Die outjie sukkel om verby die denkbeeldige middellyn van die liggaam te beweeg of om die denkbeeldige lyn te kruis.
Die werk:
Die skryf- of tekenwerk op die een helfte van die bladsy is gewoonlik meer in mekaar gedruk as aan die ander kant. Byvoorbeeld by patrone begin die kind egalig en teen die helfte van die bladsy raak die patroon rukkerig en half “onbeheersd”. Dit hang natuurlik af van die kind se handdominansie. Linkshandige kinders begin egalig en regshandige kinders eindig hul werk meer egalig aan die regterkant van die bladsy. Soms word die bladsy heen en weer geskuif, sodat die skryfarm konstant op een plek bly. Ander outjies kan weer nie teen die kantlyn begin nie en begin so ‘n ent weg skryf.
Dit is ‘n vaardigheid wat ‘n mens eintlik onderskat en is nogal belangrik by lees. Dit help die kind met die lees van ‘n reël van die een na die anderkant van ‘n bladsy.
Wat ‘n mens kan doen om te help:
·Speel follow the leader:
oWys aksies en die kind doen na:
oRaak aan jou tone.
oRaak aan jou tone en kruis jou hande (linkerhand op regtervoet…).
oRaak aan jou knieë .
oRaak oorkruis aan jou knieë.
oRaak aan jou skouers.
oRaak oorkruis aan jou skouers.
Sing liedjies soos “Head, shoulders, knees and toes” terwyl julle dit doen.
Kan julle die liedjies se aksies toe-oë uitvoer?
·Gee opdragte
oGee die bogenoemde opdragte mondelings en vra die kind om dit uit te voer.
oOok opdragte soos:
·Raak met jou neus aan jou voet.
· Raak met jou oor aan jou knie.
NB: Moenie van dom of slim hand praat nie. Gebruik net die terme “links en “regs”. |
oPopspeel:
·Wys vir my Teddie se arm, been…
·Wys vir my Spiderman se knie, elmboog…
oAksies:
·Spring op jou regtervoet.
·Gee ‘n tree na links.
·Raak aan jou regterknie.
·Doen die “lui 8” bewegings…
·Sit of staan stil. Tel items aan die linkerkant van die liggaam op met die regterhand en plaas dit aan die regterkant. (Tel speelgoed, klippe, proppe, ens op…)
- Probeer ook
- Twister en Vinger Twister…
- Danse soos die Macarena
- Klippieskool
Sporte soos swem en tennis help ook baie…maar weereens is ek nie ‘n arbeidsterapeut nie. Julle kan die oefeninge tuis doen, maar ‘n evaluasie deur ‘n arbeidsterapeut is steeds wenslik indien die klasjuffrou probleempies noem.
Lekker oefen!
Apr 16, 2009 @ 08:48:30
My seuntjie (5) is links wat natuurlik ‘n katastrofie vir hierdie regshandige mamma is. Hy is egter baie leergierig en ons vang hom gereeld waar hy agter die motors sit en die nommerplaat nommers afskryf. Hy doen dit egter van agter af vorentoe. Bv. BVK258NC sal hy skryf as CN852KVB…. Ek sê gewoonlik dit is goed/oulik maar hy moet probeer om dit van voor af te skryf…. Moet ek meer druk op hom plaas om dit reg te doen?
LikeLike
Apr 16, 2009 @ 19:20:59
Hello Pikkelik 😉
Gee hom kans en begin stelselmatig “rigtingwoorde” inspan. As hy in die bad is of aantrek kan julle sommer so praat-praat die woordeskat inspan: Bv. Hierdie sokkie is vir die linkervoet (en hou dit na sy linkervoet toe uit)en hierdie is jou linkerskoen. Hierdie mou is vir jou linkerarm en hierdie is vir jou regterarm. As grootman met sy speelgoeddiere of -mannetjie speel, kan jy saamspeel en dinge doen soos ‘n “high 5″ gee met die linkerhand…maak dit so half ‘n uitvangspeletjie…”high five met die regterhand” en as hy die linkerhand kies, kry hy ‘n kielie. Dis goed dat hy besef dat dinge op ‘n sekere plek moet wees en dat daar rigting en posisie aan gekoppel word. Linkshandige outjies verwar dikwels rigting, maar dit beteken nie dat linkshandigheid verkeerd is nie. Dis die oulikgeit wat deurslaan 😉
Blaai ook deur inkleurboeke en bespreek die prentjies bv. “Ek hou van dié huis links van die boom.” – en beweeg jou hand na links. As jou seuntjie die lettertjies ook omkeer (bv. die ‘c’ kyk na links), kan dit wees dat sy visuele persepsies nog nie heeltemal gevestig is nie. Baie inkleurboeke het prente waar ‘n mens die 5 verskille moet soek of inteken…dis goeie oefening hiervoor (visuele diskriminasie). Ook: teken ‘n vorm, hou toe vir drie tellings en teken oor. Kyk of jy reg was (visuele geheue). Maak dit sommer ‘n speletjie. As hy so nommerplate sit en afskryf, kan jy ook met ‘n bladsy sit en self ‘n kopie maak. Kyk dan ewe vermakerig of jy reg af geskryf het en maak kamma of jy ‘n fout moet regstel. Vra dan of boeta syne al “gemerk” het… Visuele voorgrond en agtergrond: soms het inkleurboeke 2 of 3 prente se buitelyne bo-oor bekaar geteken. Die kind moet nou sê watter prente wegkruip – bv. ‘n vis, ‘n huis en ‘n boom. Jy kan natuurlik speels jou eie prente so teken en hy kan weer ‘n raaisel vir jou maak – vir die lekkerte. Later kan ‘n mens vorms, syfers en letters bo-oor mekaar teken wanneer hy Graad 1 bereik.
As die preprimêre skool ‘n geleentheid bied waar ‘n arbeidsterapeut teen ‘n verlaagde tarief kinders kom toets (siftingstoetse), sal ek voorstel dat julle die geleentheid aangryp. As die terapeut ‘n gogga optel, sal sy onmiddelik met julle daaroor praat.
Gee jou kleinman eers kans om te ontwikkel. Perseptuele ontwikkeling kry regtig baie aandag in Graad R en as sy omkerings en agterste-voor skrif nie begin opklaar nie, kan ‘n volledige evaluasie deur ‘n arbeidsterapeut (so teen Aug / Sept) van waarde wees.
Voorspoed!
LikeLike
Mar 04, 2010 @ 16:06:38
Hi
Ek het ‘n vraag my seuntjie is 6 jaar oud en in GR 1 hy skryf al sy woorde spiëelbeeld is dit iets om oor bekommerd te wees en hoe kan ek hom help.
Groete
LikeLike
Mar 04, 2010 @ 17:51:11
Welkom, Delani 😉
Weet jy ….in Graad 1 moet dinge nou al begin omswaai en “settle” in die normale beeld. Het julle al Boetman se ogies laat toets? Dit is moontlik dat sy ogies die lettertjies verkeerd interpreteer as hy van die bord of boek moet afskryf. Ander moontlikhede is dat hy sukkel met die innerlike bewustheid / sekerheid van links en regs. Daarvoor kan ‘n mens baie rigtingwoorde gebruik. Tel die beker op met jou linkerhand en sit dit neer met jou regterhand. Raak aan jou linkervoet, raak aan jou linker knie met jou regter voet…’n mens kan lekker speletjies op so ‘n manier prakseer. Probeer ook van die oefeninge oor rigting. Plak voorbeelde van die regte letters (kyk na robotkaarte onder die hofie drukbares) op en vra jou seuntjie om net terloops seker te maak dat syne dieselfde lyk. Indien dit nie vir hom vreemde lyk nie, kan jy vra dat hy oor die voorbeeld voel en dan oor sy geskrewe letter. Dikwels besef die outjies dan hul foutjies…Plan van aksie:
1. Oogtoets (plekke soos SPECSAVERS toets kinders onder 12 jaar gratis).
2. Doen die oefeninge gereeld – spelenderwys – en indien dit nie binne twee tot drie weke ‘n uitwerking het nie, kan ‘n mens ‘n arbeidsterapeut raadpleeg. Hulle sal vir jou die beste en meer ingeligte raad kan gee. Hoe vroeër ‘n kind by ‘n arbeidsterapeut uit kom (indien nodig) hoe meer effektief is die terapie.
Baie sterkte en laat weet ons hoe dit gegaan het 😉
LikeLike
Mei 20, 2010 @ 09:31:35
Die ander mensies ken nie van krisisse nie. My kind is 100% dubbelhandig. Hoe gemaak. Hy skryf & knip, ens. baie gemaklik met albei sy hande…
LikeLike
Mei 20, 2010 @ 17:49:28
Hi, Louise 😉 Ambidextrous mense het ‘n gawe en bevind hulself in dieselfde stal of kamp as bitter oulike mense. As uitvalle soos omkerings en rigtingverwarring voor kom, kan ‘n mens arbeidsterapie gebruik om die “norm” aan te leer. Mense soos DA VINCI het met hierdie unieke talent of gawe die pragtigste werke geskep.
As ‘n mens bewus is van die moontlike probleempies en indien die opvoeders van die unieke gawe bewus is, kan ‘n mens hulp gee en aanpassings maak.
LikeLike
Aug 17, 2010 @ 19:41:28
Ek is bekommerd! My seuntjie is 6 en in Graad R. Hy sukkel om te skryf. Sy naam is Leendert en kan hy wel “Lee” maar die res kan hy nie, hy probeer wel maar dit lyk glad nie reg nie. Wat syfers aanbetref kan hy 1 2 en 3 skryf, maar die 3 skryf hy dwars soos ‘n “m”, as die juffrou vir hom vra om 4 te skryf en dit ool vir hom wys, kom dit glad nie reg uit nie.
Sy oe is onlans getoets by ‘n spesialis en het ons met ‘n skok agtergekom sy oe is baie sleg. Hy dra nou al vir 3 maande bril maar kan ek geen verbetering is skryf en teken agterkom nie.
Ek is baie bekommerd,
Gee raad asb en laat weet as daar nog sulke gevalle is en wat die uitkoms was.
LikeLike
Aug 17, 2010 @ 20:22:58
Hello, Lynn en welkom 😉
Vir die naam sou ek voorstel dat julle sy naam ORAL opplak waar dit van toepassing is. Skryf dit netjies in die Graad 1-skrif (kyk onder “drukbares” vir voorbeelde), rol af en plak dit op sy tas, kosblik, kamerdeur, bed, spieël…Maak ‘n groen kolletjie waar hy met die letters moet begin en ‘n rooie waar hy moet stop (robot / verkeerslig). Doen handspier-oefeninge…’n Mens moet die voorbeelde gereeld vir hulle “voordoen” en opplak.
Skryf die letters en syfers met ‘n witbordpen op die yskas of op ‘n muurteël sodat jou seuntjie dit moet kopieer of skryf in stoom, sand…Die idee is om te oefen en af te vee (vee die foute af en vergeet).
Siende dat jou seuntjie eers onlangs begin beelde waarneem het, sal dit tyd neem om aan te pas. Indien julle ‘n gawe mediese fonds het of dit sou kon by bring, sal ek arbeidsterapie voorstel om die oorbrugging te vergemaklik. Soek ‘n bietjie na ‘n oulike en gesoute terapeut. Sy sal vinnig kan sê of jou seuntjie by die terapie sal baatvind en of hy dalk bloot net ‘n tuisprogram behoort te volg. Arbeidsterapeute lewer ‘n baie goeie diens en lewer veral resultate in Graad R- en 1-kinders. Baie sterkte! 😉
LikeLike
Feb 23, 2011 @ 11:50:17
My seuntjie word 8 april hy nou sy 2de jaar in gr1 en hy stel net nie belang in niks nie
LikeLike
Feb 23, 2011 @ 19:05:53
Hello, Audrey 😉 Die aanpassing van ‘n herhalingsjaar is vir sommige outjies moeilik. Praat asseblief met die juffrou en vra gerus wat sy sou voorstel. Ons prys die outjies en gebruik hulle as ons leiers en boodskappertjies. Hulle leer die klasmaats ‘n ding of twee en is die sterre van die klas. Die eerste kwartaal sal bekende leermateriaal hê en die outjie sal dit makliker vind. Dit kan egter ook vervelig wees. Daarom sal dit goed wees om sy huiswerk interessant en uitdagend te maak. Gee altyd ‘n lekker takie vir laaste of ‘n “uitdaging”. Nooi dalk van sy nuwe klasmaats oor om te kom speel en moedig die nuwe vriendskappe aan.
Hou maar die ore oop vir negatiewe “self talk”. As jy die heeltyd verwys na “druip” of sulke terme, kan jy verduidelik dat hy meer tyd gekry het om die graad te bemeester…want hy KAN dit doen. Hy het net ‘n bietjie meer tyd nodig gehad om te oefen. Indien hy regtig baie sukkel met die aanpassing kan julle dalk ‘n spelterapeut / opvoedkundige sielkundige spreek om ‘n bietjie berading te doen. Gee hom sommer ‘n stywe druk van my af 😉
LikeLike
Mar 03, 2011 @ 21:30:48
hi daar
my seuntjie het nou darem al begin beter tuiswerk doen maar nou het ek n probleem by my doen hy al sy tuiswerk reg en die juffrou se hy sy bekommerd oor sy vordering sy het hom ook nou exstra werkvelle gegee om te doen. ek baie bekommerd. moet ek hom dalk van skool verander of wat? help a.s.b.
LikeLike
Mar 04, 2011 @ 14:51:44
Hello, Audrey 😉 O, gats. Hoe is die outjie se aandagspan in die klas? Is dit moontlik dat die gewone klas gedruis sy gedagtes kan aflei? Dalk kan die juffrou hom in die klas skuif sodat hy langs ‘n stiller outjie sit of dalk kan hy vir homself ‘n kantoortjie skep deur lêers weerskante te pak.
Moenie sommer van skool verander nie. ‘n Mens moet uitvind waar die probleem lê en dít dan aanspreek. Vra gerus ook vir die juffrou of die skool ekstra klasse (intervensie of remediërende onderrig) aanbied sodat ‘n mens die outjie kan help.
Sterkte 😉
LikeLike
Apr 01, 2011 @ 23:56:29
j is nou in die oorbruggings klas geplaas die juffrou se dit gaan al beter
ek het hom by n klinise sielkundige gehad na dit n psigiater en nou weer by n opvoedkundige sielkundige hulle gaan hom toets die 5de en 6de april om te bevestig hoe ver hy gevorder is vir sy ouderdom ek weet nou nie meer wat om te doen nie die juffrou se dit lyk vir haar of als te veel moeite is vir hom en hy maak sy broek viul hy word 8 en dit lyk my nie dit pla hom enigsins nie help help wat moet ek doen hy baklei met almal en hy kla hy word geslaan en geskop by die skool juffrou se ook hy gooi klip by die skool maar hy se dit is nie so nie ek weet nie meer wat om te doen nie maar tog gee die skool vir hom n gedrags sertifikaat wie glo jy watdoen jy en na wie luister jy nou eintlik
a.s.b.
dankie
audrey
LikeLike
Apr 04, 2011 @ 08:27:56
Môre, Audrey 😉 Die opvoedkundige sielkundige se evaluasies sal na aspekte soos akademiese vermoë en emosionele welstand kyk. Hulle kyk ook na ‘n wye verskeidenheid ontwikkelings-aspekte wat nodig is vir lees, wiskunde en skrif. Het ‘n dokter al jou seuntjie ondersoek i.v.m. die bevuiling? ‘n Mens moet maar eers kyk of dit nie ‘n mediese probleem is nie. Noem die probleem aan die sielkundige. Indien die outjie emosioneel worstel om by die uitdagings van skool aan te pas, kan hy dalk op vreemde maniere uiting gee aan die frustrasies. Die sielkundige sal beslis na die gedragsprobleme kan kyk en hulp kan voor stel. Baie sterkte 😉
LikeLike
Apr 29, 2013 @ 14:24:11
hi da, my dogtertjie is nou 7, sy is links,skryf haar nommers verkeerd om.is ook geneig om regs te wil knip,enige oefeninge wat ek met haar kan doen?
LikeLike
Apr 29, 2013 @ 18:15:35
Middag, Janine 😉
Jy kan hier na die middellynkruisingoefeninge loer, maar kyk ook na die vaslegging van “links en regs“, syfers en oefeninge vir linkshandiges. Indien dit nie help nie, kan julle altyd die raad van ‘n arbeidsterapeut na sowat twee weke bekom. 😉 Ek hoop dit kan help.
LikeLike
Feb 16, 2015 @ 16:04:35
Hi my seuntjie is in Graad 2.. hy kon baie maklik in grad 1 sy werk doen en het baie goed gedoen die einde van sy eerste skooljaar. Hy sukkel egter nou om midlyn cruising te doen en ruil sy “b” en “d” en “p” om.
Ek wil hoor kan dit ander dinge soos konsentrasie in sy sport ook beinvloed ? Hy sukkel met konsentrasie oral
LikeLike
Feb 17, 2015 @ 17:05:34
Hallo, Tania 😉 Konsentrasie is ‘n ander gebied, maar dit kan sy sport beïnvloed indien hy byvoorbeeld nie tydens krieket op die bal fokus nie. Vir die b en d omruiling kan jy na die skakels loer. Tik ook soekterme soos “links en regs”, “VMI”, “visuele” en “ogies” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in. Hier is ook skrywes in verband met “aandagafleibaarheid” – of konsentrasie. ‘n Mens kan begin by ‘n oogtoets om te verseker dat die visie en oogbewegings normaal is, voordat ‘n mens ander hulp soek. Daarna kan ‘n mens met ‘n opvoedkundige sielkundige gesels om riglyne te kry. Indien die sielkundige ‘n evaluasie doen, sal dit na sy wiskunde en taalvlakke, konsentrasie VMI, skrif, emosionele welstand, ens. kyk. Die evaluasie gaan vir julle as ouers én die skool raakvat idees kan gee.
LikeLike
Mar 11, 2015 @ 12:38:28
Hi, my seun is nou in Gr R hy word September 6. Volgens sy juffrou kan hy nie stil sit nie, hy is baie woelig maar n soet kind sê sy. Hy is ook bietjie stadig maar by gesê hy is links. Ek het vir hom eye q gekry wat hy drink maar daar is nie regtig n verbetering nie. Hy drink glad nie gaskoeldrank of eet lekkernye deur die week nie.
Hy gaan morê na n arbeidsterapeut vir evaluasie maar ek is regtig bekommerd want ek hoor die vrou is ingekontrakteur by die skool en sy luister nie regtig na die ouers nie net na die juffrouens by die skool het ek rede om bekommerd te wees?
LikeLike
Mar 18, 2015 @ 02:46:30
Hallo, Sanet 😉 As ‘n outjie kleindag woelig is, kan dit op ‘n lae spiertonus (normaal vir jong lyfies), aandagspanprobleme, te veel suiker, ‘n groot lewenslustigheid, ens. dui. Ons kan dit nog nie bepaal nie – juis omdat daar soveel aspekte is om eers uit te skakel. ‘n Mens kan uit ervaring agterkom dat die outjie dalk meer energie het…Die juffrou gaan begin deur self oefeninge met die outjie te doen, sport aan te beveel en sal ook ‘n arbeidsterapeut nader vir kliniese raad. Dit is wonderlik dat julle nou al begin dink aan ingrypings – juis omdat die outjie nog so jonk is en omdat ‘n mens die sneeubal-effek sodoende sal verminder. Tik gerus soekterme soos “spiertonus, dieet, kosblik, aandagspan…Graad R, linkshandig, my kind skryf stadig…” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir nog idees.
Jy het die reg om jou eie terapeute te kies, omdat dit jou beursie raak. In plaas van bekommerd, kan ‘n mees eerder gemoedsrus hê omdat julle vroeg reeds planne beraam 😉
LikeLike
Jul 27, 2015 @ 14:18:55
Hi,
My seun is in graad 9. Skryf verskriklik lelik en in graad 7 het die onderwyser gese sy dink hy het n probleem met sy midlyn kruising. Sy het my een van sy antwoord stelle gewys van die eksamen en dit lyk of 5 verskillende mense daar geskryf het. Hy skryf sonder spasies tussen sy woorde en die woorde staan almal in die lug en raak nie die lyn nie. Sal dit help om hom na n arbeidsterapeut te neem. Sy skrig het nou n negatiewe uitwerking op sy punte natuurlik.
LikeLike
Jul 27, 2015 @ 19:32:24
Middag, Debbie 😉
‘n Mens kan met ‘n gesoute arbeidsterapeut kontak maak, maar dit is moontlik dat die outjie reeds “te oud” is. Soms help dit om van lopende skrif na drukskrif oor te slaan – of anders om.
Is sy oë getoets om te verseker dat die oogbewegings egalig is en dat hy goed kan sien? Dit het soms ‘n invloed op die plasing van letters/skrif.
Loer gerus ook na inskrywings oor “VMI, handspier, fynspier, knip, tuis idees, potloodgreep, skryf, skrif, lopende skrif…” deur hierdie terme een-een by die bruin soekblokkie regs bo-aan my blog in te tik. Dit gaan vir julle heelwat gratis oefeninge gee.
‘n Ander gedagte – reflekteer die kennis wat hy tuis openbaar/demonstreer in sy skoolwerk? Met ander woorde: Is daar ‘n groot verskil tussen dit wat hy weet/ken en dit wat hy tydens toetse of eksamens kan neerpen? As dit die geval is, sou ek met ‘n opvoedkundige sielkundige wou gesels.
LikeLike
Jan 23, 2017 @ 21:10:15
Fantastiese blad. Baie dankie 😉
LikeLike
Jan 23, 2017 @ 22:11:16
Baie dankie, Cornel 😉 Dit beteken baie.
LikeLike
Aug 24, 2018 @ 11:18:33
Goeie more, my seuntjie is nou in graad 1 en het n vreeslike slegte handskrif, hy skryf so lelik dat die juffrou hom nou penaliseer oor dit en hy nie goeie punte behaal nie. Al sy goed is reg, maar sy handskrif is vreeslik. Wat kan ek doen? Ons sit aande met hom en oefen maar dit wil nie lyk of dit help nie.
LikeLike
Aug 24, 2018 @ 18:49:34
Hallo, Natasha 🙂
As sy skrif reeds sy punte benadeel, sou ‘n mens graag ‘n konsultasie met ‘n gesoute arbeidsterapeut wou reël. Tuis kan julle groot- en fynspier oefeninge doen om die spiere van sy skouer tot vingers te versterk. Hersien aspekte soos knipvaardighede, potloodgreep en ook ooghand koördinasie aspekte (volg die doolhof, kopieer die simbool, gooi ‘n bal na ‘n teiken, ry met karretjies op ‘n lyn/in ‘n baan). Tik gerus ook soekterme soos “robotkaart, skrif, abc skryf, patroon, patrone…” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir soortgelyke idees.
Ek hoop dit kan help.
LikeLike
Sep 15, 2022 @ 15:59:10
Hi my dogter is no in graad twee en sy draai altyd die b en d om. Wat kan ek doen op haar te help.
LikeLike
Sep 15, 2022 @ 23:02:47
Hallo, Christelle 🙂
Skryf vir haar die eerste vier letters van die alfabet neer en sê dit saam met haar op. ”b” is eerste in die alfabet en ”d” volg later. ‘n Mens kan ook die hande in ”als reg” of ”okay” tekens vorm en teen mekaar hou. As ‘n mens die woord ‘bed’ sê en jou verbeel dat jou hande ‘n bed vorm, is die b eerste of links en die d tweede of aan die regterkant.
Loer gerus ook na hierdie skakels en drukbare bladsye: https://myklaskamer.com/2010/02/17/b-en-d-verwarrings/ en https://myklaskamer.com/2014/05/24/onthou-b-en-d/ (klik op die onderstreepte skakels in die skrywes).
Ek hoop dit kan help 🙂
LikeLike