Die tweede werkboek vir Kwartale 3 en 4 is beskikbaar. Die boeke is gratis beskikbaar en mag nie verkoop word nie. Indien daar tekorte by skole is, kan ‘n mens dit aflaai en druk. Nie alle graadvlakke het tale of FAL- en EAT-boeke beskikbaar nie. Boeke uit vorige jare is hier beskikbaar. Loer ook hier na punte 15 en 16.
Enkele mense het vir antwoordstelle gevra. Ek is nie van antwoordgidse bewus nie – buiten die 2014 Wiskunde antwoorde nie. Loer gerus onder hierdie lysie (net onder die werkboekprentjie) – na punt 9 🙂
Die KABV-werkboeke is gratis beskikbaar en mag nie verkoop word nie. Die EAT-boeke is laas in 2013 aanlyn gepubliseer. Sien die skakels by punt 15 en 16 onder die voorbeeld in die middel van hierdie skrywe. Ander werkboeke is hier gelys.
Meer GRATIS idees is hier in MyKlaskamer.com beskikbaar. Loer na die inhoudsopgawe aan die regterkant en tik gerus soekterme soos die volgende by die soekblokkie aan die regterkant vir verskeie idees in:
Die Onderwysdepartement het verskeie Grootboeke en Leesboeke in Afrikaans en Engels – 11 tale in totaal – op hul webbladgeplaas. Loer gerus hier na spesifieke voorbeelde. Die dokumente is baie groot. Laai die boeke (dalk verkieslik in ‘n WiFi-area) af om herhaaldelik te lees en om data te spaar.
Nooi die outjies om ‘n laken, kombers en kussings skool toe te bring om ‘n leesfort te bou. Hang kersliggies aan die binnekant of laat ‘n bietjie sonlig (venster) in.
Hou ‘n boekbesprekingskring. Stel riglyne voor soos:
Moenie die res van die boek weggee nie.
Vergelyk iets in die boek met iets in jou lewe, ‘n boek of ‘n toneel in ‘n fliek. “Dit herinner my aan…”
Luister na jou maat.
Jy mag aansluit by ‘n maat of iets aanvullends sê.
Bring ‘n oulike (kort) storie, rympie of leesstuk skool toe. Sit in groepe en maak beurte om vir die maats van jou stukkie te vertel. (“Show and tell”) Steek die stukkies teen ‘n kennisgewingsbord vas sodat maats dit later kan lees of lees dit self voor.
Trek soos ‘n karakater aan en vra ‘n klein donasie die klas se boekrak.
Maak beurte om maats se leeswerk op te neem. Kyk daarna en bespreek goeie tegnieke (vermy die glipse). “Sjoe, jy het goeie aandag aan die leestekens geskenk…Jy lees mooi duidelik…Ek hou daarvan dat jy jou klanke kennis gebruik om daardie moeilike woorde te lees…”
Omskep die positiewe kommentare in “Ek kan…”/”Ek weet hoe” muurprente (bv. Ek kan asem haal by die punt.) of selfs boekmerkies.
As jy ‘n private kommunikasietoep soos SeeSaw gebruik, stuur die leesvideo of -foto’s direk aan die betrokke ouers.
Hou makker leestye met maats uit ‘n ander klas of ‘n ander graadvlak.
Nooi familielede (vrywilligers) om na die leesgroepe te luister of individuele leerders te luister. Skamer outjies kan dalk aanvanklik net na die storie luister.
Vra vir donasies sodat jy leesfoontjies kan laat maak of dalk is daar ‘n ouer wat ‘n skenking sal maak 😉
Tik gerus soekterme soos “Luidlees, lees, boekmerk, sigwoord, flitskaart, stories, leeslys, leesreeks, biblioteek, boeke dag, boeke nag…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke (en meer) idees.
Knyp gerus ‘n paar minute gedurende die skooldag of tuis vir ‘n leestydjie af 😉
Tik gerus soekterme soos “lees, sigwoord, flits, komponente, nuwe leser, leesreeks, leeslys, biblioteek…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir verskillende idees en vorige skrywes.
Iemand het navrae gerig oor beloningskaarte. Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.
Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens. Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉
Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim. (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)
Sommige juffrouens gebruikligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een). Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering(gemerk as Santa’s camera). As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.
Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation. Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring. Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.
Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur. Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies). Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is. Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos? Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie. Sodoende kan maats mekaar help.
Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind. Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie. Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig. Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers. Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.
Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.
Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…
Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders. Tree dus voorkomend op.
Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem. Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik? Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek. Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app). Hoe kan die ouers met jou kommunikeer? Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur? Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom. Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉 Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas. Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem. Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
Weet die ouers waar die kinders gaan aantree? Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar? Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof). As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke. (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom. Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens. ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe? Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui. Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg. Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring. Het julle riglyne vir die klaskamer?
Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra? Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas. Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra. As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het. As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses. Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed? Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd? Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers? Bring die kinders water of gaskoeldrank saam? Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe? Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
Hoe werk uitstappies? Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan? Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak? ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande? Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
Maak verjaarsdaespesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem. Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer. ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop. Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies? Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring? Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was? Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk. As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies. Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees. ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne. Watter opsies issakpasen min moeite?
Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie. Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor? ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal. Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik. Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig. Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op kartonmaak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer. Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhangerof klampies en ‘n draadhanger inspan. Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.
Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe. Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink. Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.
Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan. Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.
Tik soekterme (in geen spesifieke volgorde) soos die volgende by die bruin soekblokkie aan die regterkant in, loer na die “Drukbare Bladsye” of na die skakels wat aan die regterkant gelys is.
hulpmiddels
muurkaart
naamkaart
eerste dag
klanke
abc uitspraak
alfabet
sigwoord
dubbelklank
tweeklank
drieklank
klanksamevloeiings
hersien
meervoud
verkleinwoord
leestekens
flits
oefen self
e klink soos i (be-, ge-, ver-…)
f en v
omkering
b en d
woordeinde (-d/-t)
woordsoort
tydsvorm
lees
komponente
rym
rympies
stories
leesreeks
biblioteek
boeke dag
boeke nag
fondsinsameling
liedjies
e-boek
toeps
apps
inklusiewe onderwys
wiskunde huiswerk
woordsom
geld
breuke
voor en na
meer en minder
Hoe laat is dit? (tyd)
vorms
patroon
patrone
handspier
skrif
skryf
lopende skrif
abc skryf
knip
skryf stadig
potloodgreep
ogies
oog
oogsorg
VMI
visuele
ouditiewe
taal ontwikkeling
woordeskat
Graad R
Graad 1
posisie
middellynkruising
links en regs
spiertonus
tuis idees
tuis oefen
speel-speel
Engels
vraestel
studietegniek
JNA / ANA
CAPS
Daar is heelwat tema’s en ander idees ook beskikbaar. Vra gerus 😉
Koekeloer, kies, klik, koop en druk uit. Ek het vele navrae ontvang. Laat weet gerus indien daar nog onsekerheid is 😉 Kyk na die naam onderaan die produk en tik dit op Teacha se soekspasie in.
Hersien die Engelse sigwoorde deur dit te lees en in sinne te gebruik. Kies ‘n flitskaartgroep en gebruik die woorde saam met die verskillende sigwoorde in beskrywende sinne. Skryf sinne met die kleurwoorde (of selfs hoeveelhede en dae) in die spesifieke kleure. Speel “snap” of ‘n geheuespel indien jy twee stelle van die woorde (flitskaarte) gedruk het. Indien jy die stippelsigwoorde gebruik, kan jy die woorde natrek wat jy reeds gebruik het om sodoende rekord te hou.
Loer in die biblioteek na reekse soos Letterland – ‘n goue oue wat stories en liedjies vir elke letter of klank het. Die storieboeke (ABC, Beyond ABC en Far Beyond ABC) sluit dikwels ‘n liedjie CD in en is ook in skryfbehoefte winkels beskikbaar. Daar is heelwat gratis toeps (apps) vir selfone en tablette beskikbaar – wat aktiwiteite en luisterstories insluit. Indien jy hierdie aspekte wil ondersoek, tik gerus soekterme soos iPad, Android, Leesreeks, e-boek, Engels…Teacha…by die bruin soekblokkie regs bo-aan dié blad in of loer na die lysie skakels onder die “Geletterdheid”-hofie aan die regterkant.
Om die woorde of letters te “bind”, gaan na FORMAT en dan FONT in jou dokument. Klik op ADVANCED. Verstel die SPACING na CONDENSED en skakel die KERNING aan. Verstel die KERNING se getalwaarde soos nodig.
Tik gerus ook soekterme soos “Lopende Skrif, ABC Skryf, Robotkaart, Handspier, Patroon, Syfers” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir skrifwerksvelle. Loer ook na die onderskeie werksvelle op Teacha.
*Nie al hierdie fonts verbind korrek nie, maar met die “insert shapes”-funksie kan jy soliede of stippellyne invoeg soos nodig.
Druk die flitskaarte in hierdie groottes uit of plaas 2 velle op ‘n A4-bladsy. Beskerm dit met breë, deursigtige kleeflint of lamineer.
Gebruik die klanke se muurkaarteas hofie en plak die flitskaarte daaronder. As dit in ‘n lêer (flip file) geplaas word, kan dit as ‘n tipe woordlêer of woordeboek dien.
As daar genoeg muurspasie is, kan die bogenoemde teen die muur geplak word.
As jy twee stelle druk, kan die een heel bly sodat die kleingoed die los flitskaarte bo-op of by hul maats kan pas.
Knip twee stelle uit om speletjies soos “snap” of ‘n “geheuespel” te speel.
Plaas ‘n stelletjie flitskaarte onderstebo langs ‘n hopie sigwoorde. Trek een van elk en maak ‘n sin daarmee.
Plaas ‘n vel in ‘n lêersakkie sodat die outjie dit met ‘n witbord veselpen kan natrek.
Plaas ‘n skoon vel papier bo-op die woorde, sodat dit deurskyn. Nou kan dit ook na getrek word.
Geïllustreerde flitskaarte in rymvorm (gebruik as spellyste of verwysingsbron) is in die Enorme Mengelmoeskardoes Pakket ingesluit. Die outjies kan woorde natrek, flits en pas. Loer ook na die Woordeskatboekies.
Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.
Tel elke dag: As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het. Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week.
Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies. Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer. Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.
Bespreek die getal: Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos: Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…). Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.) Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!) Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien). Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Kombinasies: Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23. Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).
Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?
Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?
Halveer: Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys nou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is. Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld.
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfer, maaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye. Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
R het vir my gevra om idees vir dubbelklanke te plaas. Ek het so ‘n tydjie gelede iets oor die vaslegging van klanke geskryf en gaan daarom slegs ‘n paar ekstra idees gee.
Maak groepe prente-kaartjies wat jy kan inkleur, oortrek en hou. Gebruik byvoorbeeld beet (ee-woorde), ‘n haas (aa-woorde), vuur (uu-woorde) en bome (oo-woorde). As jy die kaartjies permanent wil gebruik, kan jy die bostaande flitswoorde op die kaartjies plak en dit dan lamineer en uitknip. Vertel ‘n storie van die ‘n hasie wat graag beet eet voor hy langs ‘n vuurtjie – in die skadu van ‘n boom – aan die slaap raak. Verdeel die klas in vier groepe – een vir elke klankgroep. Elke groepie lees hul kaartjies en moet die woorde in sinne kan gebruik. Hulle skryf die sinne op ‘n groot vel ongedrukte koerantpapier – sodat die ander maats dit kan lees. Indien die outjies nog nie gereed is vir sinne nie, kan jy ‘n A4-vel papier in 8 groot blokke verdeel. Plaas die onderskeie woorde op aparte dele van die skryfbord of teen verskillende mure op. Die outjies moet dan elkeen 8 woorde kies, ‘n woord per blok skryf en probeer om ‘n gepaste prentjie te teken.
Graad 2- en 3-leerders kan egter al sinne skryf en moet probeer om skitter-sinne te skryf. Graad 2’s kan so 5 of 6 woorde per sin probeer, terwyl Graad 3’s 7 tot 9 woorde kan gebruik.
Die belangrikste deel van sinne is dat hulle daaraan herinner moet word dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin en eindig met ‘n punt. Vra altyd dat die sin eers aan jou gesê moet word, sodat jy die sinsbou en -konstruksie kan korregeer indien nodig. Indien jy genoeg tyd het vir prentjies teken, kan jy vra dat die outjies 3 – 5 sinne skryf en een prentjie daarby teken. Maak selfs ‘n groot prent van elke klankkaart (‘n beet, ‘n haas, vuur en ‘n boom), vra dat die outjies die woorde self op elke prent oorskryf, verf met kleursel (rooipienk, geel, oranje en groen), knip uit en plak in die boeke. Dit is sommer ‘n alles-in-een takie en behoort ‘n lekker leer-hulpmiddel te wees vir die week se speltoets. (“Dink aan die woorde op die bloedrooi beet…”)
Indien jy die flitskaartjies apart van die prente gelamineer het (of oorgetrek het met breë kleeflint), kan jy dit skommel en vir die outjies flits. Jy kan selfs ‘n tweede vel van elke bladsy druk en vra dat die kleingoed die woorde bo-op hul maats pas…of lamineer die groot vel en sny dit in diagonale en krom lyne op sodat die kleingoed die “legkaarte” moet bou. Grawe gerus ook op kleuters.co.za rond vir lyste met klanke – indien jy nog woorde benodig. Onthou om altyd jou apparaat so te maak dat jy dit kan hou en hergebruik… Jy sal dit beslis vir dekades lank kan inspan!
Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik. Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie. Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.
Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm. Hy moet dit dan identifiseer.
Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin. Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind. Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys. Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken. Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot). Vra dat Grootman die klank soek en omkring. Tel die klanke. (Dalk kruip daar nog weg.)
Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf. Maak seker dat hy op die regte plekke begin. Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…). Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie. Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi. Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
Speel “name, vanne, diere, dorpe”. Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
Woordfamilies: Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig). Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os. Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.
Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is: ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik. Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk. Wys dit. Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”. Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”? Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris. Hy kan dan ‘n sin gee. Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groots skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”). Laat hom die s met gom “skryf”. Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand). As dit droog is, kan hy daaroor voel. So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.
Dubbel-, twee- en drieklanke:
Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie. Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer. Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat. Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek. Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat. Ruil die rolle om en maak beurte. Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.
Woorde