Iemand het onlangs idees gevra oor die aanvullende dekor idees in die klaskamer. Vind hiermee dan so ‘n paar idees vir die nuwe skooljaar.
Gaan staan in die middel van jou klas en kyk na die uiteensetting van die banke of tafels en meubels. Besluit of elkeen goed kan sien en met gemak kan beweeg voordat jy aan die dekor dink.
Heelwat onderwysers hou van ‘n natuurtema wat met insekte, blomme of ‘n woud te make het. Dink aan ‘n kleurskema wat daarby sal pas – soos ‘n sagte groen en verskillende skakerings daarvan. Jy sal jou tema jaarliks kan verander – van die onderskeie insekte (bv. bye, lieweheersbesies…), na diere in die woud (bv. ‘n vos, ‘n beer, ‘n krimpvarkie, ens.), na uile, kabouters, feëtjies en blomme.
Indien jy self die mat kan kies, kan ‘n mens beslis iets dienliks kies om die stowwerigheid en kolle te verbloem of dalk na iets soos fopgras (sagte, kamma-gras of groen matte) loer. Indien jy groot rubber teëls kies, kan ‘n mens kyk na gepaste kleurskemas. Hardeware winkels verkoop swart teëls, maar ‘n mens kan dit met kleurvolle rubber teëls elders afwissel. Dit vee vinnig skoon.
Loer ook na moontlikhede soos die groot klitsgraskolle (velcro) wat aan die mat sal kleef. Jy kan dit lig en rondskuif om sitplekke aan te dui en om struwelinge op die mat te vermy.
Indien jou klas houtvloere het, kan ‘n mens groot vinyl-kolle plak waar elkeen op die vloer sal sit. Jy kan ook vinyl-vorms met die hand of met ‘n Cricut-masjien sny. Wat van vorms wat by jou tema pas – soos die insekte, paddastoele en blomme? As jou dakligte te helder is, kan jy ‘n plastiese bedekking met magnete bo-oor aanbring. ‘n Mens kry verskillende prente en temas aanlyn.
‘n Kollega het ‘n ou boomstomp in stoelhoogte stompe op gesaag en wieletjies aan gebring. Dit word nou as ekstra sitplek in sy klas gebruik. Watter alternatiewe (en sakpas) moontlikhede is daar in jou omgewing?
As jy van blou hou, kan ‘n mens iets soos vliegtuie, lugballonne, wolke, seevaart of die see betrek. Hang mandjies met toue aan papierlanterns van verskillende groottes om lugballonne te maak of omskep dit in kleurvolle visse.
Vir ‘n seetema, kan ‘n mens helder dakligte met seegroen of blou lap bedek. Steek silhouette van seediere bokant die lap in vir ‘n interessante effek. Maak jellievisse uit papierlanterns en hang linte van verskillende diktes onderaan. Versprei die visse regoor die plafon of hang dit voor, nader aan die venster.
Bind ‘n ou swemspons (pool noodle) in ‘n groot ring en plak dit met sterk kleefband vas. Draai wit, blou en rooi wol of tou om die ring totdat die spons verberg is en versier verder om ‘n reddingsboei vir ‘n seevaarttema te maak. Maak soortgelyke opsies en hang elkeen in die middel van ‘n venster of teen jou deur.
Saag ou stompe of houtpale in verskillende lengtes. Bind dit met rou tou vas as ‘n klasversiering of draai groot emmers en blikke in soortgelyke tou (van bo tot onder) toe. Sit ‘n neutrale kussing bo-op die deksel (bv. vlootblou) om stoel-stoorplek kombinasies te maak. Jy kan hiérdie tipe sitplekke ook met kratte of buitebande maak.
Besoek gerus tweedehandse winkels of vra kennisse om eers met jou te gesels voor hulle meubels weg maak. ‘n Mens kan altyd ou stoele, koffietafels en rakke verf of aanvanklik met ‘n lappie bedek.
In terme van gordyne, kan ‘n mense seker gordyne koop. Jy kan ook repe lap om ‘n gordynstok knoop of stroke kleurvolle net uit blikke laat hang – soos verf wat daaruit stroom. Hou aspekte soos privaatheid en ‘n helder son in gedagte as jy die tipe lap kies. Moet jy toe maak of kan jy die lig in laat?
Klik gerus hier onder vir ‘n paar GRATIS items en loer ook na die skakels in die skrywes heel onder. Daar is heelwat ander moontlikhede.
Vind hiermee ‘n paar goedjies waarmee jy jou klas kan optof. Vir werk en ander hulpmiddels, kan jy soekterme soos “klanke, lees, hersien, verwarring, flitskaart, sigwoord, lees, leesreeks, leeslys, stories, liedjies, rympies, wiskunde huiswerk, woordsom, meer en minder, voor en na, breuke…hulpmiddels, beplan…” by die soekblokkie aan die regterkant in tik. Loer ook na die “Drukbare Bladsye”- en “Produkte“-hofies.
Klaskamer Dekor: Temas: ‘n Verjaarsdagkalender, Vlaggies, Kalenderwoorde (dae, maande en 31 syfers) in flitskaartvorm…soms ‘n bietjie meer 😉
September is die herdenkingsmaand van My Klaskamer – ‘n webjoernaal (blog) vir ouers, onderwysers en onderwysstudente. Vanjaar bestaan Juffer en My Klaskamer reeds 10 jaar en daarom is dit tyd vir ‘n paar gedagtes rondom die getal 10.
Jonger leerders leer vinnig om tot by 10 te tel, maar hoe kan ‘n mens so ‘n bietjie meer op die getalle tussen 0 en 10 fokus of met 10 werk?
Tel die vingers of tone afsonderlik. Hoeveel tone het twee maats…en die klas?
Ryg ‘n pypskoonmaker deur 10 krale en gebruik dit as ‘n armband of vou dit plat as ‘n mini-telraam. Die kleiner outjies kan nou hul kombinasiesomme oefen deur byvoorbeeld somme soos 3 + _ = 10 te toets.
Anker ‘n spaghetti- of sosatiestokkie in wondergom op die tafel en gebruik ringvormige pap of krale om hoeveelhede tot by 10 oor te glip. Gebruik die syferkaarte in ‘n pak kaarte om verskillende hoeveelhede te maak (7 krale, 9 krale, ens.).
Trek twee syferkaarte (bv. 10 en 2) en doen ‘n aftrekkingsom deur 2 krale weg te neem. Hoeveel bly agter? Maak meer en minder en gebruik die fisiese aktiwiteit om sommer fynspier oefeninge en oog-hand koördinasie by te werk.
Trek ‘n kaart uit ‘n pak speelkaarte (haal eers die koninklike stel uit). Hoeveel het ek nodig om ‘n 10 vol te maak (dus 5 + _ = 10)? As ek 10 het en dié getal wegneem, hoeveel bly oor (bv. 10 – 3 = _)?
Trek beide hande op ‘n vel papier (bv. koerantpapier, telefoonboekblaaie…) af en knip uit…of maak twee afskrifte van een hand (hou die een hand byvoorbeeld as ‘n linkerhand en dop die ander een om as dit klaar uit geknip is – om as die regterkant te gebruik. Plak die handpalms langs mekaar op ‘n karton (grawe deur die herwinningsdosies), sodat die vingers kan omknak of beweeg. Gebruik die handjies as jy somme op “vingers” wil bereken.
Meet stroke papierlint (streamers) en knip dit in 10cm-lange dele op. Meet ‘n strookpapier om die kop (soos ‘n kroon) en plak die papierlinte al langs die lengte van die kroon. Versier dit met voorstellings van 10 (verskeie versamelings, syfers, getalname).
Hoe ver kan julle in tiene tel? 100? 200? 1 000?
Kleur die kolomme op ‘n honderdblok in 10 verskillende kleure in. (Bv. al die getalle wat op 3 eindig – blou.) Watter getal is 10 meer of minder as ‘n gegewe getal. Kies ‘n kleur en tel van bo na onder. Sny sommer die blok in dwars stroke en bou die legkaart. Waar hoort die getalle?
Meet vorms (vierkante, reghoeke, driehoeke) met ‘n 10cm-sy af. Knip dit uit en pons 10 gate langs ‘n sy af of reg rondom. Ryg wol of tou om die rand en gebruik die vorms as versierings of boekmerke.
Deel September in tiene in: Ruil elke 10 dae sitplekke in die klas, staanplekke in die ry of die volgorde van lesse/periodes.
Vou ‘n vel papier in die helfte (in die lengte) en weer in die helfte om lang stroke of lyne te vorm. Gee verf en proppies of ink en stempels om patrone te druk. Hoeveel patrone kan jy in 10 drukke skep? (Kleure, herhaalde items, ens.)
Betrek die ouers deur te vra dat hulle saam op die getal fokus. Vra dat hulle byvoorbeeld 10 los happies (bv. druiwe korrels, blokkies kaas, springmielies…) in pak. As julle lus het, kan ‘n mens op spesifieke getalle fokus (bv. 5, 8…).
Hou ‘n pannekoekdag en vul ‘n sousbottel met die beslag. Maak dan klein pannekoekies deur tiene (10) in die pan te spuit. Oefen vooraf of maak dit as ‘n koue bederfhappie.
Hoe kan die outjies ‘n vinnige 10-happie maak? ‘n Lang wafer en ‘n ronde koekie?
Ryg 10 items op ‘n sosatiestokkie (bv. worsie, hamblokkie, kaas, vrugte…).
Maak ‘n lys van die leesboeke of stories wat julle as ‘n klas gelees het. Gee ‘n 10-minuut breuk per elke 10 boeke. Speel dan opvoedkundige speletjies of doen iets prettig en buitengewoon.
Deel 10 minute iewers deur die dag by die rooster in om te lees. Stel spesifieke reëls en riglyne in, sodat almal kan saamwerk (bv. ons lees flitskaarte, ons leesboekies, ‘n Engelse boek…). As 10 minute te lank is, deel dit in twee “rustye” van 5 minute elk.
Hoeveel woorde kan julle lys wat 10 letters bevat? Wat beteken hierdie woorde?
Hoeveel syfers is daar in ‘n selfoonnommer? Kies ‘n bekende nommer (‘n ouer s’n) en tel die onderskeie syfers bymekaar. Bv. 0821111111: 0 + 8 + 2 + 1…= 17. Wie se antwoord is die meeste of die minste?
Skryf verskeie selfoon- of telefoonnommers op lootjies neer, trek ‘n kaartjie en kyk hoeveel kombinasies van 10 uit die onderskeie getalle gebou kan word.
Iemand het navrae gerig oor beloningskaarte. Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.
Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens. Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉
Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim. (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)
Sommige juffrouens gebruikligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een). Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering(gemerk as Santa’s camera). As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.
Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation. Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring. Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.
Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur. Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies). Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is. Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos? Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie. Sodoende kan maats mekaar help.
Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind. Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie. Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig. Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers. Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.
Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.
Aan die begin van die skooljaar moet ‘n mens die nuwe roetine inoefen en deurgee. Die lyfies is nog met vakansie en so ook die eetgewoontes. Verduidelik aan hulle hoe die rooster werk, wanneer julle sal eet, hoe julle aantree in rye en hoe julle deur die skool gaan stap (bv. hande agter die rug).
Plak/teken prente in die volgorde van die basiese rooster (iewers op die bord of muur) en skuif ‘n magneet of wasgoedpennetjie heen en weer gedurende die eerste dae. Bv. Ons gaan vandag werk, ‘n peuselhappie neem, badkamer toe gaan en ‘n storie lees voor pouse…Jy mag jou kosblik saamneem as jy uitgaan, maar onthou om iets vir tweede pouse te hou.
Die jonger outjies sal steeds vrae vra, maar verwys gereeld na die visuele opsie sodat hulle daaraan gewoond kan raak. Probeer ook die volgende idees gedurende die eerste dae…
Tussen take: Trek ‘n vertikale lyn om vir die outjie te wys waar sy neus min of meer moet wees. Teken dan die bekende skrifpatrone lekker groot op ‘n skryfbord van links na regs oor die streep. Ek maak ‘n begin- en eindkol vir die jonger outjies en plak ‘n voorbeeld bokant die skryfspasie. Die outjies trek die patroon aanvanklik van linkerkol tot regterkol en daarna doen ons dit weer met die oë toe. Hulle hoef natuurlik nie op ‘n skryfbord te werk nie en kan in die sandput of met ‘n vinger op die tafel (- later die bad se rand, op die stortdeur of ‘n gestoomde spieël) oefen. Gebruik ou koerante, vetkryt, verf of gewone bladsye ook.
Spiertonus/Postuur:
Raak ‘n outjie maklik moeg aan die tafel of sak hy/sy ietwat weg in die stoel? Draai die stoel om, sodat hy/sy wydsbeen en regop teen die rugleuning kan sit. Dis nie die ideaal nie, maar die lyfie word ondersteun terwyl mens gedurende die dag aan die spiertonus werk.
Kriewelrig:
Is die outjie kriewelrig? Sny ‘n kepie in twee afsonderlike tennisballe en glip dit onder twee teenoorstaande stoelpote in, sodat die outjie geluidloos heen en weer kan wip. Indien jou skool klein wiegstoele (rocking chairs) het, kan jy dít inspan of die knobbelrige rubberkussings gebruik wat gewoonlik deur arbeidsterapeute aanbeveel word.
Stel ‘n aftelwekker op jou foon of stel ‘n eierwekkertjie. Indien jy toegang tot die internet het, kan jy verskeiewekkers aanlyn opsoek. Gebruik dit om ‘n aanduiding van die werkperiode te gee óf die pouse (bv. 3 minute) tussen take. Sing dan ‘n aksieliedjie, doen Brain Gym of soortgelyke strekke. GoNoodle het YouTube video’s wat die ouer outjies dalk kan geniet (loer net eers vooraf om te kies).
Skop die voetjies? Plaas ou telefoonboeke onder die voete sodat die voete geanker is of ruil stoele en tafels om.
Ekstra fynspier oefeninge:
Hou ‘n ekstra stasie gereed indien die outjies die klaswerk vinniger as verwagting voltooi het:
Span ‘n toutjie ooghoogte waar die outjies mooi prente of popklere kan vas knyp. Verskaf wasgoedpennetjies en metaalklampies, sodat hulle ‘n keuse het.
Verskaf middelslag en groot krale in ‘n bak met veters en toutjies – sodat die outjies patrone kan ryg. Neem foto’s as voorbeelde en lamineer dit as inspirasie.
Verskaf groot en klein boublokke. Neem foto’s van eenvoudige strukture – as inspirasie vir latere bouwerk. Kan julle letters/klanke/syfers/vorms bou?
Gee klei, flubber of slym op ‘n plastiekblad of skinkbord.
Verskaf ‘n metaal skinkbord waarop skeerroom gespuit word. Drup voedselkleursel bo-oor en laat die outjies met ‘n ou potlood of ‘n stokkie daarin teken en druk ‘n bladsy bo-op. Lig op en skraap die room af met die rand van ‘n liniaal. Gebruik die droë bladsy as die voorblad of agterkant van ‘n skryfboek.
Verseker dat daar ‘n geleentheid is om saam op te pak en na ‘n storie op die mat te luister. Wat was die lekkerste deel van jou dag? Onthou en geniet elke oomblik.
Tik ook soekterme soos “eerste dag” of “nuwe jaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.
Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar en heelwat nuwe juffrouens het gevra wat ‘n mens kan doen om die jaar met ‘n ekstra huppel in die stap aan te durf…
Aan die begin van ‘n skooljaar, is daar heelwat senuwees betrokke – vir die kinders, die ouers en die opvoeders. Tree dus voorkomend op.
Gaan deur die leerders se profiele en verseker dat dit met jou klaslys ooreenstem. Is daar inligting in die profiele wat jy in die klas kan gebruik? Indien ‘n outjie byvoorbeeld linkshandig is, kan jy sorg dat jy die korrekte skêre het.
Beplan dalk stasies vir die eerste dag, sodat die outjies met die instapslag ‘n keuse van aktiwiteite (bv. inkleurwerk, rygwerk, kleispel, legkaarte, prenteboeke, leesboeke, perseptuele take, ens.) het om saam met hul ouers of klasmaats te ontdek. Moedig ouers aan om foto’s te neem en gee dalk ‘n groot koevert met inligting en ‘n bederfie om saam te neem.
Gee ‘n nuusbrief om te verduidelik hoe kommunikasie gaan plaasvind – hetsy deur middel van ‘n weeklikse huiswerkbrief, ‘n huiswerkboekie, ‘n kennisgewingsbord, ‘n klaswebblad, ‘n selfoonboodskap of ‘n toep (app). Hoe kan die ouers met jou kommunikeer? Laat hulle ‘n boodskap by die kantoor, skryf hulle ‘n briefie of kan hulle ‘n e-pos stuur? Dink mooi voordat persoonlike foonnommers gedeel word.
Indien jy ‘n toep soos SeeSaw kies, druk reeds vroegtydig die uitnodigingsbriewe en gee dit uit soos die ouers in kom. Sodoende kan hulle registreer en reeds deur die loop van die dag ‘n foto of twee ontvang 😉 Onthou net dat skole deesdae toestemming verkry om foto’s op sosiale media of webblaaie te plaas. Neem dus net individue af om die oomblikke privaat met hul ouers te deel.
Loop deur die klas en skool om foto’s van belangrike kennisgewings en mense te neem. Skep ‘n eenvoudige storie om dit te beskryf en plaas dit op die kommunikasieblad of -toep sodat die outjies na skool met hul ouers daaroor kan gesels.
Weet die ouers waar die kinders gaan aantree? Is daar klaslyste of kennisgewings beskikbaar? Merk aanvanklik elke kind se naamkaartjie (op die bank, vakkie, tasrakkie, ens.) met ‘n unieke prentjie, kleur of vorm – sodat beide die kinders én die ouers vinnig die regte pak- en sitplekke kan vind.
Aan die begin van die jaar, kan jy selfs die staanplekke in die ry só merk deur die naamkaarte met deursigtige verpakkingskleeflint (of kontakplastiek) op die vloer of teen die muur te plak (praat net eers met die hoof). As jy gelamineerde kaarte met klitsgras (velcro) teen die muur plak, kan jy die volgorde gedurende die jaar in ‘n kits ruil – so ook op die banke. (‘n Kollega plak die naam- en prentjiekaarte apart op en vra dan dat die outjies met die naam in die klas in kom. Die name teen die muur, is dus die afwesiges.)
Vra dat die ouers alle besittings merk – skryfbehoeftes, skoene, klere, tasse, onderklere, swemklere, kosblikke, sakke, ens. ‘n Swart veselpen, maskeerband of ‘n papierstrokie wat met kleeflint geseël word is ‘n eenvoudige, maar effektiewe manier om besittings te merk.
Wie moet smiddae op die bus klim of hoe gaan die outjies huis toe? Plaas dalk ‘n klaslys of twee op ‘n tafel waar die ouers dit aandui. Gebruik dan eenvoudige sleutelringetjies om die reëling aan te dui en aan die skooltasse te heg. Dit mag dalk help om die outjies smiddae in die regte rigting te stuur.
Die kantoor sal gewoonlik inligting soos kleredragreëls, tasreëls, ens. deel, maar dit is soms ‘n goeie idee om ‘n herinneringsboodskap hier en daar aan te bring. Het julle riglyne vir die klaskamer?
Indien ‘n outjie badkamer toe wil gaan, gaan jy reël dat die outjie kom vra? Sommige juffrouens gee ‘n sagte speelding om op die bank te sit of knyp ‘n naamkaartjie aan ‘n muurkaart vas. Party gee ‘n bottel vloeibare seep om saam te dra. As die item dus weg is, weet jy dat ‘n outjie die klas verlaat het. As die noodklok lui, sal jy meer gereed wees vir die soekproses. Neem maar aanvanklik die hele klas badkamer toe (voor of na pouses) totdat hulle die roete ken.
Wat is jou skool se beleid ten opsigte van eetgoed? Eet die outjies buite, binne of tydens klastyd? Moedig julle gesonde kosblikke aan of berus die onus op die ouers? Bring die kinders water of gaskoeldrank saam? Hoe gemaak met ‘n klas waar ‘n kind ‘n neutallergie het?
Hoe gereeld gaan die outjies die snoepie besoek en waar gaan die geld gebêre word?
Waar hou julle noodhulp items soos pleisters, asmapompies of spuite (bv. Epipenne)?
Wat is die selfoonbeleid en waar sluit jy kosbare besittings toe? Bêre dalk eetgoed hier vir daardie dae wanneer jy langer moet bly of ‘n hongerkol ontwikkel.
Hoe werk uitstappies? Trek die kinders skooldrag of gewone klere aan? Mag ouers saam gaan en word ‘n lysie met vrywilligers saam gestel?
Gaan julle as ‘n klas of ‘n graadgroep naburige tehuise besoek of by gemeenskapsprojekte betrokke raak? ‘n Mens kan dalk een keer per maand oorstap om stories te lees, speletjies te speel of liedjies te sing as ‘n groep.
Wanneer is die eerste ouer- en inligtingsaande? Gaan julle opvoedkundige sprekers reël?
Maak verjaarsdaespesiaal deur ‘n verjaarsdagmuurkaart of -kalender met die spesiale dae teen die muur te plak en die name in jou nuusbrief te noem. Besluit dalk in oorleg met die ouers en skoolhoof op ‘n tipe bederfie (bv. maksimum R10) of vra dat ouers ‘n bydrae tot ‘n verjaarsdagfonds lewer. ‘n Mens kan dan aan die einde van die kwartaal ‘n klaspartytjie hou en storie– of feite boeke vir die klas se leeshoekie aan koop. Indien jou klas rekenaars of tablette het, kan ‘n mens selfs die fonds vir opvoedkundige en aanvullende programme of toeps (apps) aanwend.
Indien jy jou klas versier, gaan jy ‘n tema of ‘n kleurskakering kies? Kies jy iets wat tydloos is of gaan jy jaarliks iets nuuts aanbring? Is jou skryfbord skoon of kort dit ‘n was? Reël dalk ‘n periode of ‘n tyd wanneer jy en jou kollega mekaar wedersyds kan help met die regruk werk. As jou klas donker is, kies ligte gordyne en indien dit ‘n warm, sonnige klas is – wil ‘n mens dalk dikker lap (soos denim) kies. Dink aan opsies wat dienlik én mooi sal wees. ‘n Mens se begroting is maar dikwels beperk.
Indien jy ‘n nuwe mat vir jou klas kies, dink hier ook aan aspekte soos vlekke, sand, modder en higiëne. Watter opsies issakpasen min moeite?
Wat gebeur indien die outjies tande wissel? Hoe gaan die tand by die tandmuis uitkom? Party skrik groot en ander nie. Hou gerus ook ‘n plan vir glipsies gereed.
Hoe gaan jy jou flitskaarte stoor? ‘n Hangende skoensak is nogal ideaal. Indien die sakkies te breed is, kan ‘n mens dit deur stik. Indien jy baie handig is, kan jy jou eie nommerpas stoorsak maak en dalk ‘n dun stokkie bo en onder span om die sak te verstewig. Jy kan iets soortgelyks met deursigtige plastiek op kartonmaak – waarin jy sinne of flitswoorde kan bou of gebruik magnete teen die metaalbord.
Indien jy jou muurprente A4 hou, kan jy dit in jou beplanningslêer liaseer. Indien jy groter muurprente het, kan ‘n mens ‘n broekhangerof klampies en ‘n draadhanger inspan. Die agterkant van ‘n kas, deur of boekrak is ‘n ideale weghangplek.
Eet ‘n goeie ontbyt en gaan vroeg skool toe. Gun jouself soggens ‘n geleentheid om aan jou dag te dink. Dink aan idees om ‘n glimlag op ‘n bekommerde gesig te plaas, kry idees by die hulpspan, raadpleeg ‘n mentor in die skool en haal asem.
Stap gerus na skool om na ‘n kollega se klas vir ‘n vinnige geselsie voor jy die klas gereed maak vir die nuwe dag en onthou om jouself ‘n kansie te gun om te ontspan. Jy gaan nie alles in ‘n dag gereed kry nie en dit sal dikwels ‘n paar jaar se probeer- en leerslae verg, maar jy gaan heel anderkant uitkom.
My Klaskamer word vanjaar 10 jaar oud! Kan jy glo?! 😀
Snuffel gerus deur die vorige inskrywings na velerlei gratis drukbare bladsye, muurkaarte, flitskaarte, kalenders en meer. Voer jou e-pos adres by die E-pos subskripsie-blokkie aan die regterkant in om kennisgewings van nuwe skrywes te ontvang of sluit by my Facebookbladaan. Ek probeer tans om meer van die gratis produkte op die Facebookwinkeltjie en –groep te lys. Loer gerus in 😉
Tik gerus soekterme soos Hulpmiddels, Graad R, Graad 1, Eerste Dag, Naamkaartjies, Dekor, Teacha…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Koekeloer, kies, klik, koop en druk uit. Ek het vele navrae ontvang. Laat weet gerus indien daar nog onsekerheid is 😉 Kyk na die naam onderaan die produk en tik dit op Teacha se soekspasie in.
Ek het gevind dat die meerderheid kinders worstel met omkerings (spieëlskrif) en lettergreepverdeling. Dit is natuurlik ‘n veralgemening, maar as ‘n mens so deur hul boeke blaai…word die veralgemening ‘n werklikheid.
Die volgende omkerings vind baie plaas:
b / d / p / 9 (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
u / n (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
t / j
Dan kry ons ook die volgende vervangings of verwarrings:
h / j
m / n
f / v
In uitsonderlike gevalle verwar kinders ook b en w. Hierdie is egter (soos h / j) ‘n ouditiewe diskriminasie uitval.
b / d (ook van toepassing op b / d/ p / 9)
Vir hierdie verwarring is ‘n groot hoeveelheid visuele diskriminasieoefeninge nodig. Byvoorbeeld:
soek die b of d in die ry langsaan
watter prentjie begin met ‘n b of d?
watter prentjie begin nie met ‘n b / d nie?
omkring die woord wat met ‘n b / d begin
soek die b / d in die koerant artikel, tydskrif opskrif, ensovoorts
Taktiel (voel):
maak ‘n lang, dun, opgestopte skrifslang en buig dit in die vorm van die klanke
vorm die klank met klei
skryf die klank in sand – met die vinger
skryf die b met jou vinger teen ‘n boom se stam
skryf die d met jou vinger op die deur
doop jou vinger in water en skryf die klanke op sement of teen die bord
voel oor die klanke op ‘n robotkaart
maak dus ‘n vergroting van die klank
plak ‘n groen kol waar die klank begin en ‘n rooi kol waar dit eindig
b begin bo en d begin in die draai
lê op die mat en probeer om die letter met die lyf te vorm
staan en vorm die letters met die liggaam
Ouditief (gehoor):
noem drie woorde en vra “wat hoor jy eerste?”…bos, bak, buk…of…das, dek, dit
noem ‘n paar woorde op en vra aan die kind om ‘n spesifieke gebaar te maak as die woord met b of d begin (steek hand op, snap vingers, knip oë, ens.)
f en v
Hierdie is een van die “gewildste” verwarrings. Dit is egter makliker om te remedieer as baie van die ander verwarrings. Na aanleiding van ‘n paar opgemaakte reëls, oorkom heelwat kinders die uitval.
f
flaminkis die enigste voël (waaraan ons kan dink) wat met ‘n “f” begin. Ons teken gewoonlik ‘n strepie in sy nek en siedaar! Sy kop en nek vorm sommer ‘n “f”.
Dinge wat stukkend of verniel beteken soos fyn, flenters, fraaiings, frommel…(*)
Dinge waaraan ‘n mens kan vat of wat ‘n mens kan sien – mensgemaak – soos fabriek, fiets, flits…(*)
Dinge wat ‘n mens kan wees soos fraai, flou, fier, familie…(*)
Aan die begin, einde of in die middel van woorde
v
Dinge wat vlieg of vinnig is soos vlieg, vlerk, vuurpyl, vuur (brand vinning), vlam, vlooi, viool (speel vinnig anders slaap ek)
Dinge wat met my lyf te make het soos vel, vingers, voete, vryf
Dinge wat met diere – veral plaasdiere – te doen het: soos vark, vul, vee, vos, vleis, volstruis, voer, vreet
As ‘n woord met “ver” begin, skryf ek altyd v-e-r.
‘n Tydjie gelede het iemand gevra waar hulle stempels kan koop. Ek het as student ‘n stelletjie stempels by die klasjuffrou gekry na sowat ‘n maand se proeftyd. Dit was 4 gesiggies – van een met ‘n oopmond glimlag tot by so ‘n bedroefde wriemelmondjie. Dit was en is steeds baie geskik en ideaal om vir die kleingoed aan te dui hoe tevrede ek met hulle werk is…en dis goedkoper as plakkers!
Baie jare later gebruik ek steeds die stempels en het ek dit met van die ander in die reeks aangevul. Onlangs het ek en ‘n kollega vir ons “personalised” stempels laat maak en dit is ideaal vir al die koeverte en administrasiewerk. Die mense het ‘n verskriklike groot verskeidenheid kindervriendelike stempels met die oulikste boodskappies. Ek plaas die spesiale aanbod vir Mei-maand hier, sodat julle ‘n ordentlike pryslysie en katalogus kan aanvra. Die bladsy is in werklikheid ‘n kwart van ‘n A4-papier en die stempels is minstens dubbeld die grootte.
Kontak Alta Scholtz om vir jouself, jou kollegas of vir jou kind se juffrou ‘n oulike verrassing te koop. (skimp-skimp) Druk op die papiertjie om te vergroot. scholtzal@telkomsa.net
Trek die sjablone of raamwerkies af op stewige karton (soos ‘n papboks) of ‘n ou x-straal plaat. Help die kinders om dan die vorm na te trek op ‘n kleurvolle papier.
Julle kan byvoorbeeld ‘n gedig soos “Ma” deur Antjie Krog op ‘n A4-vel skryf. Gebruik skerpgemaakte uitdraaikryte en verf kleursel bo-oor om die papier ekstra spesiaal te maak. Selfs spatsels van verskillende kleure suiwer voedselkleursel (oorheersend eiergeel met rooi, groen en blou spatsels) kan ‘n interessante effek gee. Oefen vooraf en gebruik jou eie oordeel. As die papier droog is, kan jy die patroon natrek, laat uitknip en vou. Vul die houer met lekkertjies (“pienk pilletjies”, smarties, jelly beans, love sweets, malvalekkers) of jul gebak en heg ‘n kaartjie daaraan.
Indien jy die hartjieboekie soos hierbo wil vou, kan jy die sjabloon tussen hakkies probeer. (Ek het die oorspronklike sjabloon probeer vergroot.) Skryf dan “byvoeglike naamwoorde” soos “mooi, liefdevol, spesiaal” daarin en rond dit af met ‘n spesiale laplint.
‘n Tipe papier wat goed werk, is die bruin dosie-karton wat net ‘n bietjie dikker as gewone papier, maar dunner as ‘n papboks is. Dit het sulke spikkels in en is relatief goedkoop. Indien jy ‘n laplint of verpakkingstou gebruik, gee dit ‘n “rustieke” gevoel. Uitdraaikryte sal steeds pragtig daarop vertoon.
Die Wêreldbeker sokkertoernooi is een van die dae hier en ‘n mens kan verskeie dinge doen om die kleingoed geïnteresseerd te maak. Ek het so ‘n paar werkvelle en “inspirasies” opgespoor oor sokker en oor verskeie Wêreldlande. “Lande van die wêreld” val seker nog nie heeltemal in hierdie kwartaal se beplanning nie, maar die terloopse inligting behoort voorbrand te maak vir die latere tema’s. Sonder ‘n hoekie, muur of gang af waar die outjies meer oor die deelnemende lande en die sokkertoernooi kan leer. Gebruik die idees om dalk Engels as tweede taal aan te bied of om nuwe woorde aan te leer. Hou ‘n paar velle inkleurprente of aktiwiteite een kant vir die verveelde outjies. Natuurlik kry ‘n mens ekstra spesiale plakkers vir jou ekstra werk :wink:.
Bespreek die vorms van die blokke op die bal. Dit het vyf sye en word ‘n pentagoon genoem. Hoeveel van hierdie blokke sien jy op ‘n sokkerbal. Hoeveel is wit? Hoeveel is swart? Verdubbel die aantal blokke. Hoeveel kry jy? Wat gebeur as ek die wit blokke met die aantal swart blokke vermenigvuldig? Hoeveel sye het 3 blokkies?…en al die blokke altesaam?
Het jy geweet dat daar geboue in hierdie vorm bestaan? Die Pentagon in Amerika en die Kasteel in Kaapstad is twee voorbeelde van so ‘n vorm.
Maak ‘n prentjie met ‘n paar vyfhoeke. Maak sjablone uit x-straalplate, sodat die kinders dit kan aftrek. Laat die outjies dit uitknip en op die rug van ‘n dinosourus plak.Vou vyfhoeke en maak ‘n klas vol sterre daarvan. Dit behoort die kleingoed ure lank besig te hou. Het jy geweet dat as jy die bene of punte van ‘n sterretjie omvou – jy ook ‘n vyfhoek kry?! Doen dit sommer met plakkers.
…Daar is ook blokke met seshoeke! (Duidelik is Juffer nie ‘n sokker kenner nie.) Nou het ek weer ‘n ding raak gesien! Wat daarvan as elke kind ‘n seshoek uit ‘n stukkie lap knip en met lapverf verf. ‘n Knap juffrou of mamma kan dan ‘n klaskombers maak. Ek wens ek kon self so ‘n deken maak! Dit lyk altyd so mooi en snoesig 😉
Gee vir elke outjie ‘n seshoek om uit te knip en ‘n spelwoord om daarin te skryf. Bou ‘n heuningkoek teen die muur en siedaar! ‘n Spelles, vormles én fynmotoriese ontwikkeling in een! Ek sou op eu-woorde gefokus het om by die heuningkoek aan te sluit, maar enige iets sal werk.
Neem ‘n bladsy vol vorms en vra die outjies om slegs die vyfhoeke of seshoeke te omkring vir visuele diskriminasie oefeninge. Maak patrone op lang strokies en gee los vorms. Vra dat die kleingoed die patrone napak of dat hulle dit nateken. Jy kan die vorms in verskillende kleure maak – sodat die patroon die volgorde van kleure ook insluit. (vyf-en-seshoeke)
Verskaf bladsye met verskillende groottes seshoeke, vyfhoeke en sirkels. Gee die kinders die vryheid om hul eie prentjies met die vorms te pou (knip en plak).
Wat weet ons van ‘n bal? Wat is die vorm se naam? ‘n Sfeer. Dis ‘n opgeblaasde sirkel…Waar kry ons sfere? Noem maar op: planete, die son, die maan, balle, gloeilampies, krale…
Blaas borrels met seep (buig ‘n draadjie in ‘n sirkel en maak lekker seepwater aan – vir buite spel). Blaas borrels in ‘n seperige oplossing…gebruik strooitjies en drup ‘n paar druppels voedselkleursel in die seepsous. As die outjies hard genoeg blaas, borrel die glas oor en kan ‘n mens ‘n papier bo-op druk. Die borrels gee ‘n oulike tekstuur op die bladsy.
Speel met balle – groot, klein, grof, swaar, lig, wollerig (tennisbal)…ryg sfeervormige krale in om halsnoere te maak…Het iemand dalk ook oulike idees?
Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie. Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was! Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy. (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)
Uitstallings:
As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen. Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop. Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers. Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud. Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak. Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.
Collage:
‘n Collage word nie in een dag voltooi nie. Dit bou op. Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees. Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.
Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak. Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word. Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig. Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”. Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees. Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees. Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
Maak ‘n krimpvarkie. Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol. Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry. Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik. In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur. Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water. Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
Maak ook ‘n eekhoring. Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af. Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor. Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding. ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage. Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny. Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!). Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi. Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek. Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton. Sny dit uit. Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood. Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie. Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki). Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
Maak herfsblaarbrille. Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?). Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons. Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
Maak herfslanterns. Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase. Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas. Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak. As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom. Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas. Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
Maak ‘n groot boom. Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier. Teken duidelike graslyne. Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit… Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk). Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word. Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond. Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word. Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak. Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer. Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal. Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom. Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans. Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
Doen “afvryf” werk. Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het). Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor. Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk. Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel. Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek. Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit. Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe. Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf. Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels. Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel. Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!
Dié van julle wat al ‘n verslag van ‘n arbeidsterapeut of ‘n opvoedkundige sielkundige onder oë gehad het, sou ‘n verwysing na die kind se VMI gesien het. Dit staan vir Visual-Motor Integration en het te make met die kind se vermoë om beelde te interpreteer en weer te gee. As die outjie se VMI telling baie laag is teenoor die kronologiese ouderdom, beteken dit dat hy ‘n bietjie gaan klei trap met dinge soos skrif en afskryf van die bord af. Daarom beveel die kundiges hulp soos arbeidsterapie aan…en dit wérk …
Baie outjies se prestasies styg as die VMI styg. Hulle is dus nie net eenvoudig oorgelaat aan ‘n “swak uitslag” op ‘n verslag nie. Daar is ‘n uitweg.
Tesame met die kundige raad en hulp van ‘n arbeidsterapeut, is daar ‘n paar oefeninge om tuis te probeer. Probeer baie oefeninge wat die Visuele Persepsies, Middellynkruising en Fynmotoriek ontwikkel.
Wêrelddag vir water is 22 Maart en volgende week is Waterweek (begin die 15de). Hier is ‘n paar aktiwiteite en mense met blink idees se gedagtes.
1. ‘n Lêertjie oor Engels klanksamevloeiings – met oulike druppels en sambrele. Jy kan dit selfs aanpas vir die Afrikaanse outjies of die leë raampies vir iets anders gebruik.
Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik. Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie. Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.
Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm. Hy moet dit dan identifiseer.
Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin. Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind. Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys. Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken. Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot). Vra dat Grootman die klank soek en omkring. Tel die klanke. (Dalk kruip daar nog weg.)
Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf. Maak seker dat hy op die regte plekke begin. Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…). Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie. Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi. Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
Speel “name, vanne, diere, dorpe”. Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
Woordfamilies: Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig). Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os. Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.
Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is: ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik. Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk. Wys dit. Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”. Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”? Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris. Hy kan dan ‘n sin gee. Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groots skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”). Laat hom die s met gom “skryf”. Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand). As dit droog is, kan hy daaroor voel. So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.
Dubbel-, twee- en drieklanke:
Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie. Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer. Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat. Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek. Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat. Ruil die rolle om en maak beurte. Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.
Dit is Biblioteekweek vanaf 15 tot 19 Maart. Wat kan jy doen om hierdie week te vier?
Indien jou skool ‘n biblioteek het, kan jy individuele foto’s van die kleingoed (veral Graad R of 1) neem. Die gedagte is dat jy die foto in of voor die biblioteek neem – met ‘n boek of lidmaatskapkaartjie in die hand.
Druk dit dan op ‘n A4-vel uit (“print” in die middel) en help die outjies om ‘n raam rondom te teken met helder uitdraaikryte of pastelle. Maak letterpatrone, skryf woorde of ‘n slagspreuk (bv. “Ek kan lees.” “Lesers is oulik.”) in die raam. Verf ‘n verdunde voedselkleursel lagie bo-oor en siedaar! Nou kan jy ‘n uitstalling in die gang maak om te wys hoe oulik jou lesertjies is. Blok dit op ‘n aansteekbord of maak ‘n lang lyn (op die outjies se ooghoogte), sodat die ander maats die slim lesers kan raak sien.
Reël ‘n ouer, ‘n ouma of iemand uit die gemeenskap om oulike kinderboeke vir die kleingoed te kom lees. Die persoon moet darem so ‘n bietjie met gevoel kan lees en weet hoe om met kleingoed te kommunikeer. Wat van ‘n Graad R-juffrou? Die kinders sal dit geniet om hul ou juffrou weer te sien en om met hul uniforms te spog. Dalk kan een van die groter grade se juffrouens kom inloer of selfs die skoolhoof.
Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n spreker reël. Dalk is daar ‘n kinderboekskrywer of –illustreerder in jou omgewing. Lees van die persoon se boeke en doen ‘n bietjie navorsing. Stel ‘n paar vrae op wat die kinders tydens ‘n onderhoud of vraag-antwoord sessie moet beantwoord.
Maak julle eie boeke en plaas dit in die klas se leeshoekie / bibliotekie – vir die hele klas se leesgenot. (Bv. My boekie oor vorms. My boekie oor sjokolade. My boekie oor die skoolhoof. Juffrou se boekie oor dinge waarvan sy hou.) Kry dan ‘n ander opvoeder om die boekies te lees. Dit behoort ‘n aardigheid te wees vir die kleingoed 😉
Ouer grade kan vir die kleintjies gaan lees of tydens ‘n leesles vir die kleingoed help met hulle leeswerk…
Wat van ‘n biblioteek “make over”? Die moontlikhede is legio.
Jessica het gevra of ek kan help met idees i.v.m. speelgoed (Graad R-vlak as ek reg kyk). Wat van die volgende?
Kry gemorspos met speelgoed daarop. Plak dit teen die muur op.
Perseptueel…
Visuele diskriminasie: Soek al die speelgoed vir dogtertjies en die speelgoed vir seuntjies. Waarmee sal beide geslagte graag speel.
Ouditiewe persepsie: Watter speelding begin met ‘n m? Die motor! Watter speelding begin met ‘n p? Die pop!
Ouditiewe diskriminasie: As jy speelgoed het wat geluide maak – bespreek die speelgoed en maak die geluide. Die kind maak sy ogies toe en moet dan na ‘n geluid luister…Watter speelding het so gemaak? Die beertjie!
Visuele geheue: Pak enige 3 speelgoed op die tafel. Die kind noem dit op. Bedek of skommel. Vra die kind om dit reg te pak soos tevore.
Patrone: Pak speelgoed in ‘n ry (bv. pop, beer, motortjie) en vra die outjie om voort te gaan met die patroon (pop, beer, motortjie, pop, beer, motortjie)…
Buitespel…
Maak ‘n motortjie by die houtwerktafel. Kap 4 doppies weerskante van ‘n blokkie hout vas en siedaar. Dit verg oog-hand koördinasie en toesig.
Waterspel – Watter speelgoed dryf en watter speelgoed sink? Vir ‘n sekondêre aktiwiteit, buig en draai die kleingoed self ‘n pap draad in ‘n seepbelblaser (dalk soldeer draad). Dan kan hulle hul blaasvaardighede buite ten toon stel.
Fantasiespel…Versier ‘n klimraam of houthuis soos ‘n speelgoedtrommel of -winkel. Vertel ‘n storie van ‘n speelgoedtrommel of -winkel. Plaas klere, pruike en maskers in die houthuis of klimraam en laat die kinders oor aan ‘n paar minute van fantasiespel.
Sandspel – plaas spesifieke speelgoed in die sandput. Watter speelgoed kan skep? Watter speelgoed kan torings, kastele of huise bou?
Bespreek dalk…
Speelgoed van toeka tot nou…vra die ouers om van hul eie speelgoed te stuur. Waarvan is die speelgoed gemaak? Waarvan is jou speelgoed gemaak? Hoe is dit eenders? Hoe is dit anders? Besoek ‘n speelgoedmuseum…
Hoe werk die speelgoed op jou besprekingstafel? skarniere, wiele…toutjies…
Sorteer jou speelgoed – volgens grootte, volgens kleur, volgens die materiaal waarvan die gemaak is (hout, rubber, lap…). Hoe voel jou speelding? sag, hard, wollerig, glad…Kan jou speelding ‘n geluid maak of is dit stil? Waarmee speel ‘n baba? Waarmee speel jy? Hoe verskil die speelgoed?
Skeppend…
Maak ‘n Sponge BOB speelding (soortgelyk aan hierdie outjie)…Laat die kleingoed vooraf (‘n dag vooraf) een bladsy bruin en een bladsy geel verf. Gebruik dalk sponsdrukwerk of maak patrone in die nat verf. Jy kan natuurlik ‘n gekleurde styselpap mengsel op ‘n skinkbord plaas en die kinders vra om sirkels te teken. Druk ‘n bladsy liggies bo-op om die patroon af te ets. Oefen ‘n dag voor die tyd – anders flop jou krit les.
‘n Ou papboks kan nou met skeur en plak werk versier word in ‘n geel deel bo en ‘n bruin deel onder. Verskaf plakbare ogies (materiaalwinkels het verskeie) en rooi gekleurde pypskoonmakers vir die mond. Gebruik toiletrolle vir die arms en bene of dalk kurkproppe.
Woorde