Advertisements
Tuiste

Leer speel-speel

2 Kommentaar


 

Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry.  Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies.  Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie.  Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.

Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer.  Is daar ‘n parkie naby?

  • Probeer gerus die wipplank.  Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
  • Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm.  Laat Poplap daarop loop.  Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans.  Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
  • Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop.  Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
  • Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…

Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.

  • Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak.  Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
  • Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is).  Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal).  Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai!  ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
  • Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
  • Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas.  Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak.  ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.

Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.

  • Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
  • Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het.  Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
  • Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val.  Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
  • Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant.  Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie.  Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
  • Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies.  Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas.  Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies.  Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel.  Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne.  Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken.  Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
  • Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek.  Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs.  ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
  • Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet.  Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies.  Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi.  Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi.  As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel.  ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen.  Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9.  Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken.  Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4).  Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord.  Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉

Bal vang…Begin eers met ander items.

  • Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar.  Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie.  Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm.  Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie.  ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels.  Dit is sag en gryp maklik vas.
  • Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang.  Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref.  Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
  • Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan.  Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak.  Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.

“Skolerige / Akademiese dinge”

Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed.  Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed.  Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek.  As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis.  Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees.  Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker).  Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand.  Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik.  ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel.  As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken.  Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou.  Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by.  Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”.  Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.

Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…

Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan.  Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.

Hou inventaris of sensus.  Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes.  Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense.  Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby.  Drie mensies =  3.  ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit.  Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6.  Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam.  Hoeveel messe is op die tafel?  Hoeveel blompotte is in die son?  Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…

Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).

Lekker speel!

Advertisements

Speelgoed

1 Kommentaar


Jessica het gevra of ek kan help met idees i.v.m.  speelgoed (Graad R-vlak as ek reg kyk).  Wat van die volgende?

speel

Kry gemorspos met speelgoed daarop.  Plak dit teen die muur op.

Perseptueel…

  • Visuele diskriminasie:  Soek al die speelgoed vir dogtertjies en die speelgoed vir seuntjies.  Waarmee sal beide geslagte graag speel.
  • Ouditiewe persepsie:  Watter speelding begin met ‘n m?  Die motor!  Watter speelding begin met ‘n p?  Die pop!
  • Ouditiewe diskriminasie:  As jy speelgoed het wat geluide maak – bespreek die speelgoed en maak die geluide.  Die kind maak sy ogies toe en moet dan na ‘n geluid luister…Watter speelding het so gemaak?  Die beertjie!
  • Visuele geheue:  Pak enige 3 speelgoed op die tafel.  Die kind noem dit op. Bedek of skommel.  Vra die kind om dit reg te pak soos tevore.
  • Patrone:  Pak speelgoed in ‘n ry (bv. pop, beer, motortjie) en vra die outjie om voort te gaan met die patroon (pop, beer, motortjie, pop, beer, motortjie)…

Buitespel…

  • Maak ‘n motortjie by die houtwerktafel.  Kap 4 doppies weerskante van ‘n blokkie hout vas en siedaar.  Dit verg oog-hand koördinasie en toesig.
  • Waterspel – Watter speelgoed dryf en watter speelgoed sink? Vir ‘n sekondêre aktiwiteit, buig en draai die kleingoed self ‘n pap draad in ‘n seepbelblaser (dalk soldeer draad). Dan kan hulle hul blaasvaardighede buite ten toon stel.
  • Fantasiespel…Versier ‘n klimraam of houthuis soos ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Vertel ‘n storie van ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Plaas klere, pruike en maskers in die houthuis of klimraam en laat die kinders oor aan ‘n paar minute van fantasiespel.
  • Sandspel – plaas spesifieke speelgoed in die sandput.  Watter speelgoed kan skep? Watter speelgoed kan torings, kastele of huise bou?

Bespreek dalk…

  • Speelgoed van toeka tot nou…vra die ouers om van hul eie speelgoed te stuur.  Waarvan is die speelgoed gemaak?  Waarvan is jou speelgoed gemaak? Hoe is dit eenders?  Hoe is dit anders?  Besoek ‘n speelgoedmuseum…
  • Hoe werk die speelgoed op jou besprekingstafel? skarniere, wiele…toutjies…
  • Sorteer jou speelgoed – volgens grootte, volgens kleur, volgens die materiaal waarvan die gemaak is (hout, rubber, lap…).  Hoe voel jou speelding?  sag, hard, wollerig, glad…Kan jou speelding ‘n geluid maak of is dit stil?  Waarmee speel ‘n baba? Waarmee speel jy?  Hoe verskil die speelgoed?

Skeppend…

  • Maak ‘n Sponge BOB speelding (soortgelyk aan hierdie outjie)…Laat die kleingoed vooraf (‘n dag vooraf) een bladsy bruin en een bladsy geel verf. Gebruik dalk sponsdrukwerk of maak patrone in die nat verf.  Jy kan natuurlik ‘n gekleurde styselpap mengsel op ‘n skinkbord plaas en die kinders vra om sirkels te teken.  Druk ‘n bladsy liggies bo-op om die patroon af te ets.  Oefen ‘n dag voor die tyd – anders flop jou krit les.
  • ‘n Ou papboks kan nou met skeur en plak werk versier word in ‘n geel deel bo en ‘n bruin deel onder. Verskaf plakbare ogies (materiaalwinkels het verskeie) en rooi gekleurde pypskoonmakers vir die mond. Gebruik toiletrolle vir die arms en bene of dalk kurkproppe.

Middellynkruising

26 Kommentaar


Die outjie sukkel om verby die denkbeeldige middellyn van die liggaam te beweeg of om die denkbeeldige lyn te kruis.

This slideshow requires JavaScript.


Die werk:

Die skryf- of tekenwerk op die een helfte van die bladsy is gewoonlik meer in mekaar gedruk as aan die ander kant. Byvoorbeeld by patrone begin die kind egalig en teen die helfte van die bladsy raak die patroon rukkerig en half “onbeheersd”. Dit hang natuurlik af van die kind se handdominansie. Linkshandige kinders begin egalig en regshandige kinders eindig hul werk meer egalig aan die regterkant van die bladsy. Soms word die bladsy heen en weer geskuif, sodat die skryfarm konstant op een plek bly. Ander outjies kan weer nie teen die kantlyn begin nie en begin so ‘n ent weg skryf.

Dit is ‘n vaardigheid wat ‘n mens eintlik onderskat en is nogal belangrik by lees. Dit help die kind met die lees van ‘n reël van die een na die anderkant van ‘n bladsy.

Wat ‘n mens kan doen om te help:

·Speel follow the leader:

oWys aksies en die kind doen na:

oRaak aan jou tone.

oRaak aan jou tone en kruis jou hande (linkerhand op regtervoet…).

oRaak aan jou knieë .

oRaak oorkruis aan jou knieë.

oRaak aan jou skouers.

oRaak oorkruis aan jou skouers.

Sing liedjies soos “Head, shoulders, knees and toes” terwyl julle dit doen.

Kan julle die liedjies se aksies toe-oë uitvoer?

·Gee opdragte

oGee die bogenoemde opdragte mondelings en vra die kind om dit uit te voer.

oOok opdragte soos:

·Raak met jou neus aan jou voet.

· Raak met jou oor aan jou knie.

NB: Moenie van dom of slim hand praat nie. Gebruik net die terme “links en “regs”.

oPopspeel:

·Wys vir my Teddie se arm, been…

·Wys vir my Spiderman se knie, elmboog…

oAksies:

·Spring op jou regtervoet.

·Gee ‘n tree na links.

·Raak aan jou regterknie.

·Doen die “lui 8” bewegings…

·Sit of staan stil. Tel items aan die linkerkant van die liggaam op met die regterhand en plaas dit aan die regterkant.  (Tel speelgoed, klippe, proppe, ens op…)

Sporte soos swem en tennis help ook baie…maar weereens is ek nie ‘n arbeidsterapeut nie.  Julle kan die oefeninge tuis doen, maar ‘n evaluasie deur ‘n arbeidsterapeut is steeds wenslik indien die klasjuffrou probleempies noem.

Lekker oefen!


posisie in die ruimte

4 Kommentaar


posisieDit is die verhouding van die voorwerp tot die waarnemer (eie liggaam).  Die kind neem voorwerpe waar as agter, voor, bo, onder en aan sy kante. Wanneer ‘n kind probleme ondervind met posisie in die ruimte is sy wêreld verwronge, hy is lomp en huiwering om bewegings uit te voer. Hy vind dit moeilik om die woorde in, uit, op, af, voor, agter, links en regs te verstaan.

So kan ons dié persepsie ontwikkel…Onthou dat ons eers in die laer rat wegtrek (Konkreet) en dan die outjies ontwikkel om die  semi-konkrete en abstrakte “ratte” te probeer.  Dis ‘n geleidelike proses.

Konkreet:

  • Opdragte: staan in die sirkel, op die sirkel, langs die sirkel…gebruik ‘n hoepel of teken ‘n sirkel met bordkryt op sement.
  • Boontjiesakkies: Sit die boontjiesakkie bo-op jou kop/onder jou voet, ens. (Gooi sommer boontjies in ‘n plastieksakkieen knoop toe.)
  • Simon sê: Staan in die blok, langs die kas, ens. Beweeg slegs as “Simon sê”.
  • Opdragte: Sit die voorwerp langs/ op/ in die sirkel.
  • “Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer.
  • “Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp én liggaamsdele. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer – met jou tone!
  • Uitwys: Waar is jou ken / regterhak, ens?
  • Bou ‘n toring: Plaas die blokkie regs voor jou. Sit die uitveër bo-op die blokkie.
  • Opdragte: Sit die bal bo-op, langs die tafel met jou regter-/linkerhand.
  • Sorteer voorwerpe: Blou blokkies* voor, rooi regs en geel links van kind. (*Spuitverf sommer wynproppe of gebruik sapbottelproppe.)
  • Volg rigtings wat fasiliteerder wys met ledemate. (Swaai die arms en bene in rigtings. Kind volg.)

Semi-konkreet:

  • Volg rigting met ledemate wat die pyltjiekaart aandui. (wys groot pyltjiekaart)
  • Skattejag: Gee kaarte met leidrade tot by die “skat”. (Teken byvoorbeeld ‘n stoel met die woord “onder” daarby.  Die volgende raaisel lê dan onder die stoel…op die ou einde wen ons ‘n storietyd of ander lekkertes.)
  • Bou ‘n legkaart van mense, diere, ens. Vra vrae oor posisies van figure, ens. (Waar is die hond?)
  • Bo- en sy-aansig. Sit los voorwerp langs/bo-op, ens. van voorwerp neer. Gebruik ‘n skoendoos en bou ‘n vertrek daarin. Waar gaan ons die pop sit? Sit die tafel langs die stoel. Pak die kussings regs van die bank.
  • Kind geteken op papier. Plaas skyfie/plakker voor/onder/bo-op,ens. v/d kind.
  • Bou ‘n legkaart van ‘n toneel. Vra vrae oor die posisies van figure tot mekaar.
  • Skaakbord. Skuif skuiwer telkens een blokkie in gegewe rigting. Een blokkie links, een blokkie op…
  • Brainyblocks: Bou prentkaart na.
  • Penbord: Pak die geel pennetjie regs van die bloue en die rooi pen bo die gele. Plekke soos die Crazy Store het soms baie goedkoop penborde.

Abstrak:

  • Papier met ± 3 letters. Identifiseer (ID) die posisie van gekleurde letter (bo/voor,ens.). Vra waar die letter staan en die kind antwoord “in die middel, eerste, laaste”…
  • Opdragte: Skryf jou naam regs onder op die bordjie/in die middel, ens.
  • Skryf die alfabetletters volgens opdragte op papier (a – in die middel en onder-aan jou bladsy, ens.).
  • ID posisie van die figure tot mekaar (2D) in ‘n prent. (Kyk sommer in ‘n inkleur- of storieboek vir idees.)
  • Teken voorwerpe in ‘n 9-blok rooster na aanleiding van opdragte. Teken ‘n sirkel in die middelste blok. Teken ‘n ster links van die sirkel. Teken ‘n driehoek bo die ster. Skryf jou naam onder die sirkel. 
  • Teken voorwerpe in verhouding tot bv. ‘n boom op ‘n papier.
  • Omkring die item links van die stoel, bo-op die tafel, ens.
  • Soek ‘n item op die besige prent en omkring. Benoem posisie. (beskryf waar). Gebruik “Where is Waldo?”-tipe boeke.

Waar is die feetjie en die kabouter?

*ruimtelike oriëntasie

Pyltjiekaart A4

Pyltjiekaart A3

ouditiewe tuisprogram

12 Kommentaar


Hiermee ‘n paar gehoor-oefeninge vir ekstra oefening…

ouditiewe

 

  • Oë toe. Ma maak geluide en kinders identifiseer dit. (nies, hoes, lag, maak ‘n ritssluiter oop)
  • Oë toe.  Luister na geluide in die huis en identifiseer of dit ver of naby is.
  • Speelgoeddiere: Leerders maak telkens die geluide van die diere hardop na. (Ma of Pa wys)
  • Kyk na prente van bv. voertuie, diere, ens.  Maak telkens die geluide na.
  • Nonsens-opdragte: Voer realistiese opdragte uit.  Sit stil indien opdrag onrealisities is. (Soos Simple Simon)
  • Voer een opdrag uit. (Maak seker dat boeta luister:  “Maak die deur toe”)
  • Voer meertallige opdragte uit (Gee tot drie opdragte op een slag:  “Maak die deur toe, skink ‘n glas water en neem dit vir Pappa”).
  • Klap ‘n eenvoudige ritme en die kinders volg dit na. (** –, *-*–***)
  • Leer ‘n twee-reël liedjie met die eggo-metode aan.  Bv. ‘n Groetliedjie. (Goeie môre, Jana. Dit is ‘n lekker dag. Goeie môre, Mamma. Dit is ‘n lekker dag…)
  • Noem een woord.  Kinders herhaal die woord.
  • Noem twee of drie woorde.  Kinders herhaal die woorde. (pap, appel, tafel, tone)
  • Absurditeite:  As opdrag uitvoerbaar is, klap die kinders hande.  Indien nie, sit hulle stil.
  • Vrae:  Wat is dieselfde aan ‘n storie- en ‘n inkleurboek?
  • Vrae:  Wat verskil tussen ‘n storie- en ‘n inkleurboek?
  • Konsepvorming:  Wat het ek alles nodig om my tande te borsel / koffie te maak?
  • Konsepvorming:  Waarom kan mense nie vlieg nie? (Lei deur vraagstelling.)
  • Wys ‘n prent van ‘n hond.  Sê “hon” en die kind moet die regte woord sê – i.e. “hond”.
  • Wys ‘n prent van ‘n kat.  Sê “at” en die kind moet die regte woord sê – i.e. “kat”.
  • Sê die eerste reël van ‘n kinderversie bv. “Hompie kedompie” en laat die laaste woord uit.  Die kind voltooi.
  • Sing die eerste reël van ‘n bekende kinderliedjie bv. “Hansie slim” en laat die laaste woord uit.  Die kind voltooi.
  • Samestellings:  Wys prent van ‘n roomys.  Sê “roomy” en die kind moet die regte woord sê – i.e. “roomys”.

Sukkel jy om jong kinders se aandag te kry?

‘n Mens kan ook ‘n alternatiewe speletjie hê waar ‘n mens ‘n fluitjie blaas of ‘n klokkie lui.  Die outjie/groep wat eerste sit, hand opsteek of kyk, kry ‘n bitter klein lekkertjie of ‘n spesiale plakker.  As daar kinders is wat moontlik nooit ‘n lekkertjie sal kry nie, kan ‘n mens hulle in ‘n aparte groep betrek. Gee dan ‘n eenvoudiger aktiwiteit waarvoor jy vergoeding gee, sodat hulle ook die sukses kan smaak. ‘n Mens sal hierdie outjies later by van die ander groepe wil indeel sodat hulle mekaar kan help.  Gee dan ‘n vergoeding vir die groep – al is daar ‘n outjie wat sukkel.  Herhaal, herhaal, herhaal.

Tik gerus ook soekterme soos “aandagafleibaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in, indien jy aandagafleibaarheid vermoed.
*ouditiewe ontwikkeling

Hipotonie of erge lae spiertonus

16 Kommentaar


Baie kinders met ‘n lae spiertonus kompenseer baie goed daarvoor en steek dit goed weg.

*Kenmerke:

·Eet slordig

·Loop op tone

·Laat mylpale – sit, kruip of loop later as ouderdomsgroep

·Die kind kom ooglopend lomp voor en sukkel met aksies soos sit, kruip, loop en hardloop.As baba skuif hierdie outjies eerder op die sitvlak rond.

·Probleme met nekbeheer.

·Kan nie maklik sywaarts of vorentoe rol nie.

·Indraai-tone, knik-knieë, stamp tone gereeld, val oor eie voete, loop op binnerande van voete.

·Tekeninge, letters en syfers word nie voldoende gevorm nie.

·Soms woelig en reaksies is relatief stadig by kinders wat oorkompenseer vir “slapper” spiere.

·Beweeg eerder aanhoudend as om spiere in te span.Die kind konsentreer dus om aanhoudend te beweeg en dit kan sy werkstempo benadeel.As die outjie ophou beweeg, is die spiere geneig om te verslap en sak hy inmekaar.Sy rug vertoon skeef en die ruggraat toon ‘n sywaartse kromming.Die inspanning om regop te bly, verg baie energie en dié outjies raak gou moeg en gefrustreerd.

·Sit kierts regop of heeltemal slap.

·Bang vir vreemde en onbekende aktiwiteite (bv. fietsry).

·Hiperaktiwiteit, konsentrasieprobleme, swak geheue en ‘n stadige werkstempo is kenmerke.Hulle word ook dikwels verkeerdelik as hiperaktief of kriewelrig bestempel.

·Hansford noem dat kinders met ‘n lae spiertonus ook dikwels gespanne is in die skool, speletjies en tydens sportdeelname.

Oefeninge:

  1. Sit op voorste punt van ‘n kussing of lae bankie vir ‘n beter ewewig.
  2. Staan op knieë by ‘n lae tafel wanneer speel of inkleur.Dit help met balans en die arms en hande is vry om te beweeg (inkleur, blokkies bou, pop speel).
  3. Wanneer die outjie lees, moet die gesig parallel met die boek wees en die neus is ongeveer in die middel van die bladsy.Die kop en boek is ± 20 – 30 cm uitmekaar.
  4. Sit-sit-so:heupe, knieë en enkels is almal in hoeke van 90° geknak en die voete is gemaklik op die vloer.Die lyfie lyk dus soos blokkies of trappies.
  5. Hierdie outjie moet kort-kort ‘n afleiding hê (soos kleispel) om te ontspan.
  6. Balanseer ‘n opgerolde sokkie (paar) op die kop en probeer daarmee loop.
  7. Neem ‘n tennisbal (of opgefrommelde stuk koerant), tel dit met die knieë op en spring soos ‘n kangaroo.Spring stadig, lang spronge of sywaarts.
  8. Loop op stelte.Gebruik klein, leë koffieblikke en ‘n ou tou.
  9. Skop ‘n bal na ‘n teiken (in ‘n ou doos in) na aanleiding van opdragte (soos Simon Says).
  10. Trek ‘n tou en die kind moet dit probeer raak trap.Eers met een voet en dan die ander.
  11. Balanseer ‘n boontjiesakkie of ‘n sakkie vol sand bo-oor die enkel en kyk hoe hoog die been/voet gelig kan word.
  12. Pak hoepels, buitebande of springtoue (in ringe) in ‘n kring, vierkant, ry, perdeskoen, ens. Spring dan met beide voete in aangeduide rigtings of volgens opdrag (blou hoepel, groen hoepel of nommer 1, nommer 3, nommer 2…)
  13. Wipplankry

* Hierdie inligting is slegs idees.  Die raad van en evaluasie deur ‘n Arbeidsterapeut is steeds nommer een as dit by spiertonus kom.

 

Vaardighede om te ontwikkel met die oog op Graad 1

14 Kommentaar


GROOT SKOOL

Hierdie vaardighede is belangrik in die gereedmaking vir die GROOT SKOOL.  Dis ook dinge waarna die Graad 1-juffrou spesifiek kyk tydens die eerste paar weke van die jaar.  Veral mamma’s van Graad R-kinders kan hierdie doelwitte in gedagte hou vir die einde van die jaar.  Vra gerus vir Juffrou vir ‘n paar oefeninge om die vaardighede te verbeter.

OUDITIEWE ONTWIKKELING
• Kan geluide herken (wat raas so? watter geluid maak die koei? )
• Kan tussen geluide onderskei (Is dit ‘n motor of ‘n lorrie wat so dreun? )
• Kan ooreenkomste herken (Sannie sê sy sal…al die woorde begin met ‘n “s”)
• Kan instruksies uitvoer (Tel op jou sak, hang dit op en was jou hande.)
• Ouditiewe geheue (onthou wat gehoor is – bv. telefoonnommer)
• Kan rympies en stories memoriseer (Oorvertel)

VISUELE ONTWIKKELING
• Kan verskille raaksien (Soek die verskille tussen twee eenderse prente)
• Kan ooreenkomste raaksien
• Kan legkaarte voltooi (bou sommer baie! 24, 50, 80, 100 stukke)
• Kan kleure identifiseer (swart, wit, bruin, primêr en sekondêr)
• Kan vorms herken (sirkel, vierkante, reghoek, driehoek)
• Visuele geheue: Kan eie naam herken
• Herken ander se name
• Herken logo’s, handelsname en advertensies (Checkers, Dettol, Edgars, Kellogs)

GROOT EN KLEINSPIERVAARDIGHEDE
• Kan groot voorwerpe hanteer – gooi van bal
• Voet-oog koördinasie – skop van bal
• Hand-oog koördinasie
• Ritme en beweging (aksies)
• Kan ‘n verfkwas hanteer
• Kan kryte hanteer
• Kan prente teken
• Kan prente voltooi
• Kan ‘n skêr hanteer (Knip)
• Kan ‘n potlood hanteer
• Kan kolletjies volg (dot-to-dot)
• Kan ‘n eenvoudige prentjie inkleur

GELETTERDHEID
• Kan sy/haar eie naam sê
• Kan sy/haar naam skryf (eerste letter is ‘n hoofletter en die res is kleinletters)
• Gebruik voldoende woordeskat (geen “babataal” meer nie)
• Gebruik logiese woordorde
• Kommunikeer vrylik
• Ken woorde van liedjies en rympies
• Vertel stories
• Kan prente interpreteer
• Kan liggaamstaal interpreteer
• Kan liggaamsdele benoem
• Links na regs oogbeweging
• Praat duidelik
• Kan uitdrukking gee aan opinies en idees
• Kommunikeer in volsinne
• Kan boeke, tydskrifte hanteer

SYFERKUNDIGHEID
• Kan rympietel 1 – 10
• Herken syfers 1 – 5
• Konsepte: tyd (vandag, gister), grootte, lengte, massa, kapasiteit, geld, posisie (voor, agter, eerste)

LEWENSVAARDIGHEDE
• Ken ouderdom
• Ken telefoonnommer
• Ken adres
• Kan saamwerk met ‘n maat
• Kan onafhanklik werk
• Goeie aandagspan
• Kan probleme oplos
• Leierskap
• Selfvertroue
• Respekteer ander

Older Entries

%d bloggers like this: