Tuis

Pay it Forward, Onbaatsugtigheid

Lewer kommentaar


Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag – ‘n dag waarop ‘n mens ekstra deernis teenoor jou medemens kan toon sonder om ‘n teenreaksie te verwag.

‘n Mens sal vanjaar baie vindingryk moet wees, maar dink aan maniere om jou medemens te help sonder om die insluitings- of grendeltydreëls te oortree.

Skakel gerus organisasies of instansies wat dalk van behoeftes in jou area sal weet en hoor wat die riglyne tans is. Is daar mense wat eensaam is en ‘n oproep sal waardeer? Maak kontak met kennis en hoor hoe dit gaan.

Elders versier mense die vensters wat aan die straat grens ter ondersteuning en bemoediging van noodpersoneel en ander. Probeer gerus ‘n paar van hierdie idees:

  1. Plak maskeerband om verskillende geometriese blokke te maak en verf die blokke met ‘n mengsel wasbare akrielverf en skottelgoedwasmiddel. Wissel die kleure af en verwyder die maskeerband sodra die verf droog is. ‘n Mens kan natuurlik ander boodskappe en prente ook verf.
  2. Teken kleurvolle prente met bordkryt op sementtrappe of die inrit.
  3. Sny kleurvolle harte uit en rangskik dit in die venster – in ‘n raampie of in ‘n boog.
  4. Verf ou koerantvelle – elkeen in ‘n aparte helder kleur. Sny elke vel in eenderse stroke op en maak papierkettings om in julle ruit te hang.
  5. Versier die motordeur indien dit binne die grenslyne van die erf is.

Loer gerus na moontlikhede wat aanlyn beskikbaar is of wat ‘n mens tydens die grendeltydperk kan begin om na die tyd te volbring.

Alle voorspoed!

Aarde Dag

Lewer kommentaar


Vanjaar val Aarde Dag so in die middel van die grendeltydperk. Hoe gaan ‘n mens dan nou in jou huis op hierdie dag fokus?

Kyk na gebruike in die huis en moontlike vermorsings. Kan ‘n mens sekere items dalk eerder herwin, herverbruik of in ‘n komposhoop begrawe?

Sny ou papbokse as legkaarte op, gebruik blikke as stelte of gebruik ou telefoongidse om skrif op te oefen (lekker groot letters dwars-oor die kolomme).

Plant sade of plantjies in ou blikkies en maak steggies in glasflesse groei. Jy kan jou eie groentetuintjie begin.

Gebruik flesse en herbruikbare bakke om kos te bêre – eerder as om herhaaldelik sakkies te koop. Het ‘n mens telkens ‘n servet nodig of kan ‘n natlappie werk?

Waarheen loop die gryswater in julle huis? Is daar omgewingsvriendeliker maniere om die huis skoon te maak eerder as om sterk chemikalieë te gebruik?

Hou vir ‘n paar dae dop hoeveel goed in die vullisdrom beland en beraam dan ‘n plan 🙂

Afstandsonderrig: Verskillende idees om te probeer

Lewer kommentaar


Sien Bladsye 14 – 16

Google Classroom en SeeSaw werk tans goed vir my outjies. Die skool het seker gemaak dat al die InterSen leerders ‘n e-pos adres het waarmee hulle by Google Classrooms kan aansluit. Elkeen van my ouer graadgroepe het ‘n eie Google klaskamer en ons maak afsprake om in die groep se Google Meet-funksie te gesels. Jy kan hierdie funksie in jou instellings aanskakel. Sodoende sal die outjies op die skakel in die klaskamer se hofie kan klik om kontak te maak.

Indien jou skool die Google-pakket gebruik, kan jy ook Google Meet-gesprekke in die e-pos afdeling begin of ‘n vinnige boodskap deur Google Hangouts stuur – ‘n meer informele klets opsie.

SeeSaw laat my toe om opdragte aan sekere kinders te stuur of om inligting met sekere graadgroepe te deel soos nodig. Ek neem videos op en laai op waar nodig of deel dokumente om tuis uit te druk.

Zoom is ‘n ander platform waarmee jy groepe of individue kan nooi om by ‘n gesprek aan te sluit. Gesprekke kan met ‘n wagwoord beskerm word. Haak ‘n Osmo-spieëltjie oor jou skootrekenaar se kamera en deel só werk wat jy op ‘n witbordjie of papier verduidelik.

Wat werk vir jou?