herfs

Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie.  Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was!  Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy.  (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)

Uitstallings:

As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen.  Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop.  Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers.  Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud.  Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak.  Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.

Collage:

‘n Collage word nie in een dag voltooi nie.  Dit bou op.  Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees.  Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.

  • Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak.  Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word.  Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig.  Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”.  Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees.  Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees.  Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
  • Maak ‘n krimpvarkie.  Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol.  Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry.  Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik.  In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur.  Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water.  Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
  • Maak ook ‘n eekhoring.  Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af.  Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor.  Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding.  ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage.  Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny.  Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!).  Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
  • Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi.  Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek.  Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
  • Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton.  Sny dit uit.  Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood.  Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie.  Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki).  Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
  • Maak herfsblaarbrille.  Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?).  Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons.  Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
  • Maak herfslanterns.  Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase.  Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas.  Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak.  As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom.  Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas.  Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
  • Maak ‘n groot boom.  Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier.  Teken duidelike graslyne.  Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit…  Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk).  Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word.  Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond.  Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word.  Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak.  Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer.  Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal.  Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom.  Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans.  Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
  • Doen “afvryf” werk.  Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het).  Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor.  Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk.  Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel.  Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek.  Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit.  Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe.  Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf.  Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
  • Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels.  Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
  • Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel.  Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!

Ander:

Herfsstorie en werksvelle

Gedigte

Simmetrie

Verskeie

Tel

Takies

Voorskools

Inkleurwerk

Engelse stories

Tik ook soekterme soos somer, winter, lente en weer by die bruin soekblokkie in.

HerfsAutumn