Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.
Tel elke dag: As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het. Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week.
Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies. Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer. Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.
Bespreek die getal: Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos: Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…). Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.) Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!) Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien). Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Kombinasies: Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23. Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).
Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?
Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?
Halveer: Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys nou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is. Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld.
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfer, maaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye. Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
Maak ‘n tandmuissakkie: Sny twee tande uit wit viltlap en werk die kante toe. Los die bokant (kroon) van die tand oop en verbind dié kante met ‘n mooi stukkie lint (soos ‘n handvatsel). As die kinders dit self gaan maak, kan ‘n mens sterk gom gebruik om die nate toe te werk en ‘n gesiggie met swart veselpen (dun koki) te teken. Gebruik beweegbare ogies om dit ekstra oulik te maak. Nou kan die tand op ‘n spesiale plek vir die tandmuis gehang word.
Gebruik wit vetkryt om ‘n stel tande (druk hard) en rooi om die lippe in te kleur. Verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny uit sodra dit droog is of hou die bladsy in die A4-formaat. Hang die monde aan ‘n tou of vislyne op vir ‘n gangversiering.
Maak gipstande deur die onderkant van ‘n 500ml-koeldrankbottel daarmee te vul en te laat stol. Die holtes van die bottel vorm dus ‘n kiestand as dit om gedraai word. As dit droog is, kan ‘n mens dit wit verf en op ‘n dik karton monteer/plak. Die holte in die middel van die tand kan as ‘n bêreplek gebruik word, totdat die tandmuis die tand kom haal.
Teken (of druk) lippe (en miskien ‘n snor) en verf dit rooi. Knip dit uit en plak op ‘n roomys- of sosatiestokkie. Dit kan gebruik word vir oulike, verspotte foto’s.
Maak lipdiertjies: Maak ‘n lipstiffie-afdruk of doen drukwerk met ‘n lipstempel (sny uit ‘n halwe aartappel of uitveër) en voeg die res van die lyfie by.
Tong:
Maak ‘n masker met ‘n opening in die mond vir die tong. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n gleufie in die mond sny en ‘n tong daardeur steek. (Die tong kan uit rooi of pienk vilt gesny word.)
Sny ‘n mond uit die kant van ‘n groot doos. Verf lippe rondom en siedaar! ‘n Teiken vir gooiwerk (gebruik boontjiesakkies).
Tandeborsel: Ouer kinders kan die dae van die week op ewe groot reghoeke skryf en dit in die korrekte volgorde rangskik. Plak die kaartjies soos die hare van ‘n tandeborsel aan die agterkant van die tandeborselraampie. Gebruik ‘n wasgoedpennetjie om die dag aan te dui waarop die outjie sy tande borsel. As mens klein pennetjies (verkrygbaar by kunsvlytwinkels) gebruik, kan jy een vir die oggend- en een vir die aandborsel gebruik. [dae]
Tik gerus ook soekterme soos “higiëne, liggaam, skelet, tandmuis” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Dit is hierdie week Boomplantweek (1 – 7 September) en die boom van die jaar is ‘n waterbessieboom. Dit kan in ‘n groot pot of in die grond geplant word en kan tot ‘n groot skaduboom groei. Soos die naam voorstel, hou die waterbessie van water en groei dit dikwels naby rivierstrome van KwaZulu-Natal tot by Mosambiek.
Watter kunswerke kan ‘n mens maak om bome te vier?
Verf die voorarm en hand bruin en druk dik af op die growwe kant van ‘n vel bruinpapier. Sodra dit droog is kan ‘n mens die buitelyne uitknip om die boomstam en -takke te vorm. Verskaf verskillende skakerings verf sodat elke boom uniek is. Druk groen hande los van mekaar op ‘n aparte vel. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uitknip en met die vingers uitwaarts op die takke rangskik.
Voeg vrugte by deur die pinkiekant van die vuis in die gekose kleur te verf of daarin te doop (bv. rooi vir appels, oranje vir nartjies, appelkose of perskes). Druk dit op ‘n aparte vel of in die oop dele van die blare-bladsy. Sny uit en plak dit bo-op die blaredos. Indien jy groen stukkies oor het, kan ‘n mens blaartjies by die vrugte voeg.
Kurkproppe: Indien jy nie te veel met die hande wil druk nie, kan jy verskillende kurkproppe in verskillende kleure (dikkerige) verf doop en druk. Die boom sal egter reeds geplak/geteken moet wees – aangesien jy nie die propvrugte sal kan skuif nie. As jy verskillende skakerings gebruik, kan dit die rypwordingsproses voor stel (groen tot rooi of groen tot oranje).
Stel die verskillende fases van ‘n boom voor: ‘n winterboom hoef nie blare te hê nie. As julle in ‘n area woon waar sneeu wel op boom val, kan ‘n mens watte pluis en dunnerig op die takke plak. ‘n Ander idees is om ‘n dun lagie gom aan die bokante van die takke te verf. Sprinkel dan self-gemaakte papier confetti of poeier daaroor.
Bak-en-brou:
Maak soetkoekiedeeg aan en gee vir die outjies sirkels, reghoekige en driehoekige vorms. Die reghoek vorm die stam en die sirkel of driehoek kan die takke en boomtoppe vorm. Meng groen, bruin en rooi kleursel (met versiersuiker) in aparte bakkies. die outjies smeer dan die bruin en groen kleursels op die koekies of verf dit al langs die buiterand. Doop ‘n vingerpunt in die rooi versiersuiker en druk vruggies hier en daar. [‘n Mens kan natuurlik die deeg vooraf kleur.]
Gesonde bord: Gee ‘n stomp plastiese mens om ‘n piesang in skyfies te sny (kan heel hou) en verskaf halfmaanvormige vrugte soos nartjie-, lemoen of appelskywe. Siedaar! ‘n Palmboompie.
Eiergereg: Plaas geklitsde eier in muffinpannetjies (of selfs in ‘n gewone pan) en sprinkel groenigheid soos fyn gekapte pietersielie in ‘n boomvormpie daarop.
Kolwyntjies: Kleur klapper groen. Bak bruin kolwyntjies (laat die outjies dalk help met die beslag) en verskaf die versiering. Druk ‘n pretzelstokkie in ‘n malvalekker. Doop dit malvalekker in water, skud en rol in die klapper. Plant jou boompie in die kolwyntjie.
Woorde