Aan die begin van die skooljaar moet ‘n mens die nuwe roetine inoefen en deurgee.  Die lyfies is nog met vakansie en so ook die eetgewoontes.  Verduidelik aan hulle hoe die rooster werk, wanneer julle sal eet, hoe julle aantree in rye en hoe julle deur die skool gaan stap (bv. hande agter die rug).

Plak/teken prente in die volgorde van die basiese rooster (iewers op die bord of muur) en skuif ‘n magneet of wasgoedpennetjie heen en weer gedurende die eerste dae.  Bv. Ons gaan vandag werk, ‘n peuselhappie neem, badkamer toe gaan en ‘n storie lees voor pouse…Jy mag jou kosblik saamneem as jy uitgaan, maar onthou om iets vir tweede pouse te hou. 

Die jonger outjies sal steeds vrae vra, maar verwys gereeld na die visuele opsie sodat hulle daaraan gewoond kan raak.  Probeer ook die volgende idees gedurende die eerste dae…

Middellynkruising/Ruimtelike Oriëntasie:

Tussen take:  Trek ‘n vertikale lyn om vir die outjie te wys waar sy neus min of meer moet wees.  Teken dan die bekende skrifpatrone lekker groot op ‘n skryfbord van links na regs oor die streep.  Ek maak ‘n begin- en eindkol vir die jonger outjies en plak ‘n voorbeeld bokant die skryfspasie.  Die outjies trek die patroon aanvanklik van linkerkol tot regterkol en daarna doen ons dit weer met die oë toe.  Hulle hoef natuurlik nie op ‘n skryfbord te werk nie en kan in die sandput of met ‘n vinger op die tafel (- later die bad se rand, op die stortdeur of ‘n gestoomde spieël) oefen.  Gebruik ou koerante, vetkryt, verf of gewone bladsye ook.

Spiertonus/Postuur:

Raak ‘n outjie maklik moeg aan die tafel of sak hy/sy ietwat weg in die stoel?  Draai die stoel om, sodat hy/sy wydsbeen en regop teen die rugleuning kan sit.  Dis nie die ideaal nie, maar die lyfie word ondersteun terwyl mens gedurende die dag aan die spiertonus werk.

Kriewelrig:

Is die outjie kriewelrig?  Sny ‘n kepie in twee afsonderlike tennisballe en glip dit onder twee teenoorstaande stoelpote in, sodat die outjie geluidloos heen en weer kan wip.  Indien jou skool klein wiegstoele (rocking chairs) het, kan jy dít inspan of die knobbelrige rubberkussings gebruik wat gewoonlik deur arbeidsterapeute aanbeveel word.

Stel ‘n aftelwekker op jou foon of stel ‘n eierwekkertjie.  Indien jy toegang tot die internet het, kan jy verskeie wekkers aanlyn opsoek.  Gebruik dit om ‘n aanduiding van die werkperiode te gee óf die pouse (bv. 3 minute) tussen take.  Sing dan ‘n aksieliedjie, doen Brain Gym of soortgelyke strekke.  GoNoodle het YouTube video’s wat die ouer outjies dalk kan geniet (loer net eers vooraf om te kies).

Skop die voetjies? Plaas ou telefoonboeke onder die voete sodat die voete geanker is of ruil stoele en tafels om.

Ekstra fynspier oefeninge: 

Hou ‘n ekstra stasie gereed indien die outjies die klaswerk vinniger as verwagting voltooi het:

  • Span ‘n toutjie ooghoogte waar die outjies mooi prente of popklere kan vas knyp.  Verskaf wasgoedpennetjies en metaalklampies, sodat hulle ‘n keuse het.
  • Verskaf middelslag en groot krale in ‘n bak met veters en toutjies – sodat die outjies patrone kan ryg.  Neem foto’s as voorbeelde en lamineer dit as inspirasie.
  • Verskaf groot en klein boublokke.  Neem foto’s van eenvoudige strukture – as inspirasie vir latere bouwerk.  Kan julle letters/klanke/syfers/vorms bou?
  • Gee klei, flubber of slym op ‘n plastiekblad of skinkbord.
  • Verskaf ‘n metaal skinkbord waarop skeerroom gespuit word.  Drup voedselkleursel bo-oor en laat die outjies met ‘n ou potlood of ‘n stokkie daarin teken en druk ‘n bladsy bo-op.  Lig op en skraap die room af met die rand van ‘n liniaal.  Gebruik die droë bladsy as die voorblad of agterkant van ‘n skryfboek.

Verseker dat daar ‘n geleentheid is om saam op te pak en na ‘n storie op die mat te luister.  Wat was die lekkerste deel van jou dag?  Onthou en geniet elke oomblik.

Tik ook soekterme soos “eerste dag” of “nuwe jaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.