Advertisements
Tuiste

Ondersteuning

Lewer kommentaar


Van my leerders benodig alternatiewe hulpmiddels en idees om hul skooldag makliker te maak.  Sommige outjies is tasdefensief en hou nie van sekere teksture nie (bv. etikette in klere, growwe papier, klei), ander hou nie van sekere geluide nie (bv. skril skree geluid van ‘n foutiewe klankstelsel of interkom), ander sukkel om te fokus, party benodig speelgoed om mee te vroetel, party kort bewegingsbreuke, ens.  Wat kan ‘n mens doen om die dag meer suksesvol te maak?

Heelwat kinders gebruik ‘n vroetelspeelding om die hande besig te hou.  Vir die outjies wat nie van sekere teksture hou nie, het ons slym of flubber gemaak en binne-in ‘n geseëlde sakkie* gebêre.  Hulle speel dus met die sakkie – eerder as met die slymerigheid self.  Soms lees die outjies die resep voor en ander kere gooi hulle die droë bestanddele by, maar hoe dit ookal sy…daar is blootstelling.  Die slym of flubber is ‘n snaaksigheid en die outjies geniet dit om die resepte vir die ander maats te maak.  Ons het onlangs ‘n druppel vanieljegeursel, kaneel, skeerroom en haaropknapper liggies of bietjie-vir-bietjie by onderskeie mengsels gevoeg en die outjies het beslis meer aandag aan die mengsels geskenk.  Nie net is die spelery ‘n goeie fynspier aktiwiteit nie, maar hou dit hulle gefokus tydens luistertake.  Elkeen kry ‘n stukkie om mee te speel.

‘n Mens kan natuurlik koekiedrukkers betrek, woorde met lettervorms bou of somme met syfervorms uitlê.  Indien die outjie lang wurms vorm, kan ‘n mens spesifieke letters, vorms, syfers, ens. probeer vorm. 

In plaas van die slym of flubber, kan ‘n mens meel met ‘n tregter in ‘n ballon ingooi en die ballon toeknoop.  Die outjie gebruik dit dan soos ‘n stresballetjie.  Gebruik ook gladde of stekelrige rubberballetjies, ryg krale aan ‘n tou-armband, rubber potloodgrepies of gebruik stukkies mediese/chirurgiese pyp of buise.  Die mediese pyp/buise kan ook om stoel- of tafelpote gebind word om teen te skop of om die voete op te rus – indien theraband nie beskikbaar is nie.

Jelliekrale is baie gewild.  Ons meng soms gelyke dele mielieblom en haaropknapper in ‘n kleinerige, waterdigte sakkie en voeg slegs ‘n paar jelliekrale by.  ‘n Mens kan ook ‘n doolhof buite-op ‘n groot seëlbare sak teken of met stroke maskeerband plak.  Maak dan slym met kleurlose gom en beweeg ‘n jelliekraal binne-in die mengsel en binne-in die sakkie deur die doolhof.

Vir die outjie wat gril vir die tekstuur van sekere boeke se blaaie, gee ons handskoene (met of sonder vingerpunte), ‘n knipbord om die boek mee vas te hou of ons plaas die los bladsye in ‘n lêersakkie.

Vir die outjie wat sensitief is vir harde of skril geluide, hou ons oorbeskerming naby of ons laat hom ver van die interkom af sit.

‘n Hangmat werk goed vir ‘n paar minute se eie tyd en werk soms goed as ‘n binneshuise swaai.  Sommige outjies geniet ‘n hop– of ‘n groot jogabal (om oor te lê, te bons, op en af teen die muur te rol…) en ander wil net vir ‘n paar minute eenkant sit.  Die vollengte spieël kry baie aftrek en een outjie geniet dit om op ‘n balanseerbord te staan terwyl hy gesels.

Hierdie spesiale speeltye word gewoonlik beperk tot ‘n paar minute (2 – 5) wanneer die skoolwerk (of afdelings) klaar is.

Gesels gerus met ‘n arbeidsterapeut om idees nommerpas vir jou klas te beplan.  Watter idees gebruik julle?

*As die sluitaksie lek, vou dit om en seël met duct tape.

 

Advertisements

Skrifdag

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

23 Januarie is Skrifdag in ander wêrelddele, maar kan beslis ook in Suid-Afrika gevier word. Vir die jonger outjies, kan ‘n mens fynspier oefeninge gee:

  1. Bou eenvoudige prente, lyne, vorms, syfers of letters met ‘n pennetjiebord.
  2. Vorm eenvoudige prente met rekkies op ‘n spykerbord.  (Bou byvoorbeeld ‘n huisie uit vorms.)
  3. Versteek klein speelgoed of albasters in ‘n kleibal en vra dat hulle dit uit haal.
  4. Gee ‘n ou knoffelpers om klei wurmpies mee te druk.  Gebruik die wurmpies in prente, syfers of vorms.  Ouer kinders kan patrone, letters of selfs woorde probeer vorm.
  5. Skep die geleentheid om te knip, pennetjies te knyp, met klampies te werk of om skroewe en moere vas te draai.
  6. Gebruik ‘n papierpons (of een wat prentjies pons) om konfetti te pons.
  7. Skryf met gom (naam, letters, syfers…) en strooi blinkertjies of konfetti bo-oor.
  8. Hersien patrone.  ‘n Mens kan dit ook met padverf op die muur of teeroppervlakte verf en daaroor voel.
  9. Fokus op die potloodgreep en wys ook vir die linkshandige outjies hoe om te knip en hoe om potlode vas te hou.
  10. Begin die skrifles met ‘n paar fynspier oefeninge.
  11. Hersien die letterformasies en beginpunte.  Neem kennis van uitvalle en omkerings…
  12. Gee vir die ouer kinders verskillende skrif voorbeelde om te kopieer of sit die voorbeelde op ‘n tafel in die geletterdheidshoek – met interessante potlode en plakkers om die bladsye te versier.
  13. Bind ‘n skrifboek om te lees en te versier.  [skrif oefeninge – drukskrif]
  14. Laat die outjies verskillende woorde in verskillende kleure natrek.
  15. Maak groot kartonletters (hetsy druk- of lopende skrif), sodat die kinders dit kan versier.  Hang dit uit die dak of gebruik dit op die woordmuur.
Tik gerus ook soekterme soos skrif, skryf, drukskrif, lopende skrif, potloodgreep…by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in.

My kind skryf stadig

16 Kommentaar


skryf

Sommige kinders sukkel om netjies, vloeiend en vinnig te skryf.  Dikwels worstel dié outjies daarmee om ‘n potlood reg vas te hou.  Hulle klou as’t ware die potlood en het min beheer oor die skryfaksie.  Wanneer die vingers korrek geplaas word, is daar meer beheer oor die handspiere en dus ook oor skrif.  Só ‘n outjie sy fynspiere is nog onderontwikkeld.  (Kyk gerus na die idees om die fynspiere te ontwikkel onder ‘n vorige inskrywing.)

Soms veroorsaak ‘n stywe, gespanne greep ‘n toestand waar die handspiere nie meer so beweeglik of beheerbaar is nie – carpal tunnel syndrome.

Ek vertel gewoonlik ‘n storie waar die duim en wysvinger die kake van ‘n krokodil is.  Hy het net een kaak bo en een onder – daarom mag net hierdie twee vingers op die potlood rus.  Die res van die hand is soos ‘n skilpad se dop.  ‘n Skilpad kan nie sien waar hy loop as die dop oor sy oë hang nie – daarom lig ons die dop (hand) so ‘n bietjie op.  Die potlood word net bokant die verflagie vas gehou – sodat die skilpad se “nek” met gemak kan beweeg.  Die ringvinger en pinkie word ingekrul en die middelvinger dien as ‘n kussinkie vir die skilpad se moeë nek.  Elke juffrou het ‘n ander storie.  Vind gerus uit watter een jou kind se juffrou verkies.  Indien jou kind sukkel om die vingers op die korrekte plekke te hou, kan ‘n grepie aangeskaf word.  Dis gewoonlik rubberstukkies wat bo-oor die potlood geskuif word met merkies daarop.

Net ‘n laaste gedagte:  Onthou dat die skryfstyl verskil van boek-tot-boek en van skool-tot-skool.  Vra asseblief jou kind se juffrou om die korrekte letterformasies aan jou te verduidelik (die wyse waarop die letters gemaak word), sodat die kind nie verwar word nie…en as jou kleinding steeds met skrif sukkel, sal ‘n besoek aan ‘n arbeidsterapeut van groot waarde wees.  Hulle kyk uit ‘n mediese en kliniese oogpunt na spierbeheer en is regtig waardevol.

‘n paar oepse

As die outjie dalk sukkel met taakvoltooiing kan ‘n mens ook die volgende probeer:

  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet.
  • As hy die doelwit behaal, beloon hom met ‘n stempel of plakker. Na bv. 10 plakkers kan hy ‘n beloning kry.
  • Plaas hom langs ‘n maatjie om hom aan te moedig.
  • Vat so nou en dan aan sy skouer as hy dromerig lyk of skuif hom na ‘n plekkie na aan die opvoederstafel. Soms is juffrou se glimlag of goedkeuring klaar ‘n wenner.
  • Laat die outjie vinnig op staan om vir jou ‘n papier op te tel of water te bring. So ‘n bietjie beweging help.

Oefeninge om die hand- en vingerspiere (fynspiere) te ontwikkel.

Hoe ernstig is die dromerigheid of afleibaarheid?

%d bloggers like this: