Iemand het onlangs gevra wat ‘n mens kan doen met ‘n see-tema. Laat ek sien…
Berei groot velle wit of koerantpapier vir ‘n seetoneel voor. Indien jy ‘n rol papier het, kan jy die papier sowat ‘n muurlengte lank maak. Meng muurpapiergom/styselpap met voedselkleursel (‘n emmer met groen, ‘n emmer met blou en dalk ‘n emmer met ‘n geel mengsel) en gee vir die outjies sponse (of gebruik die hande) om die kleure oor die papier heen te versprei. Begin met die ligste kleur en laat blertse toe. Ouer kinders kan die papier teen ‘n muur monteer en smeer. Terwyl die verf nog nat is, kan hulle die branderpatroon dwars oor die papier trek. Vee net die vingers kort-kort af om die effek beter te maak. [Dit gaan lekker morsig wees.]
‘n Mens kan ook die groot papier met ‘n olie mengsel voorberei indien jy dit voor vensters wil hang. Meng verf of voedselkleursel met gewone sonneblom olie om die papier ‘n deursigtigheid te gee. Die kleur hoef weereens nie egalig te wees nie. Hierdie metode gaan ‘n sonvanger-effek teweeg bring.
Vir die heel kleintjies, kan ‘n mens visprente (op papier of karton – vir versterking) afrol en gee om in te kleur met vetkryte of uitdraaikryte. Hoe harder hulle druk, hoe beter. Knip dan die prente uit en gee effens verdunde voedselkleursel om bo-oor die visse te verf. Hoe meer kleure daar beskikbaar is, hoe meer kleure sal jy in jou see sien. Plak nou die visse rond en bont in die see op en gebruik selfs ou groente-bordjies (foamalite) om die visse van die papier af te lig – vir meer dimensie.
Indien jy individuele prente wil maak, meng kleursel of verf met ‘n lekker seperige oplossing. Gooi dit in vlak bakke (bv. 2 liter roomys bakke) of ou yoghurt-houers (500ml) en verskaf strooitjies sodat hulle kan blaas dat die biesies bewe. As die borrels oor die rand begin klim, druk jy die A3-bladsy daarop. Herhaal totdat die bladsy vol borrels is en plak visse daarop sodra dit droog is. ‘n Goedkoop badskuim of skottelgoed wasmiddel behoort goed te werk.
Graad R- en 1-kinders kan hul letterformasies oefen deur die groot vel in lyne te vou (dubbeld en dubbeld totdat die lynspasie ‘n wenslike breedte het). Gebruik dan wit vetkryt om lugborrels te teken. Dit gaan sommer deel van ‘n skrifles oor o (klank) of 0 (syfer) wees. Die outjies moet weereens hard druk en net-net aan die lyne raak. Verf die bladsy met ‘n olie-en-kleursel of water-en-kleursel mengsel.
Trek die buitelyn van ‘n vis op harde karton of ou x-straalplate af en knip uit. Gee dit vir die kinders om twee op ‘n stuk karton of wit papier af te trek (plak vas met maskeerband of wondergom). Die idee is om een vis te hê wat na regs kyk en ‘n ander een wat na links kyk. Versier die visse met patroonwerk (druk met pasta-dikte verf en proppies of teken met vetkryt) en kleur die ogies en bekkies in. Knip uit en verf met ‘n kleurselmengsel – indien julle vetkryt gebruik het. Kram of plak die twee dele dan rug-teen-rug vas, sodat die gomstreep om die buiterand is en julle die vis met watte of sagte papier kan op stop. Plak die laaste stukkie toe en hang die vis met vislyn uit die dak of of voor jou see muur.
Gebruik ‘n papierbord met ‘n lekker hol binnekant. ‘n Mens kry dikwels ‘n “foamalite” of plastiek bord wat lekker diep is en effens weg staan. Sny die middelste deel uit. Verf, teken en plak nou ‘n gewone seetoneel op ‘n gewone papierbord en dop die gesnyde een bo-oor die versierde een om om ‘n kajuitvenster te skep. Indien julle lus het, kan ‘n mens die geknipte ring/vensterraam met foelie oor trek, voordat jy dit op die seetoneel plak of kram.
Teken visse lekker groot op A3-blaaie, maar los die stertvin uit. Kleur die vis in of verf die lyf met voedselkleursel. Gebruik nou medisyne druppers om effens verdunde voedselkleursel op die vis se vinne te drup en blaas dit met strooitjies na buite. ‘n Mens kan vooraf die hele bladsy met die drup-en-blaas metode kleur en ‘n vis teken sodra die papier droog is.
Vir krappe en krewe, kan julle die handpalm of kant van die vuis in oranje en rooi verf doop en dan op ‘n bladsy druk. Sodra die papier droog is, kan ‘n mens die ogies in teken. Knip die krappe en krewe uit en voeg dit by jou seetoneel by, versier ‘n venster of ‘n gang.
Dop ‘n papierbord om en verf met oranje-rooi verf. Indien jy wit papier onder die bord gehad het, kan jy sommer die stukke wat uit steek met die verf by kom as die bord klaar is. Sny dan later die pote uit hierdie stukke en plak dit weerskante van die krap. Voeg wikkel ogies by en siedaar.
Doen dieselfde om ‘n jellievis te maak, maar gebruik dik, gekleurde styselpap (sagte bloue, perse) en langer, dunner tentakels. ‘n Mens kan ook stroke snesiepapier en linte vir die tentakels inspan.
Seekatte: Verf dikkerige verf op die voetsool en trap op wit papier. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uit knip en onderste-bo gebruik. Die tone vorm die tentakels.
Jy kan blasieplastiek (bubble wrap) verf en ‘n bladsy bo-op druk om die suiers te maak. Knip ag arms uit en plak dit teen jou seekat vas. Hoe meer gekrul die arms se punte is, hoe meer karakter het die seekat.
‘n Blink idee is om die seekat se suiers met sequence te maak. Plak die tentakels vol.
Gebruik twee papierborde om ‘n orca (moordwalvis) te maak. Verf die een wit en die ander swart. Trek ‘n kurwe in die vorm van ‘n heuweltjie oor die breedte van die swart bord en sny uit (sowat ongeveer ‘n kwart na ‘n derde kan af gesny word). Plak die swart deel bo-op die wit bord en plak twee wikkel ogies aan die kante. Gebruik die stuk wat jy af gesny het om twee vinne weerskante van die lyf die plak en ‘n driehoekige stukkie vir die dorsale vin.
As jy die orca groter wil maak, gebruik ‘n hoepel om die vorm af te trek.
Maak ‘n drywende walvis uit ‘n plastiek melkbottel (2 liter) deur dit op die sy te draai. Die opening dien as die stert gedeelte en die handvatsel is die bokant. Sny ‘n bek in die onderkant van die bottel – ‘n glimlaggende keep. Verf gaan vinnig afskilfer of af was. Teken dus die oë aan die kante en hou die doppie toe as julle die walvis bo-op water laat dryf.
Indien julle lus het, kan ‘n mens eerder die bek in teken en ‘n gat bo-in die bottel kap vir waterspel. Plaas ‘n waterpyp in die bottel se opening en maak dit met rekkies of insulasieband vas. Hou om hierdie hegtingsdeel vas en draai die kraan wyd oop.
Trek twee seeperdjies aan weerskante van ‘n papierbord af. Sny die bord in die helfte en gee vir twee kinders afsonderlik ‘n seeperdjie. Verf en sny dit uit. Versier met ‘n dik laag verf en blinkers of “sequence“.
Julle kan die seeperdjies op die muurcollage plak…of versier beide kante van die seeperdjie en hang dit voor ‘n venster.
Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie. Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was! Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy. (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)
Uitstallings:
As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen. Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop. Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers. Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud. Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak. Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.
Collage:
‘n Collage word nie in een dag voltooi nie. Dit bou op. Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees. Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.
Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak. Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word. Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig. Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”. Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees. Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees. Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
Maak ‘n krimpvarkie. Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol. Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry. Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik. In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur. Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water. Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
Maak ook ‘n eekhoring. Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af. Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor. Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding. ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage. Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny. Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!). Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi. Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek. Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton. Sny dit uit. Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood. Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie. Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki). Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
Maak herfsblaarbrille. Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?). Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons. Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
Maak herfslanterns. Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase. Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas. Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak. As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom. Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas. Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
Maak ‘n groot boom. Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier. Teken duidelike graslyne. Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit… Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk). Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word. Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond. Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word. Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak. Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer. Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal. Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom. Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans. Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
Doen “afvryf” werk. Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het). Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor. Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk. Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel. Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek. Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit. Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe. Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf. Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels. Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel. Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!
Woorde