Tuis

deling

5 Kommentaar


Iemand het onlangs gevra dat ons ‘n bietjie na deling kyk. Deling is die teenpool van vermenigvuldiging (inversie) soos minus teenoor plus. Waar vermenigvuldiging kyk hoeveel keer jy iets kan optel tot by die antwoord, kyk deling na die hoeveelheid kere waar jy kan aftrek (uit deel).

Daar is verskillende vorme van deling: Verdeling en groepering. Só werk dit:

Verdeling:
Jana en Kira moet ‘n sak vol uitveërs uit deel totdat daar niks oorbly nie. Daar is 12 uitveërs. Verdeel die uitveërs gelykop tussen die twee dogters.
Tel 12 tellers (bv. doppies, knope…) af. Verdeel die “uitveërs” dan fisies volgens “een vir jou, een vir my, een vir jou…” uit. Vra dan: Hoeveel het jy gekry? Hoeveel het ek gekry? Is dit ewe veel? Ja! Elkeen kry 6 uitveërs. Jana kry 6 en Kira kry 6. Is daar ‘n makliker manier om dit te sê? 12 gedeel deur 2 is 6. (Skryf die som)

Verdeel 12 lekkers gelykop tussen 4 kinders. Hoeveel lekkers sal elke kind kry? (Deel dan uit.) Hoeveel lekkers kry elkeen? 12 lekkers gedeel deur 4 kinders is 3. As ek 12 in 4 gelyke dele opdeel is dit 3.

Groeping:
(Maak groepies)
Doen tafeldek-oefeninge…
Daar is 16 wortels. Gee 4 wortels vir elke bord. Hoeveel borde moet jy uit haal? (Oefen eers met herhaalde aftrekking: 16 – 4 – 4 – 4 – 4 = 0…is dieselfde as 16 gedeel deur 4)

Verdeel 12 sjokoladeblokkies gelykop in twee hopies. Hoeveel hopies gaan jy maak?
12 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 = 0…12 gedeel deur 2 = 6

Belangrik:
Toets die som. As 12 gedeel deur 2 = 6, vermenigvuldig jy die twee klein getalle (6 en 2) om die groot getal te kry. Kry jy die regte getal?

Deling met ‘n 1:
As jy 4 lekkers aan 1 mens uitdeel, kry die persoon alles. Dus sal 4 gedeel deur 1 gelyk wees aan 4.

Deling met ‘n nul:
0 word nie verdeel nie. Bv. 0 gedeel deur 1 = 0 (Daar is niks om te verdeel nie.)

😉 As die bogenoemde steeds verwarring skep, kan jy ook die deelsom ‘n bietjie verdraai…Bv. 14 gedeel deur 2:  Hoeveel keer tel jy in 2 om by 14 te kom?

deelsomme-toets-jouself

deelsomme-in-woordvorm

‘n Video verduideliking

langdeling oefen

long division langdeling

langdeling

Tik “woordsom” en “wiskunde huiswerk” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog somme.

spreker

Lewer kommentaar


Renee Lighton gaan weer by verskillende geleenthede optree. Dit is regtig die moeite werd en ‘n inspirasie vir enige mamma of juffrou van Graad R – 3-outjies.

1. Gallagher Estate Baba Indaba (Môre al!)

2. Milnerton (Maandag, 30 Mei)

3. George

Vadersdag

4 Kommentaar


Dis weer eersdaags Vadersdag en ons moet solank begin werk aan geskenkidees…

Plekmatjies: As pagoed graag ‘n koue glasie of verversing geniet, kan ‘n mens klein, ronde pierinkies by ‘n plastiekware-winkel koop en met ‘n sterk gom en kleurryke krale versier. Die gom dien as kleefmiddel, maak die geskenkie waterdig en seël dit vir ‘n skitter effek.

“To do”: Maak ‘n herinneringsbordjie. Trek die raamwerk van ‘n gereedskapstuk op ‘n eenvoudige blokkie hout af. Verf die buitekant / agtergrond met een kleur en die binnekant van die gereedskapstuk met swart bordverf. Skryf dan ‘n boodskap soos “onthou” of “moet doen” in wit bordkryt op die stukkie. Draai ‘n hakie onder en een aan die bokant van die blokkie in, sodat jy dit kan op hang en ‘n boodskap onderaan kan haak. As jy verkies om ‘n wasgoedpennetjie daarop vas te plak, kan die boodskappies in die pennetjie vas geknyp word.

Gewigtige saak: Maak ‘n papiergewiggie uit soutklei en pak ‘n boodskappie daarin uit met spoelklippies of effekleurige (dalk hout) krale. As jy die woord op ‘n voorbeeld pak of op die bord skryf, maak dit die na-apery makliker.  (Soutklei resep hier.)

Emmer skop: Hierdie geskenk is meer persoonlik. Dink aan stringe dinge waarvan pagoed hou en waarvan hy droom. Tik dit netjies en groot uit. Knip in stroke en plak aan die buitekant van ‘n blikkie vas. Versier en vernis dit om as ‘n pennehouertjie te dien.

Gekleurde pennetjies: Verf ‘n klomp gholfpennetjies in verskillende kleure vir die gholfsak.

Boekmerkies:

As die outjies baie klein is, kan jy vir hulle ‘n basiese reghoek uit gekleurde karton laat sny.  Gee bewerige ogies om bo-aan te plak en sny self die diep keep om soos ‘n skuifspeld oor die blaaie te gly.  As julle lus het, kan die outjies self die karton met patroon-, plak- of verfspatwerk versier voor die knippery.  Jy kan hierdie konsep ook op roomysstokkies probeer.

Ouer kinders kan ‘n handgeskrewe sin op ‘n eenkleurige vel papier skryf en saam met ‘n foto van hulself op ‘n boekmerk rangskik.  As jy klein individuele foto’s van die kinders het (soos vir die skoolprofiele benodig word) kan jy dit op ‘n roomkleurige papier afrol.  Gebruik ‘n karteltandskêr om ‘n raampie om elke foto te sny, plak op ‘n kartonvel soortgelyk aan die binnewand van geskenkpapier, versier met ‘n sinnetjie en rond af met ‘n stukkie tou of ‘n leerriempie.

Engels boekmerkies:   ‘n stel.

‘n Boekmerk met ‘n fynmotoriese kinkel:  Vou ‘n pypskoonmaker spiraal en gom aan ‘n breë lint sodat die pypskoonmaker by die boek sal uit hang.

Druk netjies kraaghempies in kleur of met swart ink op gekleurde karton (wat van scrap book papier?!). Sny die eenvoudige buitelyne uit, vou en plak magnete aan die binnekante van die hempspanele. So klou die hemp die boek vas. As Pa die boek klaar gelees het, kan hy die die boekmerk teen ‘n spieël of metaalkas stoor.

ma se dag

6 Kommentaar


Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag).  Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:

  1. Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton.  Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou.  Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
  2. Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:).  Verf die plaatjie wit en wag tot droog.  Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien.  Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood.  As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken.  Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf.  Meng die kleure vooraf soos jy die verkies.  Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
  3. As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
  4. Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het.  Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf.  Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
  5. Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste.  Lief vir mamma….).  Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om).  Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël.  Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
  6. Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies.  Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke.  Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.


  Lekker werskaf!

Lees: motivering en aanmoediging

8 Kommentaar


maakleeslekker

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees.  Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (tik “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in).  Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word.  Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys.  As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.

  • Skryf kort notatjies vir die kosblik.
  • Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
  • Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk.  Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees.  As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
  • Bak en brou saam of besluit op ‘n ete.  Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam.  By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
  • Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op.  Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek.  Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
  • Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte.  Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
  • ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees.  Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
  • Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek.  Ladybird het soms sulke kombinasies Storieman is selfs nou op Storierak beskikbaar.
  • Maak julle eie storiekassette.  Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op.  (Stuur gerus vir my.  Ek luister graag!)
  • Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
  • Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke.  Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.

Sterkte met die res van die kwartaal!

%d bloggers like this: