Tuis

April

Lewer kommentaar


April is Outisme Bewustheidsmaand en die 2de is Outisme Bewustheidsdag. Loer gerus hier na inligting oor kenmerkende gedrag of kentekens. Dr. Temple Grandin is iemand wat haar eie ondervinding en kennis deel. Mense wat hul eie stories deel, bring ‘n nuwe perspektief. Ek werk daagliks met outjies op die spektrum. Dit is altyd interessant om elkeen se unieke talente en belangstellings te leer ken. Snuffel gerus en luister na elkeen se stories. Hoe meer ons leer, hoe beter kan ons ondersteun.

Aarde Dag is een van daardie spesiale dae waarop ons kinders van goeie gebruike kan leer. Waarom moet ons omgee en ons omgewing skoon hou? Hoe kan ons dit doen en ons omgewing oppas?

Op die 23ste kan ons Boeke Dag, Boeke Nag en Kopieregdag vier. Gesels met die bibliotekaresse oor oulike boeke wat ‘n mens gedurende die dag en nag kan lees. Is daar boeke oor nagtelike manewales of diere wat in die nag baljaar (byvoorbeeld uile)? Wat beteken kopiereg en hoekom is dit so belangrik? Bespreek gerus die onderwerp en moedig eie werk aan.

Pikkewyndag is ‘n oulike dag waarop ‘n mens soos ‘n pikkewyn kan loop en kyk hoe hulle beweeg en lewe. Dra swart en wit, maak maskers en samel geld vir ‘n gepaste organisasie soos Sanccob in.

Bespreek die oorsprong van die dag. Dra gerus klere in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag of iets wat jou aan die Suid-Afrikaanse embleme herinner.

Onbaatsugtigheidsdag of Pay it Forward Day is geskoei op ‘n fliek of ‘n idee wat in die vroeë 2000s ontstaan het. Die idee is om ander te help en te motiveer om self ander te help. Sodoende kring die beweging weier en weier uit. Daar is verskillende webwerwe met oulike idees beskikbaar.

Boeke Dag en Nag

Lewer kommentaar


Op die 23ste April is dit Wêreld Boeke Nag en baie mense vier ook Wêreld Boeke Dag. Dit is ook Kopieregdag. Wat is dit en hoe kan ‘n mense met ouer kinders oor kopiereg gesels wanneer hulle navorsing doen en take skryf? Moedig gerus ‘n bronnelys of bibliografie aan.

Deel gerus ‘n leeslysboekmerkie, lees boeke op ‘n toestel (rekenaar, slimfoon, tablet), skakel die onderskrifte vir videos aan lees saam. Trek soos ‘n boekkarakter aan of versier die klasdeur soos jou gunstelingboek se voorblad.

Boeke en Sprokies

Lewer kommentaar


Ons vier Sprokiesdag op die 26ste Februarie. Trek soos ‘n sprokieskarakter aan of lees ‘n storie in meer as een taal. Hoe verskil die weergawes en hoe kom dit ooreen?

Op die sewende Maart, is dit Wêreld Boeke Dag en op die 23ste April is dit Wêreld Boeke Nag. Lees boeke oor ‘n spesifieke tema of boeke wat deur ‘n spesifieke outeur geskryf is. Kies ‘n bekende storie en kyk of julle dieselfde storie in ander lande kan opspoor. Hoe lyk Rooikappie se voorblaaie in verskillende wêrelddele of hoe lyk die tale (bv. Afrikaans, Engels, Spaans, ens.).

Trek die gordyne toe om die vertrek donkerder te maak en versier die klas met sterre. Bou ‘n fort in die klas en lees met behulp van flitsligte of lampies.

Biblioteekweek duur van die 18de tot die 24ste Maart. Lees ‘n boek of luister gerus na ‘n storie. Herrangskik julle leeshoekie, samel geld in vir ‘n nuwe boek of vra gerus vir skenkings. Lekker lees!

Boeke, Boeke, Boeke

Lewer kommentaar


Tydens die eerskomende Biblioteekweek fokus ons daarop om die biblioteekdienste te herontdek. Daar is ‘n Boeke Dag op die 3de Maart (Verenigde Koninkryk) en een op die 23ste April. Die 23ste April dien ook as Boeke Nag – wanneer ‘n mens ‘n lees aand by die skool of tuis kan reël.

wêreld opvoedkundige spele 2012

Lewer kommentaar


Die 1ste Maart is Wêreld Boekedag, die 6de is Wêreld Speldag, die 7de Wêreld Wiskunde Dag en die 8ste is Wetenskapdag.  Jy kan  jou klas op World Education Game se webtuiste registreer en dan teen internasionale teenstanders kompeteer om jou kennis te toets.  Indien jy nie aan dié speletjies wil deel neem nie, kan jy die dae steeds in jou klas vier:

Boekedag:

Kinders is nooit te jonk om meer oor boeke te leer nie.  Spreek aspekte soos die versorging van boeke aan en doen ‘n bietjie boekopvoeding…Wat is ‘n titel?  ‘n Outeur?  ‘n Illustreerder?  Hoe blaai ek deur ‘n boek en waar bêre ek dit?  Tel hoeveel van ‘n spesifieke klank jy in die leesboek kan kry of soek na spesifieke sigwoorde…

Onthou ook dat dit Biblioteekweek van 17 – 24 Maart sal wees…

Speldag:

Die Graad 1’s kan vaslegging van hul klanke doen deur middel van klank- of fonemiese bewustheidstake.  Fokus op die ouditiewe en visuele persepsies en maak seker dat die outjies die klanke reg vorm.

Graad 2’s kan hul kennis van dubbel-, twee– en drieklanke hersien.  Dit hoef nie formeel gedoen te word nie.  Inkleurtake of speletjies sal baie goed werk.

Die Graad 3’s het moontlik nog nie met taalleer of taalreëls begin nie.  Dalk kan ‘n mens een op hierdie spesiale dag aanspreek.

Wiskunde Dag:

Dit is ‘n goeie tyd van die kwartaal om basiese vaardighede vas te lê.  Tel aan en terug, besluit of ‘n getal ‘n ewe of onewe getal is, lê die wiskunde woordeskat vas (meer, minder, altesaam, * keer meer as…), tel in veelvoude, hersien maaltafels, stof ou spoedtoetsboekies af…

Wetenskapdag:

Besoek die skool se laboratorium of wetenskapklas.  Watter interessante eksperiment kan die onderwyser vir julle wys of wat kan die kinders self doen?

 

Onthou om spesifieke soekterme by die bruin blokkie aan die regterkant in te tik vir spesifieke skrywes (bv. maaltafel, abc, klanke, sigwoorde, biblioteek, boeke, wiskunde, Graad 1…).