Tuis

April

Lewer kommentaar


April is Outisme Bewustheidsmaand en die 2de is Outisme Bewustheidsdag. Loer gerus hier na inligting oor kenmerkende gedrag of kentekens. Dr. Temple Grandin is iemand wat haar eie ondervinding en kennis deel. Mense wat hul eie stories deel, bring ‘n nuwe perspektief. Ek werk daagliks met outjies op die spektrum. Dit is altyd interessant om elkeen se unieke talente en belangstellings te leer ken. Snuffel gerus en luister na elkeen se stories. Hoe meer ons leer, hoe beter kan ons ondersteun.

Aarde Dag is een van daardie spesiale dae waarop ons kinders van goeie gebruike kan leer. Waarom moet ons omgee en ons omgewing skoon hou? Hoe kan ons dit doen en ons omgewing oppas?

Op die 23ste kan ons Boeke Dag, Boeke Nag en Kopieregdag vier. Gesels met die bibliotekaresse oor oulike boeke wat ‘n mens gedurende die dag en nag kan lees. Is daar boeke oor nagtelike manewales of diere wat in die nag baljaar (byvoorbeeld uile)? Wat beteken kopiereg en hoekom is dit so belangrik? Bespreek gerus die onderwerp en moedig eie werk aan.

Pikkewyndag is ‘n oulike dag waarop ‘n mens soos ‘n pikkewyn kan loop en kyk hoe hulle beweeg en lewe. Dra swart en wit, maak maskers en samel geld vir ‘n gepaste organisasie soos Sanccob in.

Bespreek die oorsprong van die dag. Dra gerus klere in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag of iets wat jou aan die Suid-Afrikaanse embleme herinner.

Onbaatsugtigheidsdag of Pay it Forward Day is geskoei op ‘n fliek of ‘n idee wat in die vroeë 2000s ontstaan het. Die idee is om ander te help en te motiveer om self ander te help. Sodoende kring die beweging weier en weier uit. Daar is verskillende webwerwe met oulike idees beskikbaar.

Aarde dag/Onbaatsugtigheid

Lewer kommentaar


Ons vier Aarde Dag op die 22ste April. Wat kan julle in die klas, by die skool of by die huis doen om ons aarde beter op te pas?

Doen iets om ander te help sonder om iets terug te verwag. Verras iemand met ‘n bederfie of ‘n ekstra gawe woord.

Onbaatsugtigheid / Pay it Forward

Lewer kommentaar


Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag of Pay it Forward Day. Gebruik die 28ste om navorsing oor omgeeprojekte te doen of om idees in te samel wat haalbaar en uitvoerbaar kan wees.

Pay it Forward, Onbaatsugtigheid

Lewer kommentaar


Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag – ‘n dag waarop ‘n mens ekstra deernis teenoor jou medemens kan toon sonder om ‘n teenreaksie te verwag.

‘n Mens sal vanjaar baie vindingryk moet wees, maar dink aan maniere om jou medemens te help sonder om die insluitings- of grendeltydreëls te oortree.

Skakel gerus organisasies of instansies wat dalk van behoeftes in jou area sal weet en hoor wat die riglyne tans is. Is daar mense wat eensaam is en ‘n oproep sal waardeer? Maak kontak met kennis en hoor hoe dit gaan.

Elders versier mense die vensters wat aan die straat grens ter ondersteuning en bemoediging van noodpersoneel en ander. Probeer gerus ‘n paar van hierdie idees:

  1. Plak maskeerband om verskillende geometriese blokke te maak en verf die blokke met ‘n mengsel wasbare akrielverf en skottelgoedwasmiddel. Wissel die kleure af en verwyder die maskeerband sodra die verf droog is. ‘n Mens kan natuurlik ander boodskappe en prente ook verf.
  2. Teken kleurvolle prente met bordkryt op sementtrappe of die inrit.
  3. Sny kleurvolle harte uit en rangskik dit in die venster – in ‘n raampie of in ‘n boog.
  4. Verf ou koerantvelle – elkeen in ‘n aparte helder kleur. Sny elke vel in eenderse stroke op en maak papierkettings om in julle ruit te hang.
  5. Versier die motordeur indien dit binne die grenslyne van die erf is.

Loer gerus na moontlikhede wat aanlyn beskikbaar is of wat ‘n mens tydens die grendeltydperk kan begin om na die tyd te volbring.

Alle voorspoed!

Onbaatsugtigheid

Lewer kommentaar


Dit is byna Pay-it-Forward Dag of ‘n Dag ter bewusmaking van Onbaatsugtigheid.  In die skool, kan ‘n mens outjies aan goeie gewoontes herinner om mense by die skoolgemeenskap te betrek en om gaaf te wees.

  • Hou die deur oop vir die persoon agter jou of vir iemand wat swaar dra.
  • Bied aan om iemand te help wat baie goed het om te dra.
  • Help ‘n maat, ‘n opvoeder, iemand in die kantoor, terreinpersoneel, ens.
  • Stel Post-It boekies beskikbaar, sodat kinders goeie (anonieme) boodskappe aan mekaar kan skryf.  Bv. Jy is ‘n goeie maatDankie dat jy jou maats aanmoedig.
  • Bak koekies vir die klas of bring springmielies (*maak aanpassings indien daar iemand met ‘n allergie is) om die groep te verras.
  • Maak beurte om met outjies te gesels wat alleen speel of eensaam lyk.
  • Neem toerustig (soos springtoue of balle uit) sodat ouer kinders die kleintjies kan touwys maak.
  • Het iets geval? Tel dit op – al is dit nie joune nie.
  • Het jy iets op getel wat nie aan jou behoort nie?  Neem dit kantoor toe of probeer om die eienaar op te spoor en gee dit terug.
  • Is daar bure wat dalk ekstra hulp benodig?  Trek byvoorbeeld die onkruid uit, sleep die vullisdrom terug of bied aan om met die hond te speel.
  • Sien jy iemand wat alleen skool toe stap?  Bied aan om saam te stap.

Dink aan klein dingetjies wat ‘n mens kan doen om iemand se dag ‘n klein bietjie beter te maak.  ‘n Glimlag of ‘n klein gebaar kan wondere verrig.

Onbaatsugtigheid/Pay it Forward

1 Kommentaar


28 April is Pay it Forward Dag en is geskoei op die fliek met die gelyksoortige naam.  Die gedagte is om ‘n onbaatsugtige taak te verrig en te vra dat ander dit ook probeer om die beweging “aansteeklik” te maak.

Is daar iets wat julle as ‘n klas kan doen?  Kan julle iemand in die skoolgemeenskap help?  Loer gerus hier na vorige inskrywings en idees.