Dis alweer Desember en boonop het die skoolvakansie vandag begin!  Hiermee sommer ‘n eenvoudige idee of twee om die kleingoed op ‘n bekostigbare manier besig te hou.

Ons het hierdie week Kersversierings gemaak:

Trek ‘n groot sirkel op ‘n stuk ou manilla/karton af en laat die kleinding dit uitknip.  Trek dan ‘n voorskoot aan of maak ‘n vinnige een uit ou boekplastiek of ‘n swart sak.  Ons het handafdrukke op A4-velle gemaak – sommer met seep, water en groen voedselkleursel (gebruik ook water- of poeierverf in ‘n pastadikte).  As dit droog is, kan die outjie self die hand uit knip – verkieslik só dat die afsonderlike vingers wys.  Plak die hande dan kloksgewys om die rand van die sirkel.  Jy kan die lae herhaal totdat die hande in al die windrigtings wys en ‘n groot strik bo-aan die kerskrans aanbring.  Siedaar!  ‘n Kinder-kerskrans vir die deur.

Rol klei in langerige wurmpies uit.  Ons het dit so ongeveer 12 – 15cm lank gemaak.  Druk drie wurmpies se bo-punte teen mekaar en vleg soos ‘n koeksuster.  Druk die onderste punte vas en buig die boonste stuk soos ‘n kierie om.  Ons het ‘n dik naald gebruik om ‘n gat vir die toutjie te maak en dit geknoop voordat die kierie kon droog word.  Na regte sou die kierie mooi gelyk het met wit en rooi strepe.

Ons het ook klei plat gerol, vorms met koekiedrukkers uit gedruk, gate in gedruk en ‘n blinkers oor gesprinkel. (‘n Soutpot werk goed vir hierdie taak.)  Die klei word sommer oornag droog.

Gebruik roomysstokkies om twee driehoeke te vorm.  Smeer gom, besprinkel met blinkers en vorm ‘n ster vir die kersboom.  As die een sy droog is kan jy die gom en blinkers aan die agterkant herhaal.

Vir die kleintjies kan jy skoon papier dwars draai (landscape) en in vier vou.  Jy het dus nou sommer vinnige skryflyne gevorm.  Laat die outjie oefen om sy naam te skryf, patrone te teken, syfers te vorm of om vorms te trek.  Gebruik uitdraai- of waskryte en laat hom effens harder druk.  Verdun dan voedselkleursel (rooi, groen of eiergeel) met ‘n bietjie water om bo-oor die skryfwerk te verf.  Dit behoort ‘n geskenk aan ‘n ouma of ‘n oupa net nog meer spesiaal te maak 😉