Begin deur die probleem te lees.
Watter getalle / hoeveelhede kry ons in die som? Bv. ‘n drie, ‘n tien, ens.
Wat dink jy moet ons doen?
Bymekaar tel / plus / optel…wegneem / aftrek / minus…meer maak…minder maak?
Bespreek die woordeskat in die probleem.
Bv. Jan spaar R2 elke dag. Hoeveel geld spaar hy in 5 dae? Wat beteken spaar?
“Teken” die som:
sien prent 1
Pak dan boontjies, knope of ander tellers bo-op elke blokkie:
sien prent 2
Tel die tellers een vir een, m.a.w. 1, 2, 3, 4…9, 10! Hoeveel rand het Jan gespaar? R10!
Is daar nie ‘n makliker manier om die geld te tel nie? Kom ons tel weer (sê nou die ewe getalle harder as die onewe getalle): 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10 en ‘n laaste keer: 2, 4, 6, 8, 10!
Aanvanklik moet ‘n mens maar oor en oor werk en stelselmatig vir die outjies wys hoe om dinge makliker te maak.
Gebruik dan ook ‘n volgende / verdere voorbeeld soos hierdie:
Mia bêre elke dag twee lekkers vir die naweek. Hoeveel lekkers sal sy na vyf dae oorhê?
sien prent 3
Twee en twee en twee en twee en twee. Daar is vyf dae – dus het Mia vyf twee’s bymekaar gemaak. As ons in tweë tel (druk op elke prentjie of blokkie soos jy tel) kry ons twee, vier, ses, ag, tien! Tien lekkers!
Belangrik:
Hou die getalgebied klein. Graad 1’s werk meestal in die gebied van 1 tot 10 en later tot by 20. Graad 2’s werk aanvanklik in die gebied van 1 tot 20 en later tot by 34. Die Graad 3’s werk dan verder – in dekades (tiene) en honderde (tot by 1004). Maak by die juffrou seker in watter getalgebied jou kleinding moet werk en moet nooit vooruit hardloop nie. ‘n Motor sukkel as jy van eerste na vyfde rat spring – so sal die kinders ook vas val as die ratte nie deur die regte prosesse gaan nie.
Werk met tellers as wiskunde en woordprobleme ‘n groot probleem is en hou dit altyd byderhand. Daar moet ook altyd rofwerkpapier wees om prentjies te teken en om rofwerk op te doen.
Probleemtipes:
Hierdie is voorbeelde van woordsomtipes. Gebruik die basiese strukture om jou eie probleme te skep.
1. Groepering:
Tom verkoop balle in sakkies van 2 elk. Hy het 7 balle. Hoeveel sakkies met 2 balle elk kan hy verpak?
Bly daar balle oor? Hoeveel balle bly oor?
Jana se ma koop ‘n pakkie lekkers. Daar is 18 lekkers in die pakkie. Jana kry elke dag 3 lekkers. Hoeveel dae sal die pakkie lekkers hou?
2. Verdeel / Uitdeel:
Verdeel 15 lekkers tussen 5 maats sodat al die maats ewe veel lekkers kry.
3. Deling wat tot ‘n breuk lei:
Verdeel 12 worsies tussen vier honde sodat elkeen ewe veel kry en sodat daar niks oorbly nie.
4. Nog deling (proporsioneel):
Tim en Jan werk saam. Tim werk drie ure lank en Jan werk slegs vir ‘n uur. Hulle kry saam R90. Hoe gaan hulle nou die geld verdeel?
5. Herhaalde optelling:
Hoeveel wiele het 3 motors?
Hoeveel pote het 5 honde?
Hoeveel wiele het 2 driewiele?
6. Koers:
Mila eet elke dag twee koekies. Hoeveel koekies eet sy in ‘n week?
Hoeveel dae is daar in ‘n week?
7. Roosters:
Dink hier aan ‘n “grid” of rooster.
Oom Daan plant beet. Daar is drie rye beet en ses plante in elke ry. Hoeveel beetplantjies is daar altesaam?
8. Kombinasies:
Ousus pak ‘n tas vir die naweek. Sy het 4 verskillende toppies en 3 broeke. Hoeveel verskillende uitrustings kan sy aantrek?
9. Optelling en Aftrekking:
Saamvoeg
- Tim het 3 penne. Tom gee vir hom nog 4 penne. Hoeveel penne het Tim altesaam?
- Tim het 3 penne. Hoeveel meer penne het hy nodig om altesaam 7 penne te hê?
Skei
- Tim het 7 penne. Hy gee 4 penne vir Tom. Hoeveel penne het Tim oor?
- Tim het 7 penne gehad. Hy gee van die penne vir Tom. Nou het hy 3 oor. Hoeveel penne het Tim vir Tom gegee?
Voorbeelde en werksvelle:
Klik op die skakel – ook in die aparte venster.- Woordsom 1 – 10 optel
- Woordsom 1 – 10 optelling
- Woordsom 1 – 10 aftrek
- Woordsom 1 – 10 aftrekking
- Woordsom optelling 1 -20
- Woordsom 1 – 20 aftreksom
- Woordsom 1 – 20 aftrekking
- Woordsom 1 – 20 aftreksom
- Woordsom 10 – 20 optel
- Woordsom 10 – 20 aftrek
- Verskeie woordsomme pakket
- Verskeie somme in groter getalgebiede
Aflaaibare werkkaarte is in die departementele werkboeke beskikbaar. Kyk gerus ook na die volgende skakels:
Jun 23, 2009 @ 10:15:14
Hallo Juffer!
Baie dankie hiervoor! Dit is vir my ongelooflik om te sien wat die arme kinders nou in Graad 1 leer. Ek het regtig gehoop dat die tafels sal oorstaan tot volgende jaar, maar nou doen my seuntjie reeds die 2x, 5x en 10x tafels.
Dankie vir die woordprobleme. Jou raad gaan handig te pas kom!
Geniet jou dag.
Runel
LikeLike
Jun 23, 2009 @ 21:34:47
Tafels in Graad 1? Sjoe…Ek hoop dit bly darem nog net by die herhaalde optelling (tel in veelvoude)…
Nou sal Ma moet somme maak vir die vakansie 😆 Groete vir jou tweetjies 😉
LikeLike
Okt 05, 2011 @ 11:59:29
Hello Juffer,
Ek is ‘n grondslagfase onderwyseres. Ongelukkig is daar nie werk in die oos kaap nie. Ek het ‘n Graad 5 wiskunde en natuurwetenskap pos gekry… Maar dit gaan maar rof.
Die kinders in die klas dis nie almal op die selfde vlak nie.. sommige kan nie lees of skryf nie, ander kan nie klank, spel of sigwoorde uitken nie.
Kan jy my raad gee asb..
Jen
LikeLike
Okt 10, 2011 @ 16:40:10
Middag, Jen 😉
Dit kan nogal moeilik wees om buite jou opleidingsveld te moet werk. Ek stel voor dat jy begin deur die outjies te wys hoe om geheuekaarte en opsommings te maak vir later se leer. Jy sal seker nie tydens klastyd kan help met lees- en taallesse nie, maar as jy na of voor skool so iets kan doen sal dit wonderlik wees. Kyk gerus na Nokkie Hartman se gidse i.v.m. taal- en spelreëls (skakel regs onder blogroll) en kontak mev. Wena Hartslief (021 975 5316) i.v.m. haar Rondomtalie-leesbegripstake. Jy kan natuurlik ook reekse soos Alles-in-een en Slimkoppe se taal werkboeke aanskaf. Graad 3 tot 5 se gidse behoort outjies wat sukkel te help om hul kennis te verskerp. Intussen kan jy hier soekterme soos abc, klanke, lees, sigwoorde…intik om na gepaste skrywes te kyk. Baie sterkte! 😉
LikeLike
Aug 16, 2014 @ 14:53:40
Ek wil graag ‘n lekker praktiese les as IQMS les aanbied in Wiskunde Graad 2. Kan jy dalk vir my raad gee om op die regte pad te kom.
LikeLike
Des 14, 2014 @ 01:01:08
Gits, ek werk nie met IQMS nie, maar jy sal wiskunde werk hier kry as jy soekterme soos “woordsom, syfer, halveer, verdubbel, afrond, deling, veelvoud, maaltafel, wiskunde, bewerkingsteken, geld…” by die bruin soekblokkie laer af teen die regterkant in tik. 😉 Ek hoop dit kan help.
LikeLike
Feb 06, 2015 @ 08:46:50
Fantastiese blad! Baie dankie!
LikeLike
Feb 06, 2015 @ 15:36:40
😉 Dankie, Mirna.
LikeLike
Mar 11, 2015 @ 14:00:10
Ek wil graag gou hoor, het n bed pote of voete? Ek is nie heeltemal seker nie en wil net seker maak voor ek die verkeerde inligting gee?
Baie oulike blad!!
LikeLike
Mar 13, 2015 @ 14:39:23
Hallo, Tilanie 😉 Ek weet dat ons van meubel pote praat, maar as die tafel ‘n enkele basis of raamwerk het – verwys ons daarna as die voetstuk.
LikeLike