Tuis

Kersfees

Lewer kommentaar


Kersfees is om die draai en is ‘n opwindende tema.  Wat kan ons in die klas doen om vir Kersfees voor te berei?

  1. ‘n Boekmerk (hang verskeie aan die boom om uit te deel) en ‘n boodskap (rol op, bind ‘n lint om die rol en plaas dit by elke bord).  Jesaja 9 vers 5
  2. Noordpoolkoeverte A5
  3. Gloeilamp-sneeuborrels:  Vra ou gloeilampies of koop ‘n paar.  Indien jy deursigtige kersborrels kan kry, gebruik dit eerder.  Wikkel die skroefkoppie los en breek die filament met ‘n knyptangetjie uit (voorafwerk – met ‘n lappie of ‘n handskoen).  Sny ‘n leë toiletrolletjie in ringetjies om ‘n rusplek vir die gloeilamp te vorm.
    • Vul nou die binnekant met blinkertjies (goud of silwer) of Engelse sout en skroef toe.  Knoop ‘n toutjie om die skroefdeel en hang aan die boom.
    • Werk bo-op ‘n ou handdoek of sagte oppervlak.  Kies een tot drie kleure vetkryt om skerp te maak.  Glip een kleur se was in en verhit met ‘n haardroër sodat die was smelt en rond gly.  Wag totdat die was afkoel en voeg ‘n ander kleur by.  Seël en hang aan die boom of hang verskeie lampies tussen die kersliggies op.
    • Druk die buitelyne van ‘n ster, sneeuvlokkie, ens. op papier.  Plaas die vel papier in ‘n lêersakkie of plaas plastiek bo-oor.  Trek die vorm na met houtlym (‘n botteltjie met ‘n nou/dun punt) en sprinkel blinkertjies bo-oor die nat gom.  Wanneer dit droog is, kan ‘n mens die gom versigtig oplig en met ‘n knyptangetjie binne-in die gloeilampie laat sak – blinkertjies teen die glas.  Spuit ‘n bietjie haarsproei binne-in die lampie om die vormpie aanvanklik te laat heg.  Gebruik alternatiewelik blinkertjiegom.
    • Teken ‘n sneeuvlokkie of skryf ‘n naam buite-op die gloeilamp, trek na met gom en sprinkel poeier bo-oor.
    • Giet of drup naellak binne-in die lampie en beweeg of rol dit rond om die binnekant te dek.  ‘n Blinkerige naellak sal mooi in kerslig skitter.
    • Pons gate uit foelie, spuit spuitbare gom of haarsproei binne-in die gloeilamp, swaai of skud rond en gebruik ‘n knyptangetjie om die foelie confetti binne-in te laat sak.
    • Spuit gom of haarsproei binne-in die gloeilamp en giet blinkertjies met behulp van ‘n tregter binne-in die gloeilamp.  Seël en skud om die blinkers te versprei.
    • Pluis wit watte in ‘n pofferige wolkie.  Plaas dit binne-in die gloeilamp en sprinkel silwer blinkertjies by.  Skud ‘n bietjie om die blinkertjies te versprei.
    • Iemand het vir my ‘n paar groot blinkertjieplakkers gegee.  Ons het dit in stroke gesny en deur ‘n papierversnipperaar gestuur.  Daarna het die outjies ‘n asteriks (*) gevorm en die dele so geplak.  Dit is binne-in die sneeuborrel geplaas en verseël.
    • Kies ‘n kleur en sny die papier in ongeveer 10cm breë stroke.  Stuur dit deur die papierversnipperaar en vul die sneeuborrel daarmee…of plak dit buite-om.
    • As jy ‘n gloeilamp gebruik, kan jy ‘n bietjie olie (kookolie) binne-in giet, skud en uit gooi.  As jy confetti uit ou snesiepapier (vir geskenkpakkies) pons, sal dit aan die olie kleef en glasig of deursigtig word.  Dit lyk soos gebrandskilderde glas in sonlig.
    • As die sneeuborrel in twee helftes oop maak:  Teken ‘n sneeumangesiggie op ‘n styrofoambal en plak hom onder-in die sneeuborrel vas.  Seël of heg die dele met kleurlose naellak.
  4. Versiering:
    • Smeer of bedek ‘n styrofoambal met houtlym of muurpapier-gom en besprinkel met blinkertjies.  Vou bloemistedraad in ‘n lus en steek dit in die versiering.  Rus op ‘n plastiekbotteltjie of ‘n toiletrolringetjie tot droog.
    • Pons gate uit foelie en plak die confetti buite-om die styrofoambal – blink kant bo.
    • Rol of draai gerygde blinkers (sequence) om die styrofoambal en gebruik die punte om ‘n lus te maak.  Hang die versiering daaraan op.
    • Warm gom:  Trek die buitelyne van ‘n sneeuvlokkie op ‘n stuk plastiek.  Gaan dan oor die lyne met ‘n gom geweer en verseker dat jy stadig werk om die lyne dikkerig te trek.  Druk ‘n toutjie (lussie) in een van die punte en drup nog ‘n bietjie gom bo-op.  Sodra dit afkoel, kan ‘n mens die agterkant met water of olie besprinkel om dit teen ‘n ruit te laat vasplak.  Sprinkel ook blinkertjies op die warm gom vir meer sprankel.
    • ‘n Vinnige Kersboom: Sny ‘n basiese boom uit donker papier en vou dit twee of drie keer in die lengte. Laat die outjie gate pons en skuif die voue elke nou en dan. Plak die boom bo-op ‘n kleurvolle agtergrond. Indien dit ‘n ou vel snesiepapier (soos gebruik word in geskenkpakkies) is, plak dit teen ‘n ruit of hang dit voor kersliggies.
    • Probeer ook die bogenoemde met tinfoelie as die agtergrond.  Steek/prik dan gate versigtig deur om ‘n sterrehemel te vorm.  Gebruik ‘n skuifspeld of ‘n tandestokkie – met spons, groot stukke foamalite of oase onder die vel.  Die lig behoort die kolle soos liggies te laat skyn.
    • Gemmerbroodmannetjies:
      Druk prente op bruin, natuurlike karton. Maak ‘n pasta met 1E sout, 1E meel en bietjies-bietjies water. Verf die versierings en plaas in die mikrogolfoond vir 30 sekondes. Vir verskillende kleure, kan jy voedselkleursel én water inmeng.
  5. Wassertjies, krale en moere:  Plaas ‘n versameling wassertjies en krale op die tafel.  Buig ‘n skuifspeld in ‘n s-vorm oop en haak aan ‘n gespande toutjie of draad.
    • Verf die krale of wassertjies met gom en besprinkel met blinkertjies.  Haak dit aan die skuifspeld om droog te word.
    • Verf die krale of wassers met blinkerige naellak en laat droog word.
    • Knoop ‘n lint deur die wasser of kraal om as individuele kersversierings te gebruik of hang meer as een aan die lint.
    • Probeer ook stortgordynhake in plaas van linte.  Ryg dan meer as een wasser per haak.
  6. Sneeuflessies:  Gebruik klein flessies (soos Purityflessies of kleiner).  Rasper wit styrofoam (indien jy nie die los korrels kan kry nie).  Verf krale of sade met blinkerige verf.  Plak dít of iets feesteliks aan die binnekant van die dekseltjie (selfs ‘n Legomannetjie).  Vul ‘n kwart tot ‘n derde van die fles met styrofoamkorrels en die res met water.  Los ‘n lugleegte of ‘n effense gaping.  Skroef styf vas en rus die fles op die deksel.  Die mannetjie behoort dan regop te staan.
  7. “Garland”/stringe:
    • Engelse vlaggies:  Merry Christmas
    • Sny leë toiletrolletjies in ringe.  Verf in feestelike kleure.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit plat en teenmekaar rangskik.  Heg met sterk gom.
    • Gebruik ‘n harde buis of plastiek pyp.  Knoop heelwat pypskoonmakers individueel om die buis, knip die orige lengtes af en glip af.  Heg die ringetjies deur dit met die afvalstukkies vas te draai.
    • Maak springmielies.  Ryg dit met ‘n dik borduurnaald en -gare.
    • Sny watte in klein pluisies en ryg met ‘n dik borduurnaald en -gare.
    • Soek bruinpapier met ‘n wit, goue of silwer keersy en sny dit in small stroke.  Voer dit lengte gewys in ‘n papierversnipperaar en stop sowat twee sentimeter van die borand.  Vou die borand oor ‘n toutjie en kram of plak vas.
    • Indien jy nie die bogenoemde papier in ‘n winkel kry nie, gebruik gewone bruinpapier.  Doop ‘n ou tandeborsel in dikkerige wit, silwer of goue verf en spat die verf bo-oor die papier.  Hou die tandeborsel sowat 30 cm bokant die papier.
    • Vou papierdoilies in die helfte.  Skuif inkleurprente met die Kersverhaal tussen die lae in en trek na – aan beide kante.  Kleur die prente in en hang of plak die doilies bo-oor ‘n toutjie.  Indien die buitelyne met swart veselpen getrek word, kan ‘n mens die prente met uitdraaikryte (druk hard) inkleur en dan met flouerige voedselkleursel verf.
    • Steek die Kersverhaalprente bo-op foelie en dan op styrofoam of oase vas.  Gebruik ‘n speld om  al op die lyne langs te pons.  Meet en pas die foelie en prente om buite-om ‘n flessie of glasie te pas.  Plak dit vas en plaas ‘n teeliggie binne-in.
  8. Takkies:  
    • Doop takkies in muurpapiergom of houtlym.  Besprinkel met blinkertjies en laat droog word.  Bind ‘n toutjie of ‘n draadjie aan ‘n punt en hang aan die boom.
    • Spuitverf takkies met silwer of goue spuitverf.
  9. Kaartjies:
    • Teken “holly” blare en verf dit groen.  Meng kersierooi of wynrooi pastadikte verf.  Verskaf kurkproppe, doop dit in die verf en druk dit soos kersies waar die blare ontmoet op ‘n kaartjie.
  10. Kinderbederf:
    • Rasper wit badseep met ‘n fyn rasper en vul klein flessies daarmee.  Teken ‘n sneeuman-gesiggie met ‘n veselpen aan die buitekant, plak ‘n oranje driehoek neusie en gee dit vir elkeen in die klas.
    • In plaas van seep, kan jy die flessie met wit malvalekkers of Jellie Tots vul.  Verf die deksel.
  11. Peuselhappie (Doen-dit-self):
    • Doop soutvrye, geknoopte pretzels halflyf in gesmelte kooksjokolade (melk of donker) en haak aan ‘n skuifspeld oor ‘n bakkie om af te koel en te stol.
    • Sneeumanne:  Pas ‘n malvalekker in die middel van en bo-op ‘n koekie (soos ‘n Oreo).  Verhit in die mikrogolfoond (10 sekondes op ‘n slag) totdat die malvalekker oppof en begin smelt.
    • Rol blaardeeg uit.  Druk sirkels met glasies uit. Gebruik ‘n stomp tande- of sosatiestokkie om ‘n sneeumangesiggie te pons.  Spuit ‘n bietjie Spray and Cook op ‘n bakplaat of smeer botter.  Smeer met ‘n bietjie melk oor die deeg en bak tot goudbruin.  Doen dieselfde met kort worsrolletjies.
  12. Hempies:
    • Gebruik wit frokkies of t-hempies en trek dit oor ‘n stuk karton.
      • Sneeuman:  Maak dotjies of kolletjies met ‘n swart veselpen en dan met ‘n lapverfspuitbotteltjie.  Trek ‘n driehoekie neus met oranje verf.  In plaas van die botteltjie, kan ‘n mens die agterkant van ‘n potlood of oorstokkies in die verf doop en druk.
      • Kersboom:  Trek ‘n groot driehoek met groen verf en verf die hele driehoek.  Daarna kan ‘n mens helder kleure kolle al om en oor die boom druk.
    • Belangrik:  Laat die t-hemp bo-op die karton droog word om vlekke te voorkom.  Dop om en stryk aan die binnekant en/of plaas die hempie in ‘n tuimeldroeër.

IMG_20151215_153255IMG_20151213_100031_edit

Screen Shot 2015-12-14 at 9.03.52
Tik gerus soekterme soos “Kersfees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

winter

8 Kommentaar


winter

  1. Sambreel en reën:  Sny ‘n papierbord in die helfte en “oefen” dan die apieswaai- of hasie hoppatrone bokant of langs die reguitlyn.  Knip al op die lyn om die kartelrand te maak.  Verf of versier die sambreel met spatwerk.  Gebruik verskillende helder kleure en kyk hoe dit in mekaar vloei.  Só kan die kleingoed ook sien hoe kleure meng (bv. rooi en geel maak oranje…).  Kantel die agtergrondbladsy teen ‘n hoek (bv. ‘n ou hefboomlêer met plastiek oor) en drup pastadikverf of effens verdunde, blou voedselkleursel daarop.  Dit behoort oulike reëndruppels te vorm.  As die verf effens opdam by die onderkant van die papier, vorm dit sommer waterplasse.  Maak dan ‘n oulike mensie wat ‘n sambreel in die reën vashou – om bo-op die agtergrond te plak.
  2. Vir ‘n sneeu-agtergrond, kan ‘n mens ‘n dikker papier of karton gebruik.  Kantel die bladsy teen ‘n helling en drup dan kerswas of wit vetkryt daarop.  Maak seker dat alle veiligheidsmaatreëls goed verduidelik is.  As wit papier gebruik word, kan ‘n mens flou, blou voedselkleursel bo-oor verf.
  3. Drukwerk met dennetakkies:  Druk ‘n dennetakkie in houtlym en druk op ‘n vel papier om sneeuvlokkies te vorm.  Sprinkel fyn, silwer blinkertjies oor die gom en laat droog word…of gebruik wit verf.  Hou dit as ‘n agtergrondbladsy…
  4. Versier ‘n goedkoop wolmussie met ‘n monstergesiggie.  Knip driehoeke uit wit lap (vir die tande), kies ‘n ekstra groot knoop vir ‘n oog en werk een ekstra groot kruissteek uit vir die ander oog.  Afhangende van die outjie se ouderdom, kan die kleingoed gehelp word om self die stekies te maak en om die driehoeke uit te knip.
  5. Sneeu spuitwerk met ‘n tandeborsel en loperige wit verf (dun):  Kies plastiese speelgoeddiere om op ‘n vel papier te plaas.  Doop die tandeborsel in die verf en spat dit bo-oor die diere.  Sodra dit droog is kan die diere gelig en gewas word.  As jy nie speelgoed wil gebruik nie, kan ‘n mens diere uit karton sny vir dieselfde doel.
  6. Sneeuman:  Trek drie sirkels in verskillende groottes.  Die kleinste een kom bo en die grootste vorm die voetstuk.  Smeer gom in die sirkels en strooi versnipperde papier in elk.  Druk vas en voeg dan items soos ogies, takkies vir die arms en ‘n mond by…’n Ander opsie is om die outjies ‘n dag of twee voor die tyd wit papier te laat pons (fynspier oefening) en om dít dan op die sneeuman te strooi.
  7. Reënspeletjie:  Vul die helfte van ‘n glasflessie met water, spuit skeerroom bo-op die water en drup ‘n paar druppels voedselkleursel bo op.  Só reën dit kamma-kamma.
  8. ‘n Oorsese mamma maak wolke in die mikrogolfoond deur ‘n stukkie seep te verhit.  Ek is te versigtig hiervoor…
  9. Maak wolke.
  10. Eenvoudige wolke om te druk en uit te sny.
  11. Soutkleiwolke:  Rol ‘n ovaalvormige kleibal met soutklei en druk plat.  Druk dan die kepe na binne met ‘n tandestokkie en voeg ‘n gat vir die oorbeldraadjie by.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens die draadjies byvoeg.
  12. Maak ‘n sneeuman in ‘n sakkie:  Laat die outjies sirkels uit swart papier sny, plak dit in ‘n halfmaan (mond) en plak die twee oë bokant dit.  Sny ‘n oranje mond uit spons/skuimrubber (vir die neus) en plaas dít en goedkoop skeerroom binne in ‘n waterdigte sakkie.  Die outjies kan dan met die vingers die neus tot op die regte plek skuif – ‘n ideale fynspier oefening.
  13. Verf die onderkant of boom van ‘n plat dosie in reënboogkleure.  Strooi ‘n lagie wit poeier, sout of meel bo-oor en laat die kleingoed hul klanke, syfers, vorms en patrone met die vinger hierin trek. Die reënboog sal dan tussen die wolke deur loer.
  14. Sneeu-speelklei:  Maak gewone klei en meng silwer blinkertjies by.  Gebruik dit om klanke, woorde, syfers en vorms te vorm.
  15. Teeligte:  Gebruik ‘n skoon glasfles – bedek met ModPodge.  Laat die glasfles in ‘n bordjie Epsomsout staan en rol dit dan om die kante te bedek.  Laat dit regop staan en sprinkel nog Epsomsout om die rand.
  16. Weerlig in ‘n fles:  Verf ‘n glimverfwolkie (glow in the dark) bo om die fles met weerligstrale wat afwaarts beweeg.  As die handjies nog onhandig is, kan ‘n mens die buitelyne (apieswaaipatroon en ‘n sigsagpatroon na onder) met ‘n swart veselpen teken.  Die outjies trek dan basies die lyne met verf na.  Gebruik ‘n wattestokkie as die kwas smeer.  Dié fles behoort vir ‘n rukkie te skyn na ligte uit…’n mens kan ‘n gewone wintersprent met ‘n glimweerligstraal afrond.  Dit sal dieselfde effek hê.
  17. Glinsterdruppels of -sneeuvlokkies:  Buig ‘n pypskoonmaker of enige dun draad in die vorm van jou keuse en hang dit aan ‘n stokkie/potlood binne in ‘n fles.  Kook water en voeg by.  Meng ongeveer ‘n 1/3 koppie Boraks by.  Teen die volgende dag behoort die vormpie met kristalle gevul te wees.  Hang dit in die venster op.
  18. Pastavlokkies:  Pak wielvormige pasta in konsentriese sirkels – om soos ‘n groot sneeuvlokkie te lyk – of maak heksagone (seshoeke).  Plak dit dan met houtlym aan mekaar vas en verf wit.  ‘n Mens kan dit ook met muurpapiergom plak, verwit met spuitverf en fyn blinkertjies bo-oor sprinkel.  Sodra die een kant droog is, draai om en herhaal aan die anderkant.  Hang dit in die venster op of hou dit vir die Kersboom.
  19. Maak pofferige sneeumanne of ysbere met skeerroom.
  20. Versier die yskas of klasdeur soos ‘n sneeuman (met vorms).  Sny sirkels en driehoeke uit om die hempsknopies, oë, mond en neus te vorm.  Dit maak ‘n vrolike prentjie, oefen die handspiere en lê die kennis van vorms vas.
  21. Bou ‘n igloo-lees of fantasiespelhoekie  uit ou melkbottels – vir herwinning later.
  22. Kap die boom van wit roomysbakke vol gate en bedek met watte.  Plaas dit by die waterspelpunt en kleur die water blou vir ekstra pret.  Nou kan die kleingoed hul wolke laat reën.
  23. Maak ‘n windmeter met vyf dun, plastiese koeldrankglase, drie stewige strooitjies en ‘n blik vol grond.  Pons gate deur die teenoorstaande sye van een glas, sodat twee strooitjies ‘n kruis in die middel vorm.  Pons gate deur die kante van die ander glase, druk die strooitjies daardeur en plant die windmeter met ‘n strooitjie (of sosatiestok) in die blik vol sand.  Die glase behoort die wind te skep en sodoende te draai.  Vir ekstra sprankel, kan ‘n mens klokkies of koeldrankblik “tabs” aan die glase hang.  Só sal die windmeter aandag trek wanneer die klokkies begin lui of klingel.
  24. Sneeuvlokkies om uit te sny as klasversiering.
  25. Bak ‘n reënweer cupcake/kolwyntjie met pofferige, wolkerige versiersel en blou voedselkleursel as reënwater.  Skep bloot ‘n lepel voedselkleursel onder in die papiertjie vóór die beslag bygevoeg word.
  26. Lugruim met wolke:  Maak blou jellie (Moir’s) aan en laat stol.  Skep dit in deursigtige bakke – met hier en daar ‘n lepel room as wolke.  Wat van wit malvalekkers in plaas van room?
  27. Wolkebewers (mobiles):  Sny ‘n wolk uit karton en pons dan gate hier en daar.  Bind ‘n toutjie, lint of wol vanuit die middelste gat aan ‘n “hangertjie” of ringetjie (ringetjie om bruistabletproppe werk goed) vas.  Bind nou tou of vislyn van verskillende lengtes deur die ander gate vas.  Laat dit plat lê.  Gebruik blou papier (verf vooraf met blou voedselkleursel of waterverf) om reëndruppels te verteenwoordig en geel papier of foelie om weerlig uit te beeld.  Sny druppels en weerligstrale uit en plak dit op die toutjies vas.  Verseker dat die weerlig na aan die wolke begin – sodat die strale uit die wolke kom.  Om die bewertjie af te rond, kan die wolke met gepluisde watte bedek word.  Hang dit voor ‘n venster.
  28. Sny ‘n enorme wolk uit wit papier.  Snipper kleurryke A4-bladsye in ‘n snippermasjien en vra die kleingoed om dit volgens kleure te sorteer.  Plak die gegroepeerde kleure op die keersy van die wolk vas en plak die wolk ligweg bokant ‘n venster, luggat of naby ‘n waaier vas.  Die reën behoort in die briesie te ritsel.
  29. Indien julle twee wit bladsye bo-op mekaar pas en die wolk dán aftrek en uitsny, kan ‘n mens dimensie aan die wolk gee. Volg die stappe van punt 28 en pas die tweede wolk bo-op die eerste een.  Kram die sye al om die rand vas en hang die wolk dan uit die dak uit.

winter

DSCN1254

tuis idees in beeld

12 Kommentaar


Tuis idees in beeld

Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help.  Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…

  • Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk.  Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word.  Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
  • Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie.  Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
  • Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël.  (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf).  Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop.  Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
  • Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf.  Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen.  Dan het ons sommer ook in sand geskryf.  Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf.  Ons hou die skrif egter groot.
  • Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak.  ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter.  As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
  • Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi.  Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word.  ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
  • Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat.  Skryf en teken daarin.  Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê.  Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf.  As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
  • Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur.  Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken.  Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning.  Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
  • Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi.  Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed.  Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif.  Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
  • Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk.  As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
  • Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi.  Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk.  ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie.  Kurkproppe en knope werk net so goed.
  • Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene.  Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip.  Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.

Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog.  Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in.  Lekker oefen!

Hand- of vingeroefeninge as deel van ‘n skrifles

14 Kommentaar


fynspier

Ek het hier onder vir jou skakels geplaas waar daar “skrifferige” dinge bespreek word. Afhangend van die ouderdomsgroep kan jy ook die volgende doen as alternatiewe of as deel van die skrifles:

  • Oefen skrif op groot ongedrukte koerantpapier – in gekleurde styselpap. Die kinders smeer die papier met ‘n dun lagie stysel en doen die patrone en skryfwerk met ‘n wysvinger. As dit droog is, kan dit teen die muur op geplak word. …of jy kan na aanleiding van jou tema (bv. Die see) groot vorms (bv. visse, seesterre…) op x-straalplate afteken en uitknip.  Die kinders kan dan op dag 2 die vorms op hul droë stysel-oefening aftrek en uitknip! Maak een groot muur collage teen die einde van die week van almal se skrif!
  • Verf met ‘n skoon kwas en water op die bord of plaveisel om die letterformasies te oefen (Gr. 1).
  • Skeur blaaie uit ‘n ou telefoongids en plaas twee voor elke kind. Hy moet dan eers die een hand in die middel sit, terwyl die voorarm plat op die tafel lê. Dan word net die handspiere en vingers gebruik om die papier nader te trek en te frommel in ‘n balletjie. As die balletjie gereed is, mag die outjie vanaf ‘n gegewe punt “doel skiet” na die drom. Doen met beide hande as opwarmingsoefening.
  • Speel kamma klavier in die lug, op die maat langsaan se rug, op die tafel, ens. Gebruik spesifieke opgeruimde musiek om almal gefokus te hou op ‘n ritme – anders is dit nag
  • Druk ‘n groot letter alleen op die bladsy. Sit ‘n magneet onder die papier en ‘n metaalskyfie bo-op. Die kind moet dat die letter “oefen” deur die skyfie rond te skuif met die magneet. Dit help ook met die aandagspan en hand-oog koördinasie.
  • Knip die letters uit gekleurde karton en druk gaatjies reg rondom (mooi gespasieerd). Laat die kind ‘n veter daardeur ryg om die klankie te versier.
Sien ook perseptuele ontwikkeling, abc skryf, my kind skryf stadig…of tik soekterme soos handspier, skrif, skryf en potloodgreep by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
 

Handspiere en Perseptuele Ontwikkeling…

15 Kommentaar


oefeninge vir klein handjies en nuwe lesertjies

Skryf woorde met waterverf en jou vinger. Gebruik houtlym en strooi sand oor jou klanke, syfers, somme of woorde.

Write words with water paint and your finger. Use wood glue and sprinkle sand on your sounds, words, numbers or sums.

Pak los klanke (letters) of syfers in ‘n sak. Voel ‘n blokkie. Raai wat dit is. Kyk of jy reg is!

Add loose sounds (letters) or numbers to a bag. Feel one. Guess what it might be. See if you were right!

Bou woorde met magneetklanke op ‘n ou koffieblik. (Bêre die klanke na die tyd binne-in die blik.)

Build words with magnetic sounds on an old tin. (Store your magnets in the tin afterwards.)

Mix dishwashing liquid with food colouring and put it in a sealable bag. Now you can “write” on the bag with your finger. Try writing in Dad’s shaving cream (ask first) or soap foam.

Meng voedselkleursel met opwasmiddel en seël dit in ‘n digte sakkie. Nou kan jy daarop “skryf” met jou vinger. Probeer ook Pappa se skeerroom (vra net eers) of seepskuim.

Rol klei of deeg in wurmpies en bou jou naam. Roll some clay or dough into little worms and build your name.

Mix water paint and dishwashing liquid and put it in an old roll-on container. Bingo! A new roller pen! Meng waterverf en opwasmiddel en gooi dit in ‘n ou “roll-on” botteltjie. Siedaar! ‘n Nuwe rolpen!

Knyp wasgoedpennetjies aan ‘n syferkaartjie vas om te wys wat die syfer beteken.

Fasten pegs to a number card to show the numbers value.

Ryg krale in. Kopieer ‘n patroon.

Thread a string of beads. Copy a pattern.

Sny ou papbokse op en bou die legkaart.

Cut old cereal boxes into pieces and build the puzzle.

Soek na driehoekige potlode en kryte. Dis help die vingers om ‘n goeie potloodgreep te ontwikkel.

Try to find triangular pencils and crayons. It helps in the development of a good pencil grip.
Druk klei plat in die een hand. Wat van ‘n “stres”balletjie? Squeeze a ball of clay in one hand – or try a stress ball.

Draw a picture or cut one from an old cereal box. Punch holes around the edges and thread some string or wool through them.

Teken ‘n prent of knip een uit ‘n ou papboks. Pons gate al om die rand en ryg ‘n veter, tou of wol deur hulle.

Skroef moere om ‘n groot skroef. Screw a big nut onto a bolt.

[ Idees beïnvloed deur: Loubina Buxamusa, arbeidsterapeut]

%d bloggers like this: