Kersfees is om die draai en is ‘n opwindende tema.  Wat kan ons in die klas doen om vir Kersfees voor te berei?

  1. ‘n Boekmerk (hang verskeie aan die boom om uit te deel) en ‘n boodskap (rol op, bind ‘n lint om die rol en plaas dit by elke bord).  Jesaja 9 vers 5
  2. Noordpoolkoeverte A5
  3. Gloeilamp-sneeuborrels:  Vra ou gloeilampies of koop ‘n paar.  Indien jy deursigtige kersborrels kan kry, gebruik dit eerder.  Wikkel die skroefkoppie los en breek die filament met ‘n knyptangetjie uit (voorafwerk – met ‘n lappie of ‘n handskoen).  Sny ‘n leë toiletrolletjie in ringetjies om ‘n rusplek vir die gloeilamp te vorm.
    • Vul nou die binnekant met blinkertjies (goud of silwer) of Engelse sout en skroef toe.  Knoop ‘n toutjie om die skroefdeel en hang aan die boom.
    • Werk bo-op ‘n ou handdoek of sagte oppervlak.  Kies een tot drie kleure vetkryt om skerp te maak.  Glip een kleur se was in en verhit met ‘n haardroër sodat die was smelt en rond gly.  Wag totdat die was afkoel en voeg ‘n ander kleur by.  Seël en hang aan die boom of hang verskeie lampies tussen die kersliggies op.
    • Druk die buitelyne van ‘n ster, sneeuvlokkie, ens. op papier.  Plaas die vel papier in ‘n lêersakkie of plaas plastiek bo-oor.  Trek die vorm na met houtlym (‘n botteltjie met ‘n nou/dun punt) en sprinkel blinkertjies bo-oor die nat gom.  Wanneer dit droog is, kan ‘n mens die gom versigtig oplig en met ‘n knyptangetjie binne-in die gloeilampie laat sak – blinkertjies teen die glas.  Spuit ‘n bietjie haarsproei binne-in die lampie om die vormpie aanvanklik te laat heg.  Gebruik alternatiewelik blinkertjiegom.
    • Teken ‘n sneeuvlokkie of skryf ‘n naam buite-op die gloeilamp, trek na met gom en sprinkel poeier bo-oor.
    • Giet of drup naellak binne-in die lampie en beweeg of rol dit rond om die binnekant te dek.  ‘n Blinkerige naellak sal mooi in kerslig skitter.
    • Pons gate uit foelie, spuit spuitbare gom of haarsproei binne-in die gloeilamp, swaai of skud rond en gebruik ‘n knyptangetjie om die foelie confetti binne-in te laat sak.
    • Spuit gom of haarsproei binne-in die gloeilamp en giet blinkertjies met behulp van ‘n tregter binne-in die gloeilamp.  Seël en skud om die blinkers te versprei.
    • Pluis wit watte in ‘n pofferige wolkie.  Plaas dit binne-in die gloeilamp en sprinkel silwer blinkertjies by.  Skud ‘n bietjie om die blinkertjies te versprei.
    • Iemand het vir my ‘n paar groot blinkertjieplakkers gegee.  Ons het dit in stroke gesny en deur ‘n papierversnipperaar gestuur.  Daarna het die outjies ‘n asteriks (*) gevorm en die dele so geplak.  Dit is binne-in die sneeuborrel geplaas en verseël.
    • Kies ‘n kleur en sny die papier in ongeveer 10cm breë stroke.  Stuur dit deur die papierversnipperaar en vul die sneeuborrel daarmee…of plak dit buite-om.
    • As jy ‘n gloeilamp gebruik, kan jy ‘n bietjie olie (kookolie) binne-in giet, skud en uit gooi.  As jy confetti uit ou snesiepapier (vir geskenkpakkies) pons, sal dit aan die olie kleef en glasig of deursigtig word.  Dit lyk soos gebrandskilderde glas in sonlig.
    • As die sneeuborrel in twee helftes oop maak:  Teken ‘n sneeumangesiggie op ‘n styrofoambal en plak hom onder-in die sneeuborrel vas.  Seël of heg die dele met kleurlose naellak.
  4. Versiering:
    • Smeer of bedek ‘n styrofoambal met houtlym of muurpapier-gom en besprinkel met blinkertjies.  Vou bloemistedraad in ‘n lus en steek dit in die versiering.  Rus op ‘n plastiekbotteltjie of ‘n toiletrolringetjie tot droog.
    • Pons gate uit foelie en plak die confetti buite-om die styrofoambal – blink kant bo.
    • Rol of draai gerygde blinkers (sequence) om die styrofoambal en gebruik die punte om ‘n lus te maak.  Hang die versiering daaraan op.
    • Warm gom:  Trek die buitelyne van ‘n sneeuvlokkie op ‘n stuk plastiek.  Gaan dan oor die lyne met ‘n gom geweer en verseker dat jy stadig werk om die lyne dikkerig te trek.  Druk ‘n toutjie (lussie) in een van die punte en drup nog ‘n bietjie gom bo-op.  Sodra dit afkoel, kan ‘n mens die agterkant met water of olie besprinkel om dit teen ‘n ruit te laat vasplak.  Sprinkel ook blinkertjies op die warm gom vir meer sprankel.
    • ‘n Vinnige Kersboom: Sny ‘n basiese boom uit donker papier en vou dit twee of drie keer in die lengte. Laat die outjie gate pons en skuif die voue elke nou en dan. Plak die boom bo-op ‘n kleurvolle agtergrond. Indien dit ‘n ou vel snesiepapier (soos gebruik word in geskenkpakkies) is, plak dit teen ‘n ruit of hang dit voor kersliggies.
    • Probeer ook die bogenoemde met tinfoelie as die agtergrond.  Steek/prik dan gate versigtig deur om ‘n sterrehemel te vorm.  Gebruik ‘n skuifspeld of ‘n tandestokkie – met spons, groot stukke foamalite of oase onder die vel.  Die lig behoort die kolle soos liggies te laat skyn.
    • Gemmerbroodmannetjies:
      Druk prente op bruin, natuurlike karton. Maak ‘n pasta met 1E sout, 1E meel en bietjies-bietjies water. Verf die versierings en plaas in die mikrogolfoond vir 30 sekondes. Vir verskillende kleure, kan jy voedselkleursel én water inmeng.
  5. Wassertjies, krale en moere:  Plaas ‘n versameling wassertjies en krale op die tafel.  Buig ‘n skuifspeld in ‘n s-vorm oop en haak aan ‘n gespande toutjie of draad.
    • Verf die krale of wassertjies met gom en besprinkel met blinkertjies.  Haak dit aan die skuifspeld om droog te word.
    • Verf die krale of wassers met blinkerige naellak en laat droog word.
    • Knoop ‘n lint deur die wasser of kraal om as individuele kersversierings te gebruik of hang meer as een aan die lint.
    • Probeer ook stortgordynhake in plaas van linte.  Ryg dan meer as een wasser per haak.
  6. Sneeuflessies:  Gebruik klein flessies (soos Purityflessies of kleiner).  Rasper wit styrofoam (indien jy nie die los korrels kan kry nie).  Verf krale of sade met blinkerige verf.  Plak dít of iets feesteliks aan die binnekant van die dekseltjie (selfs ‘n Legomannetjie).  Vul ‘n kwart tot ‘n derde van die fles met styrofoamkorrels en die res met water.  Los ‘n lugleegte of ‘n effense gaping.  Skroef styf vas en rus die fles op die deksel.  Die mannetjie behoort dan regop te staan.
  7. “Garland”/stringe:
    • Engelse vlaggies:  Merry Christmas
    • Sny leë toiletrolletjies in ringe.  Verf in feestelike kleure.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit plat en teenmekaar rangskik.  Heg met sterk gom.
    • Gebruik ‘n harde buis of plastiek pyp.  Knoop heelwat pypskoonmakers individueel om die buis, knip die orige lengtes af en glip af.  Heg die ringetjies deur dit met die afvalstukkies vas te draai.
    • Maak springmielies.  Ryg dit met ‘n dik borduurnaald en -gare.
    • Sny watte in klein pluisies en ryg met ‘n dik borduurnaald en -gare.
    • Soek bruinpapier met ‘n wit, goue of silwer keersy en sny dit in small stroke.  Voer dit lengte gewys in ‘n papierversnipperaar en stop sowat twee sentimeter van die borand.  Vou die borand oor ‘n toutjie en kram of plak vas.
    • Indien jy nie die bogenoemde papier in ‘n winkel kry nie, gebruik gewone bruinpapier.  Doop ‘n ou tandeborsel in dikkerige wit, silwer of goue verf en spat die verf bo-oor die papier.  Hou die tandeborsel sowat 30 cm bokant die papier.
    • Vou papierdoilies in die helfte.  Skuif inkleurprente met die Kersverhaal tussen die lae in en trek na – aan beide kante.  Kleur die prente in en hang of plak die doilies bo-oor ‘n toutjie.  Indien die buitelyne met swart veselpen getrek word, kan ‘n mens die prente met uitdraaikryte (druk hard) inkleur en dan met flouerige voedselkleursel verf.
    • Steek die Kersverhaalprente bo-op foelie en dan op styrofoam of oase vas.  Gebruik ‘n speld om  al op die lyne langs te pons.  Meet en pas die foelie en prente om buite-om ‘n flessie of glasie te pas.  Plak dit vas en plaas ‘n teeliggie binne-in.
  8. Takkies:  
    • Doop takkies in muurpapiergom of houtlym.  Besprinkel met blinkertjies en laat droog word.  Bind ‘n toutjie of ‘n draadjie aan ‘n punt en hang aan die boom.
    • Spuitverf takkies met silwer of goue spuitverf.
  9. Kaartjies:
    • Teken “holly” blare en verf dit groen.  Meng kersierooi of wynrooi pastadikte verf.  Verskaf kurkproppe, doop dit in die verf en druk dit soos kersies waar die blare ontmoet op ‘n kaartjie.
  10. Kinderbederf:
    • Rasper wit badseep met ‘n fyn rasper en vul klein flessies daarmee.  Teken ‘n sneeuman-gesiggie met ‘n veselpen aan die buitekant, plak ‘n oranje driehoek neusie en gee dit vir elkeen in die klas.
    • In plaas van seep, kan jy die flessie met wit malvalekkers of Jellie Tots vul.  Verf die deksel.
  11. Peuselhappie (Doen-dit-self):
    • Doop soutvrye, geknoopte pretzels halflyf in gesmelte kooksjokolade (melk of donker) en haak aan ‘n skuifspeld oor ‘n bakkie om af te koel en te stol.
    • Sneeumanne:  Pas ‘n malvalekker in die middel van en bo-op ‘n koekie (soos ‘n Oreo).  Verhit in die mikrogolfoond (10 sekondes op ‘n slag) totdat die malvalekker oppof en begin smelt.
    • Rol blaardeeg uit.  Druk sirkels met glasies uit. Gebruik ‘n stomp tande- of sosatiestokkie om ‘n sneeumangesiggie te pons.  Spuit ‘n bietjie Spray and Cook op ‘n bakplaat of smeer botter.  Smeer met ‘n bietjie melk oor die deeg en bak tot goudbruin.  Doen dieselfde met kort worsrolletjies.
  12. Hempies:
    • Gebruik wit frokkies of t-hempies en trek dit oor ‘n stuk karton.
      • Sneeuman:  Maak dotjies of kolletjies met ‘n swart veselpen en dan met ‘n lapverfspuitbotteltjie.  Trek ‘n driehoekie neus met oranje verf.  In plaas van die botteltjie, kan ‘n mens die agterkant van ‘n potlood of oorstokkies in die verf doop en druk.
      • Kersboom:  Trek ‘n groot driehoek met groen verf en verf die hele driehoek.  Daarna kan ‘n mens helder kleure kolle al om en oor die boom druk.
    • Belangrik:  Laat die t-hemp bo-op die karton droog word om vlekke te voorkom.  Dop om en stryk aan die binnekant en/of plaas die hempie in ‘n tuimeldroeër.

IMG_20151215_153255IMG_20151213_100031_edit

Screen Shot 2015-12-14 at 9.03.52
Tik gerus soekterme soos “Kersfees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.