maakleeslekker

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees.  Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (tik “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in).  Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word.  Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys.  As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.

  • Skryf kort notatjies vir die kosblik.
  • Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
  • Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk.  Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees.  As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
  • Bak en brou saam of besluit op ‘n ete.  Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam.  By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
  • Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op.  Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek.  Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
  • Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte.  Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
  • ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees.  Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
  • Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek.  Ladybird het soms sulke kombinasies Storieman is selfs nou op Storierak beskikbaar.
  • Maak julle eie storiekassette.  Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op.  (Stuur gerus vir my.  Ek luister graag!)
  • Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
  • Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke.  Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.

Sterkte met die res van die kwartaal!