Tuis

vervoer

15 Kommentaar


Screen Shot 2015-08-19 at 17.57.40 Adri het gevra oor ‘n paar idees i.v.m. vervoer…As ek aan ‘n les of ‘n tema rakende vervoer dink, wil ek hoofsaaklik op die drie “gebiede” van vervoer dink, naamlik:  Lug-, see- en padvervoer.

Koppel spesifieke kriteria aan elkeen soos spoed, grootte van voertuig, ensovoorts.  Reis jy vir die lekkerte, vir werk, vir plig, vir nood… vir beskerming?  Hoekom is daar iets soos ‘n wiel ontwerp?  Is die vorm van die wiel doeltreffend?  Hoe het voertuie of vervoermiddels ‘n honderd jaar gelede gelyk?  Hoeveel het die voertuie ontwikkel sedertdien?

Lugvervoer:

‘n Mens kan met groot, kommersiële vliegtuie van een stad na ‘n volgende én tussen lande vlieg.  As die Springbokke Wêreldbeker toe gaan, sien jy altyd die span op die lughawe.  Kies hier ‘n spesifieke vliegtuig wat julle dikwels op die naaste lughawe sien.  Afhangende van die ouerderdomsgroep kan ‘n mens woordprobleme opstel oor die hoeveelheid sitplekke wat benodig word vir ‘n netbal-, rugby-, krieketspan, gesin of ‘n skool om oorsee te vlieg vir ‘n toer.  Bv. Daar is * dogters in die netbalgroep, * seuns in die rugbygroep en * onderwysers in die toergroep.  Hoeveel sitplekke moet tannie Susan bespreek vir die toergroep?

‘n Mens kan lekker speel-speel vlieg deur kaartjies te bespreek, uit te ryk, tasse volgens gewig te pak…Dink aan werkvelle waar jy woordprobleme dek soos Die tas mag nie meer as 30kg weeg nie.  Ma se tas weeg 54kg.  Hoeveel kilogram weeg Ma se tas te veel? …  Dit is nou 15:00.  Ons moet om 16:10 op die lughawe wees.  Hoeveel minute het ons oor om daar te kom?  (Hierdie tipe somme sal moontlik met ‘n sterk Graad 2-klas of Graad 3-klas gedoen kan word.)

Buiten groot vliegtuie kry jy ook ligte vliegtuie waarmee ‘n mens kan vlieg. Hulle is baie kleiner, weeg minder, kos minder geld om te onderhou…Hoeveel weeg die een vliegtuig minder as die ander? Hoeveel kos die een minder/meer as die ander? Die Cessna 182 kan * mense vervoer en die Boeing 747 kan * mense vervoer. Hoeveel mense kan die Boeing meer vervoer as die Cessna?  Moenie van die helikopter vergeet nie.  Hoe verskil die helikopter van ‘n vliegtuig?  Hoe vlieg ‘n helikopter sonder vlerke?

Dan kry jy ook vinnige vliegtuie. Hoekom is sekere vliegtuie vinniger as ander? Vegvliegtuie is vinnig om die teenstander te verras. Wat beteken dit om die klankgrens te oorskry? [Vreemde vliegtuig vrae, beginsel van vlieg, styg]

Buiten baie vinnige lugvervoer, is daar ook vreeslike stadige vlieënde tuie.  Dink maar net aan die lugballon.  Dit bestaan uit ‘n reuse ballon wat deur warm lug in die lug gehou word…en jy hang onder die ballon in ‘n mandjie!  In die ou dae was dit ‘n baie gewilde manier van vervoer, maar deesdae is dit ongelukkig ‘n romantiese luuksheid…

Padvervoer:

Hierdie tipe vervoer is meer bekend aan ons.  Dit behels voertuie wat op paaie beweeg soos vragmotors, taxi’s, busse, motors, motorfietse, fietse, ensovoorts.  Kyk na die outjies in die klas en kies dan vervoermiddels wat wydverwyderd tot na aan hul milieu is.  Bv. ‘n groot lang-afstand vragmotor, ‘n gesinsmotor / taxi en ‘n trapfiets.  Hoeveel wiele het elkeen van hierdie vragmotors? Hoeveel verskil die gewigte?  Hoeveel keer tel jy in tweë om die aantal wiele te tel?  Hoeveel wiele het 3 motors?  4 driewiele? 2 fietse?  Hoe beweeg elkeen?  (trap, enjin…met diesel, met petrol, met spierkrag…) Het jy al ooit gehoor hoe klink ‘n Ferrari, ‘n Bugatti, ‘n Rolls Royce of ‘n Porche? Skakel sommer self hierdie motors aan…

padamazon

Verskillende soorte padkleeflint – hoeke, draaie, reguit

Spoorvervoer:

Treine loop nie juis op die pad nie, maar val seker ook onder die afdeling van landvervoer.  Hier kan ‘n mens trokke tel en aspekte soos die spoed van ‘n trem, ‘n gewone trein en die Gautrein meet en bespreek.  As iemand ‘n treinstel het, kan hulle dit skool toe bring vir die uitstalling. In Gauteng kan julle ‘n rit mee maak en in plekke soos Kaappunt of Kimberley kan ‘n mens op die trem ry. Maak sommer ‘n ellelange trein vir die gang – met foto’s van die kinders se gesigte in die ruite.

Seevervoer:

Dink aan luukse skepe, olieskepe, vinnige skibote, seiljagte, kano’s…Sommige bote is so groot dat jy daarin kan slaap!  Ander is so groot dat jy ‘n kamer kan bespreek soos in ‘n hotel.  Sommige is net so groot soos die skepe waarin jy kan vakansie hou, maar word gebruik om goedere van een land na aan ander of tussen stede te verskeep.  Seiljagte gebruik seile om mee te beweeg as die wind waai, maar jy moet jou slag met ‘n spaan ken om ‘n kleiner bootjie – veral ‘n kano – aan die gang te hou. Beweeg bote of skepe net bo-op water?  Nee, duikbote duik en beweeg onder die water…

As jy na die verskillende afdelings kyk, kan jy beslis aan die afsonderlike woordeskat werk soos “verskeep, spaan, vlerk”.  Wend ‘n besliste poging aan om voorbeelde van die onderskeie vervoermiddels in jou omgewing te soek.  Soek ‘n vliegveld of ‘n lughawe, ‘n hawe of voorbeelde van bote, ‘n vragmotor, fietse, ensovoorts.  Julle kan plekke besoek of mense nooi om te kom gesels.  As jy ver van water is, is daar sekerlik ‘n inwoner van die dorp wat al op ‘n skeepsreis was of iemand wat by ‘n toerismeburo gewerk het.  Hou die koerante dop en loer na al die advertensies vir vliegkaartjies en skeepsreise.  Dit kan deel word van jou werskvelle.  Maak jou klas op soos ‘n toerismeburo…

veiligheid 

*Flitswoorde (spikkelskrif)

pad/baan kleeflint

vervoermiddels inkleurprente

Liedjie: Ons ou motorkar

  1. Ons ou motorkar
  2. Trein
  3. So ry die trein

onnies

4 Kommentaar


Uit “Hugs for Teachers”

You’re a banker and an artist,
You’re a sprinter and a florist.
You’re an actor. You’re a juggler.
You’re a queen.

You’re a lawyer. You’re a manager.
You’re a nurse, and you’re a counselor.
You do more by noon
Than most have ever seen.

You’re a driver and a poet.
A politician (don’t you know it!)
You’re a botanist, a strategist,
And a judge.

You’re a mother and a father.
You’re a runner and a tightrope walker.
You’re a soldier fighting
In the war on drugs.
You’re a diplomat and an acrobat.
You’re a farmer. You’re a friend.
You tell stories. You mend fences.
You build dreams.

You’re an instructor and a trainer,
A communicator and demonstrator.
You’re a teacher! You’re incredible!
You’re supreme!

plaasdiere

8 Kommentaar


Screen Shot 2015-07-24 at 17.13.09

Op die plaas is daar baie diere, maar vir die kleinspan moet ‘n mens die getal verminder.  Ek fokus eers net op hoenders, perde, beeste / koeie, varke… ‘n Idee om die tema bekend te stel is om van die diere se geluide te speel sodat die leerders dit moet identifiseer (Wat maak so?).  Die kleintjies kan raai, maar vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n geheime koevert gee.  In Graad 1 is die koevert gevul met prentekaartjies (met die dier se naam daarby), maar in Graad 2 is die koevert gevul met prentekaarte en los klanke.  Die outjies moet in Graad 1 die prent wys en die naam lees, maar in Graad 2 bou hulle self die name en pas dit by die prente.  Die outjies kan in groepies of pare werk vir ‘n bietjie spangees.  Soos hulle die diere reg raai, kan jy die vergrootte prente teen die bord aanbring.  Smile het ‘n oulike legkaartstel (met ‘n kasset of CD vol dieregeluide) gehad.  Ek is seker dat hulle dit steeds verkoop. As jy die diere gaan bespreek, kan jy die onderskeie produkte op die plakkate aanbring of uit stal.

  • Koeie verskaf leer, vleis en melk…
  • Hoenders gee vleis en eiers…
  • Perde is ‘n vervoermiddel en is soms trekdiere weens hul brute krag…
  • Varke gee vleis…

Wat eet die onderskeie diere? Waar woon elkeen? Wat noem ‘n mens die mannetjie, die wyfie en die kleintjie?  Watter aksies voer hulle uit (wei, skrop, kekkel, snork, rol, gallop…)? Vir dialoog- of fantasiespel kan die outjies in groepe verdeel word en maskers gebruik om plaassake te bespreek.

Maak dalk julle eie maskers tydens die kunsles.  Vir varkmaskers kan ‘n mens mediese maskers pienk kleur (flou, rooi voedselkleursel) en ‘n snoet bo-op plak of met drukwerk aanbring.  Jy kan ook ‘n papiermasker maak vir die dialoog gedeelte. Koeie kan met swart kolle versier word en perde kan in bruin vingerverf getooi word. ‘n Skaap kan ‘n lagie wol uit wit watte kry. ‘n Hoender kan ‘n parmantige haan of ‘n sagte hen wees. As jy regte vere kan kry, plak dit bo-op die kop en verf die bel en kam bloedrooi. As jy reeds die maskers gemaak het, kan julle ‘n luisterspeletjie speel deur die onderskeie diere geluide te speel. As die outjie sy dier hoor, moet hy opstaan. Dit kan ‘n lekker uitvangspeletjie word.  Afhangende van die ouderdomsgroep kan die outjies wat opstaan die dieregeluide benoem, bv. runnik, loei, blêr, kekkel…

Vir oulike Engelse diere geluide en gedigte kan jy hier gaan loer. Hulle dek ‘n verskeidenheid diere en gedigte.

Tel die diere of leer om die dierename in Engels te skryf.

As julle ‘n muur collage wil maak met plaasdiere, skep eers die agtergrond. Verf ‘n groot vel papier in twee dele – blou lug en groen gras of selfs koringlande. Bring ‘n skuur aan en rig ‘n windpomp op. As julle tyd het kan die kinders die agtergrond met sponswerk bedruk voordat julle die skuur en die windpomp plak. Maak die diere van papierborde, die hoenders van uitgeknipte handafdrukke of uit papier. Knyp ingekleurde of geverfde diere in wasgoedpennetjies vas sodat dit sommer as bene dien of maak vingerpoppe of handpoppe van papiersakke.

Maak ‘n varkie deur kurkproppe as bene te plak en papier maché bo-oor ‘n ballon te doen. Dit neem lank om droog te word, maar sodra dit hard en droog is, kan jy die varkie verf en versier. Lekker speel en leer!

halveer

21 Kommentaar


 

J en H het onlangs navrae gerig oor die verduideliking van halvering vir ‘n Graad 1-outjie.  Hiermee dan my manier van verduidelik…

Die maklikste manier om halvering te verduidelik is met ‘n paar lekkers (of kamma-lekkers).  Bespreek die term “helfte” – iets word in twee ewe groot stukke verdeelHalveer is net die “doen-woord” en beteken dat jy iets in twee stukke gaan deel.  As ons na somme of getalle kyk, deel jy gewoonlik iets tussen twee mense uit sodat elkeen dieselfde hoeveelheid kry.

Aanvanklik leer die outjies net om ewe getalle te verdeel.  Neem ‘n paar lekkers of tellers en verdeel dit gelykop tussen twee mense.  Volg die speletjie van “een vir jou, een vir my” totdat alles uit gedeel is.  Vra dan vrae soos hoeveel het jy? Hoeveel het ek?  Is dit dieselfde hoeveelheid? Speel met ‘n paar getalle tussen 1 en 10. Verdeel sommer ‘n papier om aan te teken watter getalle verdeel kon word en watter nie.  Alle skole leer nie dieselfde tipe terme vir die outjies aan nie, maar dit sal seker nie te voor op die wa wees om te wys na die ewe getalle en te noem dat hierdie getalle in “ewe veel vir jou en vir my” verdeel kon word nie.  Hulle is EWE getalle en die ander is ONEWE getalle. AS die outjies ‘n “res” moet verdeel, kan die lekkergoed in koekies verander.  Dan verdeel julle dus ‘n onewe getal tussen twee maats (maak sommer ‘n paar stories op) en as een koekie oorbly – deel hulle dit.  As jy 5 verdeel is dit dus 2 en ‘n half (of 2 en ‘n halwe koekie).

Alle wiskunde verduidelikings begin met fisiese of konkrete items, sodat die outjies dit kan skuif en manipuleer (by pak, weg neem, verdeel…).  Later teken hulle prentjies om die konkrete tellers voor te stel en heelwat later werk hulle net met syfers en simbole.  Dit is egter baie voordelig om maar altyd ‘n houer met tellers naby te hê om met die somme te help. Skryf so 3 tot 4 woordprobleme op ‘n bladsy neer en werk dit saam uit…(lees hardop saam in Graad 1)  bv.:

  • Pappa koop 4 stukke droëwors.  Hy verdeel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke kry elkeen?

Pappa: ___ Johan:  ___

  • Mamma koop 6 weense worsies.  Sy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel worsies kry elkeen?

Mamma:  ___ Johan:  ___

  • Pappa koop ‘n pizza.  Daar is 8 skywe.  Hy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke pizza kry elkeen?

Pappa:  ___ Johan: ___

Laat weet gerus watter metodes vir jou werk…

Halveer

Halveer Semi-Konkreet

Halveer 0 – 10

Halveer dekades

Halveer 0 – 50 

Halveer 40 – 100

Verskeie blaaie met verklarende flitskaart.

vheo

Halvering in die groot getalgebiede:

Bv. 64.  Breek die getal op of trek die flardkaarte nader.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onthou dat ewe getalle op 0, 2, 4, 6 en 8 eindig.  ‘n Ewe getal sal gelykop tussen twee mense verdeel kan word en netjies kan halveer.

Bou die getal (4 op 60 en pas teen die regtersy) en trek dit uitmekaar.  Dit is nou 60 en 4.  Wat is die helfte van 4? 2.  Wat is die helfte van 60?  Hoe kan ek maklik tot by 60 tel?  Gebruik groepies of veelvoude van 10.  Daar is 6 groepies.  Wat is die helfte van 6 groepies? 3 groepies.  3 groepies van 10 maak 30.  Ons het dus ‘n 30 en ‘n 2.  Bou dit met die kaarte – 32.

Halvering met ‘n breuk:

Bv. 25.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onewe.  Trek die flardkaarte nader.  Hoe lyk 25?  Dit bestaan uit ‘n 20 en ‘n 5.  Kan ek 5 blokkies kaas gelykop tussen 2 mense verdeel? Amper.  Elkeen kry 2 en dan is daar 1 oor.  Ons kan daardie blokkie presies in die helfte sny, sodat elkeen ‘n halwe een kan kry.

Die helfte van 20…20 bestaan uit twee tiene.  ‘n Tien vir jou en ‘n tien vir my.  Die helfte van 25 is dus 12 en ‘n half (12 1/2).

Sien ook die stukkie oor deling en breuke.

 

boom

Lewer kommentaar


Dit is weer Boomplantweek en indien jy daarvan vergeet het, is ek seker dat jy heelwat kwekerye vandag sal oop vang!  Die Boom van die Jaar is die Pappea Capensis (doppruim) – wat rooi kersie-agtige vrugte dra.  As ek reg lees behoort dit heelwat voëls te lok en sal dit ook skadu bied.

As jy nie van die doppruim hou nie, kan jy ook ‘n ander boom koop. Wat van bome wat iets tot die gemeenskap kan bydra? ‘n Suurlemoenboom vir die kostafels, ‘n moerbeibos vir die sywurmseisoen, roosmarynbosse vir kleur en geur…Kruiebosse lyk nie net mooi nie – dit ruik heerlik en verg dikwels min sorg. Dink aan ‘n kolletjie in die skooltuin of op die rand van die skoolheining waar julle so iets kan plant.  Lekker spit!