Tuis

Potloodgreep

2 Kommentaar


Op die 23ste Januarie vier ander lande Skrifdag.  ‘n Vinnige idee om met die ontwikkeling van ‘n goeie potloodgreep te help, is ‘n vinnige manier om die potlood op te tel…

Plaas die potlood “vertikaal” voor jou op die tafel – met die punt na jou lyf (maag/bors) – asof dit in die vou van ‘n oop boek lê.  Plaas jou skryfhand se vingerpunte teen mekaar en rus die naelpunte op die tafelblad.  Glip die duim aan die een kant en die ander vingers aan die ander kant oor die potlood.  Knyp die potlood tussen die wysvinger en duim vas, lig die agterkant op en oor tot in die webspasie.  Siedaar!  As jy nou die “okay”-teken met jou vingers moet maak, kan jy dit vorm sonder om vingers van die potlood te lig of om die potlood te laat val.  Jou duim maak ‘n perfekte bergpiek na buite.  Krul die middel-, ringvinger en pinkie liggies na jou handpalm en ontspan jou hand wanneer jy skryf.

Hoe lyk die duim as jy jou potlood vas hou?  Maak dit ‘n berg, duik dit in of staan dit stokstyf?

potloodoptel

Tik gerus soekterme soos “potloodgreep, handspier, skrif, skryf, patrone, abc, skryf, lopende skrif…knip, linkshandig” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Skrifdag, 23 Januarie

2 Kommentaar


skrifdag

Vind hiermee ‘n paar skakels in verband met skrif ingesluit.  Tik gerus ook soekterme soos “knip, perseptuele, skrif, skryf, handspier, patroon, patrone, syfers, tuis…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in (of loer na die “Drukbare Bladsye“-hofie) vir meer idees.

  1. Robotkaarte (drukskrif / lopende skrif)
  2. Potloodgreep
  3. Drukskrif Bladsy
  4. Handwriting
  5. Lopende Skrif Bladsy
  6. Cursive Writing
  7. ABC Skryf
  8. Graad 1 Handskrif (riglyne)
  9. Graad 2 Handskrif (riglyne)
  10. Graad 3 Handskrif (riglyne)
  11. Lopende Skrif
  12. Lopende Skrif Kleinletters
  • Maak vandag kleiwurmpies om verskillende klanke, patrone en syfers te vorm.  Ons het kleimatjies in lêersakkies gehou en dan die kleiletters daarop gevorm.
  • Maak soutkleiletters om name te vorm.
  • Druk die outjies se name in groot letters, verf met pofferige verf en trek met die vinger bo-oor die letters.
  • Gebruik flubber soos gewone speelklei.  Druk die week se woorde met koekiedrukkers of lettermagnete daarop en .
  • Tel speelgoed met ‘n tangetjie op.
  • Bou magneetwoorde op die skryfbord – na aanleiding van bekende getalname, lees- en sigwoorde.

 

robotkaarte

4 Kommentaar


jufferrobotkaartRobotkaarte werk soos ‘n verkeerslig.  Jy kan ‘n groen kol by die beginpunt van syfers of letters plaas en ‘n rooi kol by die eindpunt.  Sodoende weet die kleingoed waar om te begin en te eindig.

robotkaarte abc syfers (een simbool per bladsy)

Wat kan jy met hierdie kaarte doen?

  • Gebruik dit as muurkaarte (voorbeelde of herinnering).  Gebruik dit net so of druk op helderkleurige karton.
  • Liaseer dit in lêersakkie.  Skryf daarop met witbord veselpenne.
  • Oefen skrif deur met elke kleur in die krytpakkie daarop te skryf (reënboogskrif).  Verf met effens verdunde voedselkleursel.
  • Skeur en plak fyn stukkies gekleurde papier (bv. uit ‘n tydskrif) daarop.
  • Skryf die letter en oefen die letter op die wit agtergrond.
  • Skryf die syfer en plak soveel soortgelyke prente rondom.  Bv. 6 eiers, 2 skoene.
  • Plak prente wat met die letter begin, op die wit agtergrond.  Versigtig:  Die klinkers moet soos ‘n klinker (a vir appel, e vir emmer, i vir in, o vir op, u in die middel van bus) en nie soos ‘n dubbelklank (aa, ee, oo, uu) klink nie.
  • Hou die kaarte in lêersakkies of lamineer.  Rol klei in lang wurms en vorm die letters of syfers daarmee bo-op die sakkies.
  • Smeer gom binne-in die simbole om sand, sout, poeier, blinkertjies, ens. bo-oor te strooi.
Screen Shot 2015-06-24 at 18.48.29
alfabetvelle
Enkelklanke
Vir soortgelyke idees, tik gerus soekterme soos “abc, skrif, skryf, alfabet, syfer, klanke, fynspier, handspier… tuis idees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in en loer na die “Drukbare Bladsye”-hofie.

abc123

 

drieklank

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Klik op hierdie dokument om oop te maak (en sien ook die drukbare bladsye vir legkaarte):

drieklank sinne 

[meer dubbel-, twee-, drieklanke]

Legkaart

Omkring of skryf byvoorbeeld die oei, eeu, aai of ooi in kleur.

Nog werk.

klanke en patrone

4 Kommentaar


RAAMWERK VIR DIE AANLEER VAN KLANKE IN DIE GRONDSLAGFASE

Dit is nie ‘n moet dat die skryf van klanke noodwendig in dieselfde volgorde aangebied of aangeleer word nie.  ‘n Gids wat uit 1997 dateer gee die volgorde as:  “v, w, m, n, r, h, b, p, a, o, l, k, t, j, u, y, i, d, g, s, f, e, aa, ee, oo, uu, ou, ui, eu, ei.”

Hier volg ‘n moontlike kombinasie van klanke en patrone:

wolfpatroon

Perdjiespring– of wolfpatroon:  

Drukskrif:  v, w en (y as die skool die “skerp y” gebruik) – ook later x en z

hasiehop

Hasie hoppatroon:  

Drukskrif:  m, n, r, l, h, b, p 

apieswaai

Swaaiof “Tarzan”patroon:  

Drukskrif:  u, y, i, j (as die skool die “geronde y” gebruik)

branderpatroon

Brander– of seepatroon:  

Drukskrif:  o, a, e, s, d, g, f, t – en later c en q

Loer ook na Patrone, ABC Skryf, Skrif voorbeelde en die skrif-oefeninge.

potloodgreep

18 Kommentaar


Sukkel jou kind om ‘n potlood reg vas te hou?  Knoop ‘n sagte, handdoekstofrekkie in die vorm van ‘n 8.  Trek die  groter deel losserige oor die gewrig en steek die potlood deur die kleiner ring.  Dít help om die potlood te lig sodat dit meer korrek in die webspasie tussen die wysvinger en duim lê.

Staan die vingers in die lug?  Knoop ‘n oulike kraletjie aan die groter ring – wat die outjie dan onder die pinkie en ringvinger moet vasknyp.  Andersins werk ‘n los kraletjie, muntstuk, klei of wondergom ook goed.

As al die fynspier (handspier) oefeninge nie help nie, sal dit voordelig wees om ‘n konsultasie met ‘n arbeidsterapeut te reël om raakvat idees te kry.

potloodreëls

Skrifdag

4 Kommentaar


23skrifdag2014

Amerika vier op 23 Januarie Nasionale Skrifdag en doen dit nes die Amerikaners kan.  Die groot vraag wat geopper word is of skrif (met die hand) nog relevant is in die moderne en tegnologiese gemeenskap.  Is dit dalk ‘n kunsvorm wat op sy geskuif sal word?  Volgens sommige studies stimuleer skrifoefening juis breinwerking en verbeter dit denkprosesse (kognitiewe werking).  Loer gerus hier na ‘n navorsingstuk oor die vroeë ontwikkeling van skrif.

Nou ja, wat kan ons doen om die konsep – SKRIF – te vier?

  1. Maak voorblaaie vir die skrifboeke:  As jy ‘n gelinieerde bladsy met donker lyne onder ‘n blanko vel inskuif, skyn dit deur.  Laat die kleingoed dan hul name oor en oor skryf, patrone trek of ‘n skrifles afskryf.  Dit werk goed as hulle eers in potlood skryf en bo-oor skryf met ‘n skerp uitdraaikryt (dubbele oefening!).  Verf ‘n lagie voedselkleursel bo-oor (effens verdun as jy verkies) en daar het jy sommer ‘n voorblad en ‘n skrifles in een!
  2. Kennisgewings:  Ouer kinders kan voorbeelde van goeie en netjiese skrif gebruik om plakate vir die Grondslagfasegang te maak.  Slagspreuke en sinne sal ‘n oulike uitstalling van die spesifieke benodigdhede en toelaatbare skryfbehoeftes afrond.
  3. Ligte:  Laat die ouer kinders groot letters op blokke dik karton (gesny uit verpakkingsdose) trek.  Druk dan gate eweredig al op die lyn langs (soos dot-to-dot).  Hang dié skerms oor of onder gloeilampe vir ‘n spesiale effek.
  4. Skrifpaaie:  Verander los letters in unieke paaie en ry daarop met kryte of klein motortjies.  (Sien “drukbares” vir voorbeelde van sulke los letters.)
  5. Kuns:  Gebruik skrif in kunswerke.
  6. Verf die alfabet (in Graad 1-skrif) op die speelgrond se teerblad.  Dui die beginpunte met ‘n groen kol en die eindpunte met ‘n rooi kol aan.  Nou kan die Graad 1’s en 2’s lekker daaroor loop en oefen.  (Sien “robotkaarte” onder die “drukbares” hierbo.)
  7. Skryfhoekie:  Rig ‘n spesiale skryfhoekie in waar verskillende potlode, kryte en papier reg lê vir oefening.  Voeg ook potloodgrepies of kort opdragte by sodat die outjies self hul fynspiere kan stimuleer.
  8. Op ‘n stasie:  Maak verskillende oefeningstasies waar die outjies op verskillende soorte papier en met verskillende kryte kan oefen.  As jy spesifieke verwarrings soos b en d in jou klas kry, kan jy vir elke klank ‘n unieke stasie skep.  Selfs syfers , patrone en vorms kan betrek word.  Stel ‘n egg timer of ‘n ander wekkertjie om na elke 10 of 15 minute te wek – sodat die groepe kan wissel.

Vir nog idees kan jy gerus soekterme soos skryf, skrif, patroon, potloodgreep, fynmotoriek, fynspier, handspier, syfer…by die soekblokkie in tik.  Lekker skryf!

tuis idees in beeld

12 Kommentaar


Tuis idees in beeld

Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help.  Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…

  • Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk.  Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word.  Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
  • Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie.  Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
  • Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël.  (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf).  Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop.  Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
  • Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf.  Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen.  Dan het ons sommer ook in sand geskryf.  Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf.  Ons hou die skrif egter groot.
  • Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak.  ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter.  As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
  • Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi.  Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word.  ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
  • Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat.  Skryf en teken daarin.  Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê.  Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf.  As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
  • Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur.  Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken.  Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning.  Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
  • Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi.  Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed.  Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif.  Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
  • Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk.  As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
  • Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi.  Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk.  ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie.  Kurkproppe en knope werk net so goed.
  • Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene.  Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip.  Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.

Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog.  Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in.  Lekker oefen!

lopende skrif

37 Kommentaar


Hiermee ‘n voorbeeld van lopende skrif se letterformasies.  Lekker oefen!

Sien ook die ABC’s van skryf, patrone, Hand- of vingeroefeninge as deel van ‘n skrifles, stadige skrif en die aspekte van perseptuele ontwikkeling.

CNX se voorbeelde (mag dalk na ‘n ekstra skakel verwys.  Klik daarop.):

  1. Lopende Skrif Spikkelskrif Robotkaarte
  2. Oefeninge: Cursive Lopend VB (meer)
  3. Lopende Letters (Druk op wit, A4-papier:  Gebruik saam met die muurkaarte, soos die robotkaarte of sommer as verspotte bordlysies.)
  4. Legkaarte
  5. a en d
  6. d skrifstukkie
  7. m en n
  8. r, m, n verbindings
  9. e en verbindings
  10. l, k en b
  11. t en f – met hoofletters
  12. i en tmet patroon
  13. f en j woorde
  14. j, g en y
  15. j, g en y met woorde
  16. s – met patroon
  17. h – skrifstukkie
  18. p – met patroon
  19. p en b
  20. o en c
  21. c – skrifstukkie
  22. c en x
  23. x en z
  24. w met woorde
  25. v, w, u
  26. skrifstukkie (rympie)
  27. skrifstukkie (liriek)
  28. verbindings
  29. kleinletters en patrone
  30. Lopende Skrif flitskaarte om na te trek (Afrikaans/Engels) of as voorbeeld

Begin eers aan die einde van Graad 2…

PS:  Lees ook hier oor die waarde en doel van lopende skrif.  Nog ‘n stukkie

Patrone

14 Kommentaar


patronePatrone is ‘n belangrike opwarmingsproses vir skrif en kan gerus daagliks gedoen of geoefen word.

Patrone kan van die kantlyn tot aan die einde van ‘n bladsy gemaak word of in korter stukkies (bv. raak drie keer bo, drie hoppe, ens.). Onthou dat dit ‘n ritmiese aksies is en dat die hoppies daarom ewe wyd en ewe groot moet wees.

wolfpatroon

 Die perdjiespring– of wolfpatroon is een van die eerste patrone wat kleintjies kan maak. Dit is die voorloper vir drukskrifletters soos “w” en “v”. Begin bo en beweeg skuins af na regs, skuins op na regs, ensovoorts. Dit is belangrik om bo en onder aan die lyne te raak en om die tande of spronge ewe wyd te spasieer. Eindig weer bo.

hasiehop

Die hasie hoppatroon is die voorloper vir drukskrifklanke soos “m”, “n” en “r”. Begin bo, beweeg reguit af en op dieselfde lyn op. ‘n Derde of ‘n kwart van die boonste lyn af weg, begin die draai na regs, af en op en oor, af en op en oor. Die hasie “spring” oor die klippies en eindig weer onder (“want ‘n haas kan nie in die lug hang nie”).

apieswaai

Die swaai– of “Tarzan”patroon is die voorloper vir klanke soos “u” en “y”. Begin bo en beweeg of tot so ongeveer ¾ van die spasie en swaai na regs en beweeg reguit op. Beweeg op dieselfde lyn af en draai op dieselfde plek na regs. Herhaal die swaai-aksie en eindig deur die lyn af te beweeg tot teen die lyn (soos ‘n “u”).

 branderpatroon

Die brander– of seepatroon is al ‘n groot stap in die rigting van lopende skrif. Dit word gebruik tydens die aanleer van klanke soos “c”, “o”, “a”, “e”, “s” en “d”. Begin onder en trek die lyn skuins op (teen ‘n hoek van ongeveer 45°) tot net voor die boonste lyn en begin draai. Stop die ronding daar waar die twee-uur op ‘n horlosie se gesig sal wees en keer op dieselfde lyn terug om die “c”-ronding teen die onderste lyn te vorm. Herhaal en stop deur die skuins-op lyn tot teen die boonste lyn te verleng.

 

Oefen die patrone:

  • In gekleurde styselpap op ‘n skinkbord.
  • In gekleurde styselpap op ongedrukte koerantpapier (trek later bv. visstensils daarop af en maak visse).
  • Teken ‘n groot wolf met ‘n oop bek en vra die kind om die wolf se tand in te teken (patron).
  • Teken groot seepatrone op ‘n A3-papier. Teken en knip ‘n seilbootjie uit en heg ‘n skuifspeld aan die mas. Die kind hou dan ‘n magneet onder die papier en skuif die boot in die “skryfaksie” van die patroon van links na regs.
  • Maak verskeie kolletjiepatrone (dot-to-dot) wat die kind kan natrek (rol ‘n klomp af vir later).

 

Handwriting in the Junior Primary Classes, MC Grové en HMAM Hauptfleisch, is ‘n stok-ou boek wat ook die volgende assosiasies gee:

  • Die sig-sag patroon (wolf-) is ‘n groot horlosie wat tik-tok klop.
  • Die hasie kan met ‘n padda vervang word.
  • Die Tarzanpatroon kan die frilletjies onder-aan ‘n dogtertjie se rok wees.
  • As die lopende skrif se “e” en “l” geoefen word, kan dit rook wees wat bo by ‘n trein se skoorsteen uit borrel.

 Lekker oefen!

(patrone)

cnx – apieswaai

Hand- of vingeroefeninge as deel van ‘n skrifles

14 Kommentaar


fynspier

Ek het hier onder vir jou skakels geplaas waar daar “skrifferige” dinge bespreek word. Afhangend van die ouderdomsgroep kan jy ook die volgende doen as alternatiewe of as deel van die skrifles:

  • Oefen skrif op groot ongedrukte koerantpapier – in gekleurde styselpap. Die kinders smeer die papier met ‘n dun lagie stysel en doen die patrone en skryfwerk met ‘n wysvinger. As dit droog is, kan dit teen die muur op geplak word. …of jy kan na aanleiding van jou tema (bv. Die see) groot vorms (bv. visse, seesterre…) op x-straalplate afteken en uitknip.  Die kinders kan dan op dag 2 die vorms op hul droë stysel-oefening aftrek en uitknip! Maak een groot muur collage teen die einde van die week van almal se skrif!
  • Verf met ‘n skoon kwas en water op die bord of plaveisel om die letterformasies te oefen (Gr. 1).
  • Skeur blaaie uit ‘n ou telefoongids en plaas twee voor elke kind. Hy moet dan eers die een hand in die middel sit, terwyl die voorarm plat op die tafel lê. Dan word net die handspiere en vingers gebruik om die papier nader te trek en te frommel in ‘n balletjie. As die balletjie gereed is, mag die outjie vanaf ‘n gegewe punt “doel skiet” na die drom. Doen met beide hande as opwarmingsoefening.
  • Speel kamma klavier in die lug, op die maat langsaan se rug, op die tafel, ens. Gebruik spesifieke opgeruimde musiek om almal gefokus te hou op ‘n ritme – anders is dit nag
  • Druk ‘n groot letter alleen op die bladsy. Sit ‘n magneet onder die papier en ‘n metaalskyfie bo-op. Die kind moet dat die letter “oefen” deur die skyfie rond te skuif met die magneet. Dit help ook met die aandagspan en hand-oog koördinasie.
  • Knip die letters uit gekleurde karton en druk gaatjies reg rondom (mooi gespasieerd). Laat die kind ‘n veter daardeur ryg om die klankie te versier.
Sien ook perseptuele ontwikkeling, abc skryf, my kind skryf stadig…of tik soekterme soos handspier, skrif, skryf en potloodgreep by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
 

ABC’s – skryf

58 Kommentaar


abcskryf

This slideshow requires JavaScript.

Die voorlopers vir formele skrif is gewoonlik in verskeie dele verdeel.  (Dit sluit skribbel in.)  Om ‘n kind gereed te maak vir skrif, word verskeie handspieroefeninge gedoen.  Ure en ure word spandeer aan patrone en die kind maak later patrone in elke prentjie wat geteken word.  Dit is alles belangrik om te “oefen” vir die “groot” skryfproses.

Dinge om te onthou:

  1. begin gewoonlik met ‘n groot, dik kryt of verfkwas en ‘n groot vel papier (koerantpapier werk goed)
  2. dik vetkryte en dik veselpenne (koki’s) kan volg
  3. driehoekige potlode en vetkryte volg – daarom gebruik baie Graad 1-klasse uitdraaikryte (MonAmi)
  4. potlode volg eers baie later
  5. gebruik aanvanklik net kleinletters
  6. hoofletters kan vir name gebruik word

Vorming van letters en patrone:

a, d, g, c, o, q, s begin by ‘n denkbeeldige “twee uur” op die horlosie en die hand beweeg anti-kloksgewys om die letter te vorm.  Moenie die hand lig voordat die hele letter voltooi is nie.  Maak ‘n groen kolletjie waar die letter begin en ‘n rooie waar die skryfaksie (karretjie se roete) moet stop.  Die brandertjie patroon (soos ‘n “c” in lopende skrif) word gewoonlik hier gebruik.

v, w en k se patroon is die wolftand patroon (zig-zag).

h, p, b, m, n, r se patroon is die hasie hop (lyk soos ‘n klomp n’e teen mekaar).

u, y, g se patroon is die Tarzan patroon (lyk soos ‘n klomp u-klanke teen mekaar).

a = om die piering, op en af(ek gebruik ‘n ou CD teen die bord)

b begin bo, b – vir bal:  Los die bal…die bal bons, rol en lê.

d begin in die draai, d – vir draai:  om die piering, op en óp en af

e = Die motor ry reguit en stop by die stopstraat.  Moenie jou hand lig nie, want ‘n motor kan nie vlieg nie.  Draai dan links om die piering en stop.

f = Staan op ‘n duikplank en duik met ‘n boog tot onder in die swembad.  ‘n Voëltjie vlieg van links na regs verby.

g = Om die piering, op en af…en swaai die stert.

h = Los die bal. Die bal hop en gaan lê.

i = Die man staan regop soos ‘n reguit liniaal en sit ‘n hoed op sy kop – ‘n dotjie – nie ‘n donga nie!

j = Lyk soos i, maar glip verby en krul sy stert.

k = In die Kaap:  Twee droë stokkies word opgetel.  Die een lê ons reguit neer en die ander een knak ons met ‘n “k”-geluid sodat dit soos ‘n “v” lyk.  Sit nou die hoekie teen die langbeen.  Reguit af… lig die hand…skuins af, skuins af en op.

l = reguit en lank soos ‘n liniaal

m en n = Die haas hop met ‘n boog (af, hop, hop en af, hop)

o = om en om die piering

p = aaaaf, ôôôp en om

r = af, hop en hang

s = begin by twee uur – sê “ssss” terwyl dit gemaak word – soos ‘n slang

t = ‘n sambreel se steel kan geteken word – af, krul en ‘n voëltjie vlieg verby

u = af, om, op en af

v + w = skuins af, skuins op en stop / skuins af, skuins op, skuins af, skuins op en stop

y (Die Kaap gebruik die geronde een – ‘n kruising tussen “u” en “g”.) = af, om, op en af en krul die stert

Tik gerus soekterme soos “tuis idees, abc, skryf, skrif, klanke, syfers, patrone, potloodgreep, font, perseptuele, knip, robotkaart, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

 

My kind skryf stadig

22 Kommentaar


skryf

Sommige kinders sukkel om netjies, vloeiend en vinnig te skryf.  Dikwels worstel dié outjies daarmee om ‘n potlood reg vas te hou.  Hulle klou as’t ware die potlood en het min beheer oor die skryfaksie.  Wanneer die vingers korrek geplaas word, is daar meer beheer oor die handspiere en dus ook oor skrif.  Só ‘n outjie sy fynspiere is nog onderontwikkeld.  (Kyk gerus na die idees om die fynspiere te ontwikkel onder ‘n vorige inskrywing.)

Soms veroorsaak ‘n stywe, gespanne greep ‘n toestand waar die handspiere nie meer so beweeglik of beheerbaar is nie – carpal tunnel syndrome.

Ek vertel gewoonlik ‘n storie waar die duim en wysvinger die kake van ‘n krokodil is.  Hy het net een kaak bo en een onder – daarom mag net hierdie twee vingers op die potlood rus.  Die res van die hand is soos ‘n skilpad se dop.  ‘n Skilpad kan nie sien waar hy loop as die dop oor sy oë hang nie – daarom lig ons die dop (hand) so ‘n bietjie op.  Die potlood word net bokant die verflagie vas gehou – sodat die skilpad se “nek” met gemak kan beweeg.  Die ringvinger en pinkie word ingekrul en die middelvinger dien as ‘n kussinkie vir die skilpad se moeë nek.  Elke juffrou het ‘n ander storie.  Vind gerus uit watter een jou kind se juffrou verkies.  Indien jou kind sukkel om die vingers op die korrekte plekke te hou, kan ‘n grepie aangeskaf word.  Dis gewoonlik rubberstukkies wat bo-oor die potlood geskuif word met merkies daarop.

Net ‘n laaste gedagte:  Onthou dat die skryfstyl verskil van boek-tot-boek en van skool-tot-skool.  Vra asseblief jou kind se juffrou om die korrekte letterformasies aan jou te verduidelik (die wyse waarop die letters gemaak word), sodat die kind nie verwar word nie…en as jou kleinding steeds met skrif sukkel, sal ‘n besoek aan ‘n arbeidsterapeut van groot waarde wees.  Hulle kyk uit ‘n mediese en kliniese oogpunt na spierbeheer en is regtig waardevol.

‘n paar oepse

As die outjie dalk sukkel met taakvoltooiing kan ‘n mens ook die volgende probeer:

  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet.
  • As hy die doelwit behaal, beloon hom met ‘n stempel of plakker. Na bv. 10 plakkers kan hy ‘n beloning kry.
  • Plaas hom langs ‘n maatjie om hom aan te moedig.
  • Vat so nou en dan aan sy skouer as hy dromerig lyk of skuif hom na ‘n plekkie na aan die opvoederstafel. Soms is juffrou se glimlag of goedkeuring klaar ‘n wenner.
  • Laat die outjie vinnig op staan om vir jou ‘n papier op te tel of water te bring. So ‘n bietjie beweging help.

Oefeninge om die hand- en vingerspiere (fynspiere) te ontwikkel.

Hoe ernstig is die dromerigheid of afleibaarheid?

%d bloggers like this: