Tuis

Hulpmiddels

Lewer kommentaar


Alle produkte is slegs aanlyn beskikbaar.
Sodra die betaling deur gaan, kan jy die items begin uit druk.
Toets gerus eers met die GRATIS produkte.


Meer GRATIS idees is hier in MyKlaskamer.com beskikbaar. Loer na die inhoudsopgawe aan die regterkant en tik gerus soekterme soos die volgende by die soekblokkie aan die regterkant vir verskeie idees in:

Taal:

  1. abc skryf
  2. klanke
  3. hersien
  4. dubbelklanke
  5. tweeklanke
  6. drieklank
  7. klanksamevloeiings
  8. flitskaart
  9. sigwoorde
  10. sinne en paragrawe
  11. leestekens
  12. woordsoort
  13. lees
  14. leesreeks
  15. leeslys
  16. e-boek
  17. toeps
  18. apps
  19. stories
  20. liedjies
  21. rympies

Wiskunde

  1. syfers
  2. vorms
  3. bewerkingstekens
  4. voor en na
  5. meer en minder
  6. woordsom
  7. halveer
  8. verdubbel
  9. veelvoude
  10. uitdeel
  11. maaltafels
  12. deling
  13. geld
  14. Hoe laat is dit
  15. wiskunde huiswerk
  16. breuke

Ander onderwerpe:

  1. herfs
  2. winter
  3. lente
  4. somer
  5. seisoene
  6. die see
  7. beroepe
  8. grond
  9. water
  10. beskerm
  11. vervoer
  12. padveilig
  13. Paasfees
  14. liggaamsdele
  15. gesonde mond
  16. skelet
  17. higiëne
  18. Olimpiese Spele
  19. rugby
  20. sokker
  21. krieket
  22. atletiek

Huiswerk en Roetine

4 Kommentaar


huiswerk

  • Merk elke vak se boeke met ‘n kleurkol op die rugkant om dit makliker in die tas of kas op te spoor.  Gebruik dieselfde kleure op die skoolrooster.
  • Plak ‘n kalender en rooster teen die muur op.  Merk inhandigings- en toetsdatums in dieselfde kleure as die boeke en steek die besonderhede teen die notabord vas.  Maak nota’s op die rekenaar of selfoon se kalender om datums te onthou.
  • Wys vir die outjie hoe om die tas volgens die rooster in te pak. Smiddae kan hy/sy die boeke daarvolgens uitpak en deurgaan om die huiswerk te voltooi.
  • Sorg dat daar ‘n stil hoekie is om die huiswerk te doen.  Geen gedruis, geen televisie en geen speletjies.  Sagte musiek (sonder lirieke) help wel vir sommige outjies.
  • Stel ‘n wekker (timer op die rekenaar of selfoon) om leer- of huiswerktyd af te baken (15, 20, 30…minute) en neem breuke tussen-in.  Doen ‘n fisieke aktiwiteit (ry fiets, spring op die trampolien, loop om die huis, doen strekke), drink ‘n bietjie water en gaan voort.
  • Let op na die onderwyser se vraagstelling in take of werksvelle, want dit duik dikwels in toetse op.  Bespreek die woordeskat en maak aantekeninge (Bespreek beteken…, Beskryf beteken…).
  • Hou nota’s en opsommings in ‘n lêer.  Dit kan handig te pas kom tydens die eksamen.
  • Hou ‘n eksamenblok, skoon blaaie, verligpenne (highlighters) en plakkerige vlaggies (sticky tags) byderhand.
  • Maak ‘n tydlyn al om die muurrand as julle na iets uit die Geskiedenis kyk.
  • Soek prente, diagramme, sketse, atlasse, boeke, ens. oor die onderwerpe sodat ‘n mens ‘n beter beeld oor bv. die bou van ‘n duif, kaarte, ens. kan kry.  Die internet is propvol inligting.
  • Gaan deur die opsommings en formules.  Kan julle aan ‘n prettige kletsrymliedjie (rap) of ritme dink om die werk te onthou?  Maak ‘n opname en hou dit gereed vir later.
  • Is daar aspekte wat ‘n mens in die motor oppad huistoe kan oefen?  Dink aan spelwoorde, veelvoude, ens.
  • Maak flitskaarte van die woorde (twee stelle):  trek na, speel “Snap” of ‘n geheuespel.
  • Maak “self oefen” legkaarte van woorde, maaltafels, ens.
  • As julle toegang tot tablette het, skep spelwoordspeletjies op forums soos TinyTap.  Die outjie kan die woorde op die rekenaar, Android en/of Apple toestelle hersien.
  • Onderwysers kan toeps (apps) soos SeeSaw of Google Classroom gebruik om ouers op hoogte van sake te hou.  Neem ‘n foto van jou huiswerkbord en plaas eenmalig.  Deel ook dokumente deur Google Classroom.
Tik gerus soekterme soos “huiswerk, vraestel, JNA, hersien, eksamen, leer…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die hofie “Vraestelle, Studietegnieke en Toetse” bo-aan die lysie skakels vir meer riglyne en idees.

September Huiswerk

2 Kommentaar


Screen Shot 2015-09-01 at 14.31.26

September Huiswerk (Drukbaar)

Gebruik die volgende inligting tesame met die kalender:

Augustus Huiswerk

9 Kommentaar


Screen Shot 2015-08-19 at 21.12.08

Augustus Huiswerk

Gebruik jou kennis van veelvoude, maaltafels, klanke, vorms, rym, woordsoorte en kleur.

Julie Huiswerk

2 Kommentaar


Screen Shot 2015-07-20 at 9.00.18

Julie Huiswerk

Hierdie maand hersien ons die Engelse sigwoorde en kombinasies.  Gebruik dit vir Graad 2 en 3 (of vir Graad 1 HL).

sight words 2015

Tik soekterme soos “Engels” by die bruin soekblokkie in en loer ook na die Drukbare Bladsye hier bo.

Junie Huiswerk, Vaslegging of Intervensie

2 Kommentaar


Screen Shot 2015-06-01 at 18.55.02

Junie Huiswerk (drukbaar)

Tik “f en v”, “e klink soos i”, “klanksamevloeiing” of “Vadersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in, om skrywes te kry wat sommige van hierdie huiswerk aktiwiteite sal ondersteun.  Die huiswerk strek vir die volle maand, maar kan gekombineer word soos verkies.

wiskunde huiswerk

18 Kommentaar


Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.

  • Tel elke dag:  As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het.  Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week. :wink:

Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies.  Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer.  Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.

  • Bespreek die getal:  Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos:  Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…).  Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.)  Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!)  Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien).  Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Flardkaarte 1, Flardkaarte 2
  • Kombinasies:  Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23.  Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
  • Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).

Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?

Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?

  • Halveer:  Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys novheou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is.  Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld. :wink:
GPLMS Revision Programme:
Grade 1 GPLMS
Grade_2_booklet
Grade_3_booklet
Grade_4_booklet
Grade_6_booklet
GPLMS Grade 3 Term 1 2014
GPLMS Grade 3 Term 2 2014 GPLMS-Grade-3-Term-2
GPLMS Grade 3 Term 3 2014
GPLMS Grade 3 Term 4 2014
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfermaaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye.  Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
*Konsepte Stories:  

Leer speel-speel

2 Kommentaar


 

Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry.  Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies.  Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie.  Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.

Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer.  Is daar ‘n parkie naby?

  • Probeer gerus die wipplank.  Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
  • Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm.  Laat Poplap daarop loop.  Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans.  Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
  • Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop.  Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
  • Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…

Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.

  • Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak.  Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
  • Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is).  Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal).  Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai!  ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
  • Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
  • Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas.  Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak.  ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.

Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.

  • Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
  • Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het.  Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
  • Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val.  Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
  • Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant.  Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie.  Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
  • Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies.  Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas.  Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies.  Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel.  Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne.  Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken.  Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
  • Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek.  Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs.  ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
  • Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet.  Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies.  Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi.  Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi.  As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel.  ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen.  Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9.  Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken.  Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4).  Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord.  Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉

Bal vang…Begin eers met ander items.

  • Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar.  Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie.  Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm.  Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie.  ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels.  Dit is sag en gryp maklik vas.
  • Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang.  Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref.  Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
  • Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan.  Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak.  Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.

“Skolerige / Akademiese dinge”

Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed.  Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed.  Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek.  As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis.  Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees.  Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker).  Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand.  Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik.  ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel.  As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken.  Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou.  Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by.  Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”.  Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.

Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…

Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan.  Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.

Hou inventaris of sensus.  Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes.  Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense.  Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby.  Drie mensies =  3.  ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit.  Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6.  Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam.  Hoeveel messe is op die tafel?  Hoeveel blompotte is in die son?  Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…

Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).

Lekker speel!

Kom ons hersien die klanke…

32 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

[Dubbel-, twee- en drieklank muurkaarte]

Spel oefeninge

Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik.  Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie.  Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.

Screen Shot 2015-09-01 at 15.57.39Screen Shot 2016-05-30 at 13.31.46

  • Enkelklanke:
    • Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm.  Hy moet dit dan identifiseer.
    • Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin.  Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind.  Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
    • Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys.  Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken.  Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
    • Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
    • Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot).  Vra dat Grootman die klank soek en omkring.  Tel die klanke.  (Dalk kruip daar nog weg.)
    • Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf.  Maak seker dat hy op die regte plekke begin.  Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken  (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…).  Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie.  Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi.  Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
    • Speel “name, vanne, diere, dorpe”.  Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
    • Woordfamilies:  Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig).  Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os.  Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.  
    • Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is:  ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik.  Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk.  Wys dit.  Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”.  Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”?  Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris.  Hy kan dan ‘n sin gee.  Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groot s skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”).  Laat hom die s met gom “skryf”.  Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand).  As dit droog is, kan hy daaroor voel.  So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.

  • Dubbel-, twee- en drieklanke:
    • Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie.  Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
    • Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer.  Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat.  Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
    • Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek.  Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat.  Ruil die rolle om en maak beurte.  Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank”  by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.

Eenvoudige inkleurprente en aktiwiteite

52 Kommentaar


EnkelklankeEk merk op dat daar verskeie soeke na inkleur- en aktiwiteitsboeke is. Hiermee dan so ‘n paar skakels vir die vakansie:

 


Jy sal verskeie werksvelle, kunsvlyt en les-idees kry, wanneer jy tema’s soos “liggaamsdele, die see, weer, lente, somer, winter, herfs, karnivore, wildtuin, troeteldier, plaasdier, vervoer, padveilig, grond, water, moedersdag, vadersdag… tuis idees, olimpiese spele, collage…” of konsepte soos “robotkaart, knip, flits, sigwoord, 
klanke, abc, hersien, syfer, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiing, Engels, vorms, kleur, oefen self…hulpmiddels”   by die bruin soekblokkie aan die regterkant in tik.  Meer hulpmiddels is onder die “Drukbare Bladsye”-hofie gelys. 
Volg die “Mandjie”-hofie vir nog gratis, drukbare hulpmiddels.
 
 
 
 

oefen self

55 Kommentaar


Klik op die skakels onder die prente vir nog voorbeelde.

Ek het onlangs hierdie “stilspeletjie” herontdek.  Dit is eenvoudig om op te stel en is ‘n handige huiswerk hulpmiddel – veral as Ma en Pa gou iets anders moet doen.

Ek maak my raamwerk gewoonlik op MS Powerpoint – bloot omdat ek die prentjies makliker kan manipuleer.  Jy kan natuurlik Word of enige ander program gebruik.  Trek ‘n reghoek en gebruik die “lines“-skakels (onder die AutoShapes-gids) om die lyne te manipuleer.  Jy kan jou skeidslyne verander om elke reghoek uniek te maak.  Sodra jy die bladsy vol uniek rame getrek het, kan jy met die text box funksie somme, klanke, woorde en selfs sinne op die kaartjies tik.  Die doel van die unieke skeidslyne is dat jou kind die twee dele bymekaar kan pas en hom- of haarself kan korregeer.  As die rande nie pas nie, staan die foutjie duidelik uit en moet die kleingoed self die regte antwoord soek.

Druk gerus so ‘n paar stelle, knip die reghoekige kaartjies uit, plak breë deursigtige kleeflint bo-oor en knip die skeidslyn deur.  Siedaar! Jou eie stel opvoedkundige speelkaarte.  Die kleeflint kan voor en agter geplak word om die kaartjies te beskerm en behoort vir ‘n kind of twee te hou.  Jy kan die kaartjies byvoorbeeld in klanke op deel:  ‘n bladsy vir a-woorde, ‘n bladsy vir b-woorde, ens.  As jou kleinding die oe-klankie geleer het, kan jy sommer dieselfde aand ‘n stelletjie maak en vir die res van die week die woorde oefen.  Na ‘n dag of twee kan jou kleinding die speletjie onafhanklik aanpak terwyl jy kos maak of jou aandag moet verdeel.

legkaartraam

Self-correcting puzzles

Legkaarte

Afrikaans / Engels

Skriflegkaarte

*Hou die legkaarte heel en gebruik dit as flitskaarte.

Idees vir die “tuis” klaskamer

2 Kommentaar


Runel het vir my foto’s van haar kinders se huiswerkkamer gestuur. Dit is waar hulle elke dag ‘n spesifieke tydjie inruim om aandag aan die dag se huiswerk te skenk en om saam te leer.  Dit is baie belangrik om ‘n spesifieke hoekie in die huis te kry waar kinders hul huiswerk kan doen.  Maak seker dat die tafel genoeg (verkieslik natuurlike) lig kry en dat daar nie steurnisse soos ‘n televisie is nie.  Ek en Runel het so ‘n bietjie gesels oor al die idees wat ‘n mens vir die klaskamer tuis (huiswerk hoekie) kan gebruik.  Die gedagte is om sakpas apparaat te maak wat jou nie bankrot sal maak nie.

Ek het gewonder of Runel nie gaan moeilikheid kry met al die wondergom teen die mure nie.‘n Mens kan ‘n  slootjiekaart probeer.Ons gebruik gewoonlik ‘n een kleurige karton, waarop plastiek gevou word om rakkies / slootjies te maak.Ek rol die hele rolletjie (boek oortrek plastiek) oop en kram die een breedte vas.Dan vou jy ‘n lus en kram dit op die kante vas.Die proses word herhaal totdat die plastiek óf die karton se lengte op is.Jy kan dalk ‘n ou papboks op sy las oopmaak en oopvou hiervoor.Knip net die flappies af.As jy die kaart klaar het, kan jy ‘n ou hanger aan die bopunt vas maak en die hanger aan ‘n hak, vensterknip of agter die deur ophang.Nou kan jy die flitskaarte in die slootjies sit en skoon hou agter die plastiek.Sodra die Graad eentjie begin sinne bou, kan die sinne binne-in die slootjies gebou en uitgestal word. (Dan kan daar later by pappa gespog word.)

‘n Ander “bewaringsgedagte” is om ‘n rol breë, deursigtige kleeflint (amper soos dié waarmee kartondose geseël word) by die supermark te koop (kos so R5 – R8).Nou hoef jy net die regte lengtes te knip om jou flitskaarte oor te trek.Weereens hou die flitskaarte langer en maak dit makliker skoon.

Al die flitskaarte of woorde kan ‘n ‘n lêer of in ou venstertjiekoeverte gestoor word vir jonger boeties en sussies of om later hersien te word.  (Dan kom daar darem iets positiefs uit die orige koeverte!) ‘n Mens kan altyd later terug gaan na die argief vir ‘n lekker vasvra speletjie.

Runel vertel dat hulle klanke op die muur skryf en dan later mag aflek (gekleurde versiersuiker, suiker of sout werk goed). ‘n Groot stuk plastiek teen die muur kan die lekker lek oefeninge minder moeite te maak. ‘n Mens kan die plastiek net skoonvee met ‘n lappie. Gewone oortrekplastiek of ‘n plastiek tafeldoek (die dunnetjies is in verskillende kleure by die piekniek afdeling van supermarkte verkrygbaar) behoort lig genoeg te wees om op te plak.  Die plastiek kan ook as ‘n skryfbord gebruik word as jy met ‘n witbord veselpen daarop skryf. Vee ekstra lekker skoon met ‘n dettollappie.

Saterdag-oggend was daar ‘n insetsel op Nigella se kookprogram oor koekies bak.Dalk kan ‘n mens klanke uit koekiedeeg rol of sny.Die kinders kan dit dan met gekleurde versiersel versier en later eet. Sny byvoorbeeld ‘n “p” en verf dit pienk of pers, ‘n “r” kan rooi geverf word en “g” geel of groen. Hierdie aktiwiteit integreer sommer die proe-, voel- en sien-aspekte! (…en natuurlik die heerlike reuk van vars gebak…)

Stuur asseblief julle idees.  Dis lekker om te sien hoe kreatief ‘n mens kan wees…

 

Tik gerus soekterme soos “klanke, abc, uitspraak, skryf, skrif, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiing, flits, sigwoord, syfer, vorm, wiskunde huiswerk, hulpmiddels, Teacha…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Nuttige skakels vir huiswerkhulp

4 Kommentaar


huiswerk

Ekstra werk en idees:

1. Kinderwerf

2. Rotsreeks

3. Onnies Online

4. Pret met Afrikaans

5. Wiskunde hulp

6. Nog wiskunde werkvelle

7. Speltake:  Maak jou eie “word search” of “skommeltakie”

8.  Hoe jy kan help

9.  Voorstelle deur die WKOD (Graad R – 6)

10.  Geletterdheid/Taal riglyne (Graad 3)

11.  Wiskunde/Syferkundigheid/Gesyferdheid (Graad 3)

12.  Huiswerk:  Hoe om te help/beplan

13. Verskeie: Teacha

14. Wiskunde Werkboek (Graad 7)

15. Mental Maths/Wiskunde met Telrympies

Kyk asseblief ook onder die lysie skakels aan die regterkant of tik spesifieke soekterme by die bruin soekblokkie in.

%d bloggers like this: