna dat dit Kinder Beskermingsweek is.  Ek heg ‘n paar skakels na webtuistes aan waar u kan inligting kry oor kinderregte en –veiligheid.

Dis ‘n onderwerp waaroor ‘n mens moeilik praat, want ons wil veiligheid en versorging van kinders as vanselfsprekend aanvaar.  Ongelukkig is daar kinders in elke klas wat dalk wees gelaat is, mishandel word, honger ly…noem maar op.  Die maatskaplike probleme en uitvalle vorm ‘n belangrike kwelpunt in die versorging van kinders.  Daarom is dit een van die eerste dinge waarna ons as opvoeders moet kyk…Sukkel die kind dalk akademies of op sosiale vlak weens huislike probleme?  Gebeur daar dinge tuis (of elders) wat die kind se psige kan afbreek?  Is daar iemand in die skool wat sal kan help indien ‘n kind mishandeling of verwaarlosing aanmeld? Waar meld ek die kwessies en probleme aan?

In ons skool praat ons weekliks in graad-verband – die sogenoemde leerderbesprekings.  Probleme word dan skriftelik in ‘n boek genoteer en aan die Opvoeder Ondersteuningspan (OOS / EST / ILST / Hulpspan) gerapporteer.  Indien daar aspekte soos maatskaplike probleme genoem word, word dit met die hoof van die Hulpspan (in ons geval die skoolhoof) bespreek en ‘n plan van aksie word bedink.  Ongereelde skoolbywoning tel ook onder hierdie afdeling.  Die situasie word gemonitor en die opvoeder gaan voort om kontak met die ouers te probeer maak om die saak aan te roer.  Teen die einde van die kwartaal sit die Hulpspan met elke opvoeder en word elke leerder op die klaslys bespreek (± ‘n periode per klas / opvoeder).  Ons probeer dan om saam aan oplossings te dink.  Bv. ‘n geleentheid skool toe saam met ‘n buurman of die beskikbaar stelling van ‘n klas vir die voltooiing van huiswerk…Dit maak nie saak hoe eenvoudig of hoe ingewikkeld die probleem is nie – dit word aangeraak. Indien ons nie seker is of die probleem by maatskaplike dienste aangemeld moet / kan word nie, skakel ons die maatskaplike werkers om uit te vind. Weet eerder waar die grense lê as om die kind verwese te laat. Hou altyd die nommers van die plaaslike ACVV of Kindersorg sigbaar in die klas en verduidelik aan kinders dat hulle die reg het om oor hul probleme te praat.

Loer gerus hier indien jy graag betrokke sou wou raak by kindersorg organisasies in jou omgewing…
ACVV
PATCH
Child welfare
Lifeline national counselling line:  0861 322 322
Childline toll free counselling number: 0800 055 555
National AIDS Helpline:  0800 012 322

Laat weet ons asseblief indien jy van ander organisasie weet…

DAAR IS GERUGTE WAT DIE RONDTE DOEN DAT MENSE TANS VERSKEIE SKOOLGRONDE DOP HOU…

Wat is ‘n “VMI”?

Lewer kommentaar


VMI

Dié van julle wat al ‘n verslag van ‘n arbeidsterapeut of ‘n opvoedkundige sielkundige onder oë gehad het, sou ‘n verwysing na die kind se VMI gesien het. Dit staan vir Visual-Motor Integration en het te make met die kind se vermoë om beelde te interpreteer en weer te gee.  As die outjie se VMI telling baie laag is teenoor die kronologiese ouderdom, beteken dit dat hy ‘n bietjie gaan klei trap met dinge soos skrif en afskryf van die bord af.  Daarom beveel die kundiges hulp soos arbeidsterapie aan…en dit wérk

Baie outjies se prestasies styg as die VMI styg.  Hulle is dus nie net eenvoudig oorgelaat aan ‘n “swak uitslag” op ‘n verslag nie.  Daar is ‘n uitweg.

Tesame met die kundige raad en hulp van ‘n arbeidsterapeut, is daar ‘n paar oefeninge om tuis te probeer. Probeer baie oefeninge wat die Visuele Persepsies, Middellynkruising en Fynmotoriek ontwikkel.

Eye can learn gee aanlyn oefeninge en oulike idees.

boekmerkies

2 Kommentaar


boekmerke

‘n Mens is mos altyd op soek na oulike idees – om te maak of om te laat maak. Hoekom dan nie boekmerkies nie?!  Dis mos iets om aan die begin van die jaar te maak – om die jaar met ‘n lekker lees gees te begin.

  • National Geographic het ‘n oulike webprogrammetjie waar die kind (of juffrou) self ‘n boekmerkie kan maak.  Jy kan die prentjie, agtergrond en raampie kies en jou eie boodskap tik.
  • Highlightkids het ‘n soortgelyke program.  Ontwerp jou eie oulike boekmerkies deur gesiggies, koppe, lywe en voete te pas. Jy kan sommer lekker laf raak as jy wil. Al wat jy dan nodig het is ‘n drukker, ‘n skêr en ‘n lamineermasjien (of ‘n rol breë deursigtige kleeflint).
  • Maak boekmerke met ‘n spesiale foto en boodskap daarop.
  • DLTK is altyd ‘n wenner en daar kan jy regtig kreatief raak. Ek het die Spongebob merkie daar geskep. Dan is daar ‘n paar oulike merkies op die Family Fun webwerf.
  • Kids Kreate het ‘n paar oulike boekmerkies in kleur.  Wees kreatief.
  • boekmerkbasis
  • Boekmerk (drukbaar)  –  gebruik apart of plak twee merkies rug-teen-rug.
  • Engelse boekmerkies is beskikbaar onder “drukbare“-hofie.
  • books are magical

Boekmerk wit

 

boekmerkfoto                    boekmerkmaker

komponente van lees

1 Kommentaar


Soos wiskunde, het lees ook verskeie aspekte of boublokke om die leser se vaardighede te versterk.  Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskat ontwikkeling in.

Fonemiese bewustheid dek die begrip dat ‘n woord uit verskillende dele bestaan.  Ek hoor die begin-, middel- en eindklanke…Ek kan ‘n woord verskaf wat rym met…

Klanke is die dele waaruit woorde gebou word:  klinkers / vokale, medeklinkers, klanksamevloeiings (br-, -ng, sw-…), dubbelklanke (aa, ee, oo, uu), tweeklanke (ui, oe, eu…) en drieklanke (aai, eeu…).  As die leser nie sy klanke ken nie, kan hy nie die woord ontsluit (lees of spel) nie.  Dus is ‘n goeie kennis van klanke belangrik.

Vlotheid het te make met die vloeiendheid van lees.  Dit steun nogal sterk op die leser se vermoë om dele van woorde en hele woorde met die eerste blik of oogopslag te herken.  ‘n Groot hoeveelheid woorde val onder die konsep sigwoorde of hoë frekwensie sigwoorde.  Hoe vinniger en hoe meer akkuraat hierdie woorde gelees word, hoe meer vloeiend lees die kind.  Vlotheid neem egter hande met sigwoorde én leestekens.  Die kennis van leestekens en hul gebruike, maak die leesproses ‘n outomatiese proses.  Dink maar net aan jou bestuursvernuf.  Jy weet hoe om verkeerstekens en padaanwysings te gebruik sonder om twee maal te dink.

Woordeskat ontwikkeling is ‘n lekker en spesiale oefening wat deurgaans kan plaasvind en sonder veel “stres”.

Gebruik die vakansie om spelenderwys en op ‘n ontspanne manier aandag aan die konsepte van lees te skenk en lees, lees, lees 😆 Koop ‘n boek of ruil uit met ‘n vriendin.

Time4learning is ‘n Amerikaanse webwerf wat ook hier en daar verklarings oor leesontwikkeling oulik voorstel.  Gaan loer gerus…

Tik voorts soekterme soos “lees, leeslys, sigwoord, woordeskat, abc, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits…ouditiewe, visuele, ogies, rympies, engels” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir verskeie idees.

nog ‘n kans

Lewer kommentaar


kansDie aspekte wat in ag geneem word om ‘n kind terug te hou in ‘n graad, is baie omvattend.  ‘n Opvoeder sal nie sommer ‘n kind terug hou tensy dit nie in die spesifieke kind se beste belange sal wees nie.

Wat maak ek as my kind met die rapport tuis kom?

Die skool het jou reeds voorberei vir die moontlikheid van ‘n meer tyd aanbeveling.  Probeer om die goeie aspekte raak te sien.  “Sjoe! Jou skrif is baie goed en jy het ‘n goeie punt vir Lewensvaardighede gekry.  Baie geluk.  Ons sal volgende jaar aan die ander dingetjies werk.”  Oor-en-verby en roomystyd. Bêre die rapport en moet dit nie vir ander mense wys nie. Met die aanvangs van die nuwe jaar kan ‘n mens die hulp van kundiges in roep om aan die probleemareas te werk.  Die vakansie is kort en kwaliteit familietyd is belangrik.  As die outjie oor die rapport wil gesels kan ‘n mens luister.  ‘n Houding van “ek weet dat jy jou beste probeer het, maar volgende jaar gaan die werk meer bekend wees en sal jy nog ‘n kans kry”…is meer geskik as ‘n uittrapsessie.  Vir ‘n jong leerder kan ‘n mens vertel dat sy juffrou hom graag as ‘n leier vir die nuwe maats wil inspan…dink aan ‘n gepaste (positiewe) verklaring…Indien die nuus regtig moeilik is om te verwerk, kan ‘n mens ‘n gesprek met ‘n berader (sielkundige, spelterapeut, ens.) probeer.  ‘n Kind gesels dikwels met meer gemak met ‘n buite mens as met sy eie maats of ouers.

Hiermee verdere inligting oor ‘n Meer Tyd-jaar.

Herhaling van Graad 1-leerders

Herhalingsjaar en adolosente

Slaagvereistes

einde van die jaar

3 Kommentaar


Wat maak ‘n mens aan die einde van die jaar? Eindig ‘n mens die jaar met ‘n vinnige wuif by die deur of maak jy iets spesiaals daarvan?

Ek het ‘n paar oulike idees teë gekom om veral by die jonger grade in te span. Weereens is die meeste gediggies en idees in Engels. Wie kan aan iets ouliks (in Afrikaans) dink?

Maak ‘n hele tema om die jaar mee af te sluit en hou ‘n uitstalling van die jaar se lekkerste gebeure. ‘n Goeie manier om die klas te versier is om foto’s en prente aan ‘n tou vas te knyp en om dit van hoek tot kant bo-oor die leerders te span. Plaas die gebeure in kronologiese volgorde en vra die kinders om kortliks die gebeure te beskryf. Bv. Jana het in Januarie verjaar. Ons het ‘n swembad-partytjie gehou en het lekker gespeel… Ons klas het die meeste geld ingesamel vir die skool se nuwe vlagpaal. Dít was nou ‘n goeie spanpoging!…Maak ‘n punt daarvan om iets oor elke leerder te plaas.

Indien daar muurruimte is, kan ‘n mens ‘n spesiale kleurvolle uitstalling aanbring. Wat van ‘n tema soos “Mooi dinge om te onthou uit my Graad 2-jaar”? Indien ‘n mens die kans het (of ‘n helpende mamma of twee), kan die oulike stories en prente op CD’s geskandeer word en as ‘n afskeidsgeskenk uitgegee word. Indien die CD’s ‘n bietjie duur is, kan ‘n afgerolde boekie gebind word vol herinneringe…met ‘n prettige klasfoto op ‘n kleurvolle voorblad 😉 Wees gerus kreatief en maak die herinneringe ekstra spesiaal.

Kersfees as tema

Lewer kommentaar


Iemand (dankie T!) het vandag vir my gevra oor idees vir ‘n Kersfees-tema.  Ek plaas solank ‘n paar idees hier en sal uitbrei so tussen die punte en rapporte deur 😉

  1. Allkidsnetwork
  2. Inkleurprente
  3. Inkleurwerk
  4. Kunsvlyt
  5. Kinderhelper – verskeie temas
  6. Animal Junior
  7. DLTK verskeie werkvelle en aktiwiteite
  8. abcteach verskeie aktiwiteite
  9. Oulike idees vir geskenksakkies en kaartjies
  10. verskeie
  11. Skryf vir Kersvader…en ander
  12. kunsvlyt
  13. doolhof
  14. naamkaartjies vir geskenke
  15. sneeuvlokkies
  16. nog sneeuvlokkies
  17. kersboomversierings uit herwinde kaartjies
  18. Kabouterprent
  19. Kwaaitjie Kabouter (ou omie)
  20. Blomruiker kabouter
  21. Dawie die Kabouter en nog Dawie prente
  22. Kabouterkoekies
  23. Verskeie kabouters
  24. Kous doolhof
  25. Kersboom
  26. GROOT verskeidenheid prente

Lekker snuffel!

Loer ook hier vir skakels na Bybelverhale.

Tik soekterme soos “Kersfees” en “soutklei” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke skrywes.

amper in die groot skool

14 Kommentaar


skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!

disleksie

22 Kommentaar


disleksieDisleksie dui op ‘n spesifieke lees- en spelprobleem.  Dit word nie meer so genoem nie en kundiges beskryf dit eerder as ‘n “spesifieke lees- en spelprobleem”.  Disleksie word deur baie mense as ‘n gawe beskou omdat dit mense forseer om probleme op unieke wyses op te los. Dink maar aan uiters kreatiewe mense soos Picasso en Walt Disney…wetenskaplikes soos Einstein en Edison…akteurs soos Whoopi Goldberg, Tom Cruise, Robin Williams en Keanu Reeves…sakemense soos Richard Branson…noem maar op!

Kyk na Ron Davis se studies in hierdie verband of loer in jou plaaslike biblioteek vir Ron se boeke.

Indien jy vermoed dat jou eie kleinding of ‘n kleinding in jou klas ‘n vorm van disleksie het, kan jy gerus na die volgende skakels gaan kyk.  Moet egter nie self ‘n diagnose maak nie.  Spreek ‘n kundige soos ‘n opvoedkundige sielkundige.  ‘n Diagnose verg gestandaardiseerde toetse en spesifieke kennis.

Waardevolle skakels:

rdboek

medemens

Lewer kommentaar


engelkind

20 Oktober is Suid-Afrika se eie dag vir ons engelkinders.  Dit is die Nasionale Dag vir die Bewustheid van Down-Sindroom en die tema is “It’s all in the Genes”. Dra ‘n denim en betaal jou “boete” aan die naaste tak van DDSA.

onderwysersdag

1 Kommentaar


teacher day
Maandag, 5 Oktober, is Onderwysersdag. Bederf so ‘n bietjie 😉

Eenvoudige inkleurprente en aktiwiteite

52 Kommentaar


EnkelklankeEk merk op dat daar verskeie soeke na inkleur- en aktiwiteitsboeke is. Hiermee dan so ‘n paar skakels vir die vakansie:

 


Jy sal verskeie werksvelle, kunsvlyt en les-idees kry, wanneer jy tema’s soos “liggaamsdele, die see, weer, lente, somer, winter, herfs, karnivore, wildtuin, troeteldier, plaasdier, vervoer, padveilig, grond, water, moedersdag, vadersdag… tuis idees, olimpiese spele, collage…” of konsepte soos “robotkaart, knip, flits, sigwoord, 
klanke, abc, hersien, syfer, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiing, Engels, vorms, kleur, oefen self…hulpmiddels”   by die bruin soekblokkie aan die regterkant in tik.  Meer hulpmiddels is onder die “Drukbare Bladsye”-hofie gelys. 
Volg die “Mandjie”-hofie vir nog gratis, drukbare hulpmiddels.
 
 
 
 

bazoo

Lewer kommentaar


bazooJuffer het onlangs ‘n oulike tydskrif raak gelees – vir die jongspan.  Gaan kyk gerus…

inklusiewe onderwys

Lewer kommentaar


“Inclusion is the value system which holds that all students are entitled to equitable access to learning, achievement and the pursuit of excellence in all aspects of their education. The practice of inclusion transcends the idea of physical location, and incorporates basic values that promote participation, friendship and interaction.”
Source: B.C. Ministry of Education. Manual of Policies, Procedures, and
Guidelines for Special Education Services

Die Witskrif 6 bevat riglyne vir ‘n inklusiewe onderwyssisteem. In kort beteken dit dat alle leerders toegang tot hoofstroom onderwys moet hê. Die skool behoort toeganklik gemaak te word vir kleingoed met rolstoele, krukke, visuele beperkings, gehoorprobleme, ens.   Hiermee ‘n paar plekke waar jy meer daaroor kan lees.

Skep jou eie prent- en woordblaaie (in enige taal) op Senteacher.

Indien dit moontlik is om die klas (deur middel van ‘n tablet) meer toeganklik te maak vir outjies met spesifieke onderwysbehoeftes, kan jy die volgende probeer:

Screen Shot 2015-07-18 at 8.02.54

Let me talk

Screen Shot 2015-07-18 at 7.56.43

Android

Screen Shot 2015-07-11 at 17.10.46

So much 2 say

Screen Shot 2015-07-10 at 9.42.23

Skryf stories en luister daarna.

Screen Shot 2015-07-10 at 9.40.01

Beplan jou dag

Screen Shot 2015-07-10 at 9.35.02

‘n “Spraak” Toep vir kinders met ernstige spraak uitvalle.

Screen Shot 2015-07-10 at 9.32.36

‘n “Spraak” Toep vir kinders met ernstige spraak uitvalle.

Screen Shot 2015-07-10 at 9.29.10

Rooster, volgorde van aktiwiteite, hoe maak ‘n mens?

taaldinge

9 Kommentaar


Dit is vandag Taaldag…

Lbgbookshelf3

Studentejuffrou het my laat wonder oor watter organisasies vir ons kan help om oulike boeke te kies en te koop.  IBBY SA is een van hulle. Hierdie groep skryf kort resensies van kinderboeke en kan dalk waardevol wees vir ouers én opvoeders.

Vir die outjies wat met Engels sukkel, is daar oulike blogs soos HLTA STAFFROOM. Dit is regtig oulik en propvol interessante idees. Het jy dalk ‘n oulike webwerf teë gekom? Laat weet my gerus.

slaag

3 Kommentaar


duckrowa

Die slaagvereistes het verander in die Wes-Kaap.  Wees asseblief bedag daarop dat die rapport van nou af ‘n bietjie anders gaan wees.  Volgens omsendskrywe 18/2009 gaan die kleingoed nou ‘n bietjie meer skouer aan die wiel moet sit. 

Vind gerus by julle skool uit of dit jou kinders ook sal raak.

woordsomme

10 Kommentaar


Screen Shot 2015-11-22 at 10.26.09.png

This slideshow requires JavaScript.

Begin deur die probleem te lees.

Watter getalle / hoeveelhede kry ons in die som?  Bv. ‘n drie, ‘n tien, ens.

Wat dink jy moet ons doen?

Bymekaar tel / plus / optel…wegneem / aftrek / minus…meer maak…minder maak?

Bespreek die woordeskat in die probleem.

Bv. Jan spaar R2 elke dag.  Hoeveel geld spaar hy in 5 dae?  Wat beteken spaar?

“Teken” die som:

sien prent 1

Pak dan boontjies, knope of ander tellers bo-op elke blokkie:

sien prent 2

Tel die tellers een vir een, m.a.w. 1, 2, 3, 4…9, 10!  Hoeveel rand het Jan gespaar? R10!

Is daar nie ‘n makliker manier om die geld te tel nie?  Kom ons tel weer (sê nou die ewe getalle harder as die onewe getalle): 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10 en ‘n laaste keer:  2, 4, 6, 8, 10!

Aanvanklik moet ‘n mens maar oor en oor werk en stelselmatig vir die outjies wys hoe om dinge makliker te maak.

Gebruik dan ook ‘n volgende / verdere voorbeeld soos hierdie:

Mia bêre elke dag twee lekkers vir die naweek.  Hoeveel lekkers sal sy na vyf dae oorhê?

sien prent 3

Twee en twee en twee en twee en twee.  Daar is vyf dae – dus het Mia vyf twee’s bymekaar gemaak.  As ons in tweë tel (druk op elke prentjie of blokkie soos jy tel) kry ons twee, vier, ses, ag, tien!  Tien lekkers!

Belangrik:

Hou die getalgebied klein.  Graad 1’s werk meestal in die gebied van 1 tot 10 en later tot by 20.  Graad 2’s werk aanvanklik in die gebied van 1 tot 20 en later tot by 34.  Die Graad 3’s werk dan verder – in dekades (tiene) en honderde (tot by 1004).  Maak by die juffrou seker in watter getalgebied jou kleinding moet werk en moet nooit vooruit hardloop nie.  ‘n Motor sukkel as jy van eerste na vyfde rat spring – so sal die kinders ook vas val as die ratte nie deur die regte prosesse gaan nie.

Werk met tellers as wiskunde en woordprobleme ‘n groot probleem is en hou dit altyd byderhand.  Daar moet ook altyd rofwerkpapier wees om prentjies te teken en om rofwerk op te doen.

Probleemtipes:

Hierdie is voorbeelde van woordsomtipes.  Gebruik die basiese strukture om jou eie probleme te skep.

1. Groepering:

Tom verkoop balle in sakkies van 2 elk.  Hy het 7 balle.  Hoeveel sakkies met 2 balle elk kan hy verpak?

Bly daar balle oor?  Hoeveel balle bly oor?

Jana se ma koop ‘n pakkie lekkers.  Daar is 18 lekkers in die pakkie.  Jana kry elke dag 3 lekkers.  Hoeveel dae sal die pakkie lekkers hou?

2. Verdeel / Uitdeel:

Verdeel 15 lekkers tussen 5 maats sodat al die maats ewe veel lekkers kry.

3. Deling wat tot ‘n breuk lei:

Verdeel 12 worsies tussen vier honde sodat elkeen ewe veel kry en sodat daar niks oorbly nie.

4. Nog deling (proporsioneel):

Tim en Jan werk saam.  Tim werk drie ure lank en Jan werk slegs vir ‘n uur.  Hulle kry saam R90.  Hoe gaan hulle nou die geld verdeel?

5. Herhaalde optelling:

Hoeveel wiele het 3 motors?

Hoeveel pote het 5 honde?

Hoeveel wiele het 2 driewiele?

6. Koers:

Mila eet elke dag twee koekies.  Hoeveel koekies eet sy in ‘n week?

Hoeveel dae is daar in ‘n week?

7. Roosters:

Dink hier aan ‘n “grid” of rooster.

Oom Daan plant beet.  Daar is drie rye beet en ses plante in elke ry.  Hoeveel beetplantjies is daar altesaam?

8. Kombinasies:

Ousus pak ‘n tas vir die naweek.  Sy het 4 verskillende toppies en 3 broeke.  Hoeveel verskillende uitrustings kan sy aantrek?

9.  Optelling en Aftrekking:

Saamvoeg

  • Tim het 3 penne. Tom gee vir hom nog 4 penne.  Hoeveel penne het Tim altesaam?
  • Tim het 3 penne.  Hoeveel meer penne het hy nodig om altesaam 7 penne te hê?

Skei

  • Tim het 7 penne.  Hy gee 4 penne vir Tom.  Hoeveel penne het Tim oor?
  • Tim het 7 penne gehad.  Hy gee van die penne vir Tom.  Nou het hy 3 oor.  Hoeveel penne het Tim vir Tom gegee?

Voorbeelde en werksvelle:

Klik op die skakel – ook in die aparte venster.

woordsom vb

  1. Woordsom 1 – 10 optel
  2. Woordsom 1 – 10 optelling
  3. Woordsom 1 – 10 aftrek
  4. Woordsom 1 – 10 aftrekking
  5. Woordsom optelling 1 -20
  6. Woordsom 1 – 20 aftreksom
  7. Woordsom 1 – 20 aftrekking
  8. Woordsom 1 – 20 aftreksom woordsom
  9. Woordsom 10 – 20 optel
  10. Woordsom 10 – 20 aftrek
  11. Verskeie woordsomme pakket
  12. Verskeie somme in groter getalgebiede

Aflaaibare werkkaarte is in die departementele werkboeke beskikbaar.  Kyk gerus ook na die volgende skakels:

Woordsom 1

Woordsom 2

Wenke

Older Entries