Om die woorde of letters te “bind”, gaan na FORMAT en dan FONT in jou dokument. Klik op ADVANCED. Verstel die SPACING na CONDENSED en skakel die KERNING aan. Verstel die KERNING se getalwaarde soos nodig.
Tik gerus ook soekterme soos “Lopende Skrif, ABC Skryf, Robotkaart, Handspier, Patroon, Syfers” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir skrifwerksvelle. Loer ook na die onderskeie werksvelle op Teacha.
*Nie al hierdie fonts verbind korrek nie, maar met die “insert shapes”-funksie kan jy soliede of stippellyne invoeg soos nodig.
Hiermee verskillende koeverte vir boodskappe of rapporte. Druk dit op koeverte, wit papier of kardoes sakkies van die toepaslike grootte. Toets eers voordat jy dit in groot maat druk.
Druk die kind se naam met Graad 1-skrif op ‘n strook papier en skuif dit binne-in die koevert. Laat die kind die deurslag met ‘n dik veselpen natrek.
Druk die kinders se name groot op die koevert en laat hulle dit met fyn skeur- en plak-werk vul.
Teken gesinsprente of ‘n tema van die kwartaal met ‘n veselpen en kleur met uitdraaikryte in. Los dit so of verf met ‘n effense verdunde voedselkleursellagie.
Soek en knip die letters in die naam uit tydskrifopskrifte en plak dit voor op die koevert.
Druk ‘n foto van die kind op die koevert.
Knip vorms uit verskillende kleure en bou ‘n prent (soos Brainy Blocks se idees).
Lamineer die koevert op die rand van die plastiekvel as jy dit vir die hele jaar wil beskerm of gebruik kleefbare plastiek.
Hou ‘n Gesinsaand. Nooi gesinne na die biblioteek met die belofte van sagte kussings, koffie, warm sjokolade en malvalekkers. Hou uitstallings van die skool se nuutste biblioteekboeke en lees vir mekaar.
Nooi die ouers om saam na nuwe moontlikhede te kyk en om saam om oulike boeke vir die klas of biblioteek te besluit. Los kleingeld kan dan aangewend word om boeke names die klas aan te skaf en aan die biblioteek te skenk.
Skryf ‘n klasboek met behulp van die kinders en ouers. Neem foto’s ter illustrasie en bind die boek.
Dit is amper skoolvakansie en EARTH HOUR val op die 29ste Maart. Skakel die krag vir ‘n uur af, steek die kerse aan en ontspan saam as gesin. Maak solank ‘n oorlewingshouer gereed en vul dit met bordspeletjies (slangetjies en leertjies, Scrabble, kaarte, ens.), storieboeke, stories of liedjies op die iPod en die kwartaal se flitskaarte. Dink aan herwinningsprojekte om te probeer en probeer een of twee in dié uur. Voeg items soos ‘n groot kombers, eetgoed en ‘n flitslig by om die oorlewingsproses lekkerder te maak, MAAR hou die houer toe om eers Saterdag om 20:30 oop te maak. Hoe lank duur ‘n uur? Stel die aftel wekker. Geniet die aandjie saam!
Hoe vier julle verjaarsdae in die klas? Dit gaan dikwels met ‘n kroon gepaard. Gebruik viltlap indien jy die kroon weer gaan gebruik of dikkerige karton. As jy nie die kroon lank genoeg kan maak om rondom die kop te pas nie, gebruik ‘n rekkie met klitsgras (velcro) of draai ‘n “alice band” dwars voor die voorkop. Versier die krone met groot, glinsterende stene (verkrygbaar by kunsvlyt- of materiaalwinkels) of teken met vloeibare gom en besprinkel dit met blinkertjies. Vir ‘n ietsie ekstra, kan jy die ouderdom voorop die kroon aanbring. Maak ‘n getal of twee en heg dit met klitsgras indien julle die kroon weer wou gebruik. Neem ‘n foto van die kroondraer voor die datumbord en siedaar!
Dit is amper waterweek. Leer die outjies om waterwys te wees en loer na die idees in hierdie Engelse boekie. Leer die kleingoed om water op ‘n verantwoordelike wyse te benut deur:
waterbekers/gieters te gebruik. Maak die klas se potplante met spesifieke hoeveelhede (bv. 1 blikkie) nat en maak dit ‘n reël.
waterspel water te herbenut om die plante nat te lei.
die waterspel water te gebruik om op die teer- of sementoppervlakte te skryf. Gebruik skoon kwaste en oefen patrone, syfers en klanke.
ballonne met waterspel water te vul. Gooi en vang die ballonne met herwonne melkbottels.
reënwater op te vang. ‘n Skool se dak het ‘n groot opvangsgebied en behoort heelwat water vir die tuin te kan opgaar.
geld in te samel vir ‘n gerekenariseerde besproeiingstelsel vir die skooltuin.
waterspel aktiwiteite bo-op gras uit te pak.
druppende krane aan te meld.
druppende krane toe te draai.
‘n loodgieter as gasspreker te kry.
water uit ‘n opvangsbak te herwin tydens waterspel. Maak ‘n pypsisteem met tregters – sodat verskeie outjies gelyktydig kan speel.
Vries ‘n strooitjie of ‘n kort stokkie in ‘n ysblokkie. Gee vir die kinders ‘n klein driehoekie om uit te knip en pons gate in twee van die hoeke. Gebruik dit as die seil vir jou ysbootjie en sien hoe dit op ‘n vlak dammetjie seil.
Meng verf (bv. akriel) met water en vries. Plaas ‘n vel papier in ‘n vlak skinkbord en “verf” of “skryf” met die yskleure.
Blaas borrels deur die onderkant van ‘n water- of sapbotteltjie af te sny. Trek ‘n ou sokkie oor die opening en bind met ‘n rekkie. Vul die bottel met ‘n sterk seepoplossing en water. Blaas!
Hou ‘n muntlegging om boeke vir die biblioteek te kan aankoop. Pak dit in vorms, rye, patrone, letters, woorde of embleme. Skryf die vorms of simbole met bordkryt op teer of maak los papierweergawes. Kies ‘n spesifieke munttipe (soos 5c of 10c) om te versamel vir die dag en pak dit.
Betaal 50c om te raai hoeveel boeke daar in die skool se biblioteek is. Koop boeke met die fondse en gee vir die wenner(-s) ‘n boekprys.
Maak advertensies en prente van die klas se gunstelingboeke.
Gee vir die kinders karton om boodskappe, reëls en flitskaarte vir die leeshoek of boekrak te skryf (bv. Gunstelinge, Nuut, Mees genotvolle boeke, Engels, Afrikaans).
Vir Graad R en 1
Ek het nog ‘n boekmerk wat ons in Graad R gemaak het – rafia en ‘n geruite iets met groot gate. Ons het groot, stomp naalde gebruik. Gebruik verskillende kleure en help die kinders om die rafia te ryg. ‘n Lekker lang boekmerk sal goed in kinderboeke werk.
Ek hou nogal van die idee om volgens ‘n spesifieke beginklank te werk. Dalk kan ‘n mens klinkerprente maak. Gebruik akkerdoppies of halwe appels om verfdrukwerk op ‘n A4-vel papier te maak (patrone van herhalende kleure). Trek bv. ‘n groot a op ‘n x-straalplaat af en laat die kinders dit aftrek en uitknip. Plak die a dan bo-op die agtergrond. Herhaal met ander klanke en versier die aansteekbord met al die letters. (Sien die alfabetrympies vir idees.)
Doen drukwerk met magneetletters (soek die korrekte Graad 1-letters). Gebruik dikkerige bont verf op bruin of swart papier of selfs bleikmiddel (gebruik groot, plastiek voorskote) op suikerpapier. Gebruik dit vir ‘n agtergrond, die kennisgewingbord of as die buiteblad van ‘n self gemaakte boekie.
Maak soutklei en laat die outjies self ‘n stukkie plat druk (nie te dun nie). Gebruik hoofletter- en kleinlettermagnete as drukkers of soek alfabet koekiedrukkers om die kleingoed se name uit te druk. Gee voorbeelde van die name op papier, sodat die spelling korrek is. Druk die drukkers/magnete eers op ‘n inkkussing en dan in die klei. Só, gee dit ‘n mooi effek. Pons ‘n gat in een hoek of beide en hou dit as ‘n geskenk vir Moedersdag.
Gee ‘n basiese alfabetkaartjie (plak op die tafel) en ‘n bak vol los letters op die kleispeltafel. Die outjies sal dan self met die klanke en letters kan speel. Die alfabetkaartjie sal help om te verseker dat die letters reg geplaas word.
Bak en brou:
Kies ‘n eenvoudige koekieresep. Druk letters, name of “boek” in die deeg en bak.
Kies ‘n eenvoudige koekieresep. Druk ‘n koekie met enige koekiedrukker uit. Plaas die koekiedrukkerletter (waarmee die outjie se naam begin) liggies bo-op en vul met “hundreds and thousands“. Druk dit liggies met ‘n stomp voorwerp vas en lig die vormpie af. Bak soos normaal.
Doen drukwerk met lapverf op ‘n tafeldoek, lapsakke of kussings vir die klas. Gebruik die sponsletters in “matteëls” of magneetletters.
Woorde