Iemand het navrae gerig oor beloningskaarte. Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.
Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens. Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉
Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim. (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)
Sommige juffrouens gebruik ligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een). Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering (gemerk as Santa’s camera). As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.
Daar is rekenaarprogramme en toeps (apps) wat geraasvlakke aandui, bv. Too Noisy, Classcraft, ClassDojo, Too Loud Kids Noise Meter & Timer Free en Bouncy Balls. Chrome het die Zero Noise Classroom aanvulling.
Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation. Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring. Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.
Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur. Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies). Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is. Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos? Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie. Sodoende kan maats mekaar help.
Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind. Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie. Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig. Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers. Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.
Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.
Ek hoop dit kan help 😉
Woorde