Advertisements
Tuiste

Sonneblomdag

2 Kommentaar


Sonneblomdag word jaarliks ten bate van Leukemiebestryding gevier en het Bandanadag vervang.  Vanjaar vier ons dit op die 21ste September.  Toevallig word Waaierdag vir Vrede op dieselfde dag gevier.  Vou gerus waaiers uit kleurvolle papier, eie sketse of maak selfs waaierblomme.

 

Sertifikate

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Sertifikate vir Graad R-outjies
Gradeplegtigheidsvlaggies
Sertifikate vir Graad R: Verskeie ontwerpe
Sertifikate vir Graad R / Certificates for Grade R
Gradeplegtigheid Uitnodigings / Graduation Invitations
A4-Sertifikate: Lees-, Spelwerk…Klanke, Wiskunde…’n Penlisensie

 

 

 

 

Loslitdag

Lewer kommentaar


Maak die litte op 7 September los ten bate van ‘n goeie doel.  Vanjaar se tema is “Helde”.  Trek dus soos jou gunstelingheld aan en ondersteun hierdie wonderlike projek.

Internasionale Geletterdheidsdag en SA Boekweek

2 Kommentaar


 

This slideshow requires JavaScript.

SA Boekweek duur van 3 tot 9 September en Internasionale Geletterdheidsdag is tradisioneel op die 8ste September.

Tik gerus soekterme soos “biblioteek, boek, lees, leeslys, leesreeks, boekmerk, klanke, hersien…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir verskeie idees om tydens hierdie week te gebruik.

Lekker lees!

Boomplantweek

Lewer kommentaar


1 September is Boomplantdag en Boomplantweek duur van 1 tot 7 September , maar bome en bosbou word reg deur September gevier.  Vanjaar se boom is die Geelhoutboom en natuurlik is dit ook ons nasionale boom.

Hoeveel Geelhoutbome is daar in julle buurt?  Gaan stap gerus en tel die bome. Hoe lyk die blare en die stam?

Neem ‘n vetkryt en papier saam om die tekstuur van die bas af te vryf (trek die kryt plat oor die bladsy).  Gebruik verskillende kleure en hou die bladsye as ‘n agtergrond vir ander kunswerk of knip ‘n boom daarop uit.  Sny dan blare uit verskillende skakerings groen bladsye en maak jou eie boom.

Het die skool ‘n Geelhoutboom?  Samel fondse daarvoor in en plant een op ‘n spesiale plek in die tuin.  Onthou ook om al die bome op die skoolgrond ekstra kos en water te gee.

Lente is hier!

2 Kommentaar


Dit voel nog soos winter, maar die blomseisoen is oppad.  Lui die nuwe seisoen met enorme blomme in, wat julle as ‘n klas, in groepe of as individue kan maak.

Hoe?

  1. Ek het die basiese blomblaarpatroon of templaat op ses lae papier vas geknyp, af getrek en uit geknip.  Herhaal dit ook met die kleiner blomblare.
  2. Rol die buitenste rand ietwat terug om vorm aan die blare te gee.
  3. Knip twee klein kepies of lyntjies aan die plat rand van die groter blare en een kepie in die middel van die kleinste blomblare.
  4. Plaas ‘n bietjie gom in die middelste van die drie strokies in die groter blare (tussen die kepe) en vou die buitenste stukke bo-oor die gom.  Knyp met ‘n klampie of wasgoedpennetjie vas en herhaal totdat al die groter blare dieselfde lyk.  ‘n Gomgeweer (glue gun) werk lekker vinnig.
  5. Vir die heel kleinste blare, hoef jy net ‘n druppel gom aan een kant van die kepie te drup.
  6. As al die blomblare klaar is, kan jy die stamper (geel deel) maak.  Vou ‘n bladsy in die helfte (in die lengte) en sny die vou oop. Hou die dele op mekaar en vou ‘n strokie om – na buite.  Vou weer oop en hou by mekaar.  Rol die stroke op en knyp die rolletjie vas.
  7. Knip kort kepies van die rand tot by die vou.  Knip dan langer kepe van die teenoorgestelde rand af in, maar moenie regoor die eerste kepe knip nie.  Spasieer die lang kepe tussen die korter kepe.
  8. Vou die kort strokies terug en gom die rolletjie net bokant die kepies vas.  Jy kan die langer stroke terug rol of oop trek na gelang.
  9. Trek ‘n vierkantige kartonnetjie nader en spasieer jou groter blare in ‘n kring – gom vas (dink aan ‘n seshoek).
  10. Herhaal met die middelslag blare. Hulle sal waarskynlik beter pas as hulle effens oorvleuel.
  11. Voeg nou die kleinste blare by, maar onthou om spasie vir die stamper te laat.
  12. Doop die kort strokies soos ‘n stempeltjie in gom of drup gom oor die strokies.  Onthou om tussen die lagies ook gom te smeer en plak dit in die middel van jou blom.
  13. Trek groot blare op groen papier af en knip uit.  Vou dit in die lengte vir ‘n bietjie vorm en sny kepies om die rand.  Plak die blare aan jou oorspronklike kartonnetjie vas en siedaar!
  14. Maak gerus blomme uit herwinbare materiaal – soos koerantpapier – om jou aansteekborde of mure te versier.
Blompatroon Daar is heelwat ander patrone op die internet beskikbaar.  Loer gerus.

This slideshow requires JavaScript.

Hoe help ek ‘n kind wat ander tale praat?

4 Kommentaar


Ons kry dikwels kinders van ander lande en kulture in ons klas.  Hoe gemaak as die kind nie die skool se tale (LOLT) kan praat nie?

Dis beslis ‘n baie moeilike situasie.  ‘n Mens skuif nie sommer na die onbekende nie en dus moet ‘n mens die leerder (en ouers) met baie deernis benader.  Spreek die gesin se name so bes moontlik uit en vra of dit korrek is.  Werk baie visueel en wys dokumente of voorbeelde van boeke as jy na ‘n konsep verwys.  Verwoord jou stelwyses op verskeie maniere of nooi ‘n tolk indien moontlik.  Reël meer gesprekke om te verseker dat almal verstaan.

Kyk of jy vir die leerder ‘n tweetalige woordeboek kan opspoor of betrek toeps soos Speak and Translate waar moontlik.  Indien daar rekenaartoegang is, kan ‘n mens Google se vertalings opsies probeer.  Teken prentjies waar moontlik en gebruik geïllustreerde woordeboeke of flitskaarte om te verduidelik wat jy bedoel.  Nie al hierdie tegnologiese hulpmiddels werk 100% korrek nie.  Behou ‘n goeie humorsin indien ‘n foutjie inglip.

Beveel individuele remediërende onderrig aan of gereelde taal- en leessessies.  Indien die skool ‘n nasorgsentrum het, kan die ekstra blootstelling aan die nuwe taal (tale) waardevol wees.  Dieselfde geld vir sport en kulturele groepe.

Moedig makkerleessessies aan – waar klasmaats die outjies kan help lees of stories kan voorlees (sit langs mekaar en volg saam).  Sing liedjies of lees rympies oor die klanke.  Gee eenvoudige, soortgelyke take – waar die outjie die patroon kan optel en sukses kan ervaar.  As jy oulike leiertjies in die klas het, plaas hulle naby of langs die nuwe leerder en vra hulle om aanvanklik voor skool en tydens pouses met die maat te speel.  Daardie informele speeltye help baie.

Die slaagvereistes word in hierdie dokument omskryf (Hoofstuk 2, Punt 4: Konsessies).  Praat vroeg reeds met die departementele raadgewers oor die assesseringsproses.

Watter ander idees volg julle?

Juffer word 10!

4 Kommentaar


September is die herdenkingsmaand van My Klaskamer – ‘n webjoernaal (blog) vir ouers, onderwysers en onderwysstudente.  Vanjaar bestaan Juffer en My Klaskamer reeds 10 jaar en daarom is dit tyd vir ‘n paar gedagtes rondom die getal 10.

Jonger leerders leer vinnig om tot by 10 te tel, maar hoe kan ‘n mens so ‘n bietjie meer op die getalle tussen 0 en 10 fokus of met 10 werk?

  1. Tel die vingers of tone afsonderlik.  Hoeveel tone het twee maats…en die klas?
  2. Ryg ‘n pypskoonmaker deur 10 krale en gebruik dit as ‘n armband of vou dit plat as ‘n mini-telraam.  Die kleiner outjies kan nou hul kombinasiesomme oefen deur byvoorbeeld somme soos 3 + _ = 10 te toets.
  3. Anker ‘n spaghetti- of sosatiestokkie in wondergom op die tafel en gebruik ringvormige pap of krale om hoeveelhede tot by 10 oor te glip.  Gebruik die syferkaarte in ‘n pak kaarte om verskillende hoeveelhede te maak (7 krale, 9 krale, ens.).
  4. Trek twee syferkaarte (bv. 10 en 2) en doen ‘n aftrekkingsom deur 2 krale weg te neem.  Hoeveel bly agter?  Maak meer en minder en gebruik die fisiese aktiwiteit om sommer fynspier oefeninge en oog-hand koördinasie by te werk.
  5. Trek ‘n kaart uit ‘n pak speelkaarte (haal eers die koninklike stel uit).  Hoeveel het ek nodig om ‘n 10 vol te maak (dus 5 + _ = 10)?  As ek 10 het en dié getal wegneem, hoeveel bly oor (bv. 10 – 3 = _)?
  6. Trek beide hande op ‘n vel papier (bv. koerantpapier, telefoonboekblaaie…) af en knip uit…of maak twee afskrifte van een hand (hou die een hand byvoorbeeld as ‘n linkerhand en dop die ander een om as dit klaar uit geknip is – om as die regterkant te gebruik.  Plak die handpalms langs mekaar op ‘n karton (grawe deur die herwinningsdosies), sodat die vingers kan omknak of beweeg.  Gebruik die handjies as jy somme op “vingers” wil bereken.
  7. Meet stroke papierlint (streamers) en knip dit in 10cm-lange dele op.  Meet ‘n strookpapier om die kop (soos ‘n kroon) en plak die papierlinte al langs die lengte van die kroon.  Versier dit met voorstellings van 10 (verskeie versamelings, syfers, getalname).
  8. Hoe ver kan julle in tiene tel?  100?  200? 1 000?
  9. Kleur die kolomme op ‘n honderdblok in 10 verskillende kleure in.  (Bv. al die getalle wat op 3 eindig – blou.)  Watter getal is 10 meer of minder as ‘n gegewe getal.  Kies ‘n kleur en tel van bo na onder.  Sny sommer die blok in dwars stroke en bou die legkaart.  Waar hoort die getalle?
  10. Meet vorms (vierkante, reghoeke, driehoeke) met ‘n 10cm-sy af.  Knip dit uit en pons 10 gate langs ‘n sy af of reg rondom.  Ryg wol of tou om die rand en gebruik die vorms as versierings of boekmerke.
  11. Deel September in tiene in:  Ruil elke 10 dae sitplekke in die klas, staanplekke in die ry of die volgorde van lesse/periodes.
  12. Vou ‘n vel papier in die helfte (in die lengte) en weer in die helfte om lang stroke of lyne te vorm.  Gee verf en proppies of ink en stempels om patrone te druk.  Hoeveel patrone kan jy in 10 drukke skep? (Kleure, herhaalde items, ens.)
  13. Betrek die ouers deur te vra dat hulle saam op die getal fokus.  Vra dat hulle byvoorbeeld 10 los happies (bv. druiwe korrels, blokkies kaas, springmielies…) in pak.  As julle lus het, kan ‘n mens op spesifieke getalle fokus (bv. 5, 8…).
  14. Hou ‘n pannekoekdag en vul ‘n sousbottel met die beslag.  Maak dan klein pannekoekies deur tiene (10) in die pan te spuit.  Oefen vooraf of maak dit as ‘n koue bederfhappie.
  15. Hoe kan die outjies ‘n vinnige 10-happie maak?  ‘n Lang wafer en ‘n ronde koekie?
  16. Ryg 10 items op ‘n sosatiestokkie (bv. worsie, hamblokkie, kaas, vrugte…).
  17. Maak ‘n lys van die leesboeke of stories wat julle as ‘n klas gelees het.  Gee ‘n 10-minuut breuk per elke 10 boeke.  Speel dan opvoedkundige speletjies of doen iets prettig en buitengewoon.
  18. Deel 10 minute iewers deur die dag by die rooster in om te lees.  Stel spesifieke reëls en riglyne in, sodat almal kan saamwerk (bv. ons lees flitskaarte, ons leesboekies, ‘n Engelse boek…).  As 10 minute te lank is, deel dit in twee “rustye” van 5 minute elk.
  19. Hoeveel woorde kan julle lys wat 10 letters bevat?  Wat beteken hierdie woorde?
  20. Hoeveel syfers is daar in ‘n selfoonnommer? Kies ‘n bekende nommer (‘n ouer s’n) en tel die onderskeie syfers bymekaar.  Bv. 0821111111:  0 + 8 + 2 + 1…= 17.  Wie se antwoord is die meeste of die minste?
  21. Skryf verskeie selfoon- of telefoonnommers op lootjies neer, trek ‘n kaartjie en kyk hoeveel kombinasies van 10 uit die onderskeie getalle gebou kan word.
Alfabetprettake
Sigwoordjies
Diere Flitskaarte
5 minuut dinkwerk
Wasgoedpennetjiesomme Voorbeeld (Volle dokument)
Blomme inkleur
Ontdek die getal 10
Vinnige somstrokies
Syfer Legkaarte
Syfers/Getalname Afrikaans/Engels

Vyf Klein Paddatjies 

 

Heuningby

Lewer kommentaar


Heuningbydag word op die derde Saterdag in Augustus gevier (18de).

Gebruik vandeesweek bytjie flitskaarte en versier ‘n kennisgewingsbord ter bewusmaking van hierdie belangrike bestuiwers so op die vooraand van Lentedag.  Samel blomsade in en ontkiem dit op die vensterbank, sodat julle die skooltuin kan versier.

Taaldag

Lewer kommentaar


Op 14 Augustus vier ons die ontstaan van Afrikaans (in 1875).  Lees ‘n boek, skenk ‘n boek of koop ‘n Afrikaanse boek vir later.

Taaldag Boekmerk

 

Linkshandigheid

Lewer kommentaar


13 Augustus vier ons Linkshandigheidsdag. Hoeveel kinders in die klas is linkshandig? Watter aanpassings maak julle?  Dink byvoorbeeld aan die volgende:

  • ‘n Skêr vir linkshandiges
  • Plasing in die klas:  Verseker dat outjie nie elmboë met ‘n regshandige outjie hoef te stamp nie.
  • Demonstreer skriflesse van aangesig-tot-aangesig, sodat jy onderstebo skryf – eerder as om langs die outjie te sit.

🙂

dames

3 Kommentaar


Besoedeling

Lewer kommentaar


Besoedeling is ‘n nare deel van ons samelewing wat ons algar moet beveg.  Luister gerus na die storie en liedjies en dink aan idees om jou omgewing op te pas.

Les idees: Graad 2, Graad 3, ‘n Leesstuk vir jong omgewingsbewaarders.

 

Voorspoed

Lewer kommentaar


100

2 Kommentaar


Mnr. Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het.  Ons spandeer jaarliks 67 minute aan gemeenskapsdiens op sy verjaarsdag – 18 Julie.  Vanjaar kan ons dit sommer ‘n ronde 100 minute maak!

Hoe lyk ‘n 100?  Dis ‘n groot getal.  Vir die jonger outjies kan ‘n mens byvoorbeeld…

  1. ‘n 100 botteldoppies of -proppies in ‘n lang ry uitpak en hulle vra om die getalle daarop te skryf.  Maak ‘n ellelange slootjiekaart waarin julle die doppies kan pak en steek dit teen ‘n kennisgewingsbord vas vir herhaaldelike gebruik.  Kan julle patrone pak of dalk elke 10 in ‘n spesifieke kleurgroep rangskik?
  2. ‘n 100 wasgoedpennetjies gee om aan ‘n lang lint te knyp.
  3. ‘n 100 genommerde roomysstokkies gee om te orden.
  4. ‘n 100 skuifspelde gee om ‘n ketting te maak.
  5. ‘n bak vol ringvormige pap gee (bv. Fruit Loops) om in tiene te groepeer.  Verskaf ‘n toutjie en laat hulle die pap ryg om ‘n halsnoer te maak.  Eet dit later droog of met ‘n bietjie melk.
  6. ‘n houer met honderde krale sodat die outjies kan oefen om ‘n 100 krale te ryg.
  7. ‘n enorme skaap op ‘n A3-vel teken sodat die outjies ‘n 100 wattepluisies kan plak.  Werk in groepe om ‘n bietjie te bespaar.
  8. 100 saadjies in ‘n tuintjie saai.
  9. 100 pakkies groente en kruie saad verpak en aan die gemeenskap uitdeel.  Skryf ‘n mooi boodskappie daarby of dui aan wat in jou pakkie is.
  10. deur die buurt stap en opgewekte liedjies sing.
  11. ‘n enorme 100 op ‘n groot vel papier of plastiek doek trek (groot genoeg om die klasdeur te vul.  Sny die syfers uit en klim heeldag deur die getal om in en uit te gaan.  ‘n Plastiekerige doek sal dalk langer hou.
  12. ‘n strook karton met die syfer daarop gee.  Knip die binnekante van die nulle uit en maak ‘n bril deur ‘n stuk broekrek agterom die kop te meet en aan die karton vas te kram.
  13. drukwerk op t-hempies laat doen.  Plaas ‘n stuk plastiek binne-in ‘n hempie en gee ‘n bakkie met lapverf daarin. Druk 10 rytjies van 10 duimafdrukke, stempeltjies of selfs kurkproppies.  Gebruik ‘n spesiale lapveselpen en omskep die propkolle later in ogies of gesiggies.
  14. drukwerk op ‘n groot A3-vel laat doen.  Gee byvoorbeeld skakerings van helderrooi en donker rooi verf om lieweheersbesies te maak sodra die verf droog is.  Gebruik skakerings van bruin om later gesiggies te maak.  ‘n Mens kan ook slakkies maak of kolle teen mekaar druk om ‘n wurm te vorm.  Wat van geel kolle wat later bytjie sal word?  Lamineer die velle en stuur dit huis toe as plek- of skinkbordmatjies.
  15. ‘n uitdagingsperiode instel.  Kyk of julle 100 flitskaarte (bv. sigwoorde) kan lees.  Kan julle gesamentlik 100 storieboekies lees?  Probeer om 100 somme te doen 🙂
  16. 10 keer gedurende die dag stop om gesamentlik 10 sterspronge te doen, 10 treë te marsjeer of die hande te klap.
  17. spelenderwys hulself met ‘n toep soos AgingBooth verouder tot 100 jaar.  Stuur die foto’s per e-pos of met ‘n toep soos SeeSaw aan die ouers.
  18. vra dat elkeen 100 sent bring as ‘n donasie aan ‘n omgee-projek in julle stad of dorp.  ‘n Mens kan selfs mik om as ‘n klas R100 in te samel.
  19. ‘n groot 100-blok elk gee sodat hulle oor ‘n tydperk klein muntstukke (snoepie kleingeld) in die onderskeie blokkies kan plak.  Is daar ‘n nood in jul skool of klas?  Het iemand skoene, skryfbehoeftes, ‘n trui, ens. nodig?  Kyk hoe dié bietjies iemand kan help. [100 Madiba Spaar A3]
  20. vra dat elkeen ‘n donasie vir ‘n dierebeskermingsgroep bring.  Dink aan maniere om 100 vol te maak – 100g kos elk, ‘n 100kg kos altesaam, ens.
  21. vra dat elkeen broodsakkiekaartjies (ten bate van rolstoele) bring.  Mik vir ‘n 100 kaartjies as ‘n skool of ‘n klas.
  22. plastiekherwinningskissies installeer.  Vul plastiekbottels met plastiek om bakstene te maak en skenk dit.
  23. vra dat elkeen ‘n item met ‘n gewig of inhoud van 100 sal bring ten bate van ‘n welsynsorganisasie (bv. 100ml, 100g).
  24. woorde van hoop en gelukwensing op die bord skryf sodat hulle dit rond en bont op ‘n groot vel papier kan oorskryf.  Sodra hulle tevrede is, kan hulle dit met swart veselpen natrek.  Verklein dit in die vorm van kaartjies (op verskeie kleure karton) en gee dit in mini-pakkies van 5 aan die ouers om te gebruik.
  25. vra om hul name 100 keer op ‘n A4-vel neer te skryf.  Gebruik dit aan die einde van die jaar om ‘n klein onthou-geskenkie in toe te draai.
  26. ‘n honderdblok gee, sodat hulle die syfers kan natrek.
  27. ‘n honderdblok gee, sodat hulle die afsonderlike blokkies kan inkleur met verskillende kleure.
  28. ‘n meterstok gee om die millimeters te tel.
  29. in die sportstoor loer vir meetinstrumente om die rugbyveld te meet.  Hoe ver is dit van een doelpaal na die volgende?
  30. wys hoe lyk 100ml.  Kan julle 100 liter water insamel vir areas in nood?
  31. ‘n 100 keer met ‘n gatjiepons pons om konfetti vir die klas te maak.
  32. ‘n boekmerk gee om 100 snitte al om die rand te maak.
  33. help om papierlinte (streamers) in stroke van 100cm te meet en te sny.  Hang dit in ‘n kleurvolle mengelmoes aan die bokant van die deurkosyn.
  34. help om mini-kolwyntjies te bak.  Pak ‘n wafer en twee kolwyntjies op die bordjie om 100 te bou en sprinkel “hundreds and thousands” bo-oor die kolwyntjies se versiersel.
  35. 2 ronde koekies en ‘n wafer gee om 100 te bou.
  36. ‘n digitale kamera of ou selfone (met kamera’s) gee om ‘n 100 goue oomblikke af te neem.  Plaas dit op die klasblad of SeeSaw.

Madiba 100

Wat doen julle vanjaar?

Vadersdag

Lewer kommentaar


Vadersdag is op die 17de Junie.  Loer gerus na hierdie idees indien jy nog nie iets beplan het nie.  Knip die geskenkkaartjie of etiket uit om aan die geskenk te hang of daarop te plak.

Vir vorige inskrywings, loer gerus hier.

 

Kinderbeskermingsweek

1 Kommentaar


Kinderbeskermingsweek duur van 27 Mei tot 3 Junie 2018.

Weet die outjies wat om te doen om veilig te wees?  Ken hulle hul persoonlike inligting en noodnommers?  Herinner hulle gerus tydens dié week.

regte

Afrika

2 Kommentaar


 

Wat is Afrika Dag?  Toets gerus die outjies se kennis en geniet jou stukkie Afrika 😉

Speeldag

2 Kommentaar


Wêreld Speeldag kan gebruik word om die kennis van speletjies uit te brei, om vaardighede op te skerp en om aspekte soos wen en verloor aan te spreek.  Hou die spelery goedkoop en genotvol…

  1. Verf* spring- of speelblokke met duursame padverf op die speelgrond (dink aan “Hop Scotch”, honderdblokke, groot skrifpatrone om oor te stap).
  2. Verf* ‘n rybaan vir fietse, skopfietse of speelgoedkarretjies.
  3. Druk prettige foto’s van klasmaats op A5- of A4-grootte uit en sny dit in stukke op om as legkaarte te gebruik.
  4. Nooi die klas om elkeen ‘n gunstelingspeelding te bring.  Verduidelik mooi wat jy verwag (bv. geen tablette of TV-speletjies nie) en laat hulle dan in klein groepies daaroor praat.  Bv. Dit is my pop. Sy is my grootste pop en haar naam is Lana.  Wat wil julle graag weet?  Die maats kan dan elkeen ‘n vraag vra soos “Waar het jy haar gekry?  Hoe lank het jy al jou pop?”
  5. Maak handpoppe:   Vorm die koppe en hande met koerantpapier en styselpap**.  Sny hemde of rokke uit ou lap en gom die nate.  Verf die kop en hande.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit aan die klere vas gom.  Hou ‘n poppekas.
  6. Maak poppe:  Volg dieselfde idee as met die handpoppe, maar stop die klere op en voeg bene of voete by.  Dink aan verskeie storiekarakters of superhelde om na te boots.
  7. Maak motortjies uit herwinbare materiale.  Gebruik botteldoppies, draad, blokkies, dosies, ens.  Wie se karretjie kan ‘n entjie op sy eie reis (stoot en laat los)?
  8. Maak bootjies uit herwinbare materiale.  Wie se bootjie kan die langste dopper of dryf?
  9. Ouer kinders kan selfs ‘n stel dominoes ontwerp.
  10. Gebruik ‘n gewone stel speelkaarte:  Speel “snap” of ‘n geheuespel met die syfers.  Maak twee hopies, trek ‘n kaart van elke hopie om ‘n optel- of ‘n aftrekkingsom te maak.  Ouer kinders kan hul maaltafels oefen.  Indien iemand ‘n Joker optel, moet die tweede getal verdubbel word.  ‘n Prins beteken dat die outjie in 3 veelvoude van die tweede getal moet tel.  ‘n Koningin beteken dat die tweede getal af gerond word tot die naaste 10.  ‘n Koning beteken dat die som van die twee getalle verdubbel moet word.
  11. Gebruik ‘n dobbelsteen: Rol en tel in 5 tot 10 veelvoude van daardie getal.
  12. Vra ouers om ou lakens, kussings, ens. te skenk/stuur om ‘n fort in die klas te bou.  Doen matwerk in die fort of hou dit as ‘n leeshoekie.  Verras die outjies met ou klere of speelgoed vir ‘n beloningstyd.  Versierings (soos liggies) kan dit ekstra spesiaal maak.
  13. Deel leerders uit Intermediêre of Senior Fase klasse by die Grondslagfase in om speletjies en spesifieke vaardighede aan te leer (bv. touspring, bal vang, Aan-Aan, ens.).  Wys dele van die veld of saal vir die onderskeie groepe aan en ruil stasies.
  14. Nooi onderwysers uit die InterSen Fase om een pouse speletjies saam met die Grondslagfase klasse te speel.  Ruil dalk die speelareas en laat die InterSen kinders aan die Grondslagfasekant speel.
  15. Vra ouer kinders om ‘n bordspeletjie te ontwerp – as ‘n klas, in groepe of as individue.  Hou ‘n speletjiesmiddag met ‘n jonger graad of by ‘n skool wat min geleenthede het.
  16. Ontwerp speelkaarte op herwonne karton (gebruik byvoorbeeld ou papbokse, ens.).
  17. Verskaf ‘n groot houer bottelproppies en vra dat die outjies patrone vorm en nateken.  Hou die ontwerpe as voorbeelde vir later.
  18. Sny ou “pool noodles” in kort stukkies op.  Gee besemstokke of stukkie tou sodat die outjies kleurvolle patrone kan ontwerp en ryg.
  19. Vra donasies van groot verpakkingsdose (vir stowe, yskaste, ens.).  Ontwerp en maak eenvoudige huise of geboue vir ‘n speelhoekie.
  20. Trek teikens met bordkryt op ‘n muur en gooi boontjiesakkies.
  21. Halveer “pool noodles” in die lengte om albasterresies te hou.
  22. Gom lang kartonbuise, pype, gesnyde plastiekbottels, toiletrolletjies, ens. teen ‘n karton sy sye vas.  Plaas dit in die sandput (met bekertjies en glasies).
  23. Nooi ouers of personeel om saam te speel.  Haal die blokkies, rygwerk, “looms“, vingerbreiwerk, skaakbord, ens. uit.
*Gebruik bordkryt indien permanente verf nie wenslik is nie.
**Los poeier muurpapiergom in louwarm water op.  Die proses neem ‘n dag of drie.

 

Wat speel die kinders in jou klas of skool graag?

 

ruskans

Lewer kommentaar


Geniet die ekstra rustyd!

Irlensindroom

4 Kommentaar


Lyk die teks bewerig of is dit moeilik om die oorsaak van leerprobleme te peil?  Min inligting is tans oor Irlensindroom bekend of beskikbaar.  Vir heelwat mense help gekleurde lense, kleurvelle bo-oor die teks of kleurvelle bo-oor die rekenaarskerm beslis.  Dit mag dalk outjies in jou klas help.

Loer gerus hier na die moontlike simptome en kontak kundiges om raad in te win.

Onbaatsugtigheid/Pay it Forward

1 Kommentaar


28 April is Pay it Forward Dag en is geskoei op die fliek met die gelyksoortige naam.  Die gedagte is om ‘n onbaatsugtige taak te verrig en te vra dat ander dit ook probeer om die beweging “aansteeklik” te maak.

Is daar iets wat julle as ‘n klas kan doen?  Kan julle iemand in die skoolgemeenskap help?  Loer gerus hier na vorige inskrywings en idees.

Tweede Kwartaal

2 Kommentaar


Loer gerus in of vra vrae.  Ek help graag 😉

ATPs / Onderrigplanne

13 Kommentaar


 

ATP

Graad R – 3

Graad 1 – 3

English FAL Grade 1
English FAL Grade 2
Maths Resource Grade 1 – 3
Mathematics Grade 1
Mathematics Grade 2

Graad 4 – 6

Grade 4 ATP’s and Reporting Tool

Grade 5 ATP’s and Reporting Tool

Grade 6 ATP’s and Reporting Tool

Graad 7 – 9 [Afrikaans / Engels]

Graad 10 – 12

Vaardigheidskole

Sien ook:
  1. KABV (Kurrikulumbeleid, Assesseringsprotokol, Slaagvereistes, Departementele Werkboeke, Voorbeelde van Graad R-rapporte/”Resource Kit”)
  2. Ou Vraestelle (200+ Gratis opsies:  Graad 1 – 12)

Engelse Stories

Lewer kommentaar


As jy op die onderskeie hofies klik, kan jy die afsonderlike skakels vind om na die stories te luister en om die prente te sien.  Indien jy die “scan to reveal” toeps aflaai, kan jy die onderskeie prente skandeer vir ‘n kort verduideliking van die verskillende klanke.

 

Red Book (stories)

Blue Book (stories)

Green Book (stories)

Stories om deur YouTube te speel.

‘n Paar stories:  Letterland

earth hour

Lewer kommentaar


Earth Hour is ‘n gulde geleentheid om as ‘n gesin die elektriese toebehore af te skakel en om tyd saam te spandeer.  Dink aan idees om “skermtyd” (tyd op die rekenaar, selfoon, television, ens.) te verminder of beter te beplan sodat julle projekte in en om die huis kan begin om herwinning aan te moedig of om daaroor te leer.  Het julle ou tydskrifte met relevante artikels?  Knip dit uit en steek dit teen die yskas vas.

Wat verbruik julle baie vinnig?  Is daar ander opsies?  Het julle houers om herwinbare items te sorteer?  Maak dalk ‘n etiket of twee en dink aan eenvoudige, haalbare idees.  Elke probeerslag – al is dit hoe klein, is ‘n tree in die regte rigting.

Gelukkig

2 Kommentaar


Wat maak julle gelukkig?  Is dit ‘n lekker broodjie, ‘n mooi boek, ‘n geselsie met ‘n oupa of ‘n ouma of selfs ‘n vinnige koeldrank saam met ‘n ouer of maat?

Hoe kan jy ander in het kleine help om ‘n gelukkiger dag te hê?  Is dit bloot om iemand met ‘n glimlag te groet, ‘n potlood op te tel, ‘n swaar tas te help dra of om aan die klasreëls te voldoen?  Dink aan ‘n paar idees wat nommerpas vir jou dag sal wees. 😉

 

 

 

Biblioteekweek 2018

Lewer kommentaar


Biblioteekweek is ‘n ideale tyd om die dorpsbiblioteek te besoek.  Wat kan ‘n mens alles daar doen?  Lees ‘n mens slegs boeke?  Wat kan ‘n mens alles uitneem?

Kort die boeke in die skoolbiblioteek herstelwerk?  Kry vrywilligers om boeke te herstel, die rakke af te stof of om die vertrek ‘n bietjie reg te ruk.

Dink aan ‘n tema en betrek dit gedurende lesse en leestye.  Speel ‘n liedjie (wat by die tema aansluit) oor die interkomstelsel om ‘n leestyd aan te kondig en lees dan totdat die liedjie weer speel (bv. 10 minute lank).  Stal verskeie stories in verband met die tema uit en hou raaiselkompetisies waar kinders aanhalings uit die boeke oplos.  Nooi gaslesers (soos ouers, besigheids eienaars, ens.) om boeke aan individuele klasse of aan graadgroepe voor te lees.  Versier elke klas se deur soos die voorblad van ‘n storieboek en wees lekker kreatief.

Werksvelle
Tik gerus soekterme soos “biblioteek, lees, boekmerk, leeslys, leesreeks, rympies, luidlees…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

water

Lewer kommentaar


Waterweek duur van 17 – 23 Maart en op die 22ste Maart sal dit die Wêreld Waterdag wees.  Waar kom jul skool of dorp se water vandaan?  Reën dit hoofsaaklik in die somer of in die winter?  Hoe bespaar die skool water en hoe kan ‘n mens ander dele van die land help waar daar nood is?  Is daar nood in jou omgewing en hoe kan ‘n mens help?

Blokkiesraaisel (raaisels)

Wiskunde Dag

2 Kommentaar


7 Maart is Wêreld Wiskunde Dag!  Betrek vandag speletjies soos

  • bordspeletjies, bv. slangetjies en leertjies
  • UNO
  • verskeie kaartspeletjies met ‘n tradisionele pak kaarte
  • dominoes
  • tangramme

Doen hersiening van bekende werk en konsepte, maar stel ook uitdagings beskikbaar.  Tel jul treë, plak maskeerband in vorms op die mat (om op te loop) of speel spring speletjies (soos hop scotch).

Geniet al die rekenwerk!

spelwoorde

2 Kommentaar


spelwoorde

Afhangende van die ouderdomsgroep, kan ‘n mens verskeie idees probeer.

  • Lees die woord en bou die woord dan met los kaartjies – een-vir-een.
  • Skryf die woorde met ‘n swart veselpen en lees dit saam.  Plaas ‘n papier bo-op en laat die outjie dit natrek.
  • Vou ‘n vel papier in die helfte (in die lengte) en dan weer om sodoende ag gelyke blokke te maak. Laat die outjie dan ‘n woord in elke blok skryf en maak ‘n duplikaat.  Sny die blokke op en speel ‘n geheuespel waar al die kaarte onderstebo is en dan twee op ‘n slag om gedop word. As dit ‘n paar is, hou dit of dop dit weer om as die kaarte ‘n onpaar is.
  • Maak ‘n waaier met een stel kaarte, trek ‘n kaart – lees dit, hou toe en probeer dit hardop uitklank. Gaan deur al die woorde op dieselfde wyse. As die woord reg is, sit dit eenkant. Indien die woord verkeerd gespel is, hou dit in die waaier.  Gebruik dieselfde gedagte om ook die woorde te skryf.
  • Maak weer ‘n groot vel met blokke en trek die gunstelingpotlode nader. Skryf die woorde in verskillende kleure – een per blok. Indien die woord “illustreerbaar” is, teken ‘n prentjie by.
  • Gebruik ‘n witbord veselpen om die woorde op ‘n plastieksakkie, op ‘n spieël of ‘n gladde teël na te trek.

Tik gerus soekterme soos “spelgoggas, spellys, dubbelklank, tweeklank, drieklank, verkleinwoord, meervoud, sigwoord, flits…klanke, hersien” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Woordsoeke [Engels en Afrikaans]

 

 

 

 

 

Pi Dag & Wiskunde Week

Lewer kommentaar


Dit is amper weer Pi Dag en Wêreld Wiskunde Week.  Loer gerus hier na vorige inskrywings om ekstra vaslegging van die konsepte te doen:

This slideshow requires JavaScript.

Wêreld Boekedag

Lewer kommentaar


1 Maart en 23 April word onderskeidelik as Wêreld Boekedag beskou.  23 April is ook Boekenag.

lekker om te lees [boekmerk]

Het jy ‘n wenslys van boeke wat jy graag sou wou lees?  Vir wie sou jy dit lees?  Sou jy vir jou maat, ‘n onderwyser, ‘n troeteldier of ‘n speelding wou lees?

Wat kan jy lees?  ‘n Digbundel, lirieke, stories, resepte, advertensies, die koerant, flitskaarte, ‘n tydskrif of wat van iets op ‘n tablet?

Trek soos jou gunstelingkarakter aan en vier dié dag op ‘n prettige wyse saam met jou klasmaats.

Tik gerus soekterme soos “lees, komponente, flits, sigwoord, leeslys, leesreeks, boeke dag, boeke nag, boekmerk, biblioteek…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir idees uit vorige jare.

 

Moedertaaldag

Lewer kommentaar


Moedertaaldag word jaarliks op 21 Februarie gevier.  Watter tale praat jou klasmaats tuis?  Praat julle almal dieselfde taal?  Probeer om die maats in hul eie tale te groet 😉

medemenslikheidsdag

Lewer kommentaar


Medemenslikheidsdag of Random Act of Kindness Day vind op 17 Februarie plaas.  Die gedagte is om medemenslikheid te betoon sonder om iets terug te verwag…Wat kan ‘n mens op skoolvlak doen – nie net eenmalig nie, maar meer gereeld?

  1. Vee die klas uit sodat die werkers dit nie hoef te doen nie.
  2. Stofsuig die klas se mat.
  3. Vee die toonbanke af of was die skottelgoed in die personeelkamer.
  4. Tel die stoele op die tafels om die skoonmakery te vergemaklik.
  5. Gee meer komplimente.
  6. Groet meer kinders en grootmense.
  7. Hou ‘n deur vir iemand oop.
  8. Bied ‘n sitplek aan.
  9. Nooi iemand om saam te speel.
  10. Knoop ‘n onverwagse geselsie met ‘n klasmaat aan.
  11. Verras ‘n maat met ‘n ekstra broodjie.
  12. Bring ‘n skoenborsel indien die klasmaats sukkel om skoene te poets.
  13. Maak ‘n punt daarvan om herwinning by die skool aan te moedig.  Maak byvoorbeeld sitplekmatjies of slaapmatte van plastiek en verras iemand of ‘n organisasie daarmee.
  14. Het julle ou speelgoed om te deel?
  15. Voor julle ou skryfbehoeftes weggooi, plaas dit dalk in ‘n “deelbakkie” sodat maats wat iets kort daaruit kan kies.
  16. Help Mamma of Pappa in die huis.  Wie weet hoe om ‘n bed reg te skud of skoon wasgoed op te vou?

Is daar iemand in die skool wat in nood is?  Is daar iemand in die gemeenskap?  Hoe kan julle help?

luidleesdag

Lewer kommentaar


Wat doen jul skool jaarliks vir Luidleesdag?  Min tyd vir lees?  Probeer die volgende:

  • lees flitskaarte
  • lees spelwoorde
  • soek die verklarings van woorde in ‘n klaswoordeboek op
  • lees rympies
  • lees die lirieke van gunstelingliedjies
  • lees opskrifte in die klas
  • lees sigwoorde soos die dae van die week of maande van die jaar
  • lees stories vir mekaar
  • lees stories vir ‘n ouer of ‘n jonger graadvlak
  • ruil klasse en lees stories vir ‘n ander klas
  • lees boeke in die biblioteek of iewers op die skoolgrond (bv. onder ‘n skaduboom)
  • maak boekmerkies
  • bespreek prentjies en voorspel wat moontlik in die storie gaan gebeur
  • lees jul leesboek vir die hoof
  • stap ‘n entjie en lees al die padborde of kennisgewings langs die pad
  • lees verjaarsdae en telefoonnommers
  • bespreek leestekens

Knyp gerus ‘n paar minute gedurende die skooldag of tuis vir ‘n leestydjie af 😉

Tik gerus soekterme soos “lees, sigwoord, flits, komponente, nuwe leser, leesreeks, leeslys, biblioteek…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir verskillende idees en vorige skrywes.

waterbesparing

3 Kommentaar


Watter planne maak julle by die skool om water te bespaar?  Versamel julle water vir die tuin, die gemeenskap of ander  redes (dalk vir ‘n dierebeskermingsvereniging)? Herwin julle dalk water om die skooltuin mooi te hou?  Hoe doen ‘n mens dit?

Water Muurprente (A4

Aanlyn speletjie

Biddag

Lewer kommentaar



Vanjaar fokus my gedagtes nie net op dít wat ons deur middel van die kurrikulum meedeel nie, maar ook op die lewensnoodsaaklike vaardighede wat ‘n mens graag wil aanleer (bv. bewaring, besparing, medemenslikheid, respek, empatie…aspekte wat sal lei tot die verryking van elkeen se menswees).  Mag elkeen wat by die Onderwys en Opvoedingstake betrokke is, die nodige insig, rustigheid en ondersteuning van kollegas, die gemeenskap en kleingoed ervaar…

groot en klein

2 Kommentaar


‘n Juffrou het vandag gevra hoe ‘n mens groot en klein aan Graad R kinders kan verduidelik.  Ek sou verskeie soortgelyke items uitstal (betrek die Checkers mini-kruideniersware).  Dink aan ‘n groot yogabal en ‘n klein tennisbal, ‘n groot reistas en die meegaande handbagasie, ‘n groot stoel vir juffrou en ‘n klein stoeltjie vir ‘n kind, ‘n groot mengbak en ‘n klein roomysbakkie, ‘n groot opskeplepel en ‘n klein teelepeltjie…

Loop gerus om die skool en soek na groot en klein items, byvoorbeeld ‘n groot venster en ‘n klein venstertjie, ‘n groot tuin en ‘n klein beddinkie, ‘n groot muurhorlosie en ‘n polshorlosie, drom en drommetjie, sak en sakkie, ‘n groot skoolbus en die mini-bus, ‘n groot skoolskoen en ‘n kleintjie, ‘n groot boek en ‘n kleintjie…(Waak teen woorde soos vet en maer, lank en kort…)

Bespreek die woorde.  Groot items sal dikwels net die woord hê, maar die kleintjie sal die verkleiningsvorm daarby hê.  Hoe spreek ‘n mens die woorde uit en hoeveel klappies (lettergrepe) het elkeen?  Wat hoor jy aan die einde van die verkleiningsvorm?…”ie”, “pie”, “kie”…

big small                groot en klein

Watter van die items kan julle in die sandput of waterbak gebruik? Groot en klein houers, skoene vir voetspore, ‘n groot waterbottel en ‘n kleintjie, ‘n groot roomysbak en ‘n kleintjie…Het julle groot en klein boublokke of groot en klein kledingstukke? Stel dit beskikbaar.

Berei groot koerantvelle voor deur die dubbelblad lengte-gewys in die helfte te vou.  Verf die boonste helfte met effens verdunde blou en die onderste helfte met groen voedsel-kleursel of waterverf.  Kies items om op die landskap te plaas, byvoorbeeld klein en groot huise.  Elke kind kan dan ‘n klein en ‘n groot huis teken of vorms uitknip om groot en klein huise te bou (gebruik basiese vorms soos vierkante, reghoeke, driehoeke, sirkels…).  Plak die koerantpapiervelle langsmekaar in die gang op en laat die outjies hul huise daarop plak.  Kan julle ‘n patroon vorm?  (Bv. groot, klein, groot, klein of groot, klein, klein, groot, klein, klein…)  ‘n Mens kan natuurlik kleiner velle gebruik sodat elke kind ‘n individuele prent maak.

Soek items om drukwerk mee te doen (bv. groot en klein sirkels, groot aartappels en klein aartappels) en maak verskillende soorte patrone – in rye of reg rondom die rand van ‘n bladsy.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens groot en klein gesinslede in die middel of apart teken (om op die agtergrond te plak).

Slaan die trom op ‘n groot koffieblik of op ‘n kleintjie.  As die outjies die groot een se klank hoor, moet hulle soos groot olifante rond trap en as hulle die kleintjie se klank hoor kan hulle krimp tot klein muisies.

Soek gerus stories soos “Klein Duimpie”, “Gouelokkies”, “Jan en die boontjierank”… waar daar verwysings na groot en klein items gemaak word of waar jy daarna kan verwys.

Vra dalk dat ouers groot en klein herwinbare items skool toe stuur.  Sodoende kan die kinders self items volgens groottes sorteer en later weer in dooskonstruksies, water- en sandspel gebruik.

Aan watter idees kan ‘n mens nóg dink?

*Gouelokkies (prente)

Potloodgreep

2 Kommentaar


Op die 23ste Januarie vier ander lande Skrifdag.  ‘n Vinnige idee om met die ontwikkeling van ‘n goeie potloodgreep te help, is ‘n vinnige manier om die potlood op te tel…

Plaas die potlood “vertikaal” voor jou op die tafel – met die punt na jou lyf (maag/bors) – asof dit in die vou van ‘n oop boek lê.  Plaas jou skryfhand se vingerpunte teen mekaar en rus die naelpunte op die tafelblad.  Glip die duim aan die een kant en die ander vingers aan die ander kant oor die potlood.  Knyp die potlood tussen die wysvinger en duim vas, lig die agterkant op en oor tot in die webspasie.  Siedaar!  As jy nou die “okay”-teken met jou vingers moet maak, kan jy dit vorm sonder om vingers van die potlood te lig of om die potlood te laat val.  Jou duim maak ‘n perfekte bergpiek na buite.  Krul die middel-, ringvinger en pinkie liggies na jou handpalm en ontspan jou hand wanneer jy skryf.

Hoe lyk die duim as jy jou potlood vas hou?  Maak dit ‘n berg, duik dit in of staan dit stokstyf?

potloodoptel

Tik gerus soekterme soos “potloodgreep, handspier, skrif, skryf, patrone, abc, skryf, lopende skrif…knip, linkshandig” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

herinnering

Lewer kommentaar


Ek geniet dit vreeslik om my hulpmiddels in klaskamers te sien. My blog is juis as ‘n aanvullende hulpmiddel vir juffrouens en ouers (meer spesifiek – die kinders) gestig.  Die blog is na bykans 10 jaar steeds ‘n gratis forum waar ouers en onderwysers gratis kan inloer en idees inwin.
…Sedertdien het heelwat juffrouens my produkte as hul eie begin/probeer verkoop. Alles op My Klaskamer (www.juffer.wordpress.com) is onderhewig aan kopiereg – of jy dit oor tik of nie. Ek is bewus van mense wat tans my materiaal in pakkette en huiswerkboeke gebruik. Daar is ook dié wat tans op Facebook daarmee spog as hul eie werk en in kusdorpies daarmee woeker.
Ek beantwoord alle navrae hier, per e-pos en op die sosiale media forums.  Plaas gerus skakels hierheen of na ‘n artikel op My Klaskamer.  Almal is welkom en ek sal steeds probeer om vrae so goed as moontlik te beantwoord.
Ek vra net dat my produkte nie herversprei of -verkoop sal word nie.

gedrag en dergelike dinge

Lewer kommentaar


gedragIemand het navrae gerig oor beloningskaarte.  Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.

Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens.  Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉

Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim.  (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)

Sommige juffrouens gebruik ligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een).  Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering (gemerk as Santa’s camera).  As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.

Daar is rekenaarprogramme en toeps (apps) wat geraasvlakke aandui, bv. Too Noisy, ClasscraftClassDojoToo Loud Kids Noise Meter & Timer Free en Bouncy Balls.  Chrome het die Zero Noise Classroom aanvulling.

Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation.  Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring.  Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.

Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur.  Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies).  Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is.  Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos?  Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie.  Sodoende kan maats mekaar help.

Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind.  Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie.  Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig.  Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers.  Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.

Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.

Ek hoop dit kan help 😉

 

This slideshow requires JavaScript.

 

 

talente

Lewer kommentaar


‘n Kollega het onlangs die volgende oulike idees tydens oordenkings gedeel…Die voorlesing was uit Mattheus 25 (vanaf vers 14).

Begin deur elkeen se gawes en talente te vier, maar ook te noem dat ons nie ons gawes vir onsself behoort te hou nie en dit behoort te deel.  Dit kom van nature vir onderwysers – wat soveel met die kleingoed deel.  Wat is uniek aan elkeen op julle personeel?  Watter kennis en wyshede is beskikbaar?  Wat kan jy bydra?  Waarmee kan jy woeker?

Hoe kan jy hierdie ondersteuning en hulp uitdra na die kinders in jou klas?  Klein reseptekaarte is aan die leerders gegee om gebedsversoeke neer te pen.  ‘n Fototjie en die naam is daarop aangebring. Elke onderwyser kon een neem en ‘n tweede kaartjie is aan elkeen verskaf, sodat die onderwysers boodskappe kon terug skryf.  ‘n Plakker (met die teksvers) is bo-op ‘n muntstuk geplak en bo-op ‘n magneet vas gegom.  Dít is saam met die kaartjies uitgedeel sodat ons die outjies altyd sigbaar (en in ons gedagtes) kan hou.

Sou ‘n mens dit wedersyds met jou klas en personeel kon deel?

Rooimierblussers

Lewer kommentaar


Aan die begin van die skooljaar moet ‘n mens die nuwe roetine inoefen en deurgee.  Die lyfies is nog met vakansie en so ook die eetgewoontes.  Verduidelik aan hulle hoe die rooster werk, wanneer julle sal eet, hoe julle aantree in rye en hoe julle deur die skool gaan stap (bv. hande agter die rug).

Plak/teken prente in die volgorde van die basiese rooster (iewers op die bord of muur) en skuif ‘n magneet of wasgoedpennetjie heen en weer gedurende die eerste dae.  Bv. Ons gaan vandag werk, ‘n peuselhappie neem, badkamer toe gaan en ‘n storie lees voor pouse…Jy mag jou kosblik saamneem as jy uitgaan, maar onthou om iets vir tweede pouse te hou. 

Die jonger outjies sal steeds vrae vra, maar verwys gereeld na die visuele opsie sodat hulle daaraan gewoond kan raak.  Probeer ook die volgende idees gedurende die eerste dae…

Middellynkruising/Ruimtelike Oriëntasie:

Tussen take:  Trek ‘n vertikale lyn om vir die outjie te wys waar sy neus min of meer moet wees.  Teken dan die bekende skrifpatrone lekker groot op ‘n skryfbord van links na regs oor die streep.  Ek maak ‘n begin- en eindkol vir die jonger outjies en plak ‘n voorbeeld bokant die skryfspasie.  Die outjies trek die patroon aanvanklik van linkerkol tot regterkol en daarna doen ons dit weer met die oë toe.  Hulle hoef natuurlik nie op ‘n skryfbord te werk nie en kan in die sandput of met ‘n vinger op die tafel (- later die bad se rand, op die stortdeur of ‘n gestoomde spieël) oefen.  Gebruik ou koerante, vetkryt, verf of gewone bladsye ook.

Spiertonus/Postuur:

Raak ‘n outjie maklik moeg aan die tafel of sak hy/sy ietwat weg in die stoel?  Draai die stoel om, sodat hy/sy wydsbeen en regop teen die rugleuning kan sit.  Dis nie die ideaal nie, maar die lyfie word ondersteun terwyl mens gedurende die dag aan die spiertonus werk.

Kriewelrig:

Is die outjie kriewelrig?  Sny ‘n kepie in twee afsonderlike tennisballe en glip dit onder twee teenoorstaande stoelpote in, sodat die outjie geluidloos heen en weer kan wip.  Indien jou skool klein wiegstoele (rocking chairs) het, kan jy dít inspan of die knobbelrige rubberkussings gebruik wat gewoonlik deur arbeidsterapeute aanbeveel word.

Stel ‘n aftelwekker op jou foon of stel ‘n eierwekkertjie.  Indien jy toegang tot die internet het, kan jy verskeie wekkers aanlyn opsoek.  Gebruik dit om ‘n aanduiding van die werkperiode te gee óf die pouse (bv. 3 minute) tussen take.  Sing dan ‘n aksieliedjie, doen Brain Gym of soortgelyke strekke.  GoNoodle het YouTube video’s wat die ouer outjies dalk kan geniet (loer net eers vooraf om te kies).

Skop die voetjies? Plaas ou telefoonboeke onder die voete sodat die voete geanker is of ruil stoele en tafels om.

Ekstra fynspier oefeninge: 

Hou ‘n ekstra stasie gereed indien die outjies die klaswerk vinniger as verwagting voltooi het:

  • Span ‘n toutjie ooghoogte waar die outjies mooi prente of popklere kan vas knyp.  Verskaf wasgoedpennetjies en metaalklampies, sodat hulle ‘n keuse het.
  • Verskaf middelslag en groot krale in ‘n bak met veters en toutjies – sodat die outjies patrone kan ryg.  Neem foto’s as voorbeelde en lamineer dit as inspirasie.
  • Verskaf groot en klein boublokke.  Neem foto’s van eenvoudige strukture – as inspirasie vir latere bouwerk.  Kan julle letters/klanke/syfers/vorms bou?
  • Gee klei, flubber of slym op ‘n plastiekblad of skinkbord.
  • Verskaf ‘n metaal skinkbord waarop skeerroom gespuit word.  Drup voedselkleursel bo-oor en laat die outjies met ‘n ou potlood of ‘n stokkie daarin teken en druk ‘n bladsy bo-op.  Lig op en skraap die room af met die rand van ‘n liniaal.  Gebruik die droë bladsy as die voorblad of agterkant van ‘n skryfboek.

Verseker dat daar ‘n geleentheid is om saam op te pak en na ‘n storie op die mat te luister.  Wat was die lekkerste deel van jou dag?  Onthou en geniet elke oomblik.

Tik ook soekterme soos “eerste dag” of “nuwe jaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

skool toe

Lewer kommentaar


‘n Nuwe skooljaar

6 Kommentaar


Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…

Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders.  Tree dus voorkomend op.

  1. Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem.  Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik?  Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
  2. Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek.  Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
  3. Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app).  Hoe kan die ouers met jou kommunikeer?  Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur?  Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
  4. Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom.  Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉  Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas.  Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
  5. Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem.  Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
  6. Weet die ouers waar die kinders gaan aantree?  Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar?  Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
  7. Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof).  As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke.  (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom.  Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
  8. Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens.  ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
  9. Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe?  Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui.  Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg.  Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
  10. Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring.  Het julle riglyne vir die klaskamer?
  11. Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra?  Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas.  Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra.  As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het.  As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses.  Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
  12. Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed?  Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd?  Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers?  Bring die kinders water of gaskoeldrank saam?  Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
  13. Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
  14. Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
  15. Gaan julle herwinning en waterbesparing aanmoedig?
  16. Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe?  Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
  17. Hoe werk uitstappies?  Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan?  Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
  18. Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak?  ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
  19. Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande?  Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
  20. Maak verjaarsdae spesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem.  Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer.  ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop.  Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
  21. Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies?  Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring?  Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was?  Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk.  As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies.  Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees.  ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
  22. Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne.  Watter opsies is sakpas en min moeite?
  23. Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie.  Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
  24. Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor?  ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal.  Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik.  Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig.  Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op karton maak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
  25. Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer.  Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhanger of klampies en ‘n draadhanger inspan.  Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.

Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe.  Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink.  Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.

Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan.  Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.

Mag jy ‘n baie suksesvolle jaar beleef.

 

Skouer aan die wiel

Lewer kommentaar


My Klaskamer word vanjaar 10 jaar oud! Kan jy glo?! 😀

Snuffel gerus deur die vorige inskrywings na velerlei gratis drukbare bladsye, muurkaarte, flitskaarte, kalenders en meer.  Voer jou e-pos adres by die E-pos subskripsie-blokkie aan die regterkant in om kennisgewings van nuwe skrywes te ontvang of sluit by my Facebookblad aan.  Ek probeer tans om meer van die gratis produkte op die Facebookwinkeltjie en –groep te lys.  Loer gerus in 😉

 

My Klaskamer Pryslys 2018

Blou Maan

Lewer kommentaar


Wanneer die volmaan twee keer in een maand skyn, word die tweede volmaan ‘n Blou Maan genoem.  Vanjaar skyn die Blou Maan op die 31ste Januarie én Maart.

Die helder lig is ‘n ideale geleentheid om ‘n skoolfunksie onder die sterre aan te bied.  Wat van ‘n Ken Mekaar Skoolbraai, ‘n atletiek aand, ‘n maanlig piekniek of ‘n “colour run”?   Dra blou en samel ‘n fooitjie in ten bate van die skool of ‘n ander organisasie.

Loer gerus hier na les idees in verband met die maan en die hemelruim.

2018 is hier!

2 Kommentaar


2018 is hier!

2018 A4-Kalenders met spesiale dae:  AfrikaansEngels

2018 A4-Kalenders (Blanko):  Uil, Owl, Appel, Apple

welkomwelcome

Welkomvlaggies

Voorblaaie (inkleur)

Snuffel gerus hier na idees en drukbare velle of loer na my winkelrak.

🤳📲😁 Loer na die kieslys op my Facebookblad (via jou slimfoon) vir Afrikaanse “Profile Frames” of snuffel tussen die Facebook fotoraam opsies op jou slimfoon.  Op die rekenaar kan jy die soekterm “klaskamer” gebruik.

‘n Geseënde Kersfees!

Lewer kommentaar


Baie dankie vir jou ondersteuning!  

Loer gerus na die Facebook foto opsies op jou slimfoon vir verskillende gratis feestydraampies in Afrikaans en Engels.  Loer gerus hier vir Kersfees idees om tuis te probeer.

 

Older Entries

%d bloggers like this: